Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Koninkryksaal ontvang ’n medalje

’n Koninkryksaal ontvang ’n medalje

Koninkryksverkondigers berig

’n Koninkryksaal ontvang ’n medalje

DIE Departement van Omgewingsake in Finland het die jaar 2000 as die “Jaar van Tuinuitleg” verklaar. Een van die organiseerders het gesê dat “tuinuitleg as die tema vir die jaar gekies is om ons almal te herinner aan die invloed wat ’n groen omgewing op ons daaglikse lewe en op ons welsyn het”.

Op 12 Januarie 2001 het die takkantoor van Jehovah se Getuies in Finland ’n brief van die Finse Vereniging vir Tuinuitleg ontvang. Die brief het verduidelik dat een van die “Jaar van Tuinuitleg”-medaljes toegeken is aan die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in Tikkurila weens die besondere uitleg van die terrein en die netjiese tuin. Die brief het ook gesê dat “die algemene voorkoms van die terrein, in die somer sowel as in die winter, aangenaam en ’n lus vir die oog is, asook van ’n hoë standaard getuig”.

Die medalje is aan Jehovah se Getuies oorhandig by die Rosendahl-hotel in Tampere, Finland, by ’n geleentheid wat deur 400 beroepsmense en sakelui bygewoon is. Die Finse Vereniging vir Tuinuitleg het ook ’n persverklaring uitgereik, wat sê: “In verskeie dele van die land is die Koninkryksale van Jehovah se Getuies, feitlik sonder uitsondering, pragtig ontwerp. Daar is seker nie ’n verbyganger wat nie beïndruk is met die goed versorgde omgewing nie. In sy geheel is die Koninkryksaalterrein in Tikkurila ’n voorbeeld van uitsonderlike tuinuitleg. Die gebou tesame met die uitgestrekte terrein straal ’n gevoel van kalmte en balans uit.”

In Finland is daar 233 Koninkryksale, waarvan baie pragtige tuine het. Maar wat hierdie plekke waarlik pragtig maak, is die feit dat dit sentrums van ware aanbidding en Bybelonderrig is. Vir meer as sesmiljoen Getuies van Jehovah in alle wêrelddele is ’n Koninkryksaal—hetsy dit goed ingerig of beskeie is—’n plek wat hulle na aan die hart lê. Dit is waarom hulle pligsgetrou en met liefde daarna omsien. Die deure van die Koninkryksaal staan oop vir almal in julle gemeenskap!