Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Tyd vir vreugde in die Balkan

’n Tyd vir vreugde in die Balkan

’n Tyd vir vreugde in die Balkan

Dit was 1922. ’n Vergadering van die Ernstige Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het, is in Innsbruck, Oostenryk, gehou. Franz Brand, ’n jong man van Apatin in Vojvodina, Serwië, het dit bygewoon. Die oomblik toe die spreker God se naam, Jehovah, genoem het, het oproeriges hom begin uitjou sodat dit vir hom onmoontlik was om voort te gaan, en die vergadering is verdaag. Maar wat Franz gehoor het, het ’n diep indruk op hom gemaak, en hy het die goeie nuus van die Koninkryk begin verkondig. Dit was die klein begin van opwindende geestelike groei in een van die Balkanstate.

VANDAG laat die naam Joego-Slawië by die meeste mense beelde van oorlog en bloedvergieting opkom. Ontstellende beelde van verskriklike slagtings, wanhopige vlugtelinge, verwoeste huise en beangste weeskinders spook by baie. Woorde kan nie die ondraaglike pyn en lyding beskryf wat veroorsaak is deur die oorlog wat die Balkanskiereiland van 1991 tot 1995 geteister het nie en wat alle hoop vernietig het op ’n voorspoedige en sorgvrye toekoms deur mensepogings. As gevolg van die oorlog gaan die mense van die voormalige Joego-Slawië nou gebuk onder ekonomiese druk en volslae armoede. a

’n Mens sou nouliks verwag dat daar, te midde van al hierdie lyding, gelukkige mense in hierdie deel van die wêreld sou wees. Hoewel dit dalk vreemd klink, is daar tog sulke mense. Trouens, teen die einde van die 20ste eeu het hulle ’n dag van besondere vreugde ondervind. Wat het Franz Brand, die jong man wat aan die begin genoem is, met dit alles te doen gehad?

Geestelike groei in die Balkan

Franz Brand was opgewonde oor die nuwe waarhede wat hy gehoor het en het besluit dat hy die goeie nuus moet versprei. Hy het werk gekry as ’n barbier in Maribor, ’n stad in Slowenië naby die grens van Oostenryk, en het vir sy klante begin getuig, wat gewoonlik stil gesit en luister het terwyl hy hulle hare geskeer het. As gevolg van sy pogings was daar teen die laat 1920’s ’n klein groepie Koninkryksverkondigers in Maribor. Bybeltoesprake is in ’n restaurant gehou, wat later heel gepas Novi svet-seekosrestaurant (Nuwe Wêreld-seekosrestaurant) genoem is.

Mettertyd het die goeie nuus deur die hele land versprei. Die “Fotodrama van die Skepping” (’n agt uur lange vertoning waarin films, skyfies en opnames gebruik is) het ’n rol in hierdie uitbreiding gespeel. Toe Jehovah se Getuies in die 1930’s in Duitsland wreed vervolg is, het Duitse pioniers wat uit hulle land gevlug het, die geledere van die Getuies in die Koninkryk van Joego-Slawië versterk. Hulle het hulle eie gerief en gemak opgeoffer en hulle ingespan om die mees afgeleë dele van hierdie bergagtige land met die predikingswerk te bereik. Aanvanklik het dit gelyk of daar maar min reaksie op hulle boodskap was. In die vroeë 1940’s het net 150 verkondigers velddiens gerapporteer.

In 1941 het hewige vervolging uitgebreek, wat tot 1952 voortgeduur het. Hoe wonderlik was dit tog toe Jehovah se Getuies uiteindelik op 9 September 1953, onder generaal Tito se Kommunistiese regime, wetlik geregistreer is! Daardie jaar was daar 914 verkondigers van die goeie nuus, en die getal het bly toeneem. Teen 1991 het die getal verkondigers tot 7 420 vermeerder, en 16 072 het daardie jaar die Gedenkmaal bygewoon.

Vanaf 16 tot 18 Augustus 1991 is die eerste internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in hierdie land in Zagreb, Kroasië, gehou. Dit is bygewoon deur 14 684 mense, wat besoekers uit ander lande ingesluit het. Dié onvergeetlike byeenkoms het Jehovah se volk voorberei op beproewinge wat voorgelê het. Van die laaste voertuie wat deur die kontrolepunt tussen Kroasië en Serwië beweeg het, was die busse wat die Serwiese afgevaardigdes huis toe geneem het. Nadat die laaste bus deur is, is die grens gesluit en het die oorlog begin.

Jehovah se volk het redes tot vreugde

Gedurende die oorlogsjare het Jehovah se Getuies in die Balkan swaar toetse deurgemaak. Hulle het nietemin rede tot vreugde omdat Jehovah sy volk daar met uitstekende groei geseën het. Sedert 1991 het die aantal Koninkryksverkondigers in die gebied van die voormalige Joego-Slawië met meer as 80 persent toegeneem. In die 2001-diensjaar is ’n hoogtepunt van 13 472 bereik.

Die kantore in Zagreb en Belgrado (Serwië) het na die werk van Jehovah se Getuies in die hele voormalige Joego-Slawië omgesien. Maar weens die vermeerdering en die politieke veranderinge was dit nodig om nuwe kantore in Ljubljana (Slowenië) en Skopje (Masedonië) te open, benewens nuwe kantore in Belgrado en Zagreb. Ongeveer 140 persone dien by hierdie kantore. Die meeste van hulle is jonk en vol ywer en liefde vir Jehovah. Baie van hulle is betrokke by die vertaling van Bybelstudiehulpe in Kroaties, Masedonies, Serwies en Sloweens. Wat ’n seën is dit tog dat die meeste van die tydskrifte en lektuur van Jehovah se Getuies in hierdie tale op dieselfde tyd as die oorspronklike Engelse uitgawe verskyn! Hierdie publikasies help baie mense om vertroosting en hoop te vind.

Nog ’n rede tot vreugde is die onselfsugtige ondersteuning van tallose voltydse knegte uit ander lande. ’n Hele aantal pragtige Koninkryksale is in onlangse jare gebou, wat tot die vreugde van die gemeentes bydra. Nietemin het daar selfs meer vreugde op hulle gewag. Hoe so?

’n Unieke projek

Baie verkondigers het dikwels gewonder: ‘Sal ons ooit die Nuwe Wêreld-vertaling in ons eie taal hê?’ Jaar ná jaar het hulle gehoop om ’n aankondiging daaroor by ’n streekbyeenkoms te hoor. Maar hoe kon so ’n ontsaglike taak aangepak word, veral as ’n mens in ag neem dat die vertaalspanne vir hierdie tale net ’n paar jaar tevore gevorm is en daar betreklik min vertalers was?

Nadat die saak ondersoek is, het die Bestuursliggaam ’n gesamentlike projek goedgekeur, waarin die Kroatiese, Masedoniese en Serwiese vertaalspanne ten nouste sou saamwerk sodat hulle by mekaar se werk en insette baat kon vind. Die Kroatiese span moes die leiding neem.

’n Dag van vreugde

Jehovah se Getuies in die Balkan sal die 23ste Julie 1999 nooit vergeet nie. Die “God se profetiese woord”-streekbyeenkoms sou tegelykertyd in Belgrado, Sarajevo (Bosnië-Herzegowina), Skopje en Zagreb gehou word. ’n Tyd lank was hulle nie seker of hulle die streekbyeenkoms in Belgrado sou kon hou nie, want tydens die NAVO-bomaanvalle is geen openbare vergaderinge toegelaat nie. Hoe bly was die broers tog oor die vooruitsig dat hulle ná maande lange onsekerheid weer met mekaar sou kon assosieer! Die werklikheid het egter hulle verwagtinge oortref.

Op Vrydagmiddag is ’n spesiale aankondiging in al vier byeenkomsstede gemaak. Die 13 497 byeenkomsgangers was in stille afwagting van wat sou kom. Toe die spreker uiteindelik die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Kroaties en Serwies vrygestel het en vir die gehoor gesê het dat die Masedoniese vertaling goed vorder, kon die byeenkomsgangers hulle nie langer bedwing nie. Met die dawerende applous kon die spreker nie die aankondiging voltooi nie. By die byeenkoms in Sarajevo het ’n skielike stilte oor die gehoor gedaal, wat geheel en al oorbluf was. ’n Uitgerekte applous het gevolg. In Belgrado het trane van vreugde oor baie wange gerol, en die spreker is telkens deur die applous onderbreek voordat hy die aankondiging kon voltooi. Hoe verheug was almal tog nie!

Hierdie geskenk is soveel kosbaarder gemaak weens die feit dat Jehovah se Getuies die drukkersregte vir ’n Kroatiese sowel as ’n Serwiese Bybelvertaling verkry het. Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in elk van hierdie twee tale is dus gekombineer met ’n vertaling van die Hebreeuse Geskrifte in dieselfde taal en as een boek vrygestel. Ook is die Serwiese Bybel in die Romeinse sowel as Cyrilliese lettertipes gedruk.

Jehovah se knegte in die Balkan is dankbaar vir al die seëninge en leiding wat hulle ontvang het en stem heelhartig saam met die woorde van Dawid: “Al wandel ek in die vallei van diep skaduwee, vrees ek niks slegs nie, want u [Jehovah] is met my.” Ten spyte van al die ontberinge wat hulle nog steeds verduur, is hulle vasbeslote om ‘die vreugde van Jehovah hulle vesting’ te maak.—Psalm 23:4; Nehemia 8:10.

[Voetnoot]

a Die voormalige Joego-Slawië het uit ses republieke bestaan—Bosnië-Herzegowina, Kroasië, Masedonië, Montenegro, Serwië en Slowenië.

[Prent op bladsy 20]

Die eerste groep verkondigers van Maribor, Slowenië, getuig in ’n afgeleë gebied