Satan—Mite of sinistere werklikheid?
Satan—Mite of sinistere werklikheid?
VAN die vroegste tye af het denkende mense oor die oorsprong van boosheid gewonder. A Dictionary of the Bible, deur James Hastings, sê: “Van die begin van menslike bewustheid af het die mens gevind dat hy voor magte te staan kom wat hy nie kan beheer nie en wat ’n verderflike of vernietigende invloed uitgeoefen het.” Dieselfde naslaanwerk sê ook: “Die vroeë mensdom het instinktief na oorsake gesoek en het die natuurkragte en ander natuurverskynsels verpersoonlik.”
Volgens geskiedskrywers kan geloof in demoongode en bose geeste tot die vroegste geskiedenis van Mesopotamië teruggevoer word. Die eertydse Babiloniërs het geglo dat Nergal, ’n gewelddadige godheid wat bekend was as “die een wat brand”, toesig gehou het oor die onderwêreld, of “land van geen terugkeer”. Hulle het ook demone gevrees en hulle deur middel van towerspreuke probeer paai. In Egiptiese mitologie was Set die god van boosheid, en hy is “uitgebeeld as ’n vreemdsoortige dier met ’n dun, geboë snoet, reguit, vierkantige ore en ’n stywe gevurkte stert”.—Larousse Encyclopedia of Mythology.
Hoewel die Grieke en die Romeine goeie en boosaardige godhede gehad het, het hulle nie ’n hoofgod van boosheid gehad nie. Hulle filosowe het geleer dat daar twee teenoorgestelde beginsels bestaan. Vir Empedokles was dit Liefde en Onenigheid. Volgens Plato het die wêreld twee “Siele” gehad, die een het goeie dinge veroorsaak en die ander boosheid. Soos Georges Minois in sy boek Le Diable (Die Duiwel) sê, “het klassieke [Grieks-Romeinse] heidense godsdiens geen Duiwel geken nie”.
In Iran het Zoroastrisme geleer dat die hoogste godheid Ahoera Mazda, of Ormazd, die skepper was van Angramainjoe, of Ahriman, wat verkies het om boosheid te beoefen en so die Verwoestende Gees, of Vernietiger, geword het.
In Judaïsme was daar ’n eenvoudige voorstelling van Satan as God se Teenstander by wie sonde ontstaan het. Maar ná baie eeue is dit met heidense idees besoedel. Die Encyclopaedia Judaica sê: “’n Groot verandering het . . . teen die laaste eeue v.G.J plaasgevind. In hierdie tydperk het die [Joodse] godsdiens . . . baie eienskappe van ’n tweeledige stelsel aangeneem waarin God en die magte van goedheid en waarheid teëgestaan is in die hemel en op aarde deur sterk magte van boosheid en bedrog. Dit was blykbaar onder die invloed van die Persiese godsdiens.” The Concise Jewish Encyclopedia
sê: “Beskerming teen d[emone] is verkry deur die gebooie te onderhou en gelukbringers te gebruik.”Afvallige Christenteologie
Net soos Judaïsme onbybelse opvattings oor Satan en die demone aangeneem het, het afvallige Christene onskriftuurlike idees ontwikkel. The Anchor Bible Dictionary sê: “Een van die mees verregaande eertydse teologiese idees is dat God sy volk losgekoop het deur Satan vir hulle bevryding te betaal.” Hierdie idee is deur Ireneus (tweede eeu G.J.) voorgelê. Dit is verder ontwikkel deur Origines (derde eeu G.J.), wat beweer het dat “die duiwel ’n wetlike aanspraak op die mens verkry het” en wat “die dood van Christus [beskou het] . . . as ’n losprys wat aan die duiwel betaal is”.—History of Dogma, deur Adolf Harnack.
Volgens The Catholic Encyclopedia het die idee dat die losprys aan die Duiwel betaal is, “ongeveer duisend jaar lank ’n opvallende rol in die geskiedenis van teologie gespeel”, en dit het deel van die kerk se opvattings gebly. Ander Kerkvaders, waaronder Augustinus (vierde-vyfde eeu G.J.), het die idee aanvaar dat die losprys aan Satan betaal is. Uiteindelik, teen die 12de eeu G.J., het die Katolieke teoloë Anselm en Abelard tot die slotsom gekom dat Christus se offerande nie vir Satan nie, maar vir God aangebied is.
Middeleeuse bygelowe
Hoewel die meeste van die konsilies van die Katolieke Kerk buitengewoon stil was oor die onderwerp van Satan, het die Vierde Lateraanse Konsilie, in 1215 G.J., ’n “plegtige geloofsbelydenis”, soos die New Catholic Encyclopedia dit noem, voorgelê. Geloofsreël 1 sê: “Die duiwel en die ander demone is as goeie wesens deur God geskep, maar het deur hulle eie toedoen boos geword.” Dit voeg by dat hulle hulle daarop toespits om die mensdom te probeer verlei. Hierdie laaste gedagte het gedurende die Middeleeue ’n obsessie by baie mense geword. Satan was agter enigiets wat ongewoon gelyk het, soos onverklaarbare siekte, skielike dood of slegte oeste. In 1233 G.J. het pous Gregorius IX verskeie pouslike bulle uitgereik teen ketters, onder andere een teen Luciferiërs, sogenaamde Duiwelaanbidders.
Die opvatting dat mense deur die Duiwel of sy demone besete kan wees, het spoedig gelei tot ’n gemeenskaplike paranoia—’n oordrewe vrees vir toorkuns en heksery. Van die 13de tot die 17de eeu het vrees vir hekse vinnig deur Europa versprei en Noord-Amerika deur middel van Europese koloniste bereik. Selfs die Protestantse hervormers Martin Luther en Johannes Calvyn het heksejagte goedgekeur. In Europa is hekseverhore, wat bloot op gerugte of kwaadwillige aanklagte gegrond was, deur die Inkwisisie en sekulêre howe gehou. Marteling is dikwels gebruik om mense te dwing om “skuld” te erken.
Diegene wat skuldig bevind is, kon tot die dood veroordeel word, en hulle kon óf op die brandstapel sterf óf, in Engeland en Skotland, gehang word. Wat die aantal slagoffers betref, sê The World Book Encyclopedia: “Volgens sommige geskiedskrywers het die Christelike kerk van 1484 tot 1782 ongeveer 300 000 vroue vir heksery tereggestel.” As Satan agter hierdie Middeleeuse tragedie was, wie was dan sy
instrumente—die slagoffers of hulle fanatiese godsdiensvervolgers?Wat mense vandag glo
In die 18de eeu het rasionalistiese denke gefloreer; dit is die eeu van die verligting genoem. Die Encyclopædia Britannica sê: “Die filosofie en teologie van die Verligting het die beeld van die duiwel uit die Christelike denke probeer verdryf as ’n produk van die mitologiese fantasie van die Middeleeue.” Die Rooms-Katolieke Kerk het hierop gereageer en sy geloof in die bestaan van Satan die Duiwel by die Eerste Vatikaanse Konsilie (1869-70) herbevestig, en dit ietwat bedees by die Tweede Vatikaanse Konsilie (1962-65) herhaal.
Soos die New Catholic Encyclopedia toegee, “is die Kerk [amptelik] verbind tot geloof in engele en demone”. Maar Théo, ’n Franse woordeboek van Katolisisme, erken dat “baie Christene vandag weier om die boosheid in die wêreld aan die duiwel toe te skryf”. In onlangse jare het Katolieke teoloë hulle in ’n dilemma bevind—hulle moes ’n balans handhaaf tussen die amptelike Katolieke leer en moderne denke. “Liberale Christenteologie”, sê die Encyclopædia Britannica, “is geneig om die Bybelse taal oor Satan as ‘simbolies’ te beskou, as iets wat nie letterlik opgeneem moet word nie—as ’n mitologiese poging om die werklikheid en omvang van boosheid in die heelal uit te druk.” Wat die Protestante betref, sê dieselfde naslaanwerk: “Moderne, liberale Protestantisme is geneig om te ontken dat geloof in die bestaan van ’n persoonlike duiwel noodsaaklik is.” Maar moet ware Christene dit wat die Bybel oor Satan sê, as bloot “simbolies” beskou?
Wat die Skrif leer
Mensefilosofie en -teologie het nie ’n beter verklaring gegee van die oorsprong van boosheid as wat die Bybel gee nie. Wat die Skrif oor Satan sê, is noodsaaklik om die oorsprong van boosheid en van menselyding te verstaan, asook waarom die ergste geweld denkbaar elke jaar vererger.
Sommige vra dalk: ‘As God die goeie en liefdevolle Skepper is, hoe kon hy dan ’n bose geesskepsel soos Satan geskep het?’ Volgens die beginsel wat in die Bybel vasgestel is, is al Jehovah God se werke volmaak en al sy intelligente skepsele met wilsvryheid begaaf (Deuteronomium 30:19; 32:4; Josua 24:15; 1 Konings 18:21). Die geespersoon wat Satan geword het, is dus ongetwyfeld volmaak geskep en het doelbewus van die weg van waarheid en regverdigheid afgewyk.—Johannes 8:44; Jakobus 1:14, 15.
Esegiël 28:11-19). Satan het nie Jehovah se oppergesag of die feit dat hy die Skepper is, betwis nie. Hoe kon hy, aangesien hy deur God geskep is? Satan het egter die manier waarop Jehovah sy soewereiniteit uitoefen, in twyfel getrek. In die tuin van Eden het Satan te kenne gegee dat God iets van die eerste mensepaar weerhou het waarop hulle geregtig was en waarvan hulle welsyn afgehang het (Genesis 3:1-5). Hy het daarin geslaag om Adam en Eva teen Jehovah se regverdige soewereiniteit in opstand te laat kom en het sodoende sonde en die dood oor hulle en hulle afstammelinge gebring (Genesis 3:6-19; Romeine 5:12). Die Bybel toon dus dat Satan die hoofoorsaak van menselyding is.
Satan se opstandige weg kom in baie opsigte ooreen met dié van “die koning van Tirus”, wat in digterlike terme beskryf is as “volmaak in skoonheid” en ‘onberispelik in sy weë van die dag af dat hy geskep is totdat onregverdigheid in hom gevind is’ (Die een of ander tyd voor die Vloed het ander engele by Satan in sy opstand aangesluit. Hulle het menseliggame aangeneem om hulle drang na geslagsomgang met die dogters van die mense te bevredig (Genesis 6:1-4). Met die Vloed het hierdie afvallige engele na die geesteryk teruggekeer, maar nie na hulle “oorspronklike posisie” by God in die hemel nie (Judas 6). Hulle is verlaag tot ’n toestand van digte geestelike duisternis (1 Petrus 3:19, 20; 2 Petrus 2:4). Hulle het demone geword, wat nie meer onder Jehovah se soewereiniteit gedien het nie, maar aan Satan onderworpe was. Hoewel hulle blykbaar nie meer kan materialiseer nie, kan die demone steeds groot mag oor die denke en lewens van mense uitoefen, en hulle is ongetwyfeld verantwoordelik vir baie van die geweld wat ons vandag sien.—Matteus 12:43-45; Lukas 8:27-33.
Die einde van Satan se heerskappy is op hande
Dit is duidelik dat bose magte vandag in die wêreld aan die werk is. Die apostel Johannes het geskryf: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose.”—1 Johannes 5:19.
Vervulde Bybelprofesieë toon egter dat die Duiwel die weë op aarde vermeerder omdat hy weet dat hy net “’n kort tydjie” oorhet om verwoesting aan te rig voordat hy gebind word (Openbaring 12:7-12; 20:1-3). Die einde van Satan se heerskappy sal ’n regverdige nuwe aarde inlui, waar daar geen trane, dood en pyn “meer [sal] wees nie”. Dan sal God se wil “op die aarde geskied, net soos in die hemel”.—Openbaring 21:1-4; Matteus 6:10, Die Bybel, 1983.
[Prente op bladsy 4]
Die Babiloniërs het geglo in Nergal (heel links), ’n gewelddadige godheid; Plato (links) het geglo dat daar twee teenoorgestelde “Siele” is
[Erkennings]
Silinder: Musée du Louvre, Paris; Plato: National Archaeological Museum, Athens, Greece
[Prente op bladsy 5]
Ireneus, Origines en Augustinus het geleer dat die losprys aan die Duiwel betaal is
[Erkennings]
Origines: Culver Pictures; Augustinus: Uit die boek Great Men and Famous Women
[Prent op bladsy 6]
Vrees vir hekse het tot die teregstelling van honderdduisende gelei
[Erkenning]
Uit die boek Bildersaal deutscher Geschichte