Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die grootmaak van kinders in ’n vreemde land—Die uitdagings en belonings

Die grootmaak van kinders in ’n vreemde land—Die uitdagings en belonings

Die grootmaak van kinders in ’n vreemde land—Die uitdagings en belonings

MlLJOENE mense trek na ander lande in die hoop om ’n nuwe begin te maak. In Europa is daar nou meer as 20 miljoen immigrante, die Verenigde State het meer as 26 miljoen inwoners wat van ander lande afkomstig is en meer as 21 persent van Australië se totale bevolking is in ’n ander land gebore. Hierdie gesinne wat geïmmigreer het, moet dikwels sukkel om ’n nuwe taal aan te leer en by ’n nuwe kultuur aan te pas.

Oor die algemeen leer kinders die taal van hulle nuwe land vinnig aan en begin hulle gou in die nuwe taal dink. Hulle ouers leer dalk nie so vinnig nie. Wanneer kinders grootword in ’n land wat vir hulle ouers vreemd is, kan taalprobleme ’n kommunikasiegaping laat ontstaan wat nie altyd maklik oorbrug word nie.

Die nuwe taal het nie net ’n uitwerking op hoe kinders dink nie, maar die kultuur van die nuwe land kan ook ’n uitwerking hê op hoe hulle voel. Ouers vind dit dalk moeilik om hulle kinders se reaksies te verstaan. Immigrante-ouers wat hulle kinders in “die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” probeer opvoed, kom dus voor unieke uitdagings te staan.—Efesiërs 6:4.

Die uitdaging om die verstand sowel as die hart te bereik

Dit is Christenouers se begeerte en verantwoordelikheid om hulle kinders die “suiwer taal” van Bybelwaarheid te leer (Sefanja 3:9). Maar as kinders net ’n basiese kennis van hulle ouers se taal het, en as ouers hulleself nie goed kan uitdruk in die taal waaraan hulle kinders gewoond geraak het nie, hoe sal die ouers dan Jehovah se wet in hulle kinders se hart kan inskerp? (Deuteronomium 6:7). Die kinders verstaan moontlik die woorde wat hulle ouers gebruik, maar as dit nie hulle hart bereik nie, kan die kinders vreemdelinge in hulle eie huis word.

Pedro en Sandra het van Suid-Amerika na Australië getrek, en hulle het met hierdie uitdaging te kampe terwyl hulle hulle twee tienerseuns grootmaak. a Pedro sê: “Wanneer ’n mens oor geestelike sake praat, is die hart en emosies daarby betrokke. Jy moet dieper en betekenisvoller gedagtes oordra, en daarom is ’n groter woordeskat nodig.” Sandra voeg by: “As ons kinders nie ons moedertaal goed verstaan nie, kan hulle geestelikheid daaronder ly. Hulle kan waardering vir die waarheid verloor omdat hulle nie die beginsels begryp wat die grondslag daarvan vorm nie. Hulle geestelike onderskeidingsvermoë kan belemmer word, en hulle verhouding met Jehovah kan daaronder ly.”

Gnanapirakasam en Helen het uit Sri Lanka na Duitsland geëmigreer en het nou twee kinders. Hulle stem saam: “Ons dink dis baie belangrik dat ons kinders ons moedertaal praat terwyl hulle Duits leer. Dit is belangrik sodat hulle openhartig met ons oor hulle gevoelens kan praat.”

Miguel en Carmen, wat van Uruguay na Australië getrek het, sê: “Ouers in ons situasie moet harder werk. Hulle moet die nuwe taal so goed aanleer dat hulle geestelike dinge in daardie taal kan verstaan en verduidelik, of hulle moet hulle kinders leer om hulle ouers se taal te bemeester.”

’n Gesinsbesluit

Die besluit oor watter taal die gesin sal gebruik om “deur Jehovah geleer [te] word”, is baie belangrik vir die geestelike welsyn van enige immigrantegesin (Jesaja 54:13). As daar ’n gemeente naby is wat die gesin se moedertaal gebruik, besluit die gesin dalk om hierdie gemeente te ondersteun. Of hulle verkies moontlik om na ’n gemeente te gaan wat die hooftaal gebruik van die land waarheen hulle getrek het. Watter faktore sal hierdie besluit beïnvloed?

Demetrios en Patroulla, wat uit Siprus na Engeland geëmigreer het en vyf kinders daar grootgemaak het, verduidelik wat hulle besluit beïnvloed het: “Aanvanklik was ons gesin in die Griekse gemeente. Hoewel dit ons as ouers baie gehelp het, het dit die geestelike vordering van ons kinders belemmer. Hulle het wel ’n basiese kennis van Grieks gehad, maar hulle het gesukkel om die fynere punte te snap. Ons het dit agtergekom omdat hulle geestelik stadig gevorder het. As ’n gesin het ons toe na ’n Engelse gemeente gegaan en byna onmiddellik die goeie uitwerking op ons kinders gesien. Hulle is geestelik versterk. Die besluit om van gemeente te verander, was nie maklik nie, maar in ons geval was dit ’n wyse besluit.”

Die gesin kon nog steeds hulle ouers se moedertaal praat en dit het baie voordele meegebring. Hulle kinders sê: “Dit is voordelig om meer as een taal te kan praat. Hoewel Engels ons eerste taal is, het ons gevind dat ons kennis van Grieks sterk, hegte familiebande moontlik gemaak het, veral met ons grootouers. Dit het ons ook meer simpatiek teenoor immigrante gemaak en ons die vertroue gegee dat ons ’n ander taal kan leer. Later, toe ons ouer was, het ons gesin dus na ’n Albanese gemeente gegaan om daar te help.”

Christopher en Margarita het ook van Siprus na Engeland getrek, en hulle het drie kinders daar grootgemaak. Hulle het besluit om die Griekse gemeente te ondersteun. Hulle seun, Nikos, wat nou as ’n ouer man in ’n Griekse gemeente dien, sê: “Ons is aangemoedig om na die nuwe Griekse gemeente te gaan. Ons gesin het dit as ’n teokratiese toewysing beskou.”

Margarita sê: “Toe die twee seuns sewe en agt jaar oud was, het hulle by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit. As ouers was ons ietwat besorg oor hulle beperkte begrip van Grieks. Maar elke toewysing was ’n gesinsprojek, en ons het baie ure saam met hulle gesit om hulle toesprake voor te berei.”

Hulle dogter Joanna sê: “Ek onthou nog hoe my pa ons Grieks geleer het deur by die huis die alfabet op ’n swartbord te skryf, en ons moes dit goed leer. Baie mense moet jare lank studeer om ’n taal te leer, maar met my ma en pa se hulp het ons Grieks geleer sonder om baie tyd daaraan te bestee.”

Party gesinne besluit om na ’n gemeente te gaan wat hulle taal gebruik omdat die ouers voel dat hulle in hulle moedertaal onderrig moet word om “geestelike insig” te ontwikkel en vooruitgang te maak (Kolossense 1:9, 10; 1 Timoteus 4:13, 15). Of die gesin beskou dalk hulle taalvermoëns as ’n bate om ander immigrante die waarheid te leer.

Aan die ander kant meen ’n gesin miskien dat dit vir hulle beter sal wees as hulle in ’n gemeente is waar die hooftaal van die land gebruik word (Filippense 2:4; 1 Timoteus 3:5). Nadat hulle die situasie as ’n gesin bespreek het, moet die gesinshoof ’n biddende besluit neem (Romeine 14:4; 1 Korintiërs 11:3; Filippense 4:6, 7). Watter wenke kan hierdie gesinne help?

Praktiese wenke

Pedro en Sandra, wat vroeër gemeld is, sê: “By ons huis is dit die reël dat ons net Spaans praat sodat ons nie ons moedertaal vergeet nie. Dit is moeilik om by hierdie reël te bly, want ons seuns weet dat ons Engels verstaan. Maar as ons dit nie doen nie, sal hulle dalk vinnig hulle begrip van Spaans verloor.”

Miguel en Carmen, wat ook vroeër genoem is, stel voor: “As ouers ’n gereelde gesinstudie en daaglikse bespreking van die dagteks in hulle moedertaal hou, sal die kinders meer as net ’n basiese begrip van die taal verkry—hulle sal leer om geestelike gedagtes in daardie taal uit te druk.”

Miguel gee ook hierdie wenk: “Maak die getuieniswerk aangenaam. Ons gebied sluit ’n redelike deel van ’n groot stad in, en ons moet baie ry om mense te vind wat ons taal praat. Ons gebruik die tyd in die kar om Bybelspeletjies te speel en oor belangrike dinge te gesels. Ek probeer ons ritte so beplan dat ons ’n paar goeie herbesoeke kan doen. Dan het die kinders teen die einde van die dag ten minste aan een goeie gesprek deelgeneem.”

Hoe om kultuurverskille te oorkom

God se Woord spoor jongmense aan: “Luister, my seun, na die dissipline van jou vader, en moenie die wet van jou moeder verlaat nie” (Spreuke 1:8). Probleme kan egter ontstaan wanneer ’n vader se standaard van dissipline en ’n moeder se “wet” beïnvloed word deur ’n kultuur wat verskil van die een waarin hulle kinders hulle bevind.

Elke gesinshoof moet natuurlik self besluit hoe hy die leiding in sy eie huisgesin sal gee, en hy moenie te veel deur ander gesinne beïnvloed word nie (Galasiërs 6:4, 5). Nogtans kan goeie kommunikasie tussen ouers en kinders dit makliker maak om nuwe gebruike te aanvaar.

Baie van die gebruike en gewoontes wat algemeen in ontwikkelde lande is, is egter skadelik vir die geestelike welsyn van Christene. Onsedelikheid, gierigheid en opstandigheid word dikwels bevorder deur gewilde musiek en vermaak (Romeine 1:26-32). Christenouers kan eenvoudig nie hulle verantwoordelikheid verontagsaam om hulle kinders se keuse van musiek en vermaak te beheer net omdat hulle as ouers sukkel om die taal te verstaan nie. Hulle moet besliste riglyne gee. Maar dit kan moeilik wees.

Carmen sê: “Ons verstaan dikwels nie die woorde van die musiek waarna ons kinders luister nie. Die wysie klink dalk goed, maar as die woorde dubbelsinnig is of as dit onsedelike slenguitdrukkings bevat, sal ons nie weet nie.” Hoe het hulle hierdie situasie hanteer? Miguel sê: “Ons bestee baie tyd daaraan om ons kinders teen die gevare van onsedelike musiek te waarsku, en ons probeer hulle help om musiek te kies wat Jehovah se goedkeuring sal wegdra.” Ja, dit is belangrik om waaksaam en redelik te wees as ons kultuurverskille wil oorkom.—Deuteronomium 11:18, 19; Filippense 4:5.

Die belonings

Om kinders in ’n vreemde land groot te maak, verg ekstra tyd en inspanning. Dit is nie altemit nie. Maar ouers sowel as kinders se inspanning kan vir hulle spesiale belonings meebring.

Azzam en sy vrou, Sara, het uit Turkye na Duitsland geëmigreer, waar hulle drie kinders grootgemaak het. Hulle oudste seun dien nou by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Selters, Duitsland. Azzam sê: “’n Groot voordeel vir die kinders is die feit dat hulle eienskappe kan ontwikkel wat in albei kulture ’n aanwins is.”

Antonio en Lutonadio het van Angola na Duitsland getrek en maak nege kinders daar groot. Die gesin praat Lingala, Frans en Duits. Antonio sê: “Die vermoë om verskillende tale te praat, help ons gesin om vir mense uit baie lande te getuig. Dit verskaf ons beslis groot vreugde.”

Twee kinders van ’n Japannese egpaar wat na Engeland verhuis het, meen dat dit vir hulle groot voordele inhou om Japannees en Engels te kan praat. Die kinders sê: “Omdat ons twee tale ken, het dit ons gehelp om werk te kry. Ons het baat gevind by die groot Engelse streekbyeenkomste. Terselfdertyd het ons die voorreg om in die Japannese gemeente te dien, waar daar baie hulp nodig is.”

Jy kan sukses behaal

Dit is al sedert Bybeltye ’n uitdaging vir God se knegte om kinders groot te maak terwyl hulle onder mense woon wat nie dieselfde kulturele waardes as hulle het nie. Moses se ouers het sukses behaal, al is hy in Egipte grootgemaak (Eksodus 2:9, 10). Baie van die Joodse ballinge in Babilon het kinders grootgemaak wat bereid was om na Jerusalem terug te keer om ware aanbidding te herstel.—Esra 2:1, 2, 64-70.

Christenouers kan vandag ook sukses behaal. Hulle sal moontlik die beloning hê om dieselfde woorde te hoor wat een egpaar se kinders van hulle ouers gesê het: “Ons is ’n baie hegte gesin weens die liefdevolle sorg van ons ouers, met wie ons altyd maklik kon gesels. Ons is baie bly om deel te wees van die aardwye gesin wat Jehovah dien.”

[Voetnoot]

a Van die name is verander.

[Prent op bladsy 24]

As ’n mens net jou moedertaal by die huis praat, gee dit jou kinders ’n basiese kennis van daardie taal

[Prent op bladsy 24]

’n Gemeenskaplike taal help om die band tussen grootouers en kleinkinders te bewaar

[Prent op bladsy 25]

Dit ontwikkel kinders se “geestelike insig” as ouers die Bybel saam met hulle studeer