Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan ware heiliges jou help?

Hoe kan ware heiliges jou help?

Hoe kan ware heiliges jou help?

OP WIE is die Griekse woord wat in die Bybel met “heilige” vertaal word, van toepassing? “In die meervoud, wanneer dit van gelowiges praat”, sê An Expository Dictionary of New Testament Words, “verwys dit na alle gelowiges en nie net na mense wat besonder heilig is of afgestorwenes wat deur uitsonderlike dade van heiligheid gekenmerk is nie.”

Die apostel Paulus het dus na alle vroeë Christene as ware heiliges verwys. Hy het byvoorbeeld ’n brief in die eerste eeu G.J. geskryf “aan die gemeente van God wat in Korinte is, saam met al die heiliges wat in die hele [Romeinse provinsie] Agaje is” (2 Korintiërs 1:1). Later het Paulus ’n brief geskryf “aan almal wat in Rome is as God se geliefdes, geroep om heiliges te wees” (Romeine 1:7). Hierdie heiliges het klaarblyklik toe nog nie gesterf nie, en hulle is ook nie weens voortreflike deugde bo die res van die gelowiges uitgesonder nie. Waarom is hulle heiliges genoem?

Geheilig deur God

God se Woord toon dat iemand nie deur mense of ’n organisasie heilig verklaar word nie. Die Skrif sê: “[God] het ons gered en ons geroep met ’n heilige roeping, nie op grond van ons werke nie, maar op grond van sy eie voorneme en onverdiende goedhartigheid” (2 Timoteus 1:9). Iemand word ’n heilige omdat Jehovah hom geroep het, ooreenkomstig die onverdiende goedhartigheid van God en in ooreenstemming met Sy voorneme.

Heiliges van die Christengemeente is partye in “’n nuwe verbond”. Die vergote bloed van Jesus Christus bekragtig hierdie verbond en heilig die deelgenote daarvan (Hebreërs 9:15; 10:29; 13:20, 24). Omdat hulle rein in God se oë is, is hulle ‘’n heilige priesterdom en bring hulle geestelike offerandes wat vir God aanneemlik is deur Jesus Christus’.—1 Petrus 2:5, 9.

Bedes tot en voorspraak deur heiliges

Weens die opvatting dat “heiliges” spesiale kragte aan gelowiges kan gee, vereer miljoene hulle deur relieke te gebruik of hulle te vra om as voorspraak vir hulle te dien. Is dit ’n Bybelleerstelling? In die Bergpredikasie het Jesus sy volgelinge geleer hoe om God te nader, en gesê: “Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word’” (Matteus 6:9). Gebede word gepas tot Jehovah God alleen gerig.

Sommige teoloë probeer bewys dat “heiliges” voorspraak doen deur Romeine 15:30 aan te haal, waar ons lees: “Ek vermaan julle dan nou, broers, deur ons Here Jesus Christus en deur die liefde van die gees, om julle saam met my in te span in gebede tot God vir my.” Het Paulus daardie gelowiges aangespoor om tot hom te bid of sy naam te gebruik om God te nader? Nee. Hoewel die Bybel gebede ten behoewe van die ware heiliges aanmoedig, word ons nêrens deur God beveel om tot of deur hierdie heiliges te bid nie.—Filippense 1:1, 3, 4.

Maar God het wel iemand aangestel om as Voorspraak vir ons gebede te dien. “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”, het Jesus Christus gesê. “Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.” Jesus het ook gesê: “Wat julle ook al in my naam vra, dit sal ek doen, sodat die Vader in verband met die Seun verheerlik kan word. As julle enigiets in my naam vra, sal ek dit doen” (Johannes 14:6, 13, 14). Ons kan vol vertroue wees dat Jehovah bereid is om gebede te verhoor wat in Jesus se naam gedoen word. Aangaande Jesus sê die Bybel: “Hy [kan] ook dié wat deur hom tot God nader, volkome red, omdat hy altyd lewe om vir hulle te pleit [“voorspraak te doen”, voetnoot in NW].”—Hebreërs 7:25.

As Jesus bereid is om vir ons voorspraak te doen, waarom bid gelowiges in die Christendom dan dikwels tot “heiliges”? Die geskiedskrywer Will Durant toon in sy boek The Age of Faith wat die oorsprong van hierdie gebruik is. Hoewel Durant erken dat die almagtige God gevrees is en Jesus blykbaar meer genaakbaar was, sê hy: “Mens sou dit nouliks waag om [Jesus] direk aan te spreek nadat jy Sy Saligsprekinge so totaal geïgnoreer het. Dit het verstandiger gelyk om tot ’n heilige te bid wat beslis in die hemel sou wees omdat hy heilig verklaar is, en hom of haar te smeek om by Christus voorspraak te doen.” Het hulle rede gehad om so te voel?

Die Bybel leer dat ons deur Jesus “vrymoedigheid van spraak en toegang met vertroue” tot God in gebed kan hê (Efesiërs 3:11, 12). Die almagtige God is nie te ver van die mensdom om ons gebede te hoor nie. Die psalmis Dawid het met vertroue gebid: “O Hoorder van die gebed, ja, tot u sal mense van alle vlees kom” (Psalm 65:2). Jehovah voorsien nie krag deur middel van die relieke van afgestorwe “heiliges” nie, maar stort eerder sy heilige gees uit op diegene wat in geloof daarvoor vra. Jesus het soos volg geredeneer: “As julle, hoewel julle goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!”—Lukas 11:13.

Die rol van die heiliges

Die heiliges aan wie Paulus sy briewe geskryf het, het eeue gelede gesterf en sou mettertyd “die kroon van die lewe”, ’n opstanding tot hemelse lewe, ontvang (Openbaring 2:10). Aanbidders van Jehovah God besef dat die verering van hierdie ware heiliges onskriftuurlik is en hulle nie kan beskerm teen siekte, natuurrampe, ekonomiese onbestendigheid, veroudering of die dood nie. Daarom vra jy dalk: ‘Gee God se heiliges werklik vir ons om? Kan ons verwag dat hulle ten behoewe van ons sal optree?’

Heiliges speel ’n belangrike rol in ’n profesie wat deur Daniël opgeteken is. In die sesde eeu v.G.J. het hy ’n aangrypende visioen gesien, waarvan die vervulling tot in ons dag strek. Uit die see het daar vier skrikwekkende diere gekom wat ’n voorstelling is van menseregerings, wat nie in staat is om in die werklike behoeftes van die mensdom te voorsien nie. Daniël het toe geprofeteer: “Die heiliges van die Opperwese sal die koninkryk ontvang, en hulle sal die koninkryk vir onbepaalde tyd in besit neem, ja, vir onbepaalde tyd tot onbepaalde tye.”—Daniël 7:17, 18.

Paulus het bevestiging gegee van hierdie “erfenis vir die heiliges”, naamlik dat hulle mede-erfgename met Christus in die hemel sal wees (Efesiërs 1:18-21). Die bloed van Jesus het dit vir 144 000 heiliges moontlik gemaak om tot hemelse heerlikheid opgewek te word. Die apostel Johannes het gesê: “Gelukkig en heilig is enigeen wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen gesag nie, maar hulle sal priesters van God en van die Christus wees en sal die duisend jaar lank saam met hom as konings heers” (Openbaring 20:4, 6; 14:1, 3). In ’n visioen het Johannes ’n hemelse skare voor die verheerlikte Jesus hoor sing: “Met u bloed het u mense uit elke stam en taal en volk en nasie vir God gekoop, en u het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle gaan as konings oor die aarde heers” (Openbaring 5:9, 10). Hoe gerusstellend tog! Jehovah God het self hierdie manne en vroue met sorg gekies. Daarbenewens het hulle getrou op die aarde gedien en feitlik elke probleem ondervind waarvoor mense al te staan gekom het (1 Korintiërs 10:13). Ons kan derhalwe vol vertroue wees dat hierdie verrese heiliges barmhartige en simpatieke heersers sal wees, wat ons swakhede en beperkings in ag sal neem.

Seëninge onder Koninkryksheerskappy

Die Koninkryksregering sal binnekort optree om alle goddeloosheid en lyding van die aarde af weg te neem. Dan sal mense nader as ooit tevore aan God kom. Johannes het geskryf: “Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk! Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees.’” Dit sal ongekende seëninge vir die mensdom meebring, want die profesie sê verder: “Hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.

Wat ’n wonderlike tyd sal dit tog wees! Die seëninge wat die volmaakte heerskappy van Christus Jesus en die 144 000 heiliges sal meebring, word verder beskryf in hierdie woorde van Miga 4:3, 4: “[Jehovah] sal beslis oordeel tussen baie volke en sake regstel met betrekking tot magtige nasies wat ver is. En hulle sal van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse. Hulle sal nie, nasie teen nasie, die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie. En hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie; want die mond van Jehovah van die leërs het dit gespreek.”

Die uitnodiging om in hierdie seëninge te deel, word deur die heiliges aan ons gerig. Die ware heiliges, wat deur ’n bruid voorgestel word, hou aan sê: “Kom!” Die teks gaan voort: “En laat enigeen wat hoor, sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17). Wat sluit “die water van die lewe” in? Onder andere juiste kennis van God se voornemens. Jesus het in gebed tot God gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Ons kan hierdie kennis deur middel van ’n gereelde studie van die Bybel verkry. Hoe bly kan ons tog wees dat ons deur God se Woord kan onderskei wie die heiliges werklik is en kan leer hoe hy hulle sal gebruik om ewige voordele vir die mensdom te bring!

[Prent op bladsy 4]

Paulus het geïnspireerde briewe aan ware heiliges geskryf

[Prent op bladsy 4, 5]

Jesus se getroue apostels was ware heiliges

[Prent op bladsy 6]

Ons kan vol vertroue deur Jesus Christus tot God bid

[Prent op bladsy 7]

Die verrese heiliges sal simpatieke heersers oor die aarde wees