Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is bose magte aan die werk?

Is bose magte aan die werk?

Is bose magte aan die werk?

“Die wêreld is totaal gedisoriënteer, asof okkulte magte doelbewus alle nooduitgange probeer versper.”—Jean-Claude Souléry, joernalis.

‘Die individu se gevoelens van magteloosheid laat dikwels die gevoel ontstaan dat oorweldigende boosheid aan die werk is.’—Josef Barton, geskiedkundige.

DIE absolute grusaamheid van die terreuraanvalle op 11 September 2001 het baie mense tot nadenke gestem. Michael Prowse het in die Financial Times van Engeland geskryf: “Geen dier sou of kon op so ’n barbaarse manier optree nie.” ’n Hoofartikel in die New York Times het gesê dat dit nie net belangrik is om te kyk na die beplanning wat dit geverg het om die aanval uit te voer nie, maar dat “dit net so belangrik is om die intensiteit van die haat in ag te neem wat daartoe gelei het. Dit is ’n haat wat oorlogsreëls verontagsaam, wat geen perke ken nie, wat by geen ooreenkomste bly nie.”

Mense met verskillende oortuigings het al die moontlikheid oorweeg dat daar ’n boosaardige mag aan die werk is. ’n Sakeman van Sarajevo wat die gruwels van die etniese haat in Bosnië aanskou het, het gesê: “Ná ’n jaar van die Bosniese oorlog glo ek dat Satan agter die skerms aan die werk is. Hierdie situasie is heeltemal kranksinnig.”

Toe die geskiedskrywer Jean Delumeau gevra is of hy glo dat die Duiwel bestaan, het hy geantwoord: “Hoe kan ek die mag van die bose ontken wanneer ek sien wat nou gebeur en wat sedert my geboorte gebeur het: Die Tweede Wêreldoorlog, met meer as 40 miljoen slagoffers; Auschwitz en die doodskampe; die volkslagting in Kambodja; die wrede tirannie van die Ceauşescu-bewind; marteling as ’n regeringstelsel in baie plekke regoor die wêreld. Die lys van gruwels is eindeloos. . . . Daarom glo ek dat ons geregverdig is om hierdie dade ‘diabolies’ te noem, nie dat dit deur ’n Duiwel met horings en gesplete kloue geïnspireer is nie, maar deur ’n Duiwel wat die simbool is van die gees en mag van boosheid wat in die wêreld aan die werk is.”

Soos Jean Delumeau, bestempel baie mense die afgryslike dinge wat vandag in die mensegemeenskap plaasvind, van gesinsvlak reg tot op internasionale vlak, as “diabolies”. Maar wat beteken dit? Moet sulke gruwels aan abstrakte bose magte toegeskryf word, of is daar persoonlike boosaardige magte aan die werk wat mense dryf om grusame misdade te pleeg wat nie net aan die gewone slegtheid in mense toegeskryf kan word nie? Is die meesterbrein agter hierdie magte ’n vors van boosheid—Satan die Duiwel?

[Foto-erkenning op bladsy 3]

Kinders: U.S. Coast Guard photo