Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Koninkryksale—oop vir almal

Koninkryksale—oop vir almal

Koninkryksverkondigers berig

Koninkryksale—oop vir almal

TERWYL Jesus Christus sy dissipels vir die openbare bediening opgelei het, het hy hulle aangespoor om hulle boodskap “van die dakke af [te] verkondig” (Matteus 10:27). Ja, hulle moes hulle Christelike bediening in die openbaar doen, waar almal hulle kon sien. In die gees van hierdie raad doen Jehovah se Getuies ook hulle werk in die openbaar. Om dié rede kon die Getuies teenstand oorkom en in ’n gunstige lig beskou word.

Hoewel die publiek welkom is om die gemeentelike vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon, laat vooroordeel party mense huiwerig voel om na ’n Koninkryksaal te gaan. Dit is die geval in Finland. Ander mense is weer te skugter om na nuwe plekke toe te gaan. Wanneer ’n nuwe Koninkryksaal gebou of ’n bestaande saal opgeknap word, word ’n ope dag gewoonlik gereël. ’n Spesiale poging word dan aangewend om bure te nooi om die Koninkryksaal te besoek en met die bedrywighede van Jehovah se Getuies vertroud te raak.

In een gebied het die Getuies ’n tydskrifkampanje gereël op dieselfde dag as die ope dag by hulle nuwe Koninkryksaal. Twee Getuies het ’n bejaarde man ontmoet wat gesê het dat hy dit geniet om Die Wagtoring en Ontwaak! te lees. Die broers het hom vertel van die ope dag en het aangebied om hom na die Koninkryksaal toe te neem. Die man het gesê dat hy graag sou wou gaan. Sy vrou, wat na die gesprek geluister het, het uitgeroep: “Wag vir my, ek wil saamgaan!”

Toe hulle by die Koninkryksaal instap, het die man rondgekyk en gesê: “Dis glad nie swart nie. Dis dan so mooi en lig. Hulle het vir my gesê die Koninkryksaal is swart!” Die egpaar het ’n hele rukkie daar vertoef en gevra of hulle van die lektuur wat daar uitgestal was, kon kry.

Een gemeente wou in die plaaslike koerant aankondig dat daar ’n ope dag sou wees wanneer hulle Koninkryksaal toegewy word. Toe die hoofredaktrise die kennisgewing ontvang, het sy voorgestel dat ’n artikel daaroor geskryf word. Die broers het ingestem, en kort daarna het die koerant ’n gunstige artikel gepubliseer, wat ’n halwe bladsy lank was en waarin die toewyding sowel as die bedrywighede van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies bespreek is.

Nadat die artikel gepubliseer is, het ’n bejaarde Getuie een van haar bure teëgekom wat vir haar gesê het: “Daar is ’n wonderlike artikel oor Jehovah se Getuies in vandag se koerant!” Die suster kon vir haar getuig en later die brosjure Jehovah se Getuies in die twintigste eeu by haar laat.

Hierdie ope dae en toewydingsprogramme van nuwe Koninkryksale het nie net gehelp om wanopvattings oor Jehovah se Getuies uit die weg te ruim nie, maar het ook die verkondigers aangespoor om meer mense na die vergaderinge te nooi. Ja, in baie lande, waaronder Finland, het mense besef dat die Koninkryksale van Jehovah se Getuies oop is vir almal.