Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat het van goeie bure geword?

Wat het van goeie bure geword?

Wat het van goeie bure geword?

“Die hedendaagse samelewing erken nie buurmanskap nie.”—Benjamin Disraeli, 19de-eeuse Engelse staatsman.

BEJAARDE Kubane het ’n ongewone manier om welstand te bevorder: buurtnetwerke, of círculos de abuelos (grootouergroepe), soos hulle dit noem. Volgens ’n verslag van 1997 behoort sowat 1 uit 5 ouer Kubane aan hierdie groepe, waarin hulle kameraadskap, ondersteuning en praktiese hulp kry om ’n gesonde lewenstyl te handhaaf. “Wanneer die huisdokters van die buurt ook al hulp nodig het met ’n inentingsprogram”, sê die tydskrif World-Health, “is dit by die círculos de abuelos dat hulle gewillige en bekwame hulp kry.”

Maar ongelukkig is daar in baie wêrelddele nie meer buurte met sulke besorgde gemeenskappe nie. Neem byvoorbeeld die tragiese geval van Wolfgang Dircks, wat in ’n woonstelgebou in westelike Europa gewoon het. ’n Paar jaar gelede het The Canberra Times berig dat die 17 gesinne wat in dieselfde woonstelgebou as Wolfgang gebly het, wel besef het dat hulle hom lank laas gesien het, maar “niemand het daaraan gedink om sy deurklokkie te lui nie”. Toe die verhuurder uiteindelik na die woonstel gekom het, “het hy ’n geraamte gevind wat voor die televisie sit”. Op die geraamte se skoot was ’n televisieprogram vir 5 Desember 1993. Wolfgang was al vyf jaar lank dood. Wat ’n droewige bewys is dit tog van die afname in belangstelling en besorgdheid teenoor bure! Dit is geen wonder nie dat ’n skrywer in The New York Times Magazine gesê het dat sy buurt, soos baie ander, “’n gemeenskap van vreemdelinge” geword het. Is dit ook die geval in julle buurt?

Dit is so dat plattelandse gemeenskappe nog ’n gevoel van ware buurmanskap geniet en dat party stedelike gemeenskappe na groter besorgdheid teenoor hulle bure strewe. Nogtans voel baie stadsbewoners afgesonder en kwesbaar in hulle eie buurt. Hulle kwyn weg agter skanse van naamloosheid. Hoe so?

Agter skanse van naamloosheid

Die meeste van ons het natuurlik bure wat na aan ons woon. Die geflikker van ’n televisie, die beweging van skaduwees voor die venster, die ligte wat aan- en afgeskakel word, die geluid van motors wat kom en gaan, die voetstappe in gange, die sleutels wat deure oop- en toesluit, is alles tekens dat die buurt “lewe”. Maar enige ware gevoel van buurmanskap verdwyn wanneer mense wat na aan mekaar woon, agter skanse van naamloosheid verskuil is of weens die druk van ’n gejaagde lewenstyl van mekaar vergeet. Mense voel miskien dat dit glad nie nodig is om iets met hulle bure te doen te hê of enige verpligting teenoor hulle te voel nie. Die Australiese koerant Herald Sun erken: “Individue is naamloser in hulle onmiddellike omgewing en voel dus in mindere mate verplig teenoor die gemeenskap. Dit is nou makliker om mense wat in sosiale sin nie aantreklik is nie, te ignoreer of uit te sluit.”

Hierdie verwikkeling is nie verbasend nie. In ’n wêreld waar mense “liefhebbers van hulleself” is, pluk buurte die vrugte van die selfsugtige lewenstyl van baie (2 Timoteus 3:2). Gevolglik kom eensaamheid en vervreemding algemeen voor. Vervreemding lei tot wantroue, veral wanneer die buurt deur geweld en misdaad bedreig word. Wantroue veroorsaak weer dat mense kort voor lank hulle medelye met ander verloor.

Wat die geval ook al in julle buurt is, jy sal ongetwyfeld saamstem dat goeie bure ’n aanwins vir ’n gemeenskap is. Dit werp goeie vrugte af wanneer mense ’n gemeenskaplike doelwit probeer bereik. Goeie bure kan ook ’n seën wees. Die volgende artikel sal wys hoe dit die geval is.