Juiste kennis van God bied vertroosting
Juiste kennis van God bied vertroosting
WAT die Bybel oor God se liefde en barmhartigheid sê, laat verontrustende vrae by party mense ontstaan. Hulle vra: As God goddeloosheid uit die weg wil ruim, weet hoe om dit te doen en die mag het om dit te doen, waarom vier goddeloosheid dan nog steeds hoogty? Vir hulle is dit moeilik om drie stellings met mekaar te versoen: (1) God is almagtig; (2) God is liefdevol en goed en (3) rampspoedige gebeure vind steeds plaas. Aangesien die laaste stelling beslis waar is, redeneer hulle dan dat ten minste een van die ander twee nie waar kan wees nie. Hulle dink dat God óf nie in staat is om goddeloosheid stop te sit nie óf nie omgee nie.
Etlike dae ná die verwoesting van die World Trade Center in New York het ’n vooraanstaande godsdiensleier in die Verenigde State gesê: “Ek is al . . . honderde kere in my lewe gevra waarom God tragedies en lyding toelaat. Ek moet erken dat die antwoord wat ek het, onbevredigend is, selfs vir my.”
In reaksie op hierdie kommentaar het ’n professor in teologie geskryf dat hy diep geraak is deur “die goeie teologie” van daardie godsdiensleier. Hy het ook saamgestem met ’n geleerde wat geskryf het: “Die onverklaarbaarheid van lyding vorm deel van die onverklaarbaarheid van God.” Maar is dit werklik onmoontlik om te verstaan waarom God goddeloosheid toelaat?
Die oorsprong van goddeloosheid
In teenstelling met wat godsdiensleiers dalk sê, is die feit dat God goddeloosheid toelaat, nie volgens die Bybel onverklaarbaar nie. Om te verstaan waarom goddeloosheid voortduur, is dit belangrik om te besef dat Jehovah nie ’n goddelose wêreld geskep het nie. Hy het die eerste mensepaar volmaak geskep, sonder sonde. Jehovah het na sy skeppingswerke gekyk en gesien dat dit “baie goed” was (Genesis 1:26, 31). Sy voorneme was dat Adam en Eva die Paradys van Eden oor die hele aarde uitbrei en dit vul met gelukkige mense onder die beskerming van sy liefdevolle soewereiniteit.—Jesaja 45:18.
Goddeloosheid het begin by ’n geesskepsel wat, hoewel hy aanvanklik getrou aan God was, ’n begeerte ontwikkel het om aanbid te word (Jakobus 1:14, 15). Sy opstand is op die aarde geopenbaar toe hy die eerste mensepaar beïnvloed het om by hom aan te sluit in sy verset teen God. In plaas van hulle te onderwerp aan God se duidelike bevel om nie van die vrugte van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet of daaraan te raak nie, het Adam en Eva daarvan geneem en dit geëet (Genesis 3:1-6). Sodoende was hulle nie net ongehoorsaam aan God nie, maar het hulle ook getoon dat hulle onafhanklik van hom wou wees.
’n Sedelike geskil ontstaan
Hierdie opstand in Eden het ’n sedelike geskil laat ontstaan, ’n uitdaging van universele belang. Die opstandige mensepaar het dit bevraagteken of Jehovah sy heerskappy oor sy skepsele op ’n gepaste wyse uitoefen. Het die Skepper die reg gehad om volkome gehoorsaamheid van die mensdom te vereis? Sou mense beter daaraan toe wees as hulle onafhanklik optree?
Die manier waarop Jehovah hierdie aanval op sy heerskappy hanteer het, het getoon dat daar ’n volmaakte balans tussen sy liefde, geregtigheid, wysheid en krag bestaan. Hy kon sy krag gebruik het om die opstand onmiddellik uit die weg te ruim. Dit sou heel regverdig gelyk het, aangesien hy die reg gehad het om dit te doen. Maar dit sou nie die sedelike geskille wat ontstaan het, besleg het nie. Aan die ander kant kon God die sonde net oorgesien het. Vandag sal party dalk dink dat dít liefdevol sou gewees het. Maar dit sou ook nie ’n antwoord voorsien het op Satan se bewering dat mense beter sou vaar as hulle hulleself regeer nie. Wat meer is, sou dit dan nie nog ander aangespoor het om van Jehovah se weg af te wyk nie? Die gevolg sou eindelose lyding gewees het.
In sy wysheid het Jehovah mense toegelaat om ’n tyd lank hulle eie weg in te slaan. Al het dit beteken dat hy goddeloosheid tydelik sou moes toelaat, het mense hierdeur die geleentheid gehad om te toon of hulle hulleself met welslae kon regeer as hulle onafhanklik van God was en volgens hulle eie standaarde van reg en verkeerd lewe. Wat was die gevolg? Die mensegeskiedenis is nog altyd gekenmerk deur oorlog, ongeregtigheid, onderdrukking en lyding. Die uiteindelike mislukking van die opstand teen Jehovah sal die geskille wat in Eden geopper is, eens en vir altyd besleg.
Intussen het God sy liefde getoon deur sy Seun, Jesus Christus, te voorsien, wat sy menselewe as ’n losprysoffer gegee het. Hierdeur kan gehoorsame mense bevry word van die veroordeling tot sonde en die dood wat die gevolg Johannes 3:16.
is van Adam se ongehoorsaamheid. Die losprys het die weg gebaan vir almal wat geloof in Jesus beoefen om die ewige lewe te ontvang.—Ons het Jehovah se vertroostende versekering dat menselyding net tydelik is. “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie”, het die psalmis geskryf. “Jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:10, 11.
’n Veilige en gelukkige toekoms
Die vervulling van Bybelprofesieë toon dat die tyd op hande is vir God om ’n einde te maak aan siekte, droefheid en die dood. Kyk na die wonderlike voorskou van toekomstige dinge wat in ’n visioen aan die apostel Johannes gegee is. Hy het geskryf: “Ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien; want die vorige hemel en die vorige aarde het verbygegaan, en die see is daar nie meer nie. . . . En God self sal by [die mensdom] wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.” Die betroubaarheid van hierdie beloftes is beklemtoon deur die volgende woorde aan Johannes: “Skryf, want hierdie woorde is betroubaar en waaragtig.”—Openbaring 21:1-5.
Wat van die miljarde onskuldige mense wat sedert die opstand in Eden gesterf het? Jehovah het belowe dat hy mense wat nou in die dood slaap, sal opwek. Die apostel Paulus het gesê: “Ek het die hoop op God . . . dat daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees” (Handelinge 24:15). Hulle sal die vooruitsig hê om in ’n wêreld te lewe waarin “regverdigheid [sal] woon”.—2 Petrus 3:13.
Net soos ’n liefdevolle vader sal toelaat dat sy kind ’n pynlike operasie ondergaan as hy weet dat dit blywende voordele sal meebring, het Jehovah ook toegelaat dat die mensdom goddeloosheid tydelik op die aarde ondervind. Maar ewige seëninge wag op almal wat daarna streef om God se wil te doen. Paulus het verduidelik: “Die skepping is aan nietigheid onderwerp, nie uit eie wil nie, maar deur hom wat dit onderwerp het, op grond van hoop dat die skepping self ook van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê.”—Romeine 8:20, 21.
Dit is waarlik goeie nuus—nie soos die nuus wat ons op televisie sien of in die koerant lees nie. Dit is die allerbeste nuus van “die God van alle vertroosting”, wat werklik vir ons omgee.—2 Korintiërs 1:3.
[Prente op bladsy 6]
Tyd het getoon dat die mensdom nie hulleself onafhanklik van God met welslae kan regeer nie
[Erkennings]
Somaliese gesin: UN PHOTO 159849/M. GRANT; atoombom: USAF photo; konsentrasiekamp: U.S. National Archives photo