Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vertroosting in tye van benoudheid

Vertroosting in tye van benoudheid

Vertroosting in tye van benoudheid

DIE nuus is deesdae alles behalwe vertroostend. Een persoon het geskryf: “Gebeure is deesdae so ontstellend dat ons dikwels wonder of ons dit kan waag om na die sesuur-nuus te kyk.” Die wêreld word geteister deur oorloë, terreurdade, lyding, misdaad en siekte—euwels wat ons dalk binnekort regstreeks kan raak, as dit nie reeds die geval is nie.

Die Bybel het hierdie situasie akkuraat voorspel. Toe Jesus ons tyd beskryf het, het hy gesê dat daar groot oorloë, pessiektes, voedseltekorte en aardbewings sal wees (Lukas 21:10, 11). Die apostel Paulus het eweneens geskryf oor “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, wanneer mense wreedaardig, liefhebbers van geld en sonder liefde vir die goeie sal wees. Hy het hierdie tydperk “die laaste dae” genoem.—2 Timoteus 3:1-5.

Wanneer wêreldtoestande in die nuus beskryf word, kom dit dus in sekere mate ooreen met wat die Bybel voorspel het. Maar dit is waar die ooreenkoms eindig. Die Bybel gee ’n sy van die saak wat die nuus nie gee nie. Deur God se geïnspireerde Woord leer ons nie net waarom daar soveel goddeloosheid is nie, maar ook wat die toekoms inhou.

Hoe God goddeloosheid beskou

Die Bybel verduidelik hoe God die sorgwekkende toestande van ons dag beskou. Hoewel hy vooruitgesien het dat die huidige probleme sou plaasvind, keur hy dit nie goed nie en sal hy dit ook nie onbepaald duld nie. “God is liefde”, het die apostel Johannes geskryf (1 Johannes 4:8). Jehovah gee baie om vir mense en verafsku alle slegtheid. Ons kan ons dus vol vertroue tot God wend vir vertroosting, aangesien hy goed en medelydend is en die mag en begeerte het om goddeloosheid van die aarde af te verwyder. Die psalmis het geskryf: “[God se aangestelde hemelse Koning] sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.”—Psalm 72:12-14.

Voel jy jammer vir mense wat ly? Heel waarskynlik. Meegevoel is ’n eienskap wat Jehovah in ons geplaas het, want ons is na sy beeld geskep (Genesis 1:26, 27). Ons kan derhalwe seker wees dat Jehovah nie ongevoelig is vir menselyding nie. Jesus, wat Jehovah baie beter as enigiemand anders ken, het mense geleer dat Jehovah opreg in ons belangstel en vol tere medelye is.—Matteus 10:29, 31.

Die skepping self getuig dat God vir die mensdom omgee. Jesus het gesê dat God “sy son laat opgaan oor goddeloses en goeies en dit laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Matteus 5:45). Die apostel Paulus het vir die mense van die stad Listra gesê: “[God het] homself inderdaad nie sonder getuienis gelaat . . . nie deurdat hy goed gedoen het deur vir julle reëns uit die hemel en vrugbare tye te gee en julle harte geheel en al met voedsel en vrolikheid te vul.”—Handelinge 14:17.

Wie moet verantwoordelik gehou word?

Dit is opmerkenswaardig dat Paulus ook vir die mense van Listra gesê het: “In die vergange geslagte het [God] al die nasies toegelaat om in hulle weë voort te gaan.” Daarom is die nasies—of mense self—grootliks verantwoordelik vir die meeste van die probleme wat hulle ondervind. Dit is nie God se skuld nie.—Handelinge 14:16.

Waarom laat Jehovah toe dat slegte dinge gebeur? Sal hy ooit iets daaromtrent doen? Die antwoord op hierdie vrae kan slegs in God se Woord gevind word. Dit is omdat die antwoord verband hou met ’n ander geespersoon en ’n geskil wat hy in die onsigbare geesteryk geopper het.

[Prente op bladsy 4]

Mense het meegevoel. Sou God dan ongevoelig wees vir menselyding?

[Foto-erkennings op bladsy 2]

VOORBLAD: Tank: UN PHOTO 158181/J. Isaac; earthquake: San Hong R-C Picture Company

[Foto-erkennings op bladsy 3]

Links bo, Kroasië: UN PHOTO 159208/S. Whitehouse; verhongerde kind: UN PHOTO 146150 BY O. MONSEN