Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah sorg vir jou

Jehovah sorg vir jou

Jehovah sorg vir jou

‘Werp al julle sorge op God, want hy sorg vir julle.’—1 PETRUS 5:7.

1. In watter belangrike opsig verskil Jehovah en Satan geheel en al van mekaar?

 JEHOVAH en Satan verskil geheel en al van mekaar. Enigiemand wat tot Jehovah aangetrokke voel, kan nie anders as om ’n weersin in die Duiwel te hê nie. Hierdie kontras word in ’n standaardnaslaanwerk na vore gebring. Aangaande Satan se bedrywighede soos dit in die Bybelboek Job uiteengesit word, sê die Encyclopædia Britannica (1970): ‘Satan se taak is om die aarde te deurkruis op soek na dade of mense waaroor hy ’n slegte berig kan bring; sy doel is dus die teenoorgestelde van dié van die “oë van die Here”, wat die hele aarde deurloop om alles wat goed is, te versterk (II Kron. xvi, 9). Satan is sinies oor onselfsugtige menslike goedheid en word toegelaat om dit te toets onder God se gesag en beheer en binne die perke wat God stel.’ Ja, wat ’n skerp kontras!—Job 1:6-12; 2:1-7.

2, 3. (a) Hoe word die betekenis van die woord “Duiwel” goed toegelig deur wat met Job gebeur het? (b) Hoe toon die Bybel dat Satan voortgaan om Jehovah se knegte op aarde te beskuldig?

2 Die woord “Duiwel” kom van ’n Griekse woord wat “valse beskuldiger”, “lasteraar”, beteken. Die boek Job openbaar dat Satan Jehovah se getroue kneg Job daarvan beskuldig het dat hy God net uit eiebelang dien, toe hy gesê het: “Is dit verniet dat Job God gevrees het?” (Job 1:9). Die verslag in die boek Job toon dat hy ten spyte van sy toetse en beproewinge nog nader aan Jehovah gekom het (Job 10:9, 12; 12:9, 10; 19:25; 27:5; 28:28). Ná sy beproewinge het hy aan God gesê: “Van hoorsê het ek van u gehoor, maar nou sien my eie oog u.”—Job 42:5.

3 Het Satan opgehou om God se getroue knegte te beskuldig sedert Job se tyd? Nee. Die boek Openbaring toon dat Satan in hierdie tyd van die einde voortgaan om Christus se gesalfde broers, en beslis ook hulle getroue metgeselle, te beskuldig (2 Timoteus 3:12; Openbaring 12:10, 17). Gevolglik is dit uiters noodsaaklik dat ons almal ons as ware Christene aan ons besorgde God, Jehovah, onderwerp en hom uit innige liefde dien, waardeur ons Satan se beskuldiging vals kan bewys. Sodoende sal ons Jehovah se hart bly maak.—Spreuke 27:11.

Jehovah soek na maniere om ons te help

4, 5. (a) In teenstelling met Satan, waarna soek Jehovah op die aarde? (b) Wat moet ons doen as ons Jehovah se guns wil geniet?

4 Die Duiwel deurkruis die aarde op soek na iemand wat hy kan beskuldig en verslind (Job 1:7, 9; 1 Petrus 5:8). Daarenteen soek Jehovah na maniere om diegene te help wat sy krag nodig het. Die profeet Hanani het vir koning Asa gesê: “Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is” (2 Kronieke 16:9). Hoe verskil Satan se hatige ondersoek tog van Jehovah se liefdevolle besorgdheid!

5 Jehovah hou ons nie dop om elke fout en tekortkoming in ons raak te sien nie. Die psalmis het geskryf: “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan?” (Psalm 130:3). Die antwoord is voor die hand liggend: niemand nie (Prediker 7:20). As ons met ons hele hart nader aan Jehovah kom, sal sy oë op ons wees, nie om ons te veroordeel nie, maar om ons pogings raak te sien en ons gebede om hulp en vergifnis te verhoor. Die apostel Petrus het geskryf: “Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle smeking; maar die aangesig van Jehovah is teen dié wat slegte dinge doen.”—1 Petrus 3:12.

6. Hoe dien Dawid se geval as ’n vertroosting sowel as ’n waarskuwing vir ons?

6 Dawid was onvolmaak en het ernstige sondes gepleeg (2 Samuel 12:7-9). Maar hy het sy hart voor Jehovah uitgestort en hom in vurige gebed genader (Psalm 51:1-12, opskrif). Jehovah het sy gebed verhoor en hom vergewe, hoewel Dawid die onaangename gevolge van sy sonde moes dra (2 Samuel 12:10-14). Dit behoort vir ons as ’n vertroosting sowel as ’n waarskuwing te dien. Dit is vertroostend om te weet dat Jehovah gewillig is om ons sondes te vergewe as ons waarlik berouvol is, maar die feit dat sondes dikwels droewige gevolge het, moet ons tot nadenke stem (Galasiërs 6:7-9). As ons nader aan Jehovah wil kom, moet ons so ver as moontlik wegbly van enigiets wat hom mishaag.—Psalm 97:10.

Jehovah trek sy knegte na hom toe

7. Na watter soort mense soek Jehovah, en hoe trek hy hulle na hom toe?

7 Dawid het in een van sy psalms geskryf: “Jehovah is hoog, en tog sien hy die nederige; maar die verwaande ken hy net van ver af” (Psalm 138:6). ’n Ander psalm sê eweneens: “Wie is soos Jehovah ons God, hy wat sy woonplek in die hoogte maak? Hy buig hom neer om na die hemel en die aarde te kyk, en hy rig die geringe uit die stof op” (Psalm 113:5-7). Ja, die almagtige Skepper van die heelal buig hom neer om na die aarde te kyk, en sy oë sien “die nederige”, “die geringe”, mense wat “sug en steun oor al die verfoeilike dinge wat . . . gedoen word” (Esegiël 9:4). Hy trek sulke persone na hom toe deur middel van sy Seun. Terwyl Jesus op aarde was, het hy gesê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie . . . Niemand kan na my toe kom tensy dit deur die Vader aan hom gegee word nie.”—Johannes 6:44, 65.

8, 9. (a) Waarom moet ons almal na Jesus toe kom? (b) Wat is so merkwaardig omtrent die losprysvoorsiening?

8 Alle mense moet na Jesus toe kom en geloof in die losprysoffer stel omdat hulle gebore is as sondaars, vervreemd van God (Johannes 3:36). Hulle moet met God versoen raak (2 Korintiërs 5:20). God het nie gewag dat sondaars hom smeek om ’n reëling te voorsien waardeur hulle vrede met hom kon verkry nie. Die apostel Paulus het geskryf: “God [beveel] sy eie liefde by ons aan, dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was. Want as ons, toe ons vyande was, met God versoen geraak het deur die dood van sy Seun, sal ons veel meer, noudat ons versoen geraak het, deur sy lewe gered word.”—Romeine 5:8, 10.

9 Die apostel Johannes het die wonderlike waarheid bevestig dat God hom met mense versoen, en geskryf: “Hierdeur is die liefde van God in ons geval openbaar gemaak, want God het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry. Hierin lê die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat hy ons liefgehad en sy Seun uitgestuur het as ’n soenoffer vir ons sondes” (1 Johannes 4:9, 10). God het die inisiatief geneem, nie die mens nie. Voel jy nie aangetrokke tot ’n God wat soveel liefde vir “sondaars”, in werklikheid vir “vyande”, getoon het nie?—Johannes 3:16.

Ons moet Jehovah soek

10, 11. (a) Wat moet ons doen om Jehovah te soek? (b) Hoe moet ons Satan se stelsel van dinge beskou?

10 Jehovah dwing ons natuurlik nie om na hom te kom nie. Ons moet hom soek, “na hom . . . tas en hom werklik . . . vind, hoewel hy eintlik nie ver van elkeen van ons af is nie” (Handelinge 17:27). Ons moet erken dat Jehovah die reg het om onderdanigheid van ons te vereis. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Onderwerp julle dan aan God; maar staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug. Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom. Reinig julle hande, julle sondaars, en suiwer julle harte, julle besluiteloses” (Jakobus 4:7, 8). Ons moenie huiwer om ’n ferm standpunt teen die Duiwel en vir Jehovah in te neem nie.

11 Dit beteken dat ons ons moet afskei van Satan se goddelose stelsel van dinge. Jakobus het ook geskryf: “Weet julle nie dat die vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie? Elkeen dan wat ’n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God” (Jakobus 4:4). As ons daarenteen vriende van Jehovah wil wees, moet ons verwag dat Satan se wêreld ons sal haat.—Johannes 15:19; 1 Johannes 3:13.

12. (a) Watter vertroostende woorde het Dawid opgeteken? (b) Watter waarskuwing het Jehovah deur middel van die profeet Asarja gegee?

12 Veral wanneer Satan se wêreld ons in ’n sekere opsig teëstaan, moet ons Jehovah in gebed nader en sy hulp vra. Dawid, wat Jehovah se reddende hand soveel keer ondervind het, het tot ons vertroosting geskryf: “Jehovah is naby almal wat hom aanroep, almal wat hom in waaragtigheid aanroep. Aan die begeerte van dié wat hom vrees, sal hy voldoen, en hulle hulpgeroep sal hy hoor, en hy sal hulle red. Jehovah bewaar almal wat hom liefhet, maar al die goddeloses sal hy verdelg” (Psalm 145:18-20). Hierdie psalm toon dat Jehovah ons kan red wanneer ons as individue beproef word en dat hy sy volk as ’n geheel sal red tydens “die groot verdrukking” (Openbaring 7:14). Jehovah sal na aan ons bly as ons na aan hom bly. Onder leiding van “die gees van God” het die profeet Asarja iets gesê wat ons as ’n fundamentele waarheid kan aanvaar: “Jehovah is met julle solank julle met hom is; en as julle hom soek, sal hy hom deur julle laat vind, maar as julle hom verlaat, sal hy julle verlaat.”—2 Kronieke 15:1, 2.

Jehovah moet vir ons ’n werklike persoon wees

13. Hoe kan ons toon dat Jehovah vir ons ’n werklike persoon is?

13 Die apostel Paulus het geskryf dat Moses “standvastig gebly [het] asof hy die Onsigbare sien” (Hebreërs 11:27). Moses het Jehovah natuurlik nooit letterlik gesien nie (Eksodus 33:20). Maar Jehovah was vir hom so werklik dat dit was asof hy Hom gesien het. Net so het Job ná sy beproewinge Jehovah veel duideliker met sy oë van geloof gesien, as ’n God wat toelaat dat sy getroue knegte beproewinge verduur, maar hulle nooit in die steek laat nie (Job 42:5). Daar is van Henog en Noag gesê dat hulle ‘met God gewandel het’. Hulle het dit gedoen deur daarna te streef om God te behaag en te gehoorsaam (Genesis 5:22-24; 6:9, 22; Hebreërs 11:5, 7). As Jehovah vir ons net so werklik is as wat hy vir Henog, Noag, Job en Moses was, sal ons in al ons weë ‘op hom ag slaan’, en hy sal ons “paaie reguit maak”.—Spreuke 3:5, 6.

14. Wat beteken dit om Jehovah ‘aan te kleef’?

14 Net voordat die Israeliete die Beloofde Land sou binnegaan, het Moses hulle vermaan: “Julle moet Jehovah julle God volg, en hom moet julle vrees en sy gebooie moet julle onderhou en na sy stem moet julle luister en hom moet julle dien en hom moet julle aankleef” (Deuteronomium 13:4). Hulle moes Jehovah volg, hom vrees, hom gehoorsaam en hom aankleef. Aangaande die woord wat hier met “aankleef” vertaal word, sê ’n Bybelgeleerde dat “die taal op ’n baie hegte en intieme verhouding dui”. Die psalmis het gesê: “Intimiteit met Jehovah behoort aan dié wat hom vrees” (Psalm 25:14). Ons kan hierdie kosbare, hegte verhouding met Jehovah geniet as hy vir ons ’n werklike persoon is en as ons hom so liefhet dat ons hom glad nie sal wil mishaag nie.—Psalm 19:9-14.

Is jy bewus van Jehovah se sorg?

15, 16. (a) Hoe toon Psalm 34 dat Jehovah vir ons sorg? (b) Wat moet ons doen as ons nie kan dink aan ’n goeie daad wat Jehovah vir ons gedoen het nie?

15 Een van Satan se listige dade is om ons te laat vergeet dat ons God, Jehovah, voortdurend vir sy getroue knegte sorg. Koning Dawid van Israel was terdeë bewus van Jehovah se beskermende arm, selfs toe hy in ’n uiters gevaarlike situasie was. Toe hy genoodsaak was om hom voor koning Agis van Gat kranksinnig te hou, het hy ’n lied, ’n baie mooi psalm, gekomponeer wat hierdie woorde van geloof bevat het: “O maak Jehovah saam met my groot, en laat ons sy naam saam verhef. Ek het Jehovah geraadpleeg, en hy het my geantwoord, en uit al my verskrikkinge het hy my verlos. Die engel van Jehovah slaan kamp op rondom dié wat hom vrees, en hy red hulle. Smaak en sien dat Jehovah goed is; gelukkig is die man wat sy toevlug tot hom neem. Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy. Baie is die rampspoede van die regverdige, maar uit hulle almal verlos Jehovah hom.”—Psalm 34:3, 4, 7, 8, 18, 19; 1 Samuel 21:10-15.

16 Is jy oortuig van Jehovah se reddingskrag? Is jy bewus van die beskerming wat sy engele bied? Het jy al self gesmaak en gesien dat Jehovah goed is? Wanneer laas was jy spesifiek daarvan bewus dat Jehovah vir jou goed is? Probeer onthou. Was dit by daardie laaste huis wat jy in die velddiens besoek het, net toe jy gevoel het dat jy nie meer kon doen nie? Miskien het jy toe ’n aangename gesprek met die huisbewoner gehad. Het jy onthou om Jehovah te dank dat hy jou die nodige krag gegee het en dat hy jou geseën het? (2 Korintiërs 4:7). Aan die ander kant vind jy dit dalk moeilik om aan ’n spesifieke goeie daad te dink wat Jehovah vir jou gedoen het. Jy moet moontlik jou gedagtes ’n week, ’n maand, ’n jaar of selfs verder laat teruggaan. As dit die geval is, kan jy gerus ’n doelbewuste poging aanwend om nader aan Jehovah te kom en te probeer sien hoe hy jou rig en lei. Die apostel Petrus het Christene aangespoor: “Verneder julle . . . onder die magtige hand van God . . . terwyl julle al julle sorge op hom werp, want hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:6, 7). Ja, jy sal verbaas wees oor hoe goed hy vir jou sorg!—Psalm 73:28.

Hou aan om Jehovah te soek

17. Wat moet ons doen as ons wil aanhou om Jehovah te soek?

17 Ons moet voortdurend aan ons verhouding met Jehovah werk. Jesus het in gebed vir sy Vader gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Volgehoue inspanning is nodig as ons kennis van Jehovah en sy Seun wil inneem. Ons het die hulp van gebed en die heilige gees nodig om “die diep dinge van God” te verstaan (1 Korintiërs 2:10; Lukas 11:13). Ons het ook die leiding van “die getroue en verstandige slaaf” nodig om ons verstand te voed met geestelike voedsel wat “op die regte tyd” gegee word (Matteus 24:45). Deur daardie kanaal het Jehovah ons vermaan om sy Woord daagliks te lees, ons Christelike vergaderinge gereeld by te woon en ’n betekenisvolle aandeel aan die verkondiging van die “goeie nuus van die koninkryk” te hê (Matteus 24:14). Deur dit te doen, sal ons aanhou om ons besorgde God, Jehovah, te soek.

18, 19. (a) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen? (b) Hoe sal ons geseën word as ons ’n ferm standpunt teen die Duiwel inneem en aanhou om Jehovah te soek?

18 Satan doen alles in sy mag om vervolging, teenstand en druk uit alle oorde oor Jehovah se volk te bring. Hy probeer ons vrede versteur en ons goeie naam by ons God vernietig. Hy wil nie hê dat ons moet voortgaan met ons werk om opregtes van hart te vind en hulle te help om hulle aan Jehovah se kant van die geskil oor universele soewereiniteit te skaar nie. Maar ons moet vasbeslote wees om lojaal aan Jehovah te bly en op hom vertrou om ons van die bose te verlos. As ons toelaat dat God se Woord ons rig en as ons bedrywig bly in sy sigbare organisasie, kan ons seker wees dat hy altyd daar sal wees om ons te ondersteun.—Jesaja 41:8-13.

19 Mag ons almal dus ’n ferm standpunt inneem teen die Duiwel en sy listige dade, terwyl ons aanhou om ons liefdevolle God, Jehovah, te soek, wat nie sal versuim om ‘ons standvastig en sterk te maak’ nie (1 Petrus 5:8-11). So sal ons ons “in God se liefde hou, terwyl [ons] wag op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus met die ewige lewe in die vooruitsig”.—Judas 21.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat beteken die woord “Duiwel”, en hoe toon die Duiwel dat daardie benaming by hom pas?

• Hoe verskil Jehovah van die Duiwel in die manier waarop Hy die bewoners van die aarde waarneem?

• Waarom moet iemand die losprys aanvaar as hy Jehovah wil nader?

• Wat beteken dit om Jehovah ‘aan te kleef’, en hoe kan ons aanhou om hom te soek?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 15]

Job het ten spyte van sy beproewinge besef dat Jehovah oor hom besorg is

[Prente op bladsy 16, 17]

Daaglikse Bybellees, gereelde bywoning van Christelike vergaderinge en ’n ywerige deelname aan die predikingswerk herinner ons daaraan dat Jehovah vir ons sorg