Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons het in ons toewysing volhard

Ons het in ons toewysing volhard

Lewensverhaal

Ons het in ons toewysing volhard

SOOS VERTEL DEUR HERMANN BRUDER

My keuse was eenvoudig: vyf jaar in die Franse Vreemdelegioen of opsluiting in ’n tronk in Marokko. Kom ek verduidelik hoe ek in hierdie benarde posisie beland het.

EK IS in 1911 in Oppenau, Duitsland, gebore, net drie jaar voordat die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het. My ouers, Joseph en Frida Bruder, het 17 seuns en dogters gehad. Ek was die 13de kind.

Van my vroegste herinneringe is dié van ’n militêre orkes wat in die hoofstraat van ons tuisdorp af gemarsjeer het. Ek het baie van die lewendige marsmusiek gehou en die orkes tot by die stasie gevolg waar ek net betyds was om te sien hoe my pa en ander manne in militêre uniform op die trein klim. Toe die trein vertrek, het van die vroue op die platform begin huil. Kort daarna het ons priester ’n lang preek in die kerk gehou en die name afgelees van vier mans wat gesterf het terwyl hulle die vaderland verdedig het. “Hulle is nou in die hemel”, het hy verduidelik. ’n Vrou wat naby my gestaan het, het flou geword.

My pa het buiktifus opgedoen terwyl hy aan die Russiese front geveg het. Toe hy by die huis kom, was hy baie swak, en hy is byna onmiddellik in die plaaslike hospitaal opgeneem. “Gaan na die kapel langs die begraafplaas en sê 50 Onse Vaders en 50 Ave Marias op”, het die priester aanbeveel. “Dan sal jou pa gesond word.” Ek het sy raad gevolg, maar my pa is die volgende dag dood. Die oorlog was selfs vir ’n jong seun ’n baie pynlike ondervinding.

Hoe ek die waarheid gevind het

Tussen die twee oorloë was werk baie skaars in Duitsland. Maar nadat ek in 1928 die skool verlaat het, het ek in Basel, Switserland, werk gekry as ’n tuinier.

Soos my pa, was ek ’n ywerige Katoliek. Dit was my ideaal om as ’n Kapusynemonnik in Indië te gaan dien. Toe my broer Richard, wat teen dié tyd een van Jehovah se Getuies was, van my voorneme hoor, het hy spesiaal na Switserland gereis om my daarvan te laat afsien. Hy het my gewaarsku dat dit gevaarlik is om op mense te vertrou, veral op geestelikes, en my aangemoedig om die Bybel te lees en my vertroue slegs daarin te stel. Ondanks bedenkinge het ek ’n Nuwe Testament aangeskaf en dit begin lees. Stadig maar seker het ek begin besef dat baie van my oortuigings nie met Bybelleringe ooreenstem nie.

Een Sondag in 1933, terwyl ek by Richard in Duitsland gekuier het, het hy my aan ’n egpaar voorgestel wat Jehovah se Getuies was. Toe hulle hoor dat ek die Bybel lees, het hulle vir my ’n boekie met die titel Die krisis a gegee. Dit was byna middernag toe ek uiteindelik daardie boekie neergesit het. Ek was oortuig dat ek die waarheid gevind het!

Ek het by Jehovah se Getuies in Basel twee dele van Studies in the Scriptures b gekry, asook tydskrifte en ander publikasies. Wat ek gelees het, het so ’n groot indruk op my gemaak dat ek die plaaslike priester gevra het om my naam van die kerkregister af te haal. Die priester het baie kwaad geword en my gewaarsku dat ek die gevaar loop om my geloof te verloor. Niks kon in werklikheid verder van die waarheid gewees het nie. Vir die eerste keer in my lewe het ek begin om ware geloof op te bou.

Die broers in Basel het beplan om die volgende naweek oor die grens na Frankryk te gaan om velddiens te doen. Een van die broers het taktvol aan my verduidelik dat ek nie genooi is nie omdat ek maar onlangs met die gemeente begin assosieer het. Ek is nie ontmoedig nie en het my opregte begeerte uitgespreek om aan die predikingswerk te begin deelneem. Nadat die broer dit met ’n ander ouer man bespreek het, het hy vir my gebied in Switserland gegee. Vroeg die Sondagoggend is ek op my fiets na ’n klein dorpie naby Basel, met 4 boeke, 28 tydskrifte en 20 brosjures in my velddienstas. Toe ek daar aankom, was die meeste dorpenaars in die kerk. Nietemin was my velddienstas teen 11-uur die oggend leeg.

Toe ek vir die broers sê dat ek graag gedoop wil word, het hulle ernstig met my gepraat en my indringende vrae oor die waarheid gevra. Hulle ywer en lojaliteit teenoor Jehovah en sy organisasie het my diep geraak. Aangesien dit winter was, het ’n broer my in ’n bad in ’n ouer man se huis gedoop. Ek onthou die onbeskryflike vreugde en sterk innerlike krag wat ek ervaar het. Dit was in 1934.

Ek werk by Kingdom Farm

In 1936 het ek gehoor dat Jehovah se Getuies ’n stuk grond in Switserland gekoop het. Ek het my dienste as ’n tuinier aangebied. Tot my vreugde is ek genooi om by Kingdom Farm by Steffisburg, ongeveer 30 kilometer van Bern af, te gaan werk. Wanneer ek kon, het ek ook ander met hulle werk op die plaas gehelp. Bethel het my geleer hoe belangrik dit is om ’n gees van samewerking te hê.

’n Hoogtepunt in my jare by Bethel was broer Rutherford se besoek aan die plaas in 1936. Toe hy sien hoe groot ons tamaties is en hoe goed die oeste was, het hy geglimlag en sy tevredenheid uitgespreek. Wat ’n dierbare broer was hy tog!

Nadat ek net meer as drie jaar by die plaas gedien het, is ’n brief van die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in die Verenigde State tydens ontbyt voorgelees. Die brief het die dringendheid van die predikingswerk beklemtoon en ’n uitnodiging gerig aan almal wat graag as pioniers in ander lande wou gaan dien. Ek het sonder om te huiwer, aangebied om te gaan. Ek het my toewysing in Mei 1939 ontvang—Brasilië!

Destyds het ek die vergaderinge van die Thun-gemeente, naby Kingdom Farm, bygewoon. Sondae het ’n groep van ons velddiens in die Alpe gaan doen, sowat twee uur met ’n fiets van Thun af. Margaritha Steiner was ook in die groep. ’n Gedagte het skielik by my opgekom: Het Jesus nie sy dissipels twee-twee uitgestuur nie? Toe ek so terloops vir Margaritha noem dat ek na Brasilië toegewys is, het sy gesê dat sy self graag sou wou dien waar daar hulp nodig is. Ons is op 31 Julie 1939 getroud.

’n Onverwagte wending in sake

Teen die einde van Augustus 1939 het ons van Le Havre, Frankryk, vertrek en na Santos, Brasilië, gevaar. Al die dubbelkajuite was vol, en daarom moes ons in afsonderlike kajuite reis. Op pad het ons die nuus ontvang dat Groot-Brittanje en Frankryk oorlog teen Duitsland verklaar het. ’n Groep van 30 Duitse passasiers het in reaksie hierop die Duitse volkslied begin sing. Dit het die kaptein so kwaad gemaak dat hy van koers verander het en by Safi, Marokko, vasgemeer het. Passasiers met Duitse reisdokumente is vyf minute gegee om die skip te verlaat. Dit het ons ingesluit.

Ons is ’n dag lank by die polisiestasie aangehou en toe in ’n rammelende ou bus gelaai en na ’n tronk in Marrakesj geneem, ongeveer 140 kilometer daarvandaan. Moeilike dae het gevolg. Ons selle was oorvol en donker. Die gemeenskaplike toilet—’n gat in die vloer—was kort-kort verstop. Elkeen van ons het ’n vuil sak gekry om op te slaap, en snags het rotte ons aan ons kuite gebyt. Ons het twee keer per dag kos in ’n geroeste blik gekry.

’n Weermagoffisier het verduidelik dat hulle my sou vrylaat as ek instem om vyf jaar in die Franse Vreemdelegioen te dien. Omdat ek geweier het, is ek 24 uur lank opgesluit in wat ek net kan beskryf as ’n donker gat. Ek het die meeste van hierdie tyd in gebed deurgebring.

Ná agt dae het die tronkowerheid my toegelaat om Margaritha weer te sien. Sy was verskriklik maer en het onbedaarlik gehuil. Ek het my bes gedoen om haar te vertroos. Ons is ondervra en per trein na Casablanca geneem, waar Margaritha vrygelaat is. Ek is na ’n gevangenekamp in Port Lyautey (nou Kenitra) gestuur, ongeveer 180 kilometer daarvandaan. Die Switserse konsul het Margaritha aangeraai om na Switserland terug te keer, maar sy het lojaal geweier om sonder my te gaan. Gedurende die twee maande dat ek in Port Lyautey was, het sy elke dag van Casablanca af gery om my te besoek en vir my kos te bring.

Die vorige jaar het Jehovah se Getuies ’n boek vrygestel met die titel Kreuzzug gegen das Christentum (Kruistog teen die Christelike godsdiens) om die publiek daarvan bewus te maak dat die Getuies nie by die Nazi-regime betrokke is nie. Terwyl ek in die gevangenekamp was, het die takkantoor van Jehovah se Getuies in Bern aan die Franse owerheid geskryf en ’n eksemplaar van die boek ingesluit om te probeer bewys dat ons nie Nazi’s is nie. Margaritha het ook uitstekende werk gedoen deurdat sy regeringsamptenare besoek het en hulle van ons onskuld probeer oortuig het. Uiteindelik is ons teen die einde van 1939 toegelaat om Marokko te verlaat.

Eers toe ons weer na Brasilië op pad was, het ons gehoor dat Duitse duikbote skepe in die Atlantiese oseaan aanval en dat ons ’n vername teiken is. Hoewel ons skip, die Jamaique, ’n handelskip was, was daar kanonne op die boeg en die agterstewe. Bedags het die kaptein ’n sigsag-roete gevolg en voortdurend die kanonne afgevuur. Snags was alles in donkerte gehul sodat die Duitsers ons nie sou opmerk nie. Hoe verlig was ons tog om uiteindelik op 6 Februarie 1940 in die hawe van Santos, Brasilië, aan te kom, meer as vyf maande nadat ons Europa verlaat het!

Weer tronk toe

Ons eerste predikingstoewysing was Montenegro, ’n dorp in die suide van die Brasiliaanse staat Rio Grande do Sul. Die godsdiensleiers is klaarblyklik van ons aankoms in kennis gestel. Ná net twee uur in die predikingswerk het die polisie ons in hegtenis geneem en beslag gelê op ons versameling grammofoonplate met Bybelpreke, al ons lektuur en selfs die kameelvel-velddienstasse wat ons in Marokko gekoop het. ’n Priester en ’n Duitssprekende geestelike het by die polisiestasie vir ons gewag. Hulle het geluister terwyl die polisiehoof een van broer Rutherford se toesprake gespeel het op ons grammofoon, waarop hy ook beslag gelê het. Broer Rutherford het beslis nie doekies omgedraai nie! By ’n deel waar hy melding gemaak het van die Vatikaan, het die priester bloedrooi geword en uitgestorm.

Op versoek van die biskop van Santa Maria, het die polisie ons oorgeplaas na Pôrto Alegre, die hoofstad van die staat. Margaritha is kort daarna vrygelaat, en sy het na die Switserse konsulaat gegaan vir hulp. Die konsul het voorgestel dat sy na Switserland terugkeer. Sy het weer eens geweier om my in die steek te laat. Margaritha was nog altyd ’n baie lojale metgesel. Dertig dae later is ek ondervra en vrygelaat. Die polisie het ons voor ’n keuse gestel: verlaat die staat binne tien dae of “dra die gevolge”. Op aanbeveling van die hoofkantoor het ons na Rio de Janeiro vertrek.

“Lees asseblief hierdie kaart”

Ten spyte van hierdie onaangename kennismaking met die Brasiliaanse veld, was ons vreugdevol! Ons het immers nog gelewe, ons tasse was weer vol lektuur en ons het die hele Rio de Janeiro gehad om voor te getuig. Maar hoe sou ons kon getuig met ons beperkte kennis van Portugees? Met behulp van ’n getuieniskaart. “Por favor, leia este cartão” (“Lees asseblief hierdie kaart”) was die eerste Portugese woorde wat ons geleer het om in die predikingswerk te gebruik. En hoe suksesvol was die kaart tog! Binne een maand het ons meer as 1 000 boeke versprei. Baie wat ons Bybellektuur geneem het, het later die waarheid aangeneem. Trouens, ons publikasies het ’n baie doeltreffender getuienis gegee as wat ons ooit kon. Dit het my laat besef hoe belangrik dit is om ons publikasies in die hande van belangstellendes te kry.

Destyds was Rio de Janeiro die hoofstad van Brasilië, en ons boodskap is veral gunstig ontvang in die staatsgeboue. Ek het die voorreg gehad om persoonlik vir die Minister van Finansies en die Minister van Verdediging te getuig. By hierdie geleenthede kon ek duidelik sien hoe Jehovah se gees werksaam is.

Eenkeer, terwyl ek in die middel van Rio op ’n stadsplein getuig het, het ek die Paleis van Justisie binnegegaan. Ek het my skielik in ’n vertrek bevind tussen ’n klomp mans wat in swart geklee was en gedink dat dit ’n begrafnisdiens moet wees. Ek het ’n man genader wat belangrik gelyk het en my getuieniskaart vir hom gegee. Dit was toe glad nie ’n begrafnis nie. Ek het in werklikheid ’n hofsaak onderbreek en was besig om met die regter te praat. Hy het gelag en vir die wagte ’n teken gegee dat alles in die haak was. Hy het vriendelik ’n eksemplaar van die boek Kinders c by my geneem en ’n bydrae gegee. Op pad uit het een van die wagte na ’n duidelike teken op die deur gewys: Proibida a entrada de pessoas estranhas (Geen ongemagtigde toegang).

Nog ’n produktiewe veld was die hawe. By een geleentheid het ek ’n matroos ontmoet wat publikasies by my geneem het voordat hy moes terugkeer see toe. Later het ons hom by ’n byeenkoms ontmoet. Sy hele gesin het die waarheid aangeneem, en hy het self goeie vordering gemaak. Ons was baie gelukkig hieroor.

Maar alles het nie altyd so vlot verloop nie. Ons visum vir ses maande het verval, en die moontlikheid was daar dat ons gedeporteer sou word. Nadat ons aan die hoofkantoor geskryf het om ons situasie te verduidelik, het ons ’n baie mooi brief van broer Rutherford ontvang waarin hy ons aangespoor het om te volhard en voorgestel het wat ons volgende moes doen. Ons wou baie graag in Brasilië aanbly, en met die hulp van ’n regsgeleerde het ons uiteindelik in 1945 ’n permanente visum gekry.

’n Langtermyntoewysing

Maar intussen is Jonathan, ons seun, in 1941 gebore, Ruth in 1943 en Esther in 1945. Om in die behoeftes van ons groeiende gesin te voorsien, moes ek ’n sekulêre werk kry. Margaritha het in die voltydse bediening gebly, reg tot die geboorte van ons derde kind.

Ons het van die begin af saam as ’n gesin die predikingswerk gedoen, op stadspleine, by treinstasies, op straat en in sakegebied. Saterdagaande het ons saam Die Wagtoring en Ontwaak! versprei, en dit was veral baie aangename tye.

Tuis het elke kind sy daaglikse takies gehad. Jonathan moes die stoof en die kombuis skoonmaak. Die meisies het die yskas skoongemaak, die werf gevee en ons skoene skoongemaak. Dit het hulle geleer om georganiseerd te wees en inisiatief aan die dag te lê. Vandag is ons kinders harde werkers wat goed na hulle huise en besittings omsien, wat my en Margaritha baie gelukkig maak.

Ons het ook van die kinders verwag om hulle goed te gedra by vergaderinge. Voor die program begin het, het hulle ’n glas water gedrink en toilet toe gegaan. Gedurende die vergadering het Jonathan aan my linkerkant gesit, Ruth aan my regterkant, langs haar Margaritha en dan Esther aan haar regterkant. Dit het hulle gehelp om te konsentreer en van kleins af geestelike voedsel in te neem.

Jehovah het ons pogings geseën. Al ons kinders dien Jehovah steeds getrou en neem met vreugde aan die predikingswerk deel. Jonathan dien tans as ’n ouer man in die Novo Méier-gemeente, Rio de Janeiro.

Teen 1970 was al ons kinders getroud en uit die huis, en daarom het ek en Margaritha besluit om te gaan dien waar daar hulp nodig was. Ons eerste gebied was Poços de Caldas, in die staat Minas Gerais, waar daar toe ’n groepie van 19 Koninkryksverkondigers was. Toe ek hulle vergaderplek die eerste keer sien, was ek baie teleurgesteld—dit was ’n keldervertrek sonder enige vensters en het dringend aandag nodig gehad. Ons het onmiddellik na ’n geskikter Koninkryksaal begin soek en kort daarna ’n mooi gebou in ’n goeie omgewing gevind. Wat ’n verskil het dit tog gemaak! Vier en ’n half jaar later het die getal verkondigers tot 155 vermeerder. In 1989 het ons na Araruama, in Rio de Janeiro, getrek, waar ons nege jaar lank gedien het. Gedurende hierdie tyd het ons gesien hoe twee nuwe gemeentes gestig word.

Beloon omdat ons in ons toewysing volhard het

In 1998 het gesondheidsprobleme en die begeerte om naby ons kinders te wees, ons beweeg om na São Gonçalo, Rio de Janeiro, te trek. Ek dien nog steeds daar as ’n gemeentelike ouer man. Ons doen ons bes om gereeld aan die predikingswerk deel te neem. Margaritha geniet dit om by ’n nabygeleë supermark vir mense te getuig, en die gemeente was so gaaf om vir ons gebied naby ons huis te gee, wat dit vir ons makliker maak om te getuig wanneer ons gesondheid dit toelaat.

Ek en Margaritha is nou al meer as 60 jaar lank toegewyde knegte van Jehovah. Ons het persoonlik ervaar dat ‘nie regerings of teenswoordige dinge of toekomstige dinge of magte of hoogte of diepte of enige ander skepping ons kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie’ (Romeine 8:38, 39). En wat ’n seën was dit tog om die insameling te sien van die “ander skape”, wat die wonderlike hoop het om vir ewig te lewe op ’n volmaakte aarde, omring deur God se pragtige skeppingswerke! (Johannes 10:16). Toe ons in 1940 hier aangekom het, het Rio de Janeiro net een gemeente met 28 verkondigers gehad. Vandag is daar sowat 250 gemeentes en ver oor die 20- 000 Koninkryksverkondigers.

Daar was geleenthede om na ons families in Europa terug te keer. Maar ons toewysing van Jehovah is hier in Brasilië. Hoe bly is ons tog dat ons daarin volhard het!

[Voetnote]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nie meer in druk nie.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nie meer in druk nie.

c Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nie meer in druk nie.

[Prent op bladsy 21]

By Kingdom Farm, Steffisburg, Switserland, in die laat 1930’s (ek staan heel links)

[Prent op bladsy 23]

Kort voor ons troue, 1939

[Prent op bladsy 23]

Casablanca in die 1940’s

[Prent op bladsy 23]

Saam in die predikingswerk as ’n gesin

[Prent op bladsy 24]

Ons neem vandag nog gereeld aan die bediening deel