Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kweek gehoorsaamheid aan namate die einde nader kom

Kweek gehoorsaamheid aan namate die einde nader kom

Kweek gehoorsaamheid aan namate die einde nader kom

“Aan [Silo] sal die gehoorsaamheid van die volke behoort.”—GENESIS 49:10.

1. (a) Wat het gehoorsaamheid aan Jehovah dikwels in die verlede behels? (b) Wat het Jakob aangaande gehoorsaamheid geprofeteer?

 GEHOORSAAMHEID aan Jehovah het al dikwels gehoorsaamheid aan sy verteenwoordigers behels. Dit het engele, aartsvaders, rigters, priesters, profete en konings ingesluit. Die troon van die konings van Israel is selfs Jehovah se troon genoem (1 Kronieke 29:23). Maar ongelukkig was baie van Israel se heersers ongehoorsaam aan God en het hulle weë oor hulleself en hulle onderdane gebring. Jehovah het egter nie sy lojale knegte sonder hoop gelaat nie; hy het hulle vertroos met ’n belofte dat hy ’n ewige Koning op die troon sou plaas, ’n koning aan wie die regverdiges met graagte gehoorsaam sou wees (Jesaja 9:6, 7). Die sterwende aartsvader Jakob het aangaande hierdie toekomstige heerser geprofeteer en gesê: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, ook nie die aanvoerderstaf tussen sy voete uit nie, totdat Silo kom; en aan hom sal die gehoorsaamheid van die volke behoort.”—Genesis 49:10.

2. Wat beteken die term “Silo”, en oor wie sou hy as koning heers?

2 “Silo” is ’n Hebreeuse term wat “Hy wie s’n dit is” of “Hy aan wie dit behoort” beteken. Ja, Silo sou niks minder nie as die reg op heerskappy ontvang, soos deur die septer gesimboliseer word, en die mag om bevel te voer, soos deur die aanvoerderstaf voorgestel word. Daarbenewens sou hy nie net as koning oor die afstammelinge van Jakob heers nie, maar oor alle “volke”. Dit is in ooreenstemming met Jehovah se belofte aan Abraham: “Jou saad sal die poort van sy vyande in besit neem. En deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën” (Genesis 22:17, 18). Jehovah het die identiteit van hierdie “saad” in 29 G.J. bevestig toe hy Jesus van Nasaret met heilige gees gesalf het.—Lukas 3:21-23, 34; Galasiërs 3:16.

Jesus se eerste koninkryk

3. Watter heerskappy het Jesus ontvang toe hy na die hemel opgevaar het?

3 Toe Jesus na die hemel opgevaar het, het hy nie onmiddellik die septer van heerskappy oor die volke van die aarde opgeneem nie (Psalm 110:1). Maar hy het wel ’n “koninkryk” ontvang met onderdane wat hom gehoorsaam het. Die apostel Paulus het daardie koninkryk geïdentifiseer toe hy geskryf het: “[God] het ons [geesgesalfde Christene] verlos van die gesag van die duisternis en ons oorgebring in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (Kolossense 1:13). Hierdie verlossing het op Pinkster 33 G.J. begin toe heilige gees op Jesus se getroue volgelinge uitgestort is.—Handelinge 2:1-4; 1 Petrus 2:9.

4. Op watter maniere het Jesus se vroeë dissipels hulle gehoorsaamheid getoon, en hoe het Jesus hulle as ’n groep geïdentifiseer?

4 As “ambassadeurs wat as plaasvervangers vir Christus optree”, het die geesgesalfde dissipels gehoorsaam begin om ander in te samel wat “medeburgers” in daardie geestelike koninkryk sou word (2 Korintiërs 5:20; Efesiërs 2:19; Handelinge 1:8). Hulle moes ook “paslik verenig [bly] in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang” om die goedkeuring van hulle Koning Jesus Christus te geniet (1 Korintiërs 1:10). As ’n groep het hulle ’n “getroue en verstandige slaaf”, of ’n “getroue bestuurder”-klas, uitgemaak.—Matteus 24:45; Lukas 12:42.

Geseën vir gehoorsaamheid aan God se “bestuurder”

5. Hoe het Jehovah sy volk van die vroegste tye af geleer?

5 Jehovah het nog altyd onderrigters vir sy volk voorsien. Nadat die Jode byvoorbeeld uit Babilon teruggekeer het, het Esra en ’n paar ander bekwame manne nie net God se Wet vir die volk voorgelees nie, maar ook daardie wet “uitgelê” deur ‘betekenis te gee aan’ God se Woord en dit ‘verstaanbaar te maak’.—Nehemia 8:8.

6, 7. Hoe het die slaafklas tydige geestelike voedsel deur sy Bestuursliggaam voorsien, en waarom is dit gepas om ons aan die slaafklas te onderwerp?

6 In die eerste eeu, toe die besnydeniskwessie in 49 G.J. ontstaan het, het die bestuursliggaam van daardie vroeë slaafklas die saak biddend ondersoek en tot ’n slotsom gekom wat op die Skrif gegrond was. Toe hulle hulle besluit per brief bekend gemaak het, het die gemeentes die riglyne gehoorsaam en God se ryk seën ontvang (Handelinge 15:6-15, 22-29; 16:4, 5). Ook in ons tyd het die getroue slaaf deur sy Bestuursliggaam belangrike kwessies opgeklaar, soos Christelike neutraliteit, die heiligheid van bloed en die gebruik van dwelms en tabak (Jesaja 2:4; Handelinge 21:25; 2 Korintiërs 7:1). Jehovah het sy volk geseën vir hulle gehoorsaamheid aan sy Woord en aan die getroue slaaf.

7 Deur hulle aan die slaafklas te onderwerp, toon God se knegte ook hulle onderdanigheid aan die Heer, Jesus Christus. Hierdie onderdanigheid het vandag groter betekenis weens Jesus se uitgebreide gesag, soos Jakob in ’n profesie op sy sterfbed voorspel het.

Silo word die aarde se regmatige heerser

8. Hoe en wanneer is Christus se gesag uitgebrei?

8 Volgens Jakob se profesie sou “die gehoorsaamheid van die volke” aan Silo behoort. Dit is duidelik dat Christus se heerskappy verder as geestelike Israel sou strek. Wat sou dit insluit? Openbaring 11:15 antwoord: “Die koninkryk van die wêreld het die koninkryk van ons Here en van sy Christus geword, en hy sal vir ewig en altyd as koning heers.” Die Bybel toon dat Jesus daardie gesag ontvang het aan die einde van die profetiese “sewe tye”—“die vasgestelde tye van die nasies”—in 1914 (Daniël 4:16, 17; Lukas 21:24). a In daardie jaar het Christus se onsigbare “teenwoordigheid” as Messiaanse Koning begin, sowel as sy tyd om te “oorwin te midde van [sy] vyande”.—Matteus 24:3; Psalm 110:2.

9. Wat het Jesus gedoen toe hy sy Koninkryk ontvang het, en hoe het dit die mensdom indirek geraak, veral sy dissipels?

9 Jesus se eerste taak nadat hy koninklike mag ontvang het, was om die verpersoonliking van ongehoorsaamheid—Satan—tesame met sy demone “na die aarde” neer te slinger. Sedertdien het hierdie bose geeste nie net ongekende weë oor die mensdom gebring nie, maar ook ’n milieu bevorder waarin dit baie moeilik is om gehoorsaam aan Jehovah te wees (Openbaring 12:7-12; 2 Timoteus 3:1-5). Trouens, die vernaamste teiken van Satan se geestelike oorlogvoering is Jehovah se gesalfde knegte, “wat die gebooie van God bewaar en die werk het om van Jesus te getuig”, en hulle metgeselle, die “ander skape”.—Openbaring 12:17; Johannes 10:16.

10. Die vervulling van watter Bybelprofesieë verseker ons dat Satan se oorlogvoering teen ware Christene sal misluk?

10 Satan is egter tot mislukking gedoem, omdat ons nou in “die dag van die Here” is en niks Jesus kan keer om “sy oorwinning te voltooi” nie (Openbaring 1:10; 6:2). Hy sal byvoorbeeld verseker dat die finale verseëling van die 144 000 geestelike Israeliete plaasvind. Hy sal ook “’n groot menigte [beskerm], wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale” (Openbaring 7:1-4, 9, 14-16). Maar anders as hulle gesalfde metgeselle sal hierdie groep Jesus se gehoorsame aardse onderdane word (Daniël 7:13, 14). Die blote feit dat hulle vandag op die wêreldtoneel verskyn het, voorsien reeds tasbare bewys dat Silo waarlik die Heerser oor “die koninkryk van die wêreld” is.—Openbaring 11:15.

Nou is die tyd om ‘die goeie nuus te gehoorsaam’

11, 12. (a) Slegs wie sal die einde van die huidige stelsel van dinge oorleef? (b) Watter karaktertrekke ontwikkel in mense wat hulle oorgee aan “die gees van die wêreld”?

11 Almal wat vir ewig wil lewe, moet gehoorsaamheid leer, want die Bybel sê duidelik dat “dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie”, God se dag van wraak nie sal oorleef nie (2 Tessalonisense 1:8). Maar die huidige goddelose stelsel met sy gees van opstandigheid teen Bybelwette en -beginsels maak dit moeilik om die goeie nuus te gehoorsaam.

12 Die Bybel beskryf hierdie gees van opstandigheid teen God as “die gees van die wêreld” (1 Korintiërs 2:12). Die apostel Paulus het verduidelik watter uitwerking dit op mense het toe hy aan die eerste-eeuse Christene in Efese geskryf het: “Julle [het] vroeër volgens die stelsel van dinge van hierdie wêreld gewandel . . . , volgens die heerser van die gesag van die lug, die gees wat nou in die seuns van die ongehoorsaamheid werk. Ja, onder hulle het ons almal ons vroeër in ooreenstemming met die begeertes van ons vlees gedra, terwyl ons die dinge gedoen het wat volgens die wil van die vlees en die gedagtes was, en ons was van nature kinders van die gramskap, net soos die res.”—Efesiërs 2:2, 3.

13. Hoe kan Christene die gees van die wêreld met welslae weerstaan, en met watter goeie gevolg?

13 Gelukkig het die Christene in Efese nie slawe van daardie gees van ongehoorsaamheid gebly nie. Hulle het eerder gehoorsame kinders van God geword deur hulle aan sy gees te onderwerp en die oorvloedige, heilsame vrugte daarvan te geniet (Galasiërs 5:22, 23). Vandag help God se gees—die sterkste krag in die heelal—eweneens miljoene om gehoorsaam aan Jehovah te word, met die gevolg dat hulle “tot die einde toe die volle versekerdheid van die hoop [kan] hê”.—Hebreërs 6:11; Sagaria 4:6.

14. Hoe het Jesus alle Christene wat in die laaste dae lewe, attent gemaak op spesifieke dinge wat hulle gehoorsaamheid sou toets?

14 Hou ook in gedagte dat ons kan staatmaak op die kragtige ondersteuning van Silo wat, saam met sy Vader, geen vyand—demoon of mens—sal toelaat om ons gehoorsaamheid te toets bo wat ons kan verdra nie (1 Korintiërs 10:13). Trouens, om ons in ons geestelike oorlogvoering te help, het Jesus ’n paar spesifieke probleme beskryf waarmee ons gedurende hierdie laaste dae te kampe sal hê. Hy het dit deur middel van sewe briewe gedoen, wat hy in ’n visioen aan die apostel Johannes gegee het (Openbaring 1:10, 11). Dit het beslis noodsaaklike raad vir Christene van daardie tyd bevat, maar is hoofsaaklik van toepassing op “die dag van die Here”, sedert 1914. Hoe gepas tog dat ons aandag skenk aan hierdie boodskappe! b

Vermy onverskilligheid, onsedelikheid, materialisme

15. Waarom moet ons waak teen die probleem wat die gemeente in Efese geraak het, en hoe kan ons dit doen? (2 Petrus 1:5-8)

15 Jesus se eerste brief is gerig aan die gemeente in Efese. Nadat Jesus die gemeente vir hulle volharding geprys het, het hy gesê: “Nietemin het ek dít teen jou, dat jy die liefde wat jy eers gehad het, verlaat het” (Openbaring 2:1-4). Vandag het sommige wat voorheen ywerige Christene was, ook die vurige liefde verloor wat hulle eens vir God gehad het. Dit kan ’n mens se verhouding met God verswak en moet dringend aandag kry. Hoe kan hierdie liefde weer versterk word? Deur gereelde Bybelstudie, vergaderingbywoning, gebed en bepeinsing (1 Johannes 5:3). Dit verg weliswaar “ywerige inspanning”, maar dit is beslis die moeite werd (2 Petrus 1:5-8). As ’n eerlike selfondersoek openbaar dat jou liefde afgekoel het, moet jy die situasie dadelik regstel, in gehoorsaamheid aan Jesus se vermaning: “Onthou dan waarvan jy geval het, en toon berou en doen die dade van vroeër.”—Openbaring 2:5.

16. Watter geestelik gevaarlike invloede was daar in die gemeentes van Pergamum en Tiatira, en waarom is Jesus se woorde aan hulle vandag gepas?

16 Die Christene in Pergamum en Tiatira is geprys vir hulle onkreukbaarheid, volharding en ywer (Openbaring 2:12, 13, 18, 19). Maar hulle is beïnvloed deur sekere persone wat die goddelose gees van Bileam en Isebel geopenbaar het, wat ’n verderflike invloed in eertydse Israel was omdat hulle geslagsonsedelikheid en Baälaanbidding bevorder het (Numeri 31:16; 1 Konings 16:30, 31; Openbaring 2:14, 16, 20-23). Maar wat van ons tyd—“die dag van die Here”? Is dieselfde goddelose invloede nog te sien? Ja, want onsedelikheid is verreweg die vernaamste rede vir uitsetting onder God se volk. Hoe belangrik is dit dus dat ons assosiasie vermy met alle persone—binne en buite die gemeente—wat ’n sedelik verderflike invloed is! (1 Korintiërs 5:9-11; 15:33). Diegene wat Silo se gehoorsame onderdane wil wees, moet ook twyfelagtige vermaak sowel as pornografie in tydskrifte en op die Internet vermy.—Amos 5:15; Matteus 5:28, 29.

17. Hoe het die beskouing en gesindheid van diegene in Sardis en Laodisea vergelyk met Jesus se beskouing van hulle geestelike toestand?

17 Met die uitsondering van ’n paar persone het die gemeente in Sardis hoegenaamd geen lof ontvang nie. Hulle het “die naam”, of voorkoms, gehad dat hulle lewend was, maar hulle geestelike onverskilligheid was so diepgewortel, dat Jesus hulle as “dood” beskou het. Hulle gehoorsaamheid aan die goeie nuus was net oppervlakkig. Wat ’n veroordeling! (Openbaring 3:1-3). Die gemeente in Laodisea was in ’n soortgelyke toestand. Hulle het gespog oor hulle materiële rykdom en gesê: “Ek is ryk”, maar vir Christus was hulle “ellendig en bejammerenswaardig en arm en blind en naak”.—Openbaring 3:14-17.

18. Hoe kan ’n mens voorkom dat jy in God se oë geestelik lou word?

18 Vandag het sommige Christene wat voorheen getrou was, in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval. Hulle het moontlik toegelaat dat die gees van die wêreld hulle gevoel van dringendheid verswak, sodat hulle ’n geestelik lou gesindheid teenoor Bybelstudie, gebed, Christelike vergaderinge en die bediening ontwikkel het (2 Petrus 3:3, 4, 11, 12). Hoe belangrik is dit tog dat hierdie persone Christus gehoorsaam deur geestelike rykdom te verkry—ja, dat hulle “by [Christus] goud . . . koop wat deur vuur gelouter is”! (Openbaring 3:18). Sulke ware rykdom sluit in om “ryk te wees in goeie werke, om vrygewig te wees, mededeelsaam”. As ons sulke waarlik kosbare skatte bymekaarmaak, sal ons ‘vir onsself ’n goeie fondament vir die toekoms veilig as ’n skat bewaar, sodat ons ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry’.—1 Timoteus 6:17-19.

Geprys vir hulle gehoorsaamheid

19. Watter lof en aansporing het Jesus vir die Christene in Smirna en Filadelfia gegee?

19 Die gemeentes in Smirna en Filadelfia is uitstekende voorbeelde van gehoorsaamheid, want Jesus se briewe aan hulle bevat geen teregwysing nie. Vir diegene in Smirna het hy gesê: “Ek ken jou verdrukking en armoede—maar jy is ryk” (Openbaring 2:9). Watter teenstelling vorm hulle tog met diegene in Laodisea, wat gespog het met wêreldse rykdom terwyl hulle in werklikheid arm was! Die Duiwel wou natuurlik nie gehad het dat enigeen getrou en gehoorsaam aan Christus moes wees nie. Daarom het Jesus gewaarsku: “Moenie bang wees vir die dinge wat jy weldra gaan ly nie. Kyk! Die Duiwel sal aanhou om party van julle in die gevangenis te gooi sodat julle ten volle op die proef gestel kan word en sodat julle tien dae lank verdrukking kan hê. Wees selfs tot in die dood getrou, en ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openbaring 2:10). Jesus het eweneens diegene in Filadelfia geprys en gesê: “Jy het my woord bewaar [of, my gehoorsaam] en my naam nie verloën nie. Ek kom gou. Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon wegneem nie.”—Openbaring 3:8, 11.

20. Hoe het miljoene vandag Jesus se woord bewaar, en ondanks watter omstandighede?

20 In “die dag van die Here”, wat in 1914 begin het, het ’n getroue oorblyfsel en hulle metgeselle, die ander skape, wat nou miljoene tel, ook Jesus se woord bewaar deur ywerig aan die bediening deel te neem en deur hulle onkreukbaarheid te handhaaf. Soos hulle eerste-eeuse broers het party weens hulle gehoorsaamheid aan Christus gely en is hulle selfs in tronke en konsentrasiekampe gegooi. Ander het Jesus se woord bewaar deur hulle ‘oog eenvoudig te hou’, al word hulle deur welvaart en gierigheid omring (Matteus 6:22, 23). Ja, in elke soort milieu en in alle omstandighede gaan ware Christene voort om deur hulle gehoorsaamheid Jehovah se hart bly te maak.—Spreuke 27:11.

21. (a) Watter geestelike verpligting sal die slaafklas bly nakom? (b) Hoe kan ons toon dat ons Silo waarlik wil gehoorsaam?

21 Terwyl ons die groot verdrukking nader, bly “die getroue en verstandige slaaf” vasbeslote om nie hulle gehoorsaamheid aan die Heer, Christus, prys te gee nie. Dit sluit in dat hulle tydige geestelike voedsel vir God se knegte voorsien. Laat ons dus voortgaan om waardering te toon vir Jehovah se wonderlike teokratiese organisasie en wat dit voorsien. So toon ons ons onderdanigheid aan Silo, wat al sy gehoorsame knegte met die ewige lewe sal beloon.—Matteus 24:45-47; 25:40; Johannes 5:22-24.

[Voetnote]

a Sien hoofstuk 10 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir ’n verduideliking van die “sewe tye”.

b Lees gerus vanaf bladsy 33 van die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir ’n breedvoerige bespreking van al sewe briewe.

Onthou jy?

• Watter rol sou Jesus speel, soos Jakob in ’n profesie op sy sterfbed voorspel het?

• Hoe erken ons Jesus as Silo, en watter gees moet ons vermy?

• Watter tydige raad vir ons dag bevat die briewe aan die sewe gemeentes van Openbaring?

• Op watter maniere kan ons diegene in die gemeentes van eertydse Smirna en Filadelfia navolg?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 18]

Jehovah seën sy knegte omdat hulle die getroue “bestuurder” gehoorsaam

[Prent op bladsy 19]

Satan se invloed maak dit moeilik om aan God gehoorsaam te wees

[Prente op bladsy 21]

’n Hegte verhouding met Jehovah help ons om gehoorsaam aan hom te wees