Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense wat soos verkwikkende doudruppels is

Jongmense wat soos verkwikkende doudruppels is

“Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik”

Jongmense wat soos verkwikkende doudruppels is

JESUS CHRISTUS het ongetwyfeld ook sy jonger volgelinge in gedagte gehad toe hy gesê het: “Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik” (Matteus 11:28). Toe mense hulle kinders na hom toe gebring het, het sy dissipels hulle probeer keer. Maar Jesus het gesê: “Laat die jong kinders na my toe kom; moet hulle nie probeer keer nie.” Jesus het selfs “die kinders in sy arms geneem en hulle begin seën” (Markus 10:14-16). Ja, vir Jesus was jongmense beslis kosbaar.

Die Bybel vertel van getroue jong manne en vroue, sowel as tieners en klein kindertjies, wat uitstekende voorbeelde in God se diens gestel het. Die boek Psalms voorspel dat daar ’n “geselskap van jong manne” sal wees wat so verkwikkend soos doudruppels is. Dit praat ook van “jong manne” en “maagde” wat die naam van Jehovah loof.—Psalm 110:3; 148:12, 13.

’n Plek waar jongmense kan floreer

Dit is gepas om jongmense met doudruppels te vergelyk, want dou word met oorvloed en seën geassosieer (Genesis 27:28). Doudruppels is sag en verkwikkend. In hierdie tyd van Christus se teenwoordigheid bied groot getalle jong Christene hulle gewillig en gretig aan. Net soos verkwikkende doudruppels dien talle jong manne en vroue God blymoedig en help hulle hulle medegelowiges.—Psalm 71:17.

Jong Christene verkwik nie net ander nie; hulle put self ook verkwikking uit hulle diens. God se organisasie voorsien ’n milieu waarin hulle kan floreer. Omdat jong manne en vroue hoë sedelike standaarde handhaaf, geniet hulle ’n intieme verhouding met God (Psalm 119:9). In die gemeente neem hulle ook deel aan heilsame bedrywighede en vind hulle goeie vriende—faktore wat tot ’n bevredigende en sinvolle lewe bydra.

‘’n Genesing en ’n verkwikking’

Voel jong Christene soos “doudruppels”? Neem byvoorbeeld Tania, ’n jong vrou wat baie bedrywig is in die gemeente en dit geniet om meer as 70 uur per maand aan die bediening te bestee. Hoe voel sy? “Ek voel verkwik en opgebou”, sê sy. “Om Jehovah en sy aardse organisasie in my lewe te hê, is vir my ‘’n genesing en ’n verkwikking’.”—Spreuke 3:8.

Ariel, ’n ander jong voltydse bedienaar, waardeer die geestelike voedsel wat sy in die gemeente ontvang. “Wanneer ek Christelike vergaderinge en byeenkomste bywoon en die ryk geestelike voedsel aan Jehovah se tafel kan geniet, voel ek waarlik geestelik verkwik”, sê sy. “En dit versterk my om te weet dat ek regoor die wêreld medewerkers het.” Sy beskryf die grootste bron van verkwikking en sê: “Dit is so verkwikkend om Jehovah as vriend te hê, veral wanneer ek hoor of sien watter verskriklike uitwerking hierdie stelsel op mense het.”—Jakobus 2:23.

Abishai is 20 jaar oud en dien as ’n voltydse evangeliedienaar en ’n bedieningskneg in die gemeente. Hy beskryf sy gevoelens as volg: “Ek voel verkwik omdat ek weet hoe om die talle probleme te hanteer waarvoor jongmense vandag te staan kom. Die waarheid van die Bybel het my gehelp om my aandag gevestig te hou op wat ek moet doen om Jehovah heelhartig te dien.”

Toe Antoine in sy vroeë tienerjare was, het hy ’n slegte humeur gehad. Hy het eenkeer ’n skoolmaat met ’n stoel geslaan, en hy het ’n ander een met ’n potlood gesteek. Antoine was beslis nie verkwikkend nie! Maar onderrigting uit die Bybel het sy gedrag verander. Hy is nou 19 en dien as ’n bedieningskneg en voltydse bedienaar in die gemeente, en hy sê: “Ek dank Jehovah dat hy my toegelaat het om hom te leer ken en my help besef het dat ek selfbeheersing moet beoefen en my gedrag moet verander. So het ek baie probleme vermy.”

Ander sien die verkwikkende gesindheid van jong Christene raak. Matteo is ’n jong Getuie in Italië. Sy onderwyseres het besluit dat enigeen in die klas wat ’n vloekwoord gebruik, ’n klein boete moet betaal. ’n Ruk later het die kinders gevra dat die reël afgeskaf moet word, omdat dit volgens hulle “onmoontlik is om nie te vloek nie”. “Maar”, verduidelik Matteo, “die onderwyseres het gesê dat dit nie waar is nie; sy het my, een van Jehovah se Getuies, as ’n voorbeeld gebruik en my voor die hele klas geprys omdat ek nie vloek nie.”

In ’n onregeerbare klas in Thailand het die onderwyser die 11-jarige Ratsja voor die klas laat staan en hom vir sy gedrag geprys en gesê: “Waarom kan julle almal nie soos hy wees nie? Hy is pligsgetrou en goed gemanierd.” Toe het sy vir die klas gesê: “Ek veronderstel julle sal een van Jehovah se Getuies moet word, soos Ratsja, voor julle gedrag sal verbeter.”

Dit is wonderlik om te sien hoe duisende jong Christene Jehovah beter leer ken en sy wil doen. Hierdie voortreflike jongmense is baie wyser as hulle jare. God kan hulle help om nou ’n sukses van hulle lewe te maak en om ’n wonderlike toekoms in die komende nuwe wêreld te hê (1 Timoteus 4:8). In die geestelike woesteny van hierdie huidige stelsel van dinge, wat vol ontevrede en gefrustreerde jongmense is, is hulle verkwikkend anders!