Waarom is dit so moeilik om verskoning te vra?
Waarom is dit so moeilik om verskoning te vra?
IN Julie 2000 het die Wetgewende Liggaam van die Staat Kalifornië in die Verenigde State ’n wetsontwerp aangeneem wat mense van aanspreeklikheid vrystel as hulle hulle meegevoel uitspreek teenoor iemand wat beseer is in ’n ongeluk waarby hulle self ook betrokke was. Waarom hierdie wetgewing? Daar is opgemerk dat mense dikwels huiwer om verskoning te vra wanneer ’n ongeluk besering of skade tot gevolg het omdat dit in die hof as ’n skulderkenning beskou kan word. Aan die ander kant kan diegene wat voel dat hulle onmiddellik om verskoning gevra moet word, hewig ontsteld raak; en ’n klein ongelukkie kan in ’n groot geskil ontaard.
Dit is natuurlik nie nodig om verskoning te vra vir ’n ongeluk wat jy nie veroorsaak het nie. En soms sal dit dalk verstandig wees om op jou woorde te let. ’n Ou spreuk sê: “In die oorvloed van woorde ontbreek die oortreding nie, maar wie sy lippe in toom hou, tree verstandig op” (Spreuke 10:19; 27:12). Jy kan nietemin beleef en behulpsaam wees.
Maar is dit nie so dat baie mense glad
nie meer verskoning vra nie, selfs wanneer hofsake nie ter sprake is nie? By die huis kla ’n vrou dalk: ‘My man vra nooit verskoning vir enigiets nie.’ By die werk sê ’n voorman miskien: ‘My werkers erken nie hulle foute nie, en hulle sê amper nooit dat hulle jammer is nie.’ By die skool sê ’n onderwyser dalk: ‘Kinders word nie geleer om te sê hulle is jammer nie.’Een rede waarom iemand moontlik huiwer om verskoning te vra, is die vrees dat hy verstoot sal word. Omdat hy bang is dat die persoon hom kil sal behandel, sê hy miskien nie hoe hy werklik voel nie. Terselfdertyd vermy die een wat seergemaak is, die oortreder dalk heeltemal, wat dit baie moeilik maak om die vrede te herstel.
Nog ’n rede waarom party moontlik nie verskoning vra nie, is omdat hulle ander se gevoelens glad nie in ag neem nie. Hulle redeneer miskien: ‘Om verskoning te vra, gaan nie regstel wat ek reeds verbrou het nie.’ Ander huiwer weer om te sê dat hulle jammer is, weens die gevolge wat dit vir hulle kan inhou. Hulle wonder: ‘Sal ek verantwoordelik gehou word en gevra word om te vergoed?’ Trots is egter die vernaamste rede waarom mense nie hulle foute erken nie. Iemand wat te trots is om te sê: “Ek is jammer”, voel in werklikheid: ‘Ek wil nie aansien verloor deur my fout te erken nie. Dit sal my posisie benadeel.’
Wat die rede ook al is, baie vind dit moeilik om te sê dat hulle jammer is. Maar is dit werklik nodig om verskoning te vra? Watter voordele hou dit in as ’n mens wel verskoning vra?
[Prent op bladsy 3]
“Kinders word nie geleer om te sê hulle is jammer nie”
[Prent op bladsy 3]
“My werkers erken nie hulle foute nie”
[Prent op bladsy 3]
“My man vra nooit verskoning vir enigiets nie”