Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Handhaaf goeie gedrag onder die nasies”

“Handhaaf goeie gedrag onder die nasies”

“Handhaaf goeie gedrag onder die nasies”

“Eer alle soorte mense, wees lief vir die hele gemeenskap van broers.”—1 PETRUS 2:17.

1, 2. (a) Wat het ’n koerantverslaggewer oor Jehovah se Getuies gesê? (b) Waarom probeer Jehovah se Getuies hoë standaarde in hulle gedrag handhaaf?

 ETLIKE jare gelede het ’n koerantverslaggewer in Amarillo, Texas, VSA, verskillende kerke in die gebied besoek en ’n berig oor sy bevindings geskryf. Een groep was vir hom opvallend anders. Hy het gesê: “Ek het drie jaar na mekaar die jaarlikse streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies by die Amarillo-burgersentrum bygewoon. Terwyl ek tussen hulle was, het ek nie een keer gesien dat iemand ’n sigaret aansteek, ’n blikkie bier oopmaak of vuil taal gebruik nie. Ek het nog nooit ’n groep mense teëgekom wat skoner, beter gemanierd, meer beskeie geklee of aangenamer as hulle is nie.” Soortgelyke kommentare oor Jehovah se Getuies is al menigmaal gepubliseer. Waarom word die Getuies so dikwels geprys deur mense wat nie dieselfde oortuigings as hulle het nie?

2 God se knegte word gewoonlik geprys vir hulle goeie gedrag. Hoewel standaarde oor die algemeen agteruitgaan, voel Jehovah se Getuies verplig om hoë standaarde in hulle gedrag te handhaaf—hulle beskou dit as deel van hulle aanbidding. Hulle weet dat hulle dade Jehovah en hulle Christenbroers tot eer strek en dat hulle goeie gedrag die waarheid wat hulle verkondig, by ander aanbeveel (Johannes 15:8; Titus 2:7, 8). Kom ons kyk dus hoe ons goeie gedrag kan handhaaf en sodoende die goeie naam van Jehovah en sy Getuies hoog kan hou en hoe ons daarby baat vind as ons dit doen.

Die Christengesin

3. Waarteen moet Christengesinne beskerm word?

3 Beskou byvoorbeeld ons gedrag in die gesin. Die boek Die Neuen Inquisitoren: Religionsfreiheit und Glaubensneid (Die nuwe inkwisiteurs: Godsdiensvryheid en godsdiensafguns), deur Gerhard Besier en Erwin K. Scheuch, sê: “Vir [Jehovah se Getuies] is die gesin iets wat veral beskerm moet word.” Hierdie stelling is waar, en vandag is daar baie dinge waarteen die gesin beskerm moet word. Daar is kinders wat “ongehoorsaam aan ouers” is en volwassenes wat “sonder natuurlike geneentheid” of “sonder selfbeheersing” is (2 Timoteus 3:2, 3). In die gesin vind huweliksgeweld plaas; ouers mishandel of verwaarloos hulle kinders; en kinders word opstandig, raak betrokke by dwelms en onsedelikheid of loop van die huis af weg. Dit alles is die gevolg van die vernietigende invloed van ‘die gees van die wêreld’ (Efesiërs 2:1, 2). Ons moet ons gesinne teen daardie gees beskerm. Hoe? Deur ag te slaan op Jehovah se raad en riglyne vir gesinslede.

4. Watter verantwoordelikhede het Christengesinslede teenoor mekaar?

4 Christenegpare besef dat hulle emosionele, geestelike en fisiese verpligtinge teenoor mekaar het (1 Korintiërs 7:3-5; Efesiërs 5:21-23; 1 Petrus 3:7). Christenouers het gewigtige verantwoordelikhede teenoor hulle kinders (Spreuke 22:6; 2 Korintiërs 12:14; Efesiërs 6:4). En namate kinders in Christenhuise ouer word, besef hulle dat hulle ook verpligtinge het (Spreuke 1:8, 9; 23:22; Efesiërs 6:1; 1 Timoteus 5:3, 4, 8). Dit verg inspanning, toegewydheid en ’n gees van liefde en selfopoffering om gesinsverpligtinge na te kom. Maar die mate waarin al die gesinslede hulle godgegewe verpligtinge nakom, sal bepaal in watter mate hulle ’n seën vir mekaar en vir die gemeente sal wees. Nog belangriker, hulle eer die Insteller van die gesin, Jehovah God.—Genesis 1:27, 28; Efesiërs 3:15.

Die Christenbroederskap

5. Watter seëninge ontvang ons as ons met mede-Christene assosieer?

5 As Christene het ons ook verantwoordelikhede teenoor medegelowiges in die gemeente en, by uitbreiding, teenoor dié wat “die hele gemeenskap van . . . broers in die wêreld” uitmaak (1 Petrus 5:9). Ons verhouding met die gemeente is baie belangrik vir ons geestelike welsyn. Wanneer ons met mede-Christene assosieer, geniet ons hulle opbouende omgang sowel as heilsame geestelike voedsel wat van “die getroue en verstandige slaaf” kom (Matteus 24:45-47). As ons probleme het, kan ons na ons broers gaan vir betroubare raad wat op skriftuurlike beginsels gegrond is (Spreuke 17:17; Prediker 4:9; Jakobus 5:13-18). Wanneer ons hulp nodig het, laat ons broers ons nie in die steek nie. Wat ’n seën is dit tog om deel te wees van God se organisasie!

6. Hoe het Paulus getoon dat ons verantwoordelikhede teenoor ander Christene het?

6 Maar ons is nie in die gemeente net om te ontvang nie; ons is ook daar om te gee. Ja, Jesus het gesê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Die apostel Paulus het klem gelê op ’n mededeelsame gees toe hy geskryf het: “Laat ons aan die openbare bekendmaking van ons hoop vashou sonder om te wankel, want hy wat beloof het, is getrou. En laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”—Hebreërs 10:23-25.

7, 8. Hoe toon ons ’n mededeelsame gees in ons eie gemeente en teenoor Christene in ander lande?

7 Ons doen ’n “bekendmaking van ons hoop” in die gemeente wanneer ons gedurende die vergadering kommentaar lewer of op ander maniere aan die program deelneem. Hierdie bydraes moedig beslis ons broers aan. Ons bemoedig hulle ook deur ons gesprekke voor en ná die vergadering. Dit is ’n geleentheid wanneer ons die swakkes kan versterk, die terneergedruktes kan vertroos en die siekes kan opbeur (1 Tessalonisense 5:14). Opregte Christene gee mildelik op dié manier, en dit is waarom so baie wat ons vergaderinge vir die eerste keer bywoon, beïndruk is deur die liefde wat hulle onder ons sien.—Psalm 37:21; Johannes 15:12; 1 Korintiërs 14:25.

8 Ons liefde is nietemin nie net tot ons eie gemeente beperk nie. Ons moet dit aan ons hele broederskap regoor die wêreld betoon. Daarom is daar byvoorbeeld in elke Koninkryksaal ’n bydraebussie vir die Koninkryksaalfonds. Ons eie Koninkryksaal is dalk in ’n goeie toestand, maar ons weet dat duisende van ons mede-Christene in ander lande nie ’n gepaste plek het om in te vergader nie. Wanneer ons tot die Koninkryksaalfonds bydra, toon ons ons liefde vir daardie broers, al ken ons hulle nie persoonlik nie.

9. Om watter basiese rede het Jehovah se Getuies mekaar lief?

9 Waarom het Jehovah se Getuies mekaar lief? Wel, Jesus het hulle beveel om dit te doen (Johannes 15:17). En die liefde wat hulle vir mekaar het, is ’n bewys dat God se gees op hulle as individue en as ’n groep werksaam is. Liefde is een van “die vrugte van die gees” (Galasiërs 5:22, 23). Namate Jehovah se Getuies die Bybel bestudeer, Christelike vergaderinge bywoon en voortdurend tot God bid, word dit vir hulle al hoe natuurliker om liefde te betoon, al lewe hulle in ’n wêreld waar “die liefde van die meeste verkoel” het.—Matteus 24:12.

Die sekulêre wêreld

10. Watter verantwoordelikheid het ons teenoor die sekulêre wêreld?

10 Paulus se woorde oor “die openbare bekendmaking van ons hoop” herinner ons aan nog ’n verantwoordelikheid. Hierdie openbare bekendmaking sluit die werk in om die goeie nuus te verkondig aan diegene wat nog nie ons Christenbroers is nie (Matteus 24:14; 28:19, 20; Romeine 10:9, 10, 13-15). Die predikingswerk is dus nog ’n manier waarop ons gee. Dit verg tyd, energie, voorbereiding, opleiding en die gebruik van ons persoonlike middele om daaraan deel te neem. Maar Paulus het ook geskryf: “Teenoor Grieke sowel as Barbare, teenoor wyses sowel as onverstandiges is ek ’n skuldenaar: daarom is ek gretig om ook aan julle wat daar in Rome is, die goeie nuus bekend te maak” (Romeine 1:14, 15). Mag ons, soos Paulus, nie suinig wees terwyl ons hierdie “skuld” afbetaal nie.

11. Watter twee skriftuurlike beginsels rig ons in ons verhouding met die wêreld, maar wat besef ons nietemin?

11 Het ons ander verantwoordelikhede teenoor diegene wat nie medegelowiges is nie? Beslis. Ons besef natuurlik dat ‘die hele wêreld in die mag van die bose lê’ (1 Johannes 5:19). Ons weet dat Jesus van sy dissipels gesê het: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie.” Maar ons lewe in die wêreld, maak ’n bestaan daarin en maak gebruik van die dienste wat dit bied (Johannes 17:11, 15, 16). Ons het dus verpligtinge in die sekulêre wêreld. Wat is hierdie verpligtinge? Die apostel Petrus het daardie vraag beantwoord. Kort voor die vernietiging van Jerusalem het hy ’n brief aan Christene in Klein-Asië geskryf, en ’n gedeelte in daardie brief help ons om ’n gebalanseerde verhouding met die wêreld te hê.

12. In watter sin is Christene “vreemdelinge en tydelike inwoners”, en waarvan onthou hulle hulle dus?

12 Om mee te begin, het Petrus gesê: “Geliefdes, ek vermaan julle as vreemdelinge en tydelike inwoners om julle deurentyd van vleeslike begeertes te onthou, wat juis dié is wat ’n stryd teen die siel voer” (1 Petrus 2:11). Ware Christene is in geestelike sin “vreemdelinge en tydelike inwoners”, want hulle lewe draai in werklikheid om die hoop op ewige lewe—vir geesgesalfdes in die hemel en vir die “ander skape” in ’n toekomstige aardse paradys (Johannes 10:16; Filippense 3:20, 21; Hebreërs 11:13; Openbaring 7:9, 14-17). Maar wat is vleeslike begeertes? Dit sluit dinge in soos die begeerte om ryk te wees, die begeerte na vernaamheid, na geslagsonsedelikheid en die begeertes wat as “afguns” en “hebsug” beskryf word.—Kolossense 3:5; 1 Timoteus 6:4, 9; 1 Johannes 2:15, 16.

13. Hoe voer vleeslike begeertes “’n stryd teen [ons] siel”?

13 Sulke begeertes voer inderdaad “’n stryd teen [ons] siel”. Dit ondermyn ons verhouding met God en stel sodoende ons Christelike hoop (ons “siel”, of lewe) in gevaar. Hoe kan ons ons byvoorbeeld aanbied as “’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is”, as ons ’n belangstelling in onsedelike dinge ontwikkel? Hoe kan ons ‘eers die koninkryk soek’ as ons in die strik van materialisme trap? (Romeine 12:1, 2; Matteus 6:33; 1 Timoteus 6:17-19). Dit is beter om Moses se voorbeeld te volg deur die verloklikhede van die wêreld die rug toe te keer en Jehovah se diens eerste in ons lewe te stel (Matteus 6:19, 20; Hebreërs 11:24-26). Dit is ’n belangrike sleutel tot ’n gebalanseerde verhouding met die wêreld.

“Handhaaf goeie gedrag”

14. Waarom streef ons as Christene daarna om goeie gedrag te handhaaf?

14 Nog ’n belangrike riglyn word in Petrus se volgende woorde gevind: “Handhaaf goeie gedrag onder die nasies, sodat hulle, in die aangeleentheid waarin hulle teen julle praat as kwaaddoeners, as gevolg van julle goeie werke waarvan hulle ooggetuies is, God in die dag van sy inspeksie sal verheerlik” (1 Petrus 2:12). As Christene streef ons daarna om voorbeeldig te wees. Op skool werk ons hard. By die werk is ons vlytig en eerlik—al voel ons dat ons werkgewer onredelik is. In ’n verdeelde huis wend die gelowige man of vrou ’n spesiale poging aan om Christelike beginsels te volg. Dit is nie altyd maklik nie, maar ons weet dat ons voorbeeldige gedrag Jehovah behaag en dikwels ’n positiewe uitwerking het op mense wat nie Getuies is nie.—1 Petrus 2:18-20; 3:1.

15. Hoe weet ons dat die hoë standaard van gedrag wat Jehovah se Getuies handhaaf, alombekend is?

15 Die kommentare wat deur die jare heen oor Jehovah se Getuies gepubliseer is, toon dat die meeste van hulle daarin slaag om hoë standaarde te handhaaf. Il Tempo van Italië het byvoorbeeld berig: “Mense wat saam met Jehovah se Getuies werk, beskryf hulle as eerlike werkers, wat so oortuig is van hulle geloof dat dit dalk lyk of dit ’n obsessie by hulle is; nietemin dwing hulle morele integriteit respek af.” Die Herald van Buenos Aires, Argentinië, het gesê: “Jehovah se Getuies het oor die jare bewys dat hulle hardwerkende, ernstige, spaarsamige en godvresende burgers is.” Die Russiese geleerde Sergei Iwanenko het gesê: “Jehovah se Getuies is wêreldwyd bekend as uiters wetsgehoorsame mense en veral as besonder pligsgetroue belastingbetalers.” Die bestuurder van ’n fasiliteit in Zimbabwe wat deur Jehovah se Getuies vir hulle byeenkoms gebruik is, het gesê: “Ek sien Getuies wat papiere optel en toilette skoonmaak. Die skouterrein word skoner gelaat as wat dit was. Julle tieners is beginselvas. Ek wens die hele wêreld was vol Jehovah se Getuies.”

Christelike onderdanigheid

16. Wat is ons verhouding met sekulêre owerhede, en waarom?

16 Petrus praat ook van ons verhouding met sekulêre owerhede. Hy sê: “Onderwerp julle ter wille van die Here aan elke menslike skepping: hetsy aan ’n koning as een wat hoër is of aan goewerneurs as dié wat deur hom gestuur word om kwaaddoeners te straf maar om dié wat goed doen, te prys. Want dít is die wil van God, dat julle deur goed te doen, die onkundige praatjies van die onredelike mense stilmaak” (1 Petrus 2:13-15). Ons waardeer die voordele van ’n ordelike regeringstelsel en ons gehoorsaam die wette daarvan en betaal ons belasting, in ooreenstemming met Petrus se woorde. Hoewel ons die godgegewe reg van regerings erken om wetsoortreders te straf, is dit hoofsaaklik “ter wille van die Here” dat ons ons aan sekulêre gesag onderwerp. Dit is God se wil. Daarbenewens wil ons nie Jehovah se naam oneer aandoen deur vir oortredings gestraf te word nie.—Romeine 13:1, 4-7; Titus 3:1; 1 Petrus 3:17.

17. Waarvan kan ons seker wees as “onredelike mense” ons teëstaan?

17 Ongelukkig is daar party “onredelike mense” in gesagsposisies wat ons vervolg of op ander maniere teëstaan—deur byvoorbeeld smeerveldtogte teen ons te voer. Maar op Jehovah se bestemde tyd word hulle leuens altyd aan die kaak gestel en hulle “onkundige praatjies” op doeltreffende wyse stilgemaak. Ons rekord van goeie Christelike gedrag spreek vanself. Daarom prys eerlike staatsamptenare ons dikwels vir ons goeie dade.—Romeine 13:3; Titus 2:7, 8.

Slawe van God

18. Op watter maniere kan ons as Christene dit vermy om ons vryheid te misbruik?

18 Petrus waarsku nou: “Wees soos vry mense, maar behou julle vryheid, nie as ’n dekmantel vir slegtheid nie, maar as slawe van God” (1 Petrus 2:16; Galasiërs 5:13). Vandag maak ons kennis van Bybelwaarheid ons vry van valse godsdiensleerstellings (Johannes 8:32). Boonop het ons wilsvryheid en kan ons keuses maak. Tog misbruik ons nie ons vryheid nie. Wanneer ons keuses maak wat vriende, kleredrag, persoonsversorging, vermaak—selfs kos en drank—betref, onthou ons dat ware Christene slawe van God is en nie hulleself probeer behaag nie. Ons verkies om Jehovah te dien en nie slawe van ons vleeslike begeertes of die modes en giere van die wêreld te wees nie.—Galasiërs 5:24; 2 Timoteus 2:22; Titus 2:11, 12.

19-21. (a) Hoe beskou ons diegene wat sekulêre gesagsposisies beklee? (b) Hoe het party getoon dat hulle “lief [is] vir die hele gemeenskap van broers”? (c) Wat is ons belangrikste verantwoordelikheid?

19 Petrus sê verder: “Eer alle soorte mense, wees lief vir die hele gemeenskap van broers, vrees God, eer die koning” (1 Petrus 2:17). Aangesien Jehovah God mense toelaat om verskillende gesagsposisies te beklee, gee ons daardie mense die gepaste eer. Ons bid selfs vir hulle, sodat ons ons bediening in vrede en met godvrugtige toegewydheid kan uitvoer (1 Timoteus 2:1-4). Terselfdertyd is ons “lief vir die hele gemeenskap van broers”. Ons doen altyd dinge tot voordeel van ons Christenbroers, nie tot hulle nadeel nie.

20 Toe etniese geweld ’n Afrikanasie byvoorbeeld in twee geskeur het, kon die Christelike gedrag van Jehovah se Getuies duidelik gesien word. Die koerant Reformierte Presse van Switserland het berig: “In 1995 kon African Rights . . . bewys dat al die kerke [aan die konflik] deelgeneem het, behalwe Jehovah se Getuies.” Toe nuus van die tragiese gebeure die buitewêreld bereik het, het Jehovah se Getuies in Europa sonder versuim kos en mediese hulp aan hulle broers en ander in daardie geteisterde land gestuur (Galasiërs 6:10). Hulle het ag gegee op die woorde van Spreuke 3:27: “Moenie die goeie terughou van dié aan wie dit toekom wanneer dit in die mag van jou hand is om dit te doen nie.”

21 Daar rus egter ’n verantwoordelikheid op ons wat belangriker is as die verpligting wat ons het om sekulêre owerhede te eer en selfs om ons broers lief te hê. Wat is dit? Petrus het gesê: “Vrees God.” Ons is baie meer aan Jehovah verskuldig as aan enige mens. Waarom is dit die geval? En hoe kan ons ’n balans handhaaf tussen ons verpligtinge teenoor God en dié wat ons teenoor sekulêre owerhede het? Hierdie vrae sal in die volgende artikel beantwoord word.

Onthou jy?

• Watter verantwoordelikhede het Christene in die gesin?

• Hoe kan ons ’n mededeelsame gees in die gemeente aan die dag lê?

• Watter verantwoordelikhede het ons teenoor die sekulêre wêreld?

• Wat is van die voordele wat ons geniet omdat ons hoë standaarde in ons gedrag handhaaf?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 9]

Hoe kan die Christengesin ’n bron van groot vreugde wees?

[Prente op bladsy 10]

Waarom het Jehovah se Getuies mekaar lief?

[Prente op bladsy 10]

Kan ons liefde aan ons broers betoon, selfs al ken ons hulle nie persoonlik nie?