Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ondersteuners van ware aanbidding—destyds en vandag

Ondersteuners van ware aanbidding—destyds en vandag

Ondersteuners van ware aanbidding—destyds en vandag

ONTHOU jy die naam van ’n man wat oor die eertydse stad Jerusalem gehuil het? ‘Jesus’, sê jy dalk—en ja, Jesus hét oor die stad gehuil (Lukas 19:28, 41). Maar eeue voordat Jesus op die aarde gewandel het, het ’n ander getroue kneg van God ook oor Jerusalem gehuil. Sy naam was Nehemia.—Nehemia 1:3, 4.

Waarom was Nehemia so hartseer dat hy oor Jerusalem gehuil het? Wat het hy ten behoewe van die stad en sy inwoners gedoen? En wat kan ons uit sy voorbeeld leer? Om antwoorde hierop te kry, kan ons na gebeure in sy dag kyk.

’n Man met gevoel, ’n man van aksie

Voordat Nehemia as goewerneur van Jerusalem aangestel is, was hy ’n hooggeplaaste amptenaar aan die Persiese hof in die stad Susan. Tog het die gemaklike lewe wat hy gelei het, hom nie minder besorg gemaak oor die welsyn van sy Joodse broers daar ver in Jerusalem nie. Trouens, toe ’n Joodse afvaardiging uit Jerusalem na Susan gekom het, het hy heel eerste “by hulle navraag gedoen oor die Jode, dié wat ontkom het, wat uit die gevangenskap oorgebly het, en ook oor Jerusalem” (Nehemia 1:2). Toe die besoekers hom vertel dat die mense van Jerusalem “in ’n uiters benarde toestand” is en dat die stadsmuur ‘stukkend lê’, het Nehemia “gaan sit en begin huil en dae lank getreur”. Daarna het hy in ’n hartgrondige gebed tot Jehovah sy hartseer uitgedruk (Nehemia 1:3-11). Waarom was Nehemia so hartseer? Omdat Jerusalem, wat die sentrum van Jehovah se aanbidding op aarde was, verwaarloos is (1 Konings 11:36). Daarbenewens was die stad se vervalle toestand ’n weerspieëling van die inwoners se swak geestelike toestand.—Nehemia 1:6, 7.

Nehemia se besorgdheid oor Jerusalem en sy meegevoel met die Jode wat daar gelewe het, het hom beweeg om van homself te gee. Onmiddellik nadat die Persiese koning hom verlof toegestaan het, het Nehemia die lang reis na Jerusalem begin beplan (Nehemia 2:5, 6). Hy wou sy energie, tyd en vaardighede gebruik om met die nodige herstelwerk te help. ’n Paar dae ná sy aankoms het hy reeds ’n plan van aksie gehad om Jerusalem se hele muur te herstel.—Nehemia 2:11-18.

Nehemia het die enorme taak om die muur te herstel, onder ’n hele aantal gesinne verdeel, wat almal sy aan sy gewerk het. a Meer as 40 verskillende groepe is elk ’n “afgemete stuk” gegee om reg te maak. Die gevolg? Met soveel werkers—waaronder ouers en hulle kinders—wat hulle tyd en energie opgeoffer het, was dit moontlik om ’n taak wat oorweldigend gelyk het, aan te pak (Nehemia 3:11, 12, 19, 20). Binne twee aksiebelaaide maande is die hele muur herstel! Nehemia het geskryf dat selfs diegene wat die herstelwerk teëgestaan het, moes erken dat “dit deur ons God is dat hierdie werk gedoen is”.—Nehemia 6:15, 16.

’n Voorbeeld om te onthou

Nehemia het nie net sy tyd en organisatoriese vaardighede gebruik nie. Hy het ook sy materiële middele gebruik om ware aanbidding te ondersteun. Hy het met sy eie geld sy Joodse broers uit slawerny vrygekoop. Hy het geld uitgeleen sonder om rente te vra. Hy het dit nooit “swaar gemaak” vir die Jode deur ’n toelae as goewerneur te eis nie, iets waarop hy geregtig was. Hy was vrygewig en het kos voorsien aan “honderd-en-vyftig man, en dié wat uit die nasies rondom ons na ons toe gekom het”. Hy het elke dag “een bul, ses uitgesoekte skape en voëls” vir sy gaste voorsien. Daarbenewens het hy een keer elke tien dae vir hulle “allerhande soorte wyn in oorvloed” voorsien—alles op sy eie onkoste.—Nehemia 5:8, 10, 14-18.

Wat ’n uitstekende voorbeeld van vrygewigheid het Nehemia tog gestel vir al God se knegte—destyds en vandag! Hierdie moedige kneg van God het sy materiële middele vryelik en gewillig gebruik om die werkers te ondersteun en sodoende ware aanbidding te bevorder. Hy kon Jehovah heel gepas vra: “Dink tog, o my God, tot my voordeel, aan alles wat ek ten behoewe van hierdie volk gedoen het” (Nehemia 5:19). Jehovah sal dit beslis doen.—Hebreërs 6:10.

Nehemia se voorbeeld word vandag gevolg

Dit is hartverblydend om te sien dat Jehovah se volk vandag ook so ’n hartlike, gewillige en selfopofferende gesindheid openbaar ten behoewe van ware aanbidding. Wanneer ons hoor dat medegelowiges swaarkry, is ons diep besorg oor hulle welsyn (Romeine 12:15). Soos Nehemia bid ons tot Jehovah om ons geteisterde broers in die geloof te help en vra ons: “Laat u oor asseblief ag gee op die gebed van u kneg en op die gebed van u knegte wat behae daarin skep om u naam te vrees.”—Nehemia 1:11; Kolossense 4:2.

Ons besorgdheid oor die geestelike en fisiese welsyn van ons Christenbroers en oor die bevordering van ware aanbidding is egter nie net beperk tot ons gevoelens nie. Dit beweeg ons ook tot dade. Diegene wie se omstandighede dit toelaat, word deur liefde beweeg om die relatiewe gemak van hulle huis te verlaat en, soos Nehemia, na ander plekke te verhuis om diegene te ondersteun wat hulp nodig het. Hierdie vrywilligers laat hulle nie afskrik omdat die lewensomstandighede in party dele van die wêreld nie van die gemaklikste is nie, maar hulle ondersteun ware aanbidding daar en dien sy aan sy met hulle Christenbroers. Hulle selfopofferende gees is werklik prysenswaardig.

In ons eie omgewing

Die meeste van ons kan natuurlik nie na ’n ander plek verhuis nie. Ons ondersteun ware aanbidding waar ons woon. Ons vind ook ’n voorbeeld hiervan in die boek Nehemia. Let op die besonderhede wat Nehemia byvoeg oor party van die getroue gesinne wat met die herstelwerk gehelp het. Hy het geskryf: “Jedaja, die seun van Harumaf, [het] herstelwerk regoor sy eie huis gedoen . . . Benjamin en Hassub [het] herstelwerk regoor hulle eie huis gedoen. Ná hulle het Asarja, die seun van Maäseja, die seun van Ananja, herstelwerk naby sy eie huis gedoen” (Nehemia 3:10, 23, 28-30). Daardie manne en hulle gesinne het grootliks tot die bevordering van ware aanbidding bygedra deur naby hulle eie huise hulle deel van die herstelwerk te doen.

Vandag ondersteun baie van ons ware aanbidding op verskillende maniere in ons eie omgewing. Ons neem deel aan Koninkryksaalbouprogramme, noodlenigingspogings en, die heel belangrikste, die Koninkrykspredikingswerk. En of ons nou persoonlik met bouprojekte of noodlenigingswerk kan help of nie, ons almal het ’n hartgrondige begeerte om ware aanbidding met ons materiële middele te ondersteun, net soos Nehemia so milddadig in sy dag gedoen het.—Sien die venster “Kenmerke van vrywillige bydraes”.

Soms kan dit na ’n oorweldigende taak lyk om die nodige fondse te vind vir ons toenemende drukwerk, noodlenigingspogings en die tallose ander dienste wat regoor die wêreld gelewer word. Onthou egter dat die herstel van Jerusalem se enorme muur ook na ’n oorweldigende taak gelyk het (Nehemia 4:10). Maar omdat die taak tussen talle gewillige gesinne verdeel is, is die werk voltooi. Net so kan ons ook vandag al die nodige middele vir ons wêreldwye bedrywighede vind as elkeen van ons voortgaan om ons deel by te dra.

Die venster “Maniere waarop party verkies om te gee” toon verskillende maniere waarop die Koninkrykswerk finansieel ondersteun kan word. Gedurende die afgelope jaar het baie onder God se volk sulke ondersteuning gegee, en die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om hulle diepe waardering uit te spreek teenoor almal wie se hart hulle beweeg het om vrywillig op hierdie maniere te gee. Bowenal dank ons Jehovah vir sy ryk seën op sy knegte se heelhartige pogings om ware aanbidding regoor die wêreld te bevorder. Ja, as ons dink aan hoe Jehovah se hand ons deur die jare heen gelei het, word ons beweeg om die woorde van Nehemia te beaam, wat met dankbaarheid gesê het: ‘Die hand van my God, hoe goed was dit oor my.’—Nehemia 2:18.

[Voetnoot]

a Nehemia 3:5 sê dat sommige vername Jode, “vooraanstaandes”, geweier het om met die werk te help, maar dat hulle die uitsondering was. Mense uit verskillende agtergronde—priesters, goudsmede, salfmengers, vorste, handelaars—het almal die projek ondersteun.—Verse 1, 8, 9, 32.

[Venster/Prente op bladsy 28, 29]

Maniere waarop party verkies om te gee

BYDRAES VIR DIE WÊRELDWYE WERK

Baie sit ’n bedrag opsy wat hulle in die bydraebussies gooi wat gemerk is “Bydraes vir die wêreldwye werk—Matteus 24:14”.

Gemeentes stuur hierdie bydraes elke maand na die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies of na die plaaslike takkantoor. Vrywillige geldelike bydraes kan ook regstreeks gestuur word na die Rekeningafdeling, Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika, of na die takkantoor in die land waar jy woon. Juwele of ander kosbare artikels kan ook geskenk word. ’n Kort brief wat meld dat dit ’n regstreekse skenking is, moet hierdie bydraes vergesel.

REËLING VIR VOORWAARDELIKE SKENKINGS

Geld kan onder ’n spesiale reëling geskenk word op voorwaarde dat dit aan die skenker teruggegee sal word indien hy dit self nodig sou kry. Tree asseblief in verbinding met die Rekeningafdeling van die plaaslike takkantoor vir verdere inligting.

BEPLANDE SKENKINGS

Benewens regstreekse en voorwaardelike geldskenkings is daar ander maniere waarop ’n mens kan gee om Koninkryksdiens in alle wêrelddele te bevorder. Dit sluit in:

Versekering: Die Wagtoringgenootskap kan as die begunstigde van ’n lewensversekeringspolis of in ’n aftree-/pensioenskema benoem word.

Aandele en obligasies: Aandele en obligasies kan regstreeks aan die Wagtoringgenootskap geskenk word.

Vaste eiendom: Verkoopbare vaste eiendom kan regstreeks aan die Wagtoringgenootskap geskenk word of dit kan geskenk word op voorwaarde dat die skenker gedurende sy of haar leeftyd daar kan bly woon. Voordat enige vaste eiendom oorgedra word, moet ’n mens eers in aanraking kom met die takkantoor in die land waar jy woon.

Testamente: Eiendom of geld kan deur ’n wettige testament aan die Wagtoringgenootskap bemaak word.

As jy in enige van hierdie reëlings vir beplande skenkings belangstel, moet jy skriftelik of per telefoon met die Rekeningafdeling in verbinding tree by die adres hieronder of by die takkantoor van Jehovah se Getuies in die land waar jy woon.

Rekeningafdeling

Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania

Privaatsak X2067,

Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika

Telefoon: (011) 761 1000

[Venster op bladsy 30]

Kenmerke van vrywillige bydraes

In sy briewe aan die Korintiërs het die apostel Paulus drie belangrike kenmerke van vrywillige bydraes gemeld. (1) Toe Paulus oor geldinsameling geskryf het, het hy gesê: “Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle by sy eie huis iets opsysit” (1 Korintiërs 16:2a). Ons moet dus vooruit beplan om te gee en dit moet gereeld gedoen word. (2) Paulus het ook geskryf dat elkeen “na gelang van sy inkomste” moet gee (1 Korintiërs 16:2b, New International Version). Met ander woorde, iemand wat vrywillig wil gee, kan dit na verhouding doen. Al kan ’n Christen net ’n klein bydrae gee omdat hy maar min verdien, waardeer Jehovah sy gawe (Lukas 21:1-4). (3) Paulus het verder geskryf: “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Korintiërs 9:7). Opregte Christene gee uit die hart—met blymoedigheid.

[Prente op bladsy 26]

Nehemia was ’n man met gevoel, ’n man van aksie

[Prente op bladsy 30]

Vrywillige bydraes ondersteun drukwerk, noodlenigingspogings, Koninkryksaalbouwerk en ander nuttige dienste regoor die wêreld