Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense wat die waarheid liefhet

Jongmense wat die waarheid liefhet

Jongmense wat die waarheid liefhet

“HOE sal ’n jong man sy pad reinig?” het ’n Hebreeuse psalmis duisende jare gelede gevra (Psalm 119:9). Hierdie vraag is vandag nog geldig, aangesien jongmense voor baie probleme in die wêreld te staan kom. Promiskue seksuele gedrag het baie jongmense aan vigs blootgestel, en ongeveer die helfte van diegene wat met hierdie verskriklike siekte besmet is, is tussen die ouderdomme van 15 en 24. Dwelmmisbruik veroorsaak ook baie probleme en verkort die lewe van party jongmense. Verdorwe musiek; gewelddadige en onsedelike rolprente, TV-programme en video’s; sowel as pornografie op die Internet het ’n vernietigende invloed op die jeug. Daarom is die vraag wat die psalmis gevra het, iets wat baie ouers en jongmense vandag kwel.

Die psalmis het sy eie vraag só beantwoord: “Deur op sy hoede te bly ooreenkomstig u woord.” God se Woord, die Bybel, bevat beslis goeie riglyne vir jongmense, en deur dit te volg, maak talle jongmense ’n sukses van hulle lewe (Psalm 119:105). Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde van jongmense wat lief is vir God en geestelik sterk probeer bly in ’n genotsugtige en materialistiese wêreld.

Hulle waardeer hulle ouers se leiding

Jacob Emmanuel was ’n paar jaar lank ’n voltydse pionierbedienaar voordat hy by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Mexiko begin dien het. Hy onthou met waardering hoe sy liefde vir God se diens ontwikkel het: “My ouers het die grootste invloed gehad, hoewel ’n paar ervare geestelike broers met wie ek vriende gemaak het, my ook baie gehelp het. Hulle het my ’n liefde vir die predikingswerk laat ontwikkel. Hulle het my taktvol op die regte weg gerig; ek het nooit gevoel dat hulle druk op my uitoefen nie.”

David, wat reeds ’n hele paar jaar in die voltydse bediening is, vertel hoe dit hom beïndruk het dat sy ouers as spesiale pioniers begin dien het terwyl hy en sy broer nog klein was. Ná sy pa se dood het sy ma voortgegaan om as ’n spesiale pionier te dien. Sy het vir hulle gesorg en ook die goeie nuus verkondig. “Hulle het nooit druk op my uitgeoefen om ’n pionier te word nie”, sê David, “maar ons tye saam in die pionierdiens en die kameraadskap en gesellige atmosfeer wat ons as ’n gesin geniet het, het my aangespoor om ’n pionier te word.” David toon hoe belangrik die goeie leiding en aandag van ouers is en sê: “My ma het elke aand vir ons stories gelees uit die boek Van die Verlore Paradys tot die Herwonne Paradys. a Die manier waarop sy dit gedoen het, het ons gehelp om ’n liefde vir geestelike voedsel op te bou.”

Waardering vir die vergaderinge

Sommige jongmense vind dit moeilik om Christelike vergaderinge te waardeer. Hulle woon dit by omdat hulle ouers hulle saamneem. Maar as hulle aanhou om vergaderinge by te woon, sal hulle dit dalk mettertyd baie geniet. Neem byvoorbeeld Alfredo, wat ’n voltydse bedienaar geword het toe hy 11 jaar oud was. Hy erken dat hy, toe hy ongeveer vyf was, nie na die vergaderinge wou gaan nie omdat dit hom vaak gemaak het en sy ouers nie wou hê dat hy gedurende vergaderinge moes slaap nie. Hy vertel: “Namate ek ouer geword het, het ek stadig maar seker meer in die vergaderinge begin belangstel, veral nadat ek leer lees en skryf het, want toe het ek in my eie woorde begin antwoord.”

Cintia, ’n 17-jarige meisie wat as ’n gewone pionier dien, vertel hoe goeie assosiasie ’n groot rol daarin gespeel het om haar ’n liefde vir God se diens te laat aankweek. Sy sê: “’n Goeie verhouding met die broers en gereelde bywoning van vergaderinge het my gehelp sodat ek nie wêreldse vriende en gewilde bedrywighede onder jongmense mis, soos om na disko’s toe te gaan nie. Die kommentare en ondervindinge wat ek by die vergaderinge gehoor het, het by my ’n begeerte gewek om my heel beste aan Jehovah te gee, en ek voel dat my jeug die beste is wat ek kan gee. Daarom het ek besluit om dit in sy diens te gebruik.”

Maar sy erken: “Daar was ’n tyd voor ek gedoop is, toe ek maklik van vergaderinge af weggebly het en huiswerk of ander skoolaktiwiteite as ’n verskoning gebruik het. Ek het heelwat vergaderinge gemis en dit het ’n nadelige uitwerking op my geestelikheid gehad. Ek het vriende gemaak met ’n seun wat nie die Bybel gestudeer het nie. Ek dank Jehovah dat ek sake betyds reggestel het.”

’n Persoonlike besluit

Wanneer Pablo, ’n jong man wat Jehovah ook voltyds dien, gevra word wat hy dink noodsaaklik is om liefde vir die waarheid van God se Woord op te bou, sê hy: “Vir my is daar twee dinge: gereelde persoonlike studie en ywer vir die predikingswerk. Ek is dankbaar teenoor my ouers dat hulle my die waarheid oor Jehovah geleer het, en ek voel dis die beste ding wat hulle my kon gee. Maar ek moet self weet waarom ek Jehovah liefhet. Daarom is dit noodsaaklik om ‘die breedte en diepte’ van Bybelwaarheid te ken. Dit is die enigste manier waarop ons ’n verlange na Jehovah se Woord ontwikkel, wat ‘’n brandende vuur’ in ons laat ontstaan om met ander daaroor te praat. Hierdie ywer vir die predikingswerk sal ons waardering vir die waarheid sterk hou.”—Efesiërs 3:18; Jeremia 20:9.

Jacob Emmanuel, wat vroeër gemeld is, noem ook hoe belangrik dit is om ’n persoonlike besluit te maak om Jehovah te dien. Hy sê dat sy ouers nooit daarop aangedring het dat hy hom moet laat doop nie. “Ek glo dat dit die beste was, want ek sien die goeie resultate. Van die jongmense met wie ek baie geassosieer het, het byvoorbeeld besluit om saam gedoop te word. Dit was seker goed en wel, maar ek kon sien dat dit vir party net ’n emosionele besluit was, en kort daarna het hulle ywer vir Koninkryksbedrywighede afgeneem. In my geval het my ouers nie druk op my uitgeoefen om my aan Jehovah toe te wy nie. Dit was ’n persoonlike besluit.”

Die gemeente se rol

Sommige jongmense het die waarheid van God se Woord op hulle eie geleer, sonder die hulp van hulle ouers. Dit is sekerlik ’n uitdaging om onder sulke omstandighede te leer wat reg is en daarin te volhard.

Noé onthou nog goed hoe hy by die waarheid baat gevind het. Hy het van jongs af maklik kwaad en gewelddadig geraak. Toe hy op 14-jarige ouderdom die Bybel begin studeer het, het hy sy humeur begin beteuel, waaroor sy ouers, wat op daardie stadium nie in die Bybel belanggestel het nie, baie dankbaar was. Namate Noé geestelik gevorder het, wou hy graag meer in God se diens doen. Hy is nou in die voltydse bediening.

Alejandro het ook in Christelike waarheid begin belangstel toe hy nog baie jonk was, al het sy ouers nie daarin belanggestel nie. Hy spreek sy waardering vir die waarheid uit en sê: “Ek het in ’n Katolieke huis grootgeword. Maar ek het al hoe meer in Kommunistiese ateïsme begin belangstel, aangesien die kerk nie die vrae beantwoord het wat my van kleins af gekwel het nie. Jehovah se organisasie het my gehelp om God te leer ken. Dit het letterlik my lewe gered, want as ek nie die Bybel bestudeer het nie, sou ek waarskynlik by onsedelikheid, alkoholisme of dwelms betrokke geraak het. Ek sou dalk selfs by ’n revolusionêre groep aangesluit het, met ernstige gevolge.”

Hoe kan ’n jong persoon volhard in sy soeke na die waarheid en daaraan vashou sonder die ondersteuning van sy ouers? Die ouer manne en ander in die gemeente speel natuurlik ’n baie belangrike rol. Noé vertel: “Ek het nog nooit alleen gevoel nie, want Jehovah was nog altyd baie na aan my. Ek het ook die ondersteuning van talle liefdevolle broers en susters gehad wat my geestelike vaders, moeders en broers geword het.” Hy dien nou by Bethel en gebruik sy tyd in God se diens. Alejandro sê ook: “Iets waaroor ek altyd dankbaar sal wees, is dat ek die voorreg gehad het om in ’n gemeente te wees met ’n liggaam van ouer manne wat liefdevolle belangstelling in my as persoon getoon het. Ek is veral dankbaar hieroor, want toe ek 16 was en die Bybel begin studeer het, het ek ook die rusteloosheid ervaar wat eie is aan die jeug. Die gesinne in die gemeente het my nooit in die steek gelaat nie. Daar was altyd iemand wat my gasvry ontvang het en nie net sy huis en kos met my gedeel het nie, maar ook sy hart vir my oopgemaak het.” Alejandro is nou al meer as 13 jaar in die voltydse diens.

Sommige dink dat godsdiens net vir ouer mense is. Maar talle jongmense het Bybelwaarheid op ’n jong ouderdom geleer en Jehovah leer liefkry, en hulle bly getrou aan hom. Dawid se woorde in Psalm 110:3 is op hierdie jongmense van toepassing: “U volk sal hulle gewillig aanbied op die dag van u krygsmag. In die prag van heiligheid, uit die moederskoot van die dagbreek, het u u geselskap van jong manne net soos doudruppels.”

Dit is ’n uitdaging vir jongmense om die waarheid te leer en daarby te bly. Hoe wonderlik is dit tog om te sien dat baie jongmense werklik na aan Jehovah se organisasie bly, vergaderinge gereeld bywoon en die Bybel ywerig bestudeer. Sodoende het hulle ’n opregte liefde vir God se Woord en sy diens aangekweek!—Psalm 119:15, 16.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies in 1958; tans uit druk.