Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Staan die Duiwel teë”

“Staan die Duiwel teë”

“Staan die Duiwel teë”

“Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug.”—JAKOBUS 4:7.

1. Wat kan van vandag se wêreld gesê word, en waarom moet die gesalfdes en hulle metgeselle waaksaam wees?

 “GOD het verdwyn, maar die Duiwel is nog hier.” Hierdie woorde van die Franse skrywer André Malraux is beslis van toepassing op die wêreld waarin ons lewe. Dit lyk beslis of die werke van mense eerder die liste van die Duiwel as die wil van God weerspieël. Satan mislei mense “met allerhande kragtige werke en leuenagtige tekens en voortekens en met allerhande onregverdige bedrog vir dié wat vergaan” (2 Tessalonisense 2:9, 10). Maar in hierdie “laaste dae” spits Satan hom veral toe op God se toegewyde knegte en voer hy oorlog teen gesalfde Christene “wat die gebooie van God bewaar en die werk het om van Jesus te getuig” (2 Timoteus 3:1; Openbaring 12:9, 17). Hierdie Getuies en hulle metgeselle, wat ’n aardse hoop het, moet waaksaam wees.

2. Hoe het Satan Eva verlei, en watter vrees het die apostel Paulus uitgespreek?

2 Satan is deur en deur ’n bedrieër. Hy het ’n slang as dekmantel gebruik en Eva wysgemaak dat sy gelukkiger sou wees as sy onafhanklik van God optree (Genesis 3:1-6). Ongeveer vierduisend jaar later het die apostel Paulus die vrees uitgespreek dat gesalfde Christene in Korinte voor Satan se listigheid kon swig. Paulus het geskryf: “Ek is bang dat, soos die slang Eva deur sy listigheid verlei het, julle verstande op die een of ander wyse verderf sal word, weg van die opregtheid en die kuisheid wat die Christus toekom” (2 Korintiërs 11:3). Satan verderf mense se verstande en denke. Net soos hy Eva verlei het, kan hy Christene sover kry om verkeerd te redeneer en te dink dat hulle geluk afhang van iets wat Jehovah en sy Seun afkeur.

3. Watter beskerming teen die Duiwel voorsien Jehovah?

3 Satan kan vergelyk word met ’n voëlvanger wat strikke stel om niksvermoedende slagoffers te vang. As ons Satan se strikke wil vermy, moet ons “in die skuilplek van die Allerhoogste woon”, ’n figuurlike plek van beskerming wat Jehovah voorsien vir diegene wat deur hulle dade toon dat hulle sy universele soewereiniteit erken (Psalm 91:1-3). Ons het al die beskerming nodig wat God voorsien deur sy Woord, sy gees en sy organisasie sodat ons “kan vasstaan teen die sette van die Duiwel” (Efesiërs 6:11). Die Griekse woord vir “sette” kan ook met “listige dade” vertaal word. Die Duiwel gebruik ongetwyfeld baie sette en listige dade in sy pogings om Jehovah se knegte te verstrik.

Strikke wat Satan vir die vroeë Christene gestel het

4. In watter soort wêreld het die vroeë Christene gelewe?

4 Christene van die eerste en tweede eeu G.J. het in ’n tyd gelewe toe die Romeinse Ryk op sy magtigste was. As gevolg van die Pax Romana (Romeinse Vrede) het die handel gefloreer. Hierdie voorspoed het die heersende klas baie vrye tyd gegee, en die heersers het seker gemaak dat daar oorgenoeg vermaak vir die gewone burgers was sodat hulle nie in opstand sou kom nie. Gedurende sekere tydperke was daar net soveel openbare vakansiedae as werksdae. Die leiers het openbare fondse gebruik om mense van kos en vermaak te voorsien, en sodoende hulle mae vol gehou en hulle gedagtes afgelei.

5, 6. (a) Waarom was dit nie gepas vir Christene om na die Romeinse teaters en amfiteaters te gaan nie? (b) Watter set het Satan gebruik, en hoe kon Christene dit vermy?

5 Het hierdie situasie ’n gevaar vir die vroeë Christene ingehou? Te oordeel aan die waarskuwings van vroeë na-apostoliese skrywers, soos Tertullianus, was die meeste van die ontspanningsbedrywighede van daardie tyd vol geestelike en sedelike gevare vir ware Christene. Om maar een ding te noem, die meeste van die openbare feeste en spele is ter ere van heidense gode gehou (2 Korintiërs 6:14-18). By die teaters was selfs baie van die klassieke opvoerings óf uiters onsedelik óf ontsettend gewelddadig. Met verloop van tyd het die gewildheid van die klassieke opvoerings afgeneem en is dit deur onsedelike gebarespelvertonings vervang. In sy boek Daily Life in Ancient Rome sê die geskiedskrywer Jérôme Carcopino: “In hierdie opvoerings is die aktrises toegelaat om heeltemal te ontklee . . . Bloed is vryelik vergiet. . . . [Die mimiek] het die laagste vlakke bereik van ’n verdorwenheid waarin die volksmassa van die hoofstad verval het. Hierdie vertonings het hulle nie gewalg nie omdat die verskriklike geweld in die amfiteater lank reeds hulle gevoelens afgestomp en hulle instinkte verderf het.”—Matteus 5:27, 28.

6 In die amfiteaters het gladiators tot die dood teen mekaar geveg, of hulle het gevegte met wilde diere gehad, waarin hulle óf die diere doodgemaak het óf deur die diere doodgemaak is. Veroordeelde misdadigers, en later baie Christene, is vir wilde diere gegooi. Selfs in daardie vroeë tye was dit een van Satan se sette om mense se weersin in onsedelikheid en geweld te laat afneem totdat hierdie dinge algemeen en gewild onder die volksmassa geraak het. Die enigste manier waarop daardie strik vermy kon word, was om van die teaters en amfiteaters af weg te bly.—1 Korintiërs 15:32, 33.

7, 8. (a) Waarom sou dit onverstandig van ’n Christen gewees het om strydwawedrenne by te woon? (b) Hoe kon Satan die Romeinse badhuise gebruik het om Christene te verstrik?

7 Strydwawedrenne wat in groot, ovaalvormige arenas genaamd sirkusse gehou is, was ongetwyfeld baie opwindend, maar dit was onaanvaarbaar vir Christene omdat die skares dikwels gewelddadig geraak het. ’n Derde-eeuse skrywer het berig dat party van die toeskouers handgemeen geraak het, en Carcopino sê dat “astroloë en prostitute ’n plek gehad het om sake te doen” onder die arkades van die sirkusgebou. Dit is duidelik dat die Romeinse sirkus nie ’n plek vir Christene was nie.—1 Korintiërs 6:9, 10.

8 Wat van die gewilde Romeinse badhuise? Daar was natuurlik niks mee verkeerd om te bad om skoon te bly nie. Maar baie van die Romeinse badhuise was groot fasiliteite wat masseervertrekke, gimnasiums, dobbelkamers en eet- en drinkplekke ingesluit het. Hoewel daar, teoreties gesproke, verskillende tye was vir mans en vroue om die baddens te gebruik, is hulle dikwels toegelaat om dit saam te gebruik. Klemens van Aleksandrië het geskryf: “Mans en vroue gebruik die baddens sonder onderskeid; en daar ontklee hulle om hulle oor te gee aan losbandigheid.” ’n Aanvaarde fasiliteit kon dus maklik deur Satan gebruik word as ’n strik vir Christene. Diegene wat verstandig was, het daar weggebly.

9. Watter strikke moes die vroeë Christene vermy?

9 Dobbelary was ’n gewilde tydverdryf onder die mense toe die Romeinse Ryk op sy voorspoedigste was. Die vroeë Christene kon weddenskappe by die strydwawedrenne vermy deur eenvoudig van die sirkusse af weg te bly. Daar is ook op klein skaal onwettig gedobbel in die agterkamers van herberge en kroeë. Spelers het gewed op die gelyke en ongelyke getal klippies of gewrigsbeentjies wat die ander speler in sy hand gehad het. Dobbelary het mense se lewe interessant gemaak, want die kans was daar om maklik geld in die hande te kry (Efesiërs 5:5). Daarbenewens was die kelnerinne by sulke drinkplekke dikwels prostitute—daar was dus ook die gevaar van geslagsonsedelikheid. Dít was van die strikke wat Satan gestel het vir Christene wat in die stede van die Romeinse Ryk gewoon het. Is dinge vandag enigsins anders?

Strikke wat Satan vandag gebruik

10. Hoe kom die situasie vandag ooreen met toestande wat in die Romeinse Ryk geheers het?

10 Oor die algemeen het Satan se sette deur die eeue heen nie verander nie. Die apostel Paulus het die Christene wat in die verdorwe stad Korinte gewoon het, ernstig vermaan sodat “Satan nie die oorhand oor [hulle sou] kry nie”. Hy het gesê: “Ons is nie onkundig omtrent [Satan se] planne nie” (2 Korintiërs 2:11). In talle ontwikkelde lande is die situasie vandag soortgelyk aan dié van die Romeinse Ryk gedurende sy glorietyd. Baie mense het meer vrye tyd as ooit tevore. Staatsloterye gee selfs vir die armes ’n straaltjie hoop. Daar is oorgenoeg goedkoop vermaak om mense se verstande besig te hou. Sportstadions is vol gepak, mense dobbel, skares raak soms gewelddadig en spelers dikwels ook. Verdorwe musiek vul mense se ore, en op teaterverhoë sowel as in rolprente en op TV-skerms kan wellustige vertonings gesien word. In party lande is dit gewild vir mans en vroue om saunas en warmbaddens saam te gebruik, om nie eens te praat van kaalbaaiery op sommige strande nie. Net soos in die vroeë eeue van die Christelike geloof probeer Satan ook God se knegte verlok deur middel van wêreldse ontspanning.

11. Watter gevare kan dit inhou as ’n mens wil ontspan en wegkom van alles?

11 In ’n wêreld waar spanning algemeen is, is dit normaal om te voel dat ’n mens moet ontspan of wegkom van alles. Maar net soos die Romeinse badhuise gevare vir die vroeë Christene kon inhou, kan party vakansiefasiliteite en -oorde as ’n strik deur Satan gebruik word om hedendaagse Christene by onsedelikheid of oormatige drinkery betrokke te kry. Paulus het aan die Christene in Korinte geskryf: “Moenie mislei word nie. Slegte omgang bederf nuttige gewoontes. Ontwaak tot nugterheid op ’n regverdige wyse en moenie sonde beoefen nie, want party is sonder kennis van God.”—1 Korintiërs 15:33, 34.

12. Wat is van die sette wat Satan gebruik om Jehovah se hedendaagse knegte te verstrik?

12 Ons het in Eva se geval gesien hoe Satan listigheid gebruik het om haar denke te verderf (2 Korintiërs 11:3). Een van die strikke wat die Duiwel vandag gebruik, is om Christene te laat dink dat hulle ander na die Christelike waarheid sal aantrek as hulle sover moontlik gaan om te probeer bewys dat Jehovah se Getuies net soos ander mense is. Soms gaan hulle te ver, en die teenoorgestelde gebeur (Haggai 2:12-14). Nog ’n set van Satan is om toegewyde Christene, jongmense sowel as volwassenes, sover te kry om ’n dubbele lewe te lei en ‘God se heilige gees te bedroef’ (Efesiërs 4:30). Party het in hierdie strik getrap deur die Internet te misbruik.

13. Watter verskuilde strik gebruik die Duiwel as een van sy listige planne, en watter raad in Spreuke is hier gepas?

13 Nog ’n strik van Satan is verbloemde okkultisme. Geen ware Christen sal doelbewus by Satanisme of spiritisme betrokke raak nie. Maar party verslap onwetend in hulle waaksaamheid wanneer dit kom by rolprente, TV-reekse, videospeletjies en selfs kinderboeke en prentverhale waarin geweld of bonatuurlike gebruike uitgebeeld word. Enigiets wat net lyk of dit met die okkulte te doen kan hê, moet vermy word. Die wyse spreuk sê: “Dorings en valstrikke is op die weg van die verdorwene; hy wat sy siel bewaar, bly ver weg daarvandaan” (Spreuke 22:5). Aangesien Satan “die god van hierdie stelsel van dinge” is, kan een van sy strikke verskuil wees in enigiets wat baie gewild is.—2 Korintiërs 4:4; 1 Johannes 2:15, 16.

Jesus het die Duiwel teëgestaan

14. Hoe het Jesus die Duiwel se eerste versoeking weerstaan?

14 Jesus is ’n goeie voorbeeld van iemand wat die Duiwel teëgestaan en hom laat wegvlug het. Nadat Jesus gedoop is en 40 dae gevas het, het Satan hom versoek (Matteus 4:1-11). In die eerste versoeking het hy die natuurlike honger wat Jesus ná sy vastyd gehad het, probeer uitbuit. Satan wou hê dat Jesus sy eerste wonderwerk moes verrig om ’n fisiese behoefte te bevredig. Jesus het Deuteronomium 8:3 aangehaal en geweier om sy kragte op selfsugtige wyse te gebruik, en hy het geestelike voedsel bo fisiese voedsel gestel.

15. (a) Watter natuurlike begeerte het Satan uitgebuit om Jesus te probeer versoek? (b) Wat is een van die vernaamste liste wat die Duiwel vandag teen God se knegte gebruik, maar hoe kan ons hom teëstaan?

15 Iets interessants omtrent hierdie versoeking is dat die Duiwel Jesus nie met ’n seksuele sonde probeer verlok het nie. Honger, wat van nature ’n begeerte na kos laat ontstaan, het in hierdie geval na die sterkste fisiese begeerte gelyk waarmee hy Jesus kon versoek. Watter versoekings gebruik die Duiwel vandag om God se knegte te verlok? Daar is baie, maar seksuele versoekings is een van die vernaamste listige dade waarmee hy die onkreukbaarheid van Jehovah se volk probeer ondermyn. As ons Jesus navolg, kan ons die Duiwel teëstaan en versoekings weerstaan. Net soos Jesus Satan se pogings verydel het deur gepaste tekste aan te haal, kan ons ook aan tekste soos Genesis 39:9 en 1 Korintiërs 6:18 dink wanneer ons versoek word.

16. (a) Hoe het Satan Jesus ’n tweede keer probeer versoek? (b) Op watter maniere sal Satan ons dalk probeer versoek om Jehovah op die proef te stel?

16 Vervolgens het die Duiwel Jesus uitgedaag om van die tempelmuur af te spring en God se vermoë te beproef om hom deur middel van Sy engele te beskerm. Jesus het Deuteronomium 6:16 aangehaal en geweier om sy Vader op die proef te stel. Satan sal ons dalk nie versoek om van ’n tempelmuur af te spring nie, maar hy kan ons in die versoeking bring om Jehovah op die proef te stel. Kom ons dalk in die versoeking om te sien in watter mate ons die wêreld se modegiere in ons kleredrag en persoonsversorging kan navolg sonder om raad te ontvang? Kom ons in die versoeking om ons aan twyfelagtige vermaak bloot te stel? Dít is maniere waarop ons Jehovah dalk op die proef kan stel. As ons sulke neigings het, sal Satan nie van ons wegvlug nie, maar eerder by ons vertoef en ons voortdurend probeer verlok om ons aan sy kant te skaar.

17. (a) Hoe het die Duiwel Jesus die derde keer probeer versoek? (b) Hoe kan Jakobus 4:7 in ons geval waar wees?

17 Toe Satan Jesus al die koninkryke van die wêreld aangebied het in ruil vir een daad van aanbidding, het Jesus hom weer eens teëgestaan deur die Skrif aan te haal en ’n ferm standpunt vir die uitsluitlike aanbidding van sy Vader in te neem (Deuteronomium 5:9; 6:13; 10:20). Satan bied ons dalk nie die koninkryke van die wêreld aan nie, maar hy versoek ons gedurig met die glans van materiële dinge, selfs met die vooruitsig op ’n persoonlike koninkrykie. Reageer ons soos Jesus deur uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah te gee? Indien wel, sal wat met Jesus gebeur het, ook met ons gebeur. Matteus se verslag sê: “Toe het die Duiwel hom verlaat” (Matteus 4:11). Satan sal van ons weggaan as ons ’n ferm standpunt teen hom inneem deur gepaste Bybelbeginsels te herroep en dit toe te pas. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug” (Jakobus 4:7). ’n Christen het aan die takkantoor van Jehovah se Getuies in Frankryk geskryf: “Satan is werklik listig. Ten spyte van my beste bedoelings vind ek dit baie moeilik om my gevoelens en my begeertes te beheers. Maar met moed, geduld en bowenal Jehovah se hulp het ek daarin geslaag om staande te bly en aan die waarheid vas te hou.”

Ten volle toegerus om die Duiwel teë te staan

18. Watter geestelike wapenrusting rus ons toe om die Duiwel teë te staan?

18 Jehovah het ons van ’n volle geestelike wapenrusting voorsien sodat ons kan “vasstaan teen die sette van die Duiwel” (Efesiërs 6:11-18). Ons liefde vir die waarheid sal ons lendene omgord, of ons voorberei, vir Christelike bedrywighede. Ons vasbeslotenheid om by Jehovah se standaarde van regverdigheid te bly, sal soos ’n borsplaat wees wat ons hart beskerm. As ons voete met die goeie nuus geskoei is, sal hulle ons gereeld neem om die predikingswerk te doen, en dit sal ons geestelik versterk en beskerm. Ons sterk geloof sal soos ’n groot skild wees wat ons beskerm teen “die brandende pyle van die bose”, sy listige aanvalle en versoekings. Ons vaste hoop in die vervulling van Jehovah se beloftes sal soos ’n helm wees wat ons denkvermoëns beskerm en ons gemoedsrus gee (Filippense 4:7). As ons bedrewe daarin raak om God se Woord te hanteer, sal dit soos ’n swaard wees wat ons kan gebruik om mense uit geestelike slawerny aan Satan te help bevry. Ons kan dit ook opneem om onsself te verdedig, net soos Jesus gedoen het toe hy versoek is.

19. Wat is nog nodig behalwe om ‘die Duiwel teë te staan’?

19 As ons hierdie “volle wapenrusting van God” aanhou en voortdurend bid, kan ons seker wees van Jehovah se beskerming wanneer Satan ons aanval (Johannes 17:15; 1 Korintiërs 10:13). Maar Jakobus het getoon dat dit nie genoeg is om net ‘die Duiwel teë te staan’ nie. Ons moet ons bowenal ook ‘onderwerp aan God’, wat vir ons sorg (Jakobus 4:7, 8). In die volgende artikel sal ons bespreek hoe ons dit kan doen.

Hoe sal jy antwoord?

• Watter strikke van Satan moes die vroeë Christene vermy?

• Watter listige dade gebruik Satan vandag om Jehovah se knegte te probeer verstrik?

• Hoe het Jesus die Duiwel se versoekings weerstaan?

• Watter geestelike wapenrusting stel ons in staat om die Duiwel teë te staan?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 8, 9]

Jesus het die Duiwel ferm teëgestaan

[Prente op bladsy 10]

Eerste-eeuse Christene het gewelddadige en onsedelike vermaak verwerp

[Erkenning]

The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck