Bevoorreg om aan naoorlogse uitbreiding deel te neem
Lewensverhaal
Bevoorreg om aan naoorlogse uitbreiding deel te neem
SOOS VERTEL DEUR FILIP S. HOFFMANN
Die Tweede Wêreldoorlog het kort tevore in Mei 1945 geëindig. Daardie Desember het Nathan H. Knorr, wat oor die wêreldwye predikingswerk van Jehovah se Getuies toesig gehou het, Denemarke saam met sy 25-jarige sekretaris, Milton G. Henschel, besoek. ’n Groot saal is gehuur vir daardie besoek waarna ons almal gretig uitgesien het. Vir ons as jongmense was broer Henschel se toespraak veral opwindend, aangesien hy ons ouderdom was en gepraat het oor die tema: “Dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid.”—Prediker 12:1, Die Bybel, 1953.
GEDURENDE daardie besoek het ons gehoor van opwindende verwikkelinge ter bevordering van die wêreldwye predikingswerk waaraan ons ook ’n aandeel kon hê (Matteus 24:14). ’n Nuwe skool om jong manne en vroue vir sendingwerk op te lei, is byvoorbeeld in die Verenigde State geopen. Broer Knorr het beklemtoon dat diegene wat daarheen genooi word, “net ’n enkelkaartjie” sou kry en nie sou weet waarheen hulle gestuur sou word nie. Party van ons het nietemin aansoek gedoen.
Maar kom ek begin by my geboorte in 1919, voordat ek van my ondervindinge ná die Tweede Wêreldoorlog vertel. Daar was ’n aantal gebeure voor en gedurende die oorlog wat ’n groot invloed op my lewe gehad het.
Die swart skaap van die familie bring Bybelwaarheid
Toe my ma swanger was met my—haar eerste kind—het sy gebid dat ek, as ek ’n seun was, ’n sendeling sou word. Haar broer was
’n Bybelstudent, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, maar haar familie het hom as die swart skaap beskou. Ons het naby Kopenhagen gewoon, en wanneer die Bybelstudente hulle jaarlikse streekbyeenkoms gehad het, het my ma altyd oom Thomas, wat ’n hele ent daarvandaan gewoon het, genooi om by ons te kom bly. Teen 1930 het sy ongelooflike Bybelkennis en logiese redenasies my ma oortuig om ’n Bybelstudent te word.My ma was lief vir die Bybel. Sy het die bevel in Deuteronomium 6:7 gehoorsaam en my en my suster geleer ‘wanneer sy in haar huis gesit het, op die pad geloop het, gaan lê het of opgestaan het’. Mettertyd het ek aan die huis-tot-huis-bediening begin deelneem. Ek het dit geniet om onderwerpe te bespreek soos die onsterflikheid van die siel en die helse vuur, wat die kerke vir mense geleer het. Ek kon uit die Bybel bewys dat hierdie leerstellings verkeerd is.—Psalm 146:3, 4; Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4.
Ons gesin word verenig
Ná die streekbyeenkoms in Kopenhagen in 1937 was tydelike hulp nodig by die lektuurdepot van die Deense takkantoor van Jehovah se Getuies. Ek het pas my opleiding by ’n handelskool voltooi en het geen verpligtinge gehad nie; daarom het ek aangebied om by die depot te gaan help. Toe daar nie meer hulp nodig was nie, is ek gevra of ek by die takkantoor sal gaan help. Kort daarna het ek die huis verlaat en by die tak in Kopenhagen gaan dien, al was ek nog nie gedoop nie. Daaglikse omgang met ryp Christene het my gehelp om geestelik te vorder. Die volgende jaar, op 1 Januarie 1938, het ek my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer.
In September 1939 het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek. En op 9 April 1940 het Duitse troepe Denemarke beset. Aangesien Dene heelwat persoonlike vryheid gegee is, kon ons met ons predikingsbedrywighede voortgaan.
Toe het iets wonderliks gebeur. My pa het ’n bedrywige, lojale Getuie geword, wat ons gesin baie gelukkig gemaak het. Toe ek en vier ander Dene genooi is om die agtste klas van die Gileadskool by te woon, het ek dus die ondersteuning van ons hele gesin gehad. Die kursus van vyf maande het in September 1946 begin
en is by die pragtige kampus net buite South Lansing, noord van New York, gehou.Opleiding aan Gilead en daarna
Gilead het geleenthede gebied om wonderlike nuwe vriende te maak. Een aand terwyl ek saam met Harold King van Engeland by die kampus rondgestap het, het ons gepraat oor waarheen ons moontlik ná ons opleiding gestuur sou word. “Ek glo nie dit was die laaste keer dat ek die wit kranse van Dover gesien het nie”, het Harold gesê. Hy was reg, maar dit het 17 jaar geneem voordat hy daardie kranse weer gesien het, en vier en ’n half jaar van daardie tyd het hy in alleenopsluiting in ’n Chinese tronk deurgebring! a
Ná ons graduering is ek na Texas, VSA, gestuur om as ’n reisende opsiener te dien, wat gemeentes van Jehovah se Getuies besoek om hulle geestelik te help. Ek is met ope arms ontvang. Vir die broers in Texas was dit interessant om deur ’n jong Europese broer besoek te word wat pas aan die Gileadskool opgelei is. Maar ná net sewe maande in Texas is ek gevra om na die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, te gaan. Daar het broer Knorr my ’n toewysing in die kantoor gegee, met instruksies om te leer hoe die werk in al die departemente gedoen word. Met my terugkeer na Denemarke moes ek toepas wat ek geleer het en seker maak dat alles op dieselfde manier gedoen word as in Brooklyn. Die idee was om die werk in al die takkantore regoor die wêreld eenvormig te maak vir groter doeltreffendheid. Later het broer Knorr my na Duitsland gestuur.
Instruksies aan takkantore word toegepas
Toe ek in Julie 1949 in Wiesbaden, Duitsland, aangekom het, was daar nog tekens van verwoesting in baie van die Duitse stede. Diegene wat die leiding in die predikingswerk geneem het, was manne wat al vervolg is vandat Hitler in 1933 aan bewind gekom het. Sommige was agt tot tien jaar of selfs langer in tronke en konsentrasiekampe! Ek het drie en ’n half jaar lank saam met hierdie knegte van Jehovah gewerk. Hulle uitsonderlike voorbeeld herinner my aan ’n kommentaar deur die Duitse geskiedskrywer Gabriele Yonan: “As dit nie was vir die voorbeeld van hierdie standvastige groep Christene onder die Nasionaal-Sosialistiese diktatorskap nie, sou ons—ná Auschwitz en die Slagting—getwyfel het of dit enigsins moontlik is om by die Christelike leringe van Jesus te bly.”
My werk by die takkantoor was dieselfde as in Denemarke: om ’n nuwe, eenvormige manier in te stel om organisatoriese sake te behartig. Nadat die Duitse broers besef het dat die aanpassings geensins kritiek op hulle werk was nie—maar dat die tyd aangebreek het vir nouer samewerking tussen die verskillende takkantore en die hoofkwartier—was hulle vol geesdrif en het hulle hulle volle samewerking gegee.
In 1952 het ’n brief van broer Knorr se kantoor af gekom waarin ek gevra is om na die takkantoor in Bern, Switserland, te gaan. Ek is aangestel om van 1 Januarie 1953 af daar as takopsiener te dien.
Nuwe vreugdes in Switserland
Kort nadat ek in Switserland aangekom het, het ek Esther by ’n byeenkoms ontmoet, en nie lank daarna nie het ons verloof geraak. In Augustus 1954 het broer Knorr my gevra om na Brooklyn te kom, waar ek van ’n nuwe, opwindende werk vertel is. Aangesien die takkantore regoor die wêreld so vinnig toegeneem en uitgebrei het, is ’n nuwe reëling ingestel. Die wêreld is in sones verdeel, wat elk deur ’n sone-opsiener bedien sou word. Ek moes twee van hierdie sones bedien: Europa en die Mediterreense gebied.
Kort ná my vlugtige besoek aan Brooklyn het ek na Switserland teruggekeer en voorbereidings getref vir die sonewerk. Ek en Esther is getroud, en sy het saam met my by die takkantoor in Switserland begin dien. Met my eerste reis het ek sendinghuise en takkantore besoek in Italië, Griekeland, Siprus, lande in die Midde-Ooste en langs die kus van Noord-Afrika, asook Spanje en Portugal—altesaam 13 lande. Ná ’n kort rukkie terug in Bern het ek my reis voortgesit na al die ander Europese lande wes van die Ystergordyn. Gedurende ons eerste jaar van getroude lewe was ek ses maande lank weg van die huis af terwyl ek ons Christenbroers gedien het.
Omstandighede verander
In 1957 het Esther uitgevind dat sy swanger is, en aangesien ’n takkantoor nie ingerig is vir ouers met kinders nie, het ons besluit om na Denemarke te verhuis waar my pa ons genooi het om by hom te kom bly. Esther het na ons dogter, Rakel, en my pa omgesien terwyl ek by die nuwe takkantoor gehelp het. Ek was ’n instrukteur by die Koninkryksbedieningskool vir gemeentelike opsieners en het ook voortgegaan om as ’n sone-opsiener te dien.
Die sonewerk het beteken dat ek baie moes reis, wat ongelukkig daartoe gelei het dat ek lang tye weg was van ons dogter. Dit het sy nadele gehad. Ek was eenkeer in Parys, waar ons ’n klein drukkery opgerig het. Esther en Rakel het met die trein vir my kom kuier en by Gare du Nord afgeklim. Léopold Jontès van die takkantoor het saam met my gegaan om hulle te ontmoet. Rakel het op die passasierswa se trappie gestaan, na Léopold gekyk, toe na my en weer na Léopold, en toe vir Léopold omhels!
Nog iets wat my lewe dramaties verander het, was toe ek, op 45-jarige ouderdom, die voltydse bediening verlaat het om ’n salaris te verdien sodat ek my gesin kon onderhou. Met my ondervinding as ’n bedienaar van Jehovah se Getuies kon ek werk as ’n uitvoerbestuurder kry. Nadat ek omtrent nege jaar vir dieselfde maatskappy gewerk het en Rakel klaar was met skool, het ons besluit om gehoor te gee aan die aansporing om te verhuis na waar meer Koninkryksverkondigers nodig was.
Ek het die geleenthede in Noorweë ondersoek en ’n agentskap gevra oor die moontlikheid van ’n werk. Die antwoord was nie baie bemoedigend nie. Daar was maar min hoop vir ’n 55-jarige man. Ek het nogtans met die takkantoor in Oslo in aanraking gekom en daarna ’n huis naby die dorp Drøbak gehuur, in die hoop dat ek ’n werk sou kry. Ek hét toe een gekry, en ’n baie aangename tyd van Koninkryksdiens in Noorweë het gevolg.
Van die lekkerste tye was wanneer ’n groot groep uit ons gemeente na die noorde gereis het om in ontoegekende gebied te gaan werk. Ons het huisies by ’n kampeerterrein gehuur en elke dag die plase in die pragtige berge besoek. Dit was wonderlik om hierdie vriendelike mense van God se Koninkryk te vertel. Baie lektuur is versprei, maar die herbesoeke kon eers die volgende jaar gedoen word. Die mense het ons egter nie vergeet nie! Esther en Rakel onthou nog die tyd toe ons teruggegaan het en soos langverlore familie omhels is. Ná drie jaar in Noorweë het ons na Denemarke teruggekeer.
Die vreugdes van gesinslewe
Rakel het kort daarna verloof geraak aan Niels Højer, ’n ywerige voltydse pionierbedienaar. Nadat hulle getroud is, het Niels en Rakel voortgegaan om as pioniers te dien totdat hulle kinders gekom het. Niels is ’n goeie eggenoot en ’n uitstekende vader, wat werklik sy gesin se belange op die hart dra. Vroeg een oggend het hy sy seun op sy fiets strand toe geneem om te kyk hoe die son opkom. Een van die bure het die seun gevra wat hulle daar gedoen het. Hy het geantwoord: “Ons het tot Jehovah gebid.”
’n Paar jaar later het ek en Esther gesien hoe ons twee oudste kleinkinders, Benjamin en Nadja, gedoop word. Niels het reg voor my kom staan. Hy het na my gekyk en gesê: “Ware manne huil nie.” Maar die volgende oomblik het ons op mekaar se skouers gehuil. Hoe wonderlik is dit tog om ’n skoonseun te hê wat saam met jou kan lag en huil!
Verdere aanpassings
Nog iets wat vir my en Esther ’n seën was, was toe ons gevra is om weer by die Deense takkantoor te dien. Teen daardie tyd was hulle egter besig met voorbereidings om ’n veel groter takkantoor in Holbæk te bou. Ek het die voorreg gehad om te help met die toesig oor die konstruksiewerk, wat alles deur onbetaalde, vrywillige werkers gedoen is. Ondanks ’n strawwe winter was die projek teen die einde van 1982 feitlik voltooi, en ons almal was verheug om na die groter, beter fasiliteit te trek!
Ek was gou weer betrokke by kantoorwerk, wat ek baie geniet het, terwyl Esther die skakelbordoperatrise was. Maar na verloop van tyd het sy ’n heupvervangingsoperasie gehad, en ’n jaar en ’n half later ’n galblaasoperasie. Al was die broers by die takkantoor baie dierbaar teenoor ons, het ons besluit dat dit vir almal beter sou wees as ons eerder gaan. Ons het na die gemeente toe gegaan waar ons dogter en haar gesin was.
Esther sukkel deesdae met haar gesondheid. Tog kan ek waarlik sê dat sy deur al die jare waarin ons Jehovah saam gedien het, en ondanks al die veranderinge in ons omstandighede, ’n wonderlike steunpilaar en maat was. Al gaan ons gesondheid agteruit, het ons albei steeds ’n beskeie aandeel aan die predikingswerk. Wanneer ek terugkyk op my lewe, dink ek met waardering aan die woorde van die psalmis: “O God, u het my van my jeug af geleer.”—Psalm 71:17.
[Voetnoot]
a Sien Die Wagtoring van 1 Oktober 1963, bladsye 450-5.
[Prent op bladsy 24]
Besig om lektuur af te laai by die Duitse takkantoor wat in 1949 in aanbou was
[Prent op bladsy 25]
Ek het gewerk saam met Getuies soos hierdie broers wat uit die konsentrasiekampe teruggekeer het
[Prente op bladsy 26]
Saam met Esther vandag en op ons troudag by die Bethel in Bern, Oktober 1955