Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah seën en beskerm dié wat gehoorsaam is

Jehovah seën en beskerm dié wat gehoorsaam is

Jehovah seën en beskerm dié wat gehoorsaam is

“Wat die een betref wat na my luister, hy sal in veiligheid woon en nie deur vrees vir rampspoed versteur word nie.”—SPREUKE 1:33.

1, 2. Waarom is gehoorsaamheid aan God belangrik? Lig toe.

 DIE donsige, geel kuikentjies pik-pik lustig in die kort gras op soek na kossies, salig onbewus van ’n valk wat hoog bo hulle sweef. Skielik gee die moederhen ’n skril waarskuwing en sprei sy haar vlerke uit. Haar kuikens hardloop na haar toe, en binne sekondes is hulle veilig onder haar vlerke versteek. Die valk moet maar opgee en wegvlieg. a Wat is die les? Gehoorsaamheid red lewens!

2 Daardie les is veral belangrik vir Christene van vandag, want Satan doen alles in sy vermoë om God se volk sy prooi te maak (Openbaring 12:9, 12, 17). Sy oogmerk is om ons geestelikheid te vernietig sodat ons Jehovah se guns en die vooruitsig op die ewige lewe kan verloor (1 Petrus 5:8). Maar as ons na aan God bly en vinnig reageer op die riglyne wat ons deur sy Woord en organisasie ontvang, kan ons verseker wees van sy beskerming. “Met sy vlerke sal hy toegang tot jou versper, en onder sy vleuels sal jy toevlug soek”, het die psalmis geskryf.—Psalm 91:4.

’n Ongehoorsame nasie word ’n prooi

3. Wat was die gevolg van Israel se voortdurende ongehoorsaamheid?

3 Wanneer die nasie Israel aan Jehovah gehoorsaam was, het hulle gereeld sy waaksame sorg ondervind. Maar die volk het hulle Maker alte dikwels verlaat en hulle tot gode van hout en klip gewend—“onwerklikhede . . . wat geen voordeel bring en wat nie verlos nie” (1 Samuel 12:21). Ná eeue van opstandigheid het die nasie as geheel so afvallig geraak dat hulle geen kans op herstel gehad het nie. Daarom het Jesus oor hulle getreur en gesê: “Jerusalem, Jerusalem, wat die profete doodmaak en dié stenig wat na haar gestuur is—hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak, soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak! Maar julle wou nie. Kyk! Julle huis word vir julle verlate agtergelaat.”—Matteus 23:37, 38.

4. Hoe het dit in 70 G.J. duidelik geword dat Jehovah Jerusalem verwerp het?

4 In 70 G.J. het dit pynlik duidelik geword dat Jehovah afvallige Israel verwerp het. In daardie jaar het die Romeinse leër—met hulle vaandels omhoog, waarop die beeld van ’n arend gepryk het—op Jerusalem afgepyl en ’n verskriklike slagting teweeggebring. Die stad was op daardie tydstip vol Pasgavierders. Al hulle offerandes het hulle nie God se guns laat verkry nie. Dit was ’n tragiese herinnering aan wat Samuel vir ongehoorsame koning Saul gesê het: “Skep Jehovah soveel behae in brandoffers en offerandes as in gehoorsaamheid aan die stem van Jehovah? Kyk! Om gehoorsaam te wees, is beter as ’n offerande, om aandag te skenk beter as die vet van ramme.”—1 Samuel 15:22.

5. Watter soort gehoorsaamheid vereis Jehovah, en hoe weet ons dat sulke gehoorsaamheid moontlik is?

5 Hoewel Jehovah aandring op gehoorsaamheid, is hy deeglik bewus van die feit dat onvolmaakte mense beperkings het (Psalm 130:3, 4). Hy vereis ’n opregte hart en gehoorsaamheid gegrond op geloof, liefde en ’n heilsame vrees om hom te mishaag (Deuteronomium 10:12, 13; Spreuke 16:6; Jesaja 43:10; Miga 6:8; Romeine 6:17). Dat sulke gehoorsaamheid moontlik is, is bewys deur ’n ‘groot wolk van voor-Christelike getuies’, wat hulle onkreukbaarheid gehandhaaf het ondanks verskriklike beproewinge, selfs die dood (Hebreërs 11:36, 37; 12:1). Hoe bly het hulle Jehovah se hart tog gemaak! (Spreuke 27:11). Ander was aanvanklik getrou, maar het nie in ’n weg van gehoorsaamheid volhard nie. Een van hulle was koning Joas van eertydse Juda.

’n Koning word deur slegte omgang verderf

6, 7. Watter soort koning was Joas terwyl Jojada nog gelewe het?

6 Koning Joas is as baba byna om die lewe gebring. Toe Joas sewe jaar oud was, het die hoëpriester Jojada hom moedig uit sy skuilplek gebring en hom koning gemaak. Omdat die godvresende Jojada as vader en raadgewer vir Joas opgetree het, het die jong heerser “bly doen wat reg was in Jehovah se oë, al die dae van die priester Jojada”.—2 Kronieke 22:10–23:1, 11; 24:1, 2.

7 Een van die goeie dade wat Joas verrig het, was om Jehovah se tempel te herstel—iets wat “Joas na aan die hart gelê” het. Hy het die hoëpriester Jojada daaraan herinner dat die tempelbelasting van Juda en Jerusalem ingevorder moes word, ‘soos deur Moses voorgeskryf is’, om vir die herstelwerk te betaal. Jojada het blykbaar daarin geslaag om die jong koning aan te moedig om God se Wet te bestudeer en te gehoorsaam. Gevolglik is die werk aan die tempel en tempelvoorwerpe gou voltooi.—2 Kronieke 24:4, 6, 13, 14; Deuteronomium 17:18.

8. (a) Wat het hoofsaaklik tot Joas se geestelike ondergang bygedra? (b) Wat het die koning se ongehoorsaamheid hom uiteindelik laat doen?

8 Ongelukkig het Joas nie gehoorsaam aan Jehovah gebly nie. Waarom nie? God se Woord sê vir ons: “Ná Jojada se dood het die vorste van Juda ingekom en hulle voor die koning neergebuig. Toe het die koning na hulle geluister. En hulle het die huis van Jehovah, die God van hulle voorvaders, geleidelik verlaat en die heilige pale en die afgode begin dien, sodat daar verontwaardiging teen Juda en Jerusalem ontstaan het weens hierdie skuld van hulle.” Die onheilsame invloed van Juda se vorste het ook daartoe gelei dat die koning God se profete geïgnoreer het, waarvan een Jojada se seun Sagaria was, wat Joas en die volk moedig tereggewys het oor hulle ongehoorsaamheid. In plaas van berou te toon, het Joas Sagaria laat stenig. Wat ’n hartelose, ongehoorsame man het Joas tog geword—en dít omdat hy voor die invloed van slegte vriende geswig het!—2 Kronieke 24:17-22; 1 Korintiërs 15:33.

9. Hoe beklemtoon die uiteinde van Joas en die vorste die dwaasheid van ongehoorsaamheid?

9 Hoe het Joas en sy goddelose vriende, die vorste, gevaar omdat hulle Jehovah verlaat het? ’n Siriese krygsmag—net “’n klein aantal manne”—het Juda binnegeval en “al die vorste van die volk . . . verdelg”. Die krygsmag het ook die koning gedwing om sy eie besittings sowel as die goud en silwer van die heiligdom aan hulle te oorhandig. Hoewel Joas dit oorleef het, was hy hierna ’n gebroke, siek man. Kort daarna het samesweerders onder sy eie knegte hom vermoor (2 Kronieke 24:23-25; 2 Konings 12:17, 18). Hoe waar was Jehovah se woorde aan Israel tog: “As jy nie na die stem van Jehovah jou God luister deur al sy gebooie en sy insettinge sorgvuldig te onderhou . . . nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal”!—Deuteronomium 28:15.

Gehoorsaamheid red ’n sekretaris

10, 11. (a) Waarom is dit goed om na te dink oor Jehovah se raad aan Barug? (b) Watter raad het Jehovah aan Barug gegee?

10 Voel jy soms moedeloos omdat nie veel van die mense wat jy in die Christelike bediening ontmoet, enige belangstelling in die goeie nuus toon nie? Voel jy af en toe dalk effens afgunstig op die rykes en hulle gemaksugtige lewenswyse? Indien wel, kan jy gerus dink aan Barug, Jeremia se sekretaris, en Jehovah se liefdevolle raad aan hom.

11 Barug was besig om ’n profetiese boodskap neer te skryf toe hy self raad van Jehovah ontvang het. Waarom? Omdat Barug ongelukkig begin raak het oor sy lot in die lewe en iets beters as sy spesiale voorreg in God se diens begeer het. Toe Jehovah hierdie verandering in Barug se gesindheid opmerk, het hy hom reguit maar liefdevolle raad gegee: “Jy hou aan om vir jou groot dinge te soek. Moet dit nie aanhou soek nie. Want kyk, ek bring rampspoed oor alle vlees, . . . en ek sal jou siel vir jou as buit gee in al die plekke waarheen jy sal gaan.”—Jeremia 36:4; 45:5.

12. Waarom moet ons nie “groot dinge” vir onsself in hierdie stelsel van dinge soek nie?

12 Kan jy in Jehovah se woorde aan Barug sien hoe diep besorg Hy oor hierdie goeie man was, wat hom so getrou en moedig saam met Jeremia gedien het? Jehovah is ook vandag diep besorg oor diegene wat in die versoeking kom om na sogenaamde groener weivelde in hierdie stelsel van dinge te soek. Gelukkig het baie van hulle, net soos Barug, gunstig gereageer op die liefdevolle raad van verantwoordelike geestelike broers (Lukas 15:4-7). Ja, mag ons almal besef dat daar geen toekoms is vir diegene wat “groot dinge” vir hulleself in hierdie stelsel soek nie. Nie alleen vind hierdie persone nie ware geluk nie, maar nog erger, hulle sal binnekort saam met hierdie wêreld en al sy selfsugtige begeertes verbygaan.—Matteus 6:19, 20; 1 Johannes 2:15-17.

13. Watter les in nederigheid leer die verslag oor Barug ons?

13 Die verslag oor Barug is ook vir ons ’n goeie les in nederigheid. Let op dat Jehovah Barug nie self raad gegee het nie, maar deur Jeremia gepraat het, wie se tekortkominge en eienaardighede Barug waarskynlik goed geken het (Jeremia 45:1, 2). Maar Barug het nie voor trots geswig nie; hy het nederig onderskei wie die ware bron van die raad is—Jehovah (2 Kronieke 26:3, 4, 16; Spreuke 18:12; 19:20). As ons dus ‘die een of ander misstap begaan voordat ons daarvan bewus is’ en die nodige raad uit God se Woord ontvang, sal dit goed wees as ons Barug se volwassenheid, geestelike onderskeidingsvermoë en nederigheid navolg.—Galasiërs 6:1.

14. Waarom is dit goed as ons gehoorsaam is aan dié wat die leiding onder ons neem?

14 As ons so ’n nederige gesindheid het, help dit ook diegene wat die raad gee. Hebreërs 13:17 sê: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig, want hulle waak oor julle siel as dié wat rekenskap sal gee; sodat hulle dit met vreugde kan doen en nie met ’n gesug nie, want dit sal vir julle skadelik wees.” Hoe dikwels stort ouer manne tog hulle hart voor Jehovah uit en bid hulle vir die nodige moed, wysheid en takt om hierdie moeilike aspek van hulle herderswerk te doen! Laat ons dan ‘sulke manne erken’.—1 Korintiërs 16:18.

15. (a) Hoe het Jeremia sy vertroue in Barug getoon? (b) Hoe is Barug beloon vir sy nederige gehoorsaamheid?

15 Dit is duidelik dat Barug sy denke reggestel het, want Jeremia het daarna vir hom ’n baie moeilike toewysing gegee—hy moes na die tempel toe gaan en die oordeelsboodskap voorlees wat Jeremia hom laat neerskryf het. Was Barug gehoorsaam? Ja, hy het “alles [gedoen] wat die profeet Jeremia hom beveel het”. Trouens, hy het selfs daardie boodskap vir die vorste van Jerusalem voorgelees, wat ongetwyfeld baie moed geverg het (Jeremia 36:1-6, 8, 14, 15). Stel jou voor hoe dankbaar Barug moes gewees het toe die stad ongeveer 18 jaar later deur die Babiloniërs vernietig is en sy lewe gespaar is omdat hy ag gegee het op Jehovah se waarskuwing en nie meer “groot dinge” vir homself gesoek het nie!—Jeremia 39:1, 2, 11, 12; 43:6.

Gehoorsaamheid tydens ’n beleëring red lewens

16. Hoe het Jehovah medelye betoon met die Jode in Jerusalem tydens die Babiloniese beleëring in 607 v.G.J.?

16 Toe Jerusalem se einde in 607 v.G.J. gekom het, het God se medelye met gehoorsames weer eens duidelik geword. Toe die beleëring op sy ergste was, het Jehovah vir die Jode gesê: “Kyk, ek hou julle die weg van die lewe en die weg van die dood voor. Wie in hierdie stad bly sit, sal deur die swaard en deur die hongersnood en deur die pes sterf; maar wie uitgaan en oorloop na die Galdeërs wat julle beleër, sal bly lewe, en sy siel sal beslis vir hom ’n buit word” (Jeremia 21:8, 9). Hoewel Jerusalem se inwoners vernietiging verdien het, het Jehovah medelye betoon met diegene wat hom gehoorsaam het, selfs op daardie kritieke, laat uur. b

17. (a) Op watter twee maniere is Jeremia se gehoorsaamheid op die proef gestel toe hy op bevel van Jehovah vir die beleërde Jode gesê het om ‘na die Galdeërs oor te loop’? (b) Hoe kan ons baat vind by Jeremia se voorbeeld van moedige gehoorsaamheid?

17 Om vir die Jode te sê om oor te gee, het ongetwyfeld ook Jeremia se gehoorsaamheid op die proef gestel. Een rede hiervoor was dat hy jaloers ten opsigte van God se naam was. Hy wou nie hê dat dit gesmaad moes word deur vyande wat hulle oorwinning aan lewelose afgode sou toeskryf nie (Jeremia 50:2, 11; Klaagliedere 2:16). Daarbenewens het Jeremia geweet dat hy sy eie lewe in groot gevaar stel deur vir die volk te sê om oor te gee, aangesien baie van hulle sou dink dat sy woorde op sedisie neerkom. Tog het hy nie uit vrees teruggedeins nie, maar gehoorsaam Jehovah se uitsprake bekend gemaak (Jeremia 38:4, 17, 18). Soos Jeremia verkondig ons ook ’n ongewilde boodskap. Dit is dieselfde boodskap waarvoor Jesus verag is (Jesaja 53:3; Matteus 24:9). Laat ons dus nie ‘vir mense bewe’ nie, maar soos Jeremia, Jehovah moedig gehoorsaam terwyl ons volkome op hom vertrou.—Spreuke 29:25.

Gehoorsaamheid tydens Gog se aanval

18. Voor watter toetse van gehoorsaamheid sal Jehovah se knegte in die toekoms te staan kom?

18 Satan se hele goddelose stelsel sal binnekort vernietig word tydens ’n ongeëwenaarde “groot verdrukking” (Matteus 24:21). Voor en gedurende daardie tyd sal God se volk ongetwyfeld voor groot toetse van hulle geloof en gehoorsaamheid te staan kom. Die Bybel sê byvoorbeeld vir ons dat Satan, in sy rol as “Gog van die land Magog”, ’n volskaalse aanval teen Jehovah se knegte sal loods deur sy hordes, wat beskryf word as “’n talryke krygsmag”, te laat optrek “soos wolke om die land te bedek” (Esegiël 38:2, 14-16). As ’n klein, ongewapende groepie sal God se volk skuiling soek onder Jehovah se “vlerke”, wat hy uitsprei om die gehoorsames te beskerm.

19, 20. (a) Waarom was gehoorsaamheid lewensbelangrik vir die Israeliete by die Rooi See? (b) Hoe kan ons vandag daarby baat vind as ons biddend oor die gebeure by die Rooi See peins?

19 Hierdie situasie herinner ons aan die Israeliete se uittog uit Egipte. Nadat Jehovah tien verwoestende plae oor Egipte gebring het, het hy nie sy volk langs die kortste roete na die Beloofde Land gelei nie, maar af na die Rooi See, waar hulle maklik vasgekeer en aangeval kon word. Uit ’n militêre oogpunt het dit dalk na ’n dwase stap gelyk. Sou jy, as jy daar was, Jehovah se woord deur Moses gehoorsaam het en vol vertroue na die Rooi See afgetrek het, in die wete dat die Beloofde Land nie heeltemal in daardie rigting gelê het nie?—Eksodus 14:1-4.

20 Wanneer ons verder lees in Eksodus hoofstuk 14, sien ons hoe Jehovah sy volk met groot magsvertoon verlos het. Hoe versterk sulke verslae ons geloof tog wanneer ons die tyd neem om dit te bestudeer en daaroor te peins! (2 Petrus 2:9). En sterk geloof sal ons vasbeslote maak om gehoorsaam aan Jehovah te wees, selfs wanneer dit lyk of sy vereistes van menslike redenasies verskil (Spreuke 3:5, 6). Vra jou dus af: ‘Streef ek daarna om my geloof op te bou deur middel van ywerige Bybelstudie, gebed, bepeinsing en gereelde omgang met God se volk?’—Hebreërs 10:24, 25; 12:1-3.

Gehoorsaamheid lei tot hoop

21. Watter seëninge sal diegene wat Jehovah gehoorsaam, nou en in die toekoms geniet?

21 Diegene wat gehoorsaamheid aan Jehovah ’n lewenswyse maak, ervaar nou reeds die vervulling van Spreuke 1:33, wat sê: “Wat die een betref wat [gehoorsaam is en] na my luister, hy sal in veiligheid woon en nie deur vrees vir rampspoed versteur word nie.” Hoe bemoedigend sal hierdie woorde tog wees gedurende Jehovah se komende dag van wraak! Trouens, Jesus het vir sy dissipels gesê: “Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want julle verlossing kom nader” (Lukas 21:28). Dit is duidelik dat slegs diegene wat aan God gehoorsaam is, met vertroue op hierdie woorde sal ag gee.—Matteus 7:21.

22. (a) Watter rede vir vertroue het Jehovah se volk? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

22 Nog ’n rede vir vertroue is die feit dat “die Soewereine Heer Jehovah . . . niks [sal] doen tensy hy sy vertroulike saak aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie” (Amos 3:7). Vandag inspireer Jehovah nie meer profete soos in die verlede nie; maar hy het wel ’n getroue slaafklas aangestel om tydige geestelike voedsel aan sy knegte te voorsien (Matteus 24:45-47). Hoe belangrik is ’n gehoorsame gesindheid teenoor hierdie “slaaf” tog! Soos die volgende artikel sal toon, weerspieël sulke gehoorsaamheid ook ons gesindheid teenoor Jesus, die heer van die “slaaf”. Aan hom ‘behoort die gehoorsaamheid van die volke’.—Genesis 49:10.

[Voetnote]

a Hoewel sy gewoonlik nie as moedig uitgebeeld word nie, “sal ’n moederhen tot die dood veg om haar kuikens teen gevaar te beskerm”, sê ’n publikasie van ’n dierevereniging.

b Jeremia 38:19 toon dat baie Jode na die Galdeërs ‘oorgeloop’ het en sodoende die dood vrygespring het, maar nie ballingskap nie. Daar word nie vir ons gesê of hulle oorgegee het in reaksie op Jeremia se woorde nie. Nietemin bevestig die feit dat hulle dit oorleef het, die profeet se woorde.

Onthou jy?

• Wat was die gevolg van Israel se voortdurende ongehoorsaamheid?

• Watter invloed het assosiasie op koning Joas gehad, in sy kinderjare asook later in sy lewe?

• Watter lesse kan ons uit Barug se voorbeeld leer?

• Waarom hoef Jehovah se gehoorsame knegte nie bang te wees namate die huidige stelsel sy einde nader nie?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 13]

Onder Jojada se leiding was jong Joas gehoorsaam aan Jehovah

[Prent op bladsy 15]

Slegte vriende het Joas beïnvloed om God se profeet te laat doodmaak

[Prent op bladsy 16]

Sou jy aan Jehovah gehoorsaam gewees het en sy ontsagwekkende reddingskrag aanskou het?