“Oefen jou” vir die wedloop
“Oefen jou” vir die wedloop
CITIUS, altius, fortius—vinniger, hoër, sterker! Dit was die ideale waarna atlete in eertydse Griekeland en Rome gestreef het. Groot atletiekbyeenkomste is deur die eeue heen in Olimpië, Delphi en Nemea en op die Ismus van Korinte gehou met die “seën” van die gode en voor duisende toeskouers. Eers ná jare se harde werk het ’n atleet die voorreg gekry om aan hierdie spele deel te neem. Oorwinning sou groot roem beteken vir die wenners sowel as hulle tuisdorp.
Dit is geen wonder nie dat die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte, in so ’n kulturele konteks, die geestelike wedloop van Christene met atletiekwedstryde vergelyk het. Die apostels Petrus en Paulus het albei op bekwame wyse illustrasies gebruik wat op die spele gegrond was om kragtige punte in hulle onderrigting oor te dra. In ons dag duur dieselfde intense Christelike wedloop nog voort. Die eerste-eeuse Christene moes die Joodse stelsel van dinge die hoof bied; vandag moet ons stry teen ’n wêreldwye stelsel wat op die randjie van vernietiging is (2 Timoteus 2:5; 3:1-5). Party voel dalk dat hulle eie “wedloop van die geloof” eindeloos en uitputtend is (1 Timoteus 6:12, The New English Bible). ’n Kykie na ’n paar van die vergelykings met atlete wat in die Bybel gebruik word, sal beslis baie nuttig wees.
’n Voortreflike afrigter
’n Atleet se sukses hang grootliks af van die afrigter. Archaeologia Graeca sê aangaande die eertydse spele: “Die deelnemers moes sweer dat hulle tien volle maande aan voorbereiding bestee het.” Christene het ook strawwe oefening nodig. Paulus het dié raad aan Timoteus, ’n Christen- ouer man, gegee: “Oefen jou . . . met godvrugtige toegewydheid as jou doel” (1 Timoteus 4:7). Wie is die afrigter van ’n Christen-“atleet”? Niemand anders as Jehovah God self nie! Die apostel Petrus het geskryf: ‘Die God van alle onverdiende goedhartigheid sal self julle opleiding voltooi; hy sal julle standvastig maak, hy sal julle sterk maak.’—1 Petrus 5:10.
Die uitdrukking ‘sal julle opleiding voltooi’ kom van ’n Griekse werkwoord wat volgens die Theological Lexicon of the New Testament basies beteken “om ’n voorwerp [of persoon] geskik te maak vir sy doel, voor te berei en aan te pas vir sy gebruik”. Liddell en Scott se Greek-English Lexicon sê eweneens dat hierdie werkwoord gedefinieer kan word as “deeglik voorberei, afrig of toerus”. Hoe word ons deur Jehovah ‘deeglik voorberei, afgerig of toegerus’ vir die veeleisende Christelike wedloop? Om die vergelyking te verstaan, kan ons kyk na van die metodes wat afrigters gebruik het.
Die boek The Olympic Games in Ancient Greece sê: “Diegene wat jongmense afgerig het, het twee basiese metodes gebruik; die eerste was om die leerling aan te moedig om hom fisies tot die uiterste in te span sodat hy die beste resultate kon behaal, en die tweede was om sy tegniek en styl te verbeter.”
Net so spoor Jehovah ons aan en gee hy ons die krag om ons hoogste potensiaal te bereik en ons vaardighede in sy diens te verbeter. Ons God versterk ons deur die Bybel, sy aardse organisasie en ryp mede-Christene. Soms leer hy ons deur middel van dissipline (Hebreërs 12:6). Op ander tye laat hy dalk toe dat verskillende beproewinge en ontberings oor ons kom sodat ons volharding kan ontwikkel (Jakobus 1:2-4). En hy voorsien die nodige krag. Die profeet Jesaja sê: “Dié wat op Jehovah hoop, sal nuwe krag kry. Hulle sal opvaar met vlerke soos arende. Hulle sal hardloop en nie afgemat raak nie; hulle sal loop en nie moeg raak nie.”—Jesaja 40:31.
Bowenal gee God ons sy heilige gees in oorvloedige mate, wat ons versterk sodat ons kan voortgaan om hom op aanneemlike wyse te dien (Lukas 11:13). In baie gevalle het God se knegte lang, moeilike toetse van geloof verduur. Hulle was gewone manne en vroue soos ons almal. Maar hulle volkome vertroue op God het hulle in staat gestel om te volhard. Ja, ‘die krag wat bo die normale is, is God s’n en nie dié uit hulleself nie’.—2 Korintiërs 4:7.
’n Simpatieke afrigter
Een van die take van ’n eertydse afrigter was “om te bepaal watter soort oefeninge en hoeveel oefeninge nodig was vir die individuele atleet en die spesifieke sportsoort”, sê een geleerde. Terwyl God ons afrig, neem hy ons individuele omstandighede, vermoëns, samestelling en beperkings in ag. Tydens ons afrigting smeek ons Jehovah dalk heel dikwels soos Job gedoen het: “Dink asseblief daaraan dat u my uit klei gemaak het” (Job 10:9). Hoe reageer ons simpatieke afrigter? Dawid het van Jehovah geskryf: “Hy weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is.”—Psalm 103:14.
Jy het dalk ’n ernstige gesondheidsprobleem wat jou bediening beperk of jy sukkel dalk met ’n lae selfbeeld. Miskien probeer jy met ’n slegte gewoonte breek, of jy voel moontlik dat jy nie portuurdwang in jou buurt, by die werk of op skool die hoof kan bied nie. Wat jou omstandighede ook al is, moet nooit vergeet dat Jehovah jou probleme beter as enigiemand anders verstaan nie—selfs beter as jy! As ’n besorgde afrigter is hy altyd daar om jou te help as jy nader aan hom kom.—Jakobus 4:8.
Die eertydse afrigters “kon onderskei tussen
uitputting en swakheid weens oefening en dié weens ander, sielkundige oorsake, ’n slegte bui, neerslagtigheid, ensovoorts. . . . Die [afrigters] het soveel gesag gehad dat hulle selfs ’n oog gehou het op die atlete se privaat lewens en ingegryp het wanneer hulle dit nodig geag het.”Voel jy soms uitgeput of swak weens die voortdurende druk en versoekings van hierdie wêreld? As jou afrigter stel Jehovah intens belang in jou (1 Petrus 5:7). Hy sal gou enige teken van geestelike swakheid of uitputting in jou raaksien. Hoewel Jehovah ons wilsvryheid en persoonlike voorkeure respekteer, gee hy genoegsame hulp en teregwysing wanneer dit nodig is, uit besorgdheid oor ons ewige welsyn (Jesaja 30:21). Hoe? Deur die Bybel en Bybelpublikasies, die geestelike ouer manne in die gemeente en ons liefdevolle broederskap.
“Selfbeheersing in alles”
’n Goeie afrigter was natuurlik nie al wat nodig was om sukses te behaal nie. Baie het afgehang van die atleet self en die toewyding waarmee hy die strawwe oefenprogram gevolg het. Dit was ’n veeleisende lewenswyse, aangesien hulle afrigting algehele onthouding en ’n streng dieet ingesluit het. Horatius, ’n digter van die eerste eeu v.G.J., het gesê dat deelnemers “hulle van vroue en wyn onthou het” om “die gesogte doel te bereik”. En volgens die Bybelkenner F. C. Cook moes deelnemers aan die spele “tien maande lank . . . selfbeheersing [aan die dag lê en] ’n streng dieet” volg.
Paulus het hierdie vergelyking gebruik toe hy geskryf het aan die Christene in Korinte, ’n stad wat goed bekend was met die Ismiese Spele daar naby: “Elkeen wat aan ’n wedstryd deelneem, beoefen selfbeheersing in alles” (1 Korintiërs 9:25). Ware Christene vermy die materialistiese, onsedelike en onrein lewenswyses van die wêreld (Efesiërs 5:3-5; 1 Johannes 2:15-17). Goddelose en onskriftuurlike karaktertrekke moet ook afgelê word en met Christelike eienskappe vervang word.—Kolossense 3:9, 10, 12.
Hoe kan dit gedoen word? Let vir eers op Paulus se antwoord deur middel van ’n kragtige illustrasie: “Ek kasty my liggaam en lei dit as ’n slaaf, sodat ek, nadat ek vir ander gepreek het, nie self op die een of ander wyse afgekeur sou word nie.”—1 Korintiërs 9:27.
Wat ’n kragtige punt maak Paulus tog hier! Hy het nie fisiese kastyding aanbeveel nie. Hy het eerder erken dat hy self ’n innerlike stryd gehad het. Soms het hy dinge gedoen wat hy nie wou nie, en dinge wat hy graag wou doen, het hy nie gedoen nie. Maar hy het ’n stryd gevoer sodat sy swakhede nie die oorhand sou kry nie. Hy het ‘sy liggaam gekasty’, deur vleeslike begeertes en karaktertrekke met alle mag te onderdruk.—Romeine 7:21-25.
Alle Christene moet dieselfde doen. Paulus het melding gemaak van die veranderinge wat aangebring is deur sommige in Korinte wat hulle vroeër skuldig gemaak het aan hoerery, afgodediens, homoseksualiteit, diefstal, ensovoorts. Wat het hulle in staat gestel om te verander? Die krag van God se Woord en heilige gees tesame met hulle vasbeslotenheid om hulle daaraan te onderwerp. “Maar julle is skoon gewas”, het Paulus gesê, “maar julle is geheilig, maar julle is regverdig verklaar in die naam van ons Here Jesus Christus en met die gees van ons God” (1 Korintiërs 6:9-11). Ook Petrus het geskryf oor diegene wat sulke slegte gewoontes oorkom het. As Christene het hulle almal groot veranderinge aangebring.—1 Petrus 4:3, 4.
Doelgerigte pogings
Paulus het die doelgerigtheid waarmee hy geestelike doelwitte nagestreef het, toegelig en gesê: “Die manier waarop ek my houe rig, is só dat ek nie in die lug slaan nie” (1 Korintiërs 9:26). Hoe sal ’n mededinger in ’n wedstryd sy houe rig? Die boek The Life of the Greeks and Romans antwoord: “Dit het nie net brute krag geverg nie, maar ook ’n skerp oog om ’n opponent se swak punte raak te sien. Sekere vaardige bewegings wat by die stoeiskole geleer is en die vermoë om ’n opponent te uitoorlê, was net so nuttig.”
Ons onvolmaakte vlees is een van ons opponente. Ken ons ons eie “swak punte”? Is ons bereid om onsself te sien soos ander ons sien—veral soos Satan ons dalk sien? Dit verg eerlike selfondersoek en die begeerte om te verander. Ons kan onsself so maklik bedrieg (Jakobus 1:22). Hoe maklik is dit tog om ’n onverstandige handelswyse te regverdig! (1 Samuel 15:13-15, 20, 21). Dit kom daarop neer dat ons “in die lug slaan”.
In hierdie laaste dae kan diegene wat Jehovah wil behaag en die lewe wil beërf, dit nie bekostig om te huiwer wanneer hulle tussen reg en verkeerd, tussen God se gemeente en die verdorwe wêreld, moet kies nie. Hulle moenie op twee gedagtes hink en ‘besluiteloos, onbestendig in al hulle weë’ wees nie (Jakobus 1:8). Hulle moenie hulle tyd en energie vermors om nuttelose dinge na te jaag nie. Wanneer iemand hierdie eenvoudige, doelgerigte weg volg, sal hy gelukkig wees, en sy ‘vooruitgang sal vir almal duidelik wees’.—1 Timoteus 4:15.
Ja, die Christelike wedloop duur voort. Jehovah—ons Grootse Afrigter—voorsien liefdevol die leiding en hulp wat ons nodig het sodat ons kan volhard en uiteindelik kan oorwin (Jesaja 48:17). Soos atlete van die ou tyd, moet ons selfdissipline, selfbeheersing en doelgerigtheid in ons stryd om die geloof aankweek. Ons doelgerigte pogings sal ryklik beloon word.—Hebreërs 11:6.
[Venster op bladsy 31]
‘Salf hom met olie’
In die afrigting van ’n atleet in eertydse Griekeland het ’n salwer ook ’n rol gespeel. Dit was sy taak om die liggame van manne met olie te salf voordat hulle begin oefen het. Die afrigters “het gevind dat ’n bedrewe massering van die spiere voor ’n oefensessie voordele ingehou het, en ook dat ’n versigtige, ligte massering ’n atleet gehelp het om te ontspan en te herstel ná ’n lang oefensessie”, sê The Olympic Games in Ancient Greece.
Net soos letterlike olie strelend, terapeuties en genesend vir die liggaam kan wees, kan die gebruik van God se Woord ’n moeë Christen-“atleet” reghelp, vertroos en genees. Die ouer manne van die gemeente word dus, onder leiding van Jehovah, aangespoor om oor so ’n man te bid, hom figuurlik gesproke “in die naam van Jehovah met olie [te] salf”, ’n noodsaaklike maatreël om geestelike genesing te bewerkstellig.—Jakobus 5:13-15; Psalm 141:5.
[Prent op bladsy 31]
Nadat hulle ’n offerande gebring het, het die atlete gesweer dat hulle tien maande lank geoefen het
[Erkenning]
Musée du Louvre, Paris
[Foto-erkenning op bladsy 29]
Copyright British Museum