Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou aan om te beoefen wat julle geleer het

Hou aan om te beoefen wat julle geleer het

Hou aan om te beoefen wat julle geleer het

“Die dinge wat julle geleer sowel as aangeneem en gehoor en gesien het in verband met my, beoefen dit; en die God van vrede sal met julle wees.”—FILIPPENSE 4:9.

1, 2. Het die Bybel oor die algemeen ’n invloed op die lewe van mense wat sê dat hulle godsdienstig is? Verduidelik.

 “GODSDIENS wen veld, terwyl sedelikheid veld verloor.” Hierdie opskrif in die nuusbrief Emerging Trends het die uitslag opgesom van ’n landwye meningspeiling in die Verenigde State. In daardie land was daar blykbaar ’n vermeerdering in die aantal mense wat kerk toe gaan en wat sê dat godsdiens ’n belangrike plek in hulle lewe beklee. Maar die verslag sê: “Ten spyte van hierdie indrukwekkende syfers is dit duidelik dat daar twyfel by baie Amerikaners bestaan oor die invloed van godsdiens op die lewe van individue en op die samelewing as geheel.”

2 Hierdie situasie kom nie net in een land voor nie. Regoor die wêreld sê baie mense dat hulle die Bybel aanvaar en godsdienstig is, maar die Skrif het geen wesenlike invloed op hulle lewe nie (2 Timoteus 3:5). “Ons het nog steeds groot respek vir die Bybel”, het die hoof van ’n navorsingsgroep gesê, “maar ons bestee nie werklik meer tyd daaraan om dit te lees, te bestudeer en toe te pas nie—dít is iets van die verlede.”

3. (a) Watter invloed het die Bybel op diegene wat ware Christene word? (b) Hoe pas Jesus se volgelinge Paulus se raad in Filippense 4:9 toe?

3 Die situasie is egter anders in die geval van ware Christene. Omdat hulle die raad uit God se Woord toepas, bring dit veranderinge in hulle denke en gedrag mee. En ander kan maklik sien dat hulle hulle met die nuwe persoonlikheid beklee het (Kolossense 3:5-10). Vir volgelinge van Jesus is die Bybel nie ’n boek wat net op die rak lê en stof vergaar nie. Inteendeel, die apostel Paulus het vir Christene in Filippi gesê: “Die dinge wat julle geleer sowel as aangeneem en gehoor en gesien het in verband met my, beoefen dit; en die God van vrede sal met julle wees” (Filippense 4:9). Christene doen meer as om net die waarheid van God se Woord te aanvaar. Hulle reageer op wat hulle leer en pas voortdurend die Bybel se raad toe—in die gesin, by die werk, in die gemeente en op alle ander gebiede van die lewe.

4. Waarom is dit nie maklik om God se wette toe te pas nie?

4 Dit is nie maklik om God se wette en beginsels toe te pas nie. Ons lewe in ’n wêreld wat in die mag van Satan die Duiwel lê, wat in die Bybel “die god van hierdie stelsel van dinge” genoem word (2 Korintiërs 4:4; 1 Johannes 5:19). Daarom is dit noodsaaklik dat ons waak teen enigiets wat ons kan verhinder om ’n weg van onkreukbaarheid teenoor Jehovah God te volg. Hoe kan ons onkreukbaarheid handhaaf?

Hou vas aan “die patroon van gesonde woorde”

5. Wat toon Jesus se woorde: ‘Volg my voortdurend’?

5 Een manier waarop ons die dinge beoefen wat ons geleer het, is deur ware aanbidding lojaal te ondersteun, ondanks teenstand van ongelowiges. Volharding verg inspanning. “As iemand agter my aan wil kom”, het Jesus gesê, “laat hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg” (Matteus 16:24). Jesus het nie gesê dat ons hom net ’n week, ’n maand of ’n jaar lank moet volg nie. Hy het eerder gesê: ‘Volg my voortdurend.’ Sy woorde toon dat ons dissipelskap nie net ’n blote fase in ons lewe of ’n tydelike toegewydheid kan wees wat vandag bestaan en môre iets van die verlede is nie. As ons ware aanbidding lojaal ondersteun, beteken dit dat ons getrou volhard op die weg wat ons gekies het, ongeag wat gebeur. Hoe kan ons dit doen?

6. Wat is die patroon van gesonde woorde wat eerste-eeuse Christene by Paulus geleer het?

6 Paulus het sy medewerker Timoteus aangespoor: “Hou voortdurend vas aan die patroon van gesonde woorde wat jy van my gehoor het, met die geloof en liefde wat in verband met Christus Jesus is” (2 Timoteus 1:13). Wat het Paulus bedoel? Die Griekse woord wat hier met “patroon” vertaal word, verwys letterlik na ’n kunstenaar se tekening. Hoewel dit nie baie besonderhede bevat nie, is die buitelyne duidelik genoeg sodat iemand wat mooi daarna kyk, kan sien waaroor dit gaan. Net so was die patroon van waarheid wat Paulus vir Timoteus en ander geleer het, nie bedoel om elke moontlike vraag te beantwoord nie. Maar hierdie versameling leringe voorsien genoegsame leiding—soos die buitelyne van ’n tekening—sodat opregtes van hart kan sien wat Jehovah van hulle vereis. As hulle God natuurlik wil behaag, moet hulle voortdurend vashou aan daardie patroon van waarheid deur toe te pas wat hulle geleer het.

7. Hoe kan Christene aan die patroon van gesonde woorde vashou?

7 In die eerste eeu het persone soos Himeneus, Aleksander en Filetus idees bevorder wat nie met “die patroon van gesonde woorde” gestrook het nie (1 Timoteus 1:18-20; 2 Timoteus 2:16, 17). Hoe kon die vroeë Christene voorkom dat afvalliges hulle mislei? Deur die geïnspireerde geskrifte noukeurig te bestudeer en dit in hulle lewe toe te pas. Diegene wat die voorbeeld van Paulus en ander getroues gevolg het, kon enigiets herken en verwerp wat nie ooreengestem het met die patroon van waarheid wat hulle geleer is nie (Filippense 3:17; Hebreërs 5:14). Hulle was nie “verstandelik siek ten opsigte van twisvrae en debatte oor woorde” nie, maar het vooruitgang bly maak in hulle positiewe weg van godvrugtige toegewydheid (1 Timoteus 6:3-6). Ons doen dieselfde wanneer ons aanhou om die waarhede wat ons geleer het, toe te pas. Hoe geloofversterkend is dit tog om te sien dat die miljoene wat Jehovah oor die hele aarde dien, stewig bly vashou aan die patroon van Bybelwaarheid wat hulle geleer is.—1 Tessalonisense 1:2-5.

Verwerp “valse stories”

8. (a) Hoe probeer Satan ons geloof vandag vernietig? (b) Watter waarskuwing gee Paulus in 2 Timoteus 4:3, 4?

8 Satan probeer ons onkreukbaarheid ondermyn deur saadjies van twyfel te saai oor wat ons geleer is. Vandag, soos in die eerste eeu, is afvalliges en ander daarop uit om die geloof van onskuldiges te vernietig (Galasiërs 2:4; 5:7, 8). Soms gebruik hulle die media om verdraaide inligting of selfs blatante leuens oor die metodes en beweegredes van Jehovah se volk te versprei. Paulus het gewaarsku dat party oorgehaal sou word om die waarheid te verlaat. “Daar sal ’n tyd wees”, het hy geskryf, “wanneer hulle nie die gesonde leer sal verdra nie, maar ooreenkomstig hulle eie begeertes vir hulle onderrigters sal versamel sodat hulle ore gestreel kan word; en hulle sal hulle ore van die waarheid afkeer en hulle tot valse stories wend.”—2 Timoteus 4:3, 4.

9. Wat het Paulus moontlik in gedagte gehad toe hy na “valse stories” verwys het?

9 In plaas daarvan om aan die patroon van gesonde woorde vas te hou, is sommige se nuuskierigheid deur “valse stories” geprikkel. Wat was hierdie valse stories? Paulus het moontlik vergesogte legendes in gedagte gehad, soos dié wat in die apokriewe boek Tobias gevind word. a Valse stories het dalk ook sensasionele en twyfelagtige gerugte ingesluit. Dan was daar ook party wat—“ooreenkomstig hulle eie begeertes”—moontlik verstandelik mislei is deur dié wat ’n permissiewe beskouing van God se standaarde voorgestaan het of wat krities was teenoor diegene wat die leiding in die gemeente geneem het (3 Johannes 9, 10; Judas 4). Watter struikelblokke daar ook al was, party het klaarblyklik leuens bo die waarhede van God se Woord verkies. Kort voor lank het hulle opgehou om die dinge te beoefen wat hulle geleer het, en dit het tot hulle geestelike ondergang gelei.—2 Petrus 3:15, 16.

10. Watter valse stories kom vandag voor, en hoe het Johannes beklemtoon dat ons versigtig moet wees?

10 Ons kan vandag keer dat ons deur valse stories mislei word as ons selektief is in wat ons lees en waarna ons luister en as ons dit noukeurig ondersoek. Byvoorbeeld, die media bevorder dikwels onsedelikheid. Baie mense staan agnostisisme of algehele ateïsme voor. Hoër kritici spot met die Bybel se bewering dat dit deur God geïnspireer is. En hedendaagse afvalliges hou aan om saadjies van twyfel te probeer saai sodat hulle die geloof van Christene kan ondermyn. Die apostel Johannes het gewaarsku teen ’n soortgelyke gevaar wat valse profete in die eerste eeu ingehou het: “Geliefdes, moenie elke geïnspireerde uiting glo nie, maar stel die geïnspireerde uitinge op die proef om te sien of hulle hulle oorsprong by God het, want talle valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Johannes 4:1). Ons moet dus versigtig wees.

11. Wat is een manier om te toets of ons in die geloof is?

11 Paulus het in dié verband geskryf: “Toets voortdurend of julle in die geloof is” (2 Korintiërs 13:5). Die apostel het ons aangespoor om onsself voortdurend te toets sodat ons kan vasstel of ons by al die Christelike oortuigings bly. As ons dit geniet om na mense te luister wat onvergenoeg is, moet ons onsself biddend ondersoek (Psalm 139:23, 24). Is ons geneig om fout te vind met Jehovah se knegte? Indien wel, waarom? Het iemand se woorde of dade ons seergemaak? As dit die geval is, hou ons sake in die regte perspektief? Enige verdrukking wat ons in hierdie stelsel van dinge verduur, is tydelik (2 Korintiërs 4:17). Selfs al is daar iets in die gemeente wat ons beproef, waarom ophou om God te dien? Is dit nie veel beter om, wanneer ons ontsteld is, te doen wat ons kan om die probleem op te los en sake dan in Jehovah se hande te laat nie?—Psalm 4:4; Spreuke 3:5, 6; Efesiërs 4:26.

12. Hoe het die Bereane ’n goeie voorbeeld vir ons gestel?

12 Laat ons dit vermy om krities te wees en eerder ’n geestelik gesonde beskouing behou van die inligting wat ons deur persoonlike studie en gemeentelike vergaderinge verkry (1 Korintiërs 2:14, 15). Hoeveel verstandiger sal dit tog wees om God se Woord nie in twyfel te trek nie, maar eerder die gesindheid van die eerste-eeuse Bereane te hê wat die Skrif noukeurig ondersoek het! (Handelinge 17:10, 11). Laat ons dus toepas wat ons leer, valse stories verwerp en aan die waarheid vashou.

13. Hoe kan ons onwetend valse stories versprei?

13 Daar is nog ’n soort valse storie waarteen ons moet waak. ’n Mag der menigte sensasionele stories doen die rondte, dikwels deur middel van e-pos. Dit is verstandig om op ons hoede te wees vir sulke stories, veral as ons nie weet wat die oorsprong van die inligting is nie. Al is ’n ondervinding of storie deur ’n gerespekteerde Christen gestuur, het hy dalk nie eerstehandse kennis van die feite nie. Daarom is dit belangrik dat ons dit vermy om onbevestigde verslae oor te vertel of aan te stuur. Ons sal beslis nie “goddelose mites” of “valse stories wat skend wat heilig is”, wil oorvertel nie (1 Timoteus 4:7; New International Version). Aangesien ons ook verplig is om die waarheid met mekaar te praat, tree ons verstandig op as ons enigiets vermy wat kan veroorsaak dat ons onwetend onwaarhede versprei.—Efesiërs 4:25.

Positiewe resultate as ons die waarheid beoefen

14. Watter voordele hou dit in as ons die dinge beoefen wat ons uit God se Woord leer?

14 Dit sal baie voordele meebring as ons toepas wat ons deur persoonlike Bybelstudie en Christelike vergaderinge leer. Ons sal byvoorbeeld vind dat ons dalk beter verhoudinge geniet met dié wat in die geloof aan ons verwant is (Galasiërs 6:10). Ons eie gesindheid sal verbeter wanneer ons Bybelbeginsels toepas (Psalm 19:8). Wat meer is, as ons beoefen wat ons leer, sal ons ‘die leer van God versier’ en ander waarskynlik na ware aanbidding aantrek.—Titus 2:6-10.

15. (a) Hoe het ’n jong meisie moed bymekaargeskraap om by die skool te getuig? (b) Wat het jy uit hierdie ondervinding geleer?

15 Onder Jehovah se Getuies is daar baie jongmense wat die dinge beoefen wat hulle leer in hulle persoonlike studie van die Bybel en Christelike publikasies en wanneer hulle gemeentelike vergaderinge gereeld bywoon. Hulle goeie gedrag gee ’n kragtige getuienis vir onderwysers en skoolmaats (1 Petrus 2:12). Kyk na die voorbeeld van Leslie, ’n 13-jarige meisie in die Verenigde State. Sy erken dat dit vir haar moeilik was om met haar skoolmaats oor haar geloof te praat, maar eendag het dit verander. “Die klas het gepraat oor hoe mense dinge aan jou probeer verkoop. Een meisie het haar hand opgesteek en Jehovah se Getuies as ’n voorbeeld genoem.” Hoe het Leslie gereageer, aangesien sy ’n Getuie is? “Ek het my geloof verdedig”, sê sy, “wat almal seker verbaas het omdat ek gewoonlik so stil is by die skool.” Wat was die gevolg van Leslie se moedigheid? “Ek het ’n brosjure en ’n traktaat vir die meisie gegee, want sy het ook ander vrae gehad”, sê Leslie. Hoe bly moet dit Jehovah tog maak wanneer jongmense wat die dinge beoefen wat hulle leer, die moed bymekaarskraap om by die skool te getuig!—Spreuke 27:11; Hebreërs 6:10.

16. Hoe het een jong Getuie by die Teokratiese Bedieningskool baat gevind?

16 Nog ’n voorbeeld is dié van Elizabeth. Hierdie meisie het vandat sy sewe was, en regdeur haar laerskoolloopbaan, haar onderwysers na die Koninkryksaal genooi wanneer sy ’n toespraak op die Teokratiese Bedieningskool gehad het. As ’n onderwyser dit nie kon bywoon nie, het Elizabeth ná skool gebly en die toespraak vir die onderwyser gehou. In haar laaste jaar op hoërskool het Elizabeth ’n verslag van tien bladsye oor die voordele van die Teokratiese Bedieningskool geskryf en dit aan ’n paneel van vier onderwysers voorgedra. Sy is ook gevra om te wys hoe ’n toespraak op die Teokratiese Bedieningskool gehou word, waarvoor sy die onderwerp “Waarom laat God goddeloosheid toe?” gekies het. Elizabeth het baat gevind by die Teokratiese Bedieningskool, ’n onderrigtingsprogram van Jehovah se Getuies. Sy is net een van talle jong Christene wat Jehovah loof deur die dinge te beoefen wat hulle uit sy Woord leer.

17, 18. (a) Watter raad gee die Bybel oor eerlikheid? (b) Hoe is ’n man deur die eerlikheid van een van Jehovah se Getuies geraak?

17 Die Bybel vermaan Christene om hulle in alles eerlik te gedra (Hebreërs 13:18). Oneerlikheid kan ons verhouding met ander en, nog belangriker, met Jehovah skaad (Spreuke 12:22). Ons eerlike gedrag toon dat ons die dinge beoefen wat ons geleer het, en dit het baie mense groter respek vir Jehovah se Getuies gegee.

18 Beskou die ondervinding van ’n man in die weermag met die naam Phillip. Hy het ’n getekende blanko tjek verlê en dit nie besef totdat die tjek in die pos aan hom teruggestuur is nie. Die tjek is deur een van Jehovah se Getuies gevind, en die briefie wat daaraan geheg was, het gesê dat die persoon se godsdiensoortuiging hom beweeg het om dit terug te stuur. Phillip was verstom. “Hulle kon $9 000 uit my rekening onttrek het!” het hy gesê. Hy was geskok toe iemand eenkeer sy hoed in die kerk gesteel het. Blykbaar het ’n kennis sy hoed gesteel, terwyl ’n vreemdeling ’n tjek wat duisende dollars werd was, teruggegee het! Eerlike Christene bring waarlik eer aan Jehovah God!

Hou aan om te beoefen wat julle geleer het

19, 20. Hoe sal ons daarby baat vind as ons optree in ooreenstemming met die skriftuurlike dinge wat ons leer?

19 Diegene wat beoefen wat hulle uit God se Woord geleer het, geniet tallose voordele. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Hy wat diep kyk in die volmaakte wet wat tot vryheid behoort en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder nie maar ’n dader van die werk geword het, gelukkig wees deurdat hy dit doen” (Jakobus 1:25). Ja, as ons optree in ooreenstemming met die skriftuurlike dinge wat ons leer, sal ons ware geluk geniet en die druk van die lewe beter kan hanteer. Bowenal sal ons Jehovah se seën en die vooruitsig op ewige lewe hê!—Spreuke 10:22; 1 Timoteus 6:6.

20 Lê jou dus voortdurend daarop toe om God se Woord te bestudeer. Vergader gereeld saam met aanbidders van Jehovah en skenk aandag aan die materiaal wat tydens Christelike vergaderinge aangebied word. Pas toe wat jy leer, hou aan om dit te beoefen, en “die God van vrede sal met [jou] wees”.—Filippense 4:9.

[Voetnoot]

a Tobias, wat waarskynlik in die derde eeu v.G.J. geskryf is, sluit die bygelowige fabel in van ’n Jood met die naam Tobias. Hy het glo die krag verkry om mense te genees en demone uit te dryf deur die hart, die gal en die lewer van ’n monsteragtige vis te gebruik.

Onthou jy?

• Wat is “die patroon van gesonde woorde”, en hoe kan ons daaraan vashou?

• Watter “valse stories” moet ons verwerp?

• Watter voordele geniet persone wat die dinge beoefen wat hulle uit God se Woord leer?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 17]

Hoe kon die vroeë Christene keer dat hulle deur afvalliges mislei word?

[Prente op bladsy 18]

Saadjies van twyfel kan gesaai word deur die media, die Internet en hedendaagse afvalliges

[Prent op bladsy 19]

Dit is nie verstandig om onbevestigde verslae te versprei nie

[Prente op bladsy 20]

By die werk, by die skool en elders pas Jehovah se Getuies toe wat hulle in God se Woord lees