Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Is dit verkeerd om geld te verwed as dit net ’n klein bedrag is?

God se Woord bespreek dobbelary nie in besonderhede nie, maar dit sê genoeg om te toon dat enige vorm van dobbelary strydig is met Bybelbeginsels. a Daar word byvoorbeeld algemeen erken dat dobbelary gierigheid aanwakker. Hierdie feit alleen stem Christene tot ernstige nadenke, aangesien die Bybel sê dat “gierigaards” nie God se Koninkryk sal beërf nie en hebsug met afgodediens gelykstel.—1 Korintiërs 6:9, 10; Kolossense 3:5.

Dobbelary wakker ook egotisme en ’n ongesonde gees van mededinging aan, ’n sterk begeerte om te wen. Die apostel Paulus het teen hierdie dinge gewaarsku toe hy geskryf het: “Laat ons nie egotisties word en wedywering met mekaar aanwakker en afgunstig op mekaar wees nie” (Galasiërs 5:26). Verder laat dobbelary by sommige ’n bygelowige vertroue op die geluksgod ontstaan. Dobbelaars ontwikkel allerhande bygelowe in die hoop dat dit die geluk in hulle rigting sal laat draai. Hulle laat ons dink aan die ontroue Israeliete wat ‘’n tafel vir die Geluksgod gedek en gemengde wyn vir die god van die Noodlot geskink het’.—Jesaja 65:11.

Sommige meen dalk dat dit net onskuldige pret is om ’n klein bedrag te verwed terwyl ’n mens ’n vriendskaplike kaart- of bordspeletjie saam met familie of goeie vriende speel. Iemand wat ’n klein bedrag verwed, beskou homself dalk nie as gierig, egotisties, mededingend of bygelowig nie. Maar watter uitwerking kan sy dobbelary hê op diegene saam met wie hy dobbel? Baie mense wat aanvanklik ‘net vir die pret’ met klein bedrae geld gedobbel het, het kompulsiewe dobbelaars geword (Lukas 16:10). Iets wat na ’n onskuldige afleiding gelyk het, het in hulle geval veel rampspoediger gevolge gehad.

Dit is veral waar wanneer kinders betrokke is. Baie kinders het die opwinding ervaar om ’n klein weddenskap te wen en in die versoeking gekom om groter bedrae te verwed (1 Timoteus 6:10). ’n Langtermynstudie wat in die Verenigde State deur Arizona se Raad vir Kompulsiewe Dobbelary gepubliseer is, bevestig dat talle dobbelslawe op ’n vroeë ouderdom begin dobbel het “deur klein bedrae te verwed op sportwedstryde of kaartspeletjies met vriende of familie”. Nog ’n verslag sê dat “kinders tuis begin dobbel, gewoonlik wanneer hulle met familie of vriende kaartspeel”. Die verslag voeg by dat “dertig persent van kinders wat gedobbel het, dit voor hulle elfde verjaarsdag begin doen het”. Volgens die studie Why Do People Gamble Too Much—Pathological and Problem Gambling wend talle tieners wat dobbelslawe is, hulle tot misdaad of onsedelikheid om geld te kry om mee te dobbel. Wat ’n tragiese gevolg is dit tog van iets wat in die begin dalk onskadelik gelyk het!

Ons lewe in ’n wêreld waar daar reeds te veel strikke en versoekings is. Waarom sou ons ons dan onnodig aan nog een wou blootstel? (Spreuke 27:12). Dobbelary—met of sonder kinders teenwoordig, vir klein of vir groot bedrae—stel ’n mens se geestelikheid in gevaar en moet vermy word. Christene wat dit geniet om bord- of kaartspeletjies vir ontspanning te speel, kan eerder die telling neerskryf of net vir die pret speel sonder om die telling te hou. Verstandige Christene wat oor hulle eie geestelikheid asook dié van hulle vriende en familie besorg is, vermy dobbelary—selfs al is net ’n klein bedrag betrokke.

[Voetnoot]

a Die World Book Encyclopedia definieer dobbelary as “’n weddenskap op die uitslag van ’n wedstryd, gebeurtenis of toevalligheid”. Dit sê verder dat “dobbelaars of spelers gewoonlik geld verwed op . . . kansspele soos loterye, kaartspeletjies of dié met dobbelstene”.