Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Christene het mekaar nodig

Christene het mekaar nodig

Christene het mekaar nodig

“Ons is lede wat aan mekaar behoort.”—EFESIËRS 4:25.

1. Wat sê ’n ensiklopedie oor die menseliggaam?

 DIE menseliggaam is ’n skeppingswonder! The World Book Encyclopedia sê: “Mense noem die menseliggaam soms ’n masjien—die wonderlikste masjien wat al ooit gebou is. Die menseliggaam is natuurlik nie ’n masjien nie. Maar dit kan in baie opsigte met een vergelyk word. Soos ’n masjien bestaan die liggaam uit baie dele. Elke deel van die liggaam, soos elke deel van ’n masjien, het ’n spesiale funksie. Maar al die dele werk saam sodat die liggaam of die masjien glad funksioneer.”

2. Watter ooreenkoms is daar tussen die menseliggaam en die Christengemeente?

2 Ja, die menseliggaam het baie dele, of lede, en elkeen voorsien iets wat nodig is. Daar is nie ’n enkele aar, spier of ander liggaamsdeel wat nie van nut is nie. Net so ook kan elke lid van die Christengemeente tot die geestelike welsyn en prag daarvan bydra (1 Korintiërs 12:14-26). Hoewel nie een lid van die gemeente moet dink dat hy beter as ander is nie, moet niemand homself as onbelangrik beskou nie.—Romeine 12:3.

3. Hoe toon Efesiërs 4:25 dat Christene mekaar nodig het?

3 Net soos die lede van die menseliggaam onderling afhanklik is van mekaar, het Christene ook mekaar nodig. Die apostel Paulus het vir medegelowiges gesê: “Noudat julle onwaarheid afgelê het, moet julle . . . die waarheid praat, elkeen van julle met sy naaste, want ons is lede wat aan mekaar behoort” (Efesiërs 4:25). Omdat hulle “aan mekaar behoort”, is daar eerlike kommunikasie en volle samewerking tussen lede van geestelike Israel—“die liggaam van die Christus”. Ja, elke lid behoort aan al die ander (Efesiërs 4:11-13). Waarheidliewende Christene met ’n aardse hoop werk saam met hulle en is verheug om in eenheid met hulle te wees.

4. Hoe kan nuwelinge gehelp word?

4 Elke jaar word duisende gedoop wat die hoop het om op ’n aardse paradys te lewe. Ander lede van die gemeente help hulle met graagte om “tot volwassenheid [voort te beur]” (Hebreërs 6:1-3). Hulle help hulle dalk om skriftuurlike vrae te beantwoord of gee hulle praktiese hulp in die bediening. Ons kan nuwelinge help deur ’n goeie voorbeeld te stel en gereeld aan Christelike vergaderinge deel te neem. As iemand deur ’n moeilike tyd gaan, kan ons ook aanmoediging of miskien vertroosting gee (1 Tessalonisense 5:14, 15). Ons moet op die uitkyk wees na maniere waarop ons ander kan help om “[voort te gaan] om in die waarheid te wandel” (3 Johannes 4). Hetsy ons jonk of oud is, onlangs in die waarheid begin wandel het of dit al jare lank doen, ons kan die geestelike welsyn van medegelowiges bevorder—en hulle het ons beslis nodig.

Hulle het nodige hulp aangebied

5. Hoe het Aquila en Priscilla Paulus gehelp?

5 Christenegpare is onder dié wat dit geniet om medegelowiges te help. Aquila en sy vrou, Priscilla (Prisca), het byvoorbeeld vir Paulus gehelp. Hulle het hom in hulle huis verwelkom, as tentmakers saam met hom gewerk en hom gehelp om die nuwe gemeente in Korinte op te bou (Handelinge 18:1-4). Op die een of ander onvermelde manier het hulle selfs hulle lewe vir Paulus gewaag. Hulle het in Rome gewoon toe Paulus vir die Christene daar gesê het: “Dra my groete oor aan Prisca en Aquila, my medewerkers in Christus Jesus, wat hulle nekke vir my siel gewaag het, aan wie nie net ek dank betuig nie, maar ook al die gemeentes van die nasies” (Romeine 16:3, 4). Soos Aquila en Priscilla het party hedendaagse Christene gemeentes opgebou en medeaanbidders op verskeie maniere gehelp, en soms selfs hulle eie lewe gewaag om te keer dat vervolgers ander knegte van God wreed behandel of doodmaak.

6. Watter hulp het Apollos ontvang?

6 Aquila en Priscilla het ook die welsprekende Christen Apollos gehelp, wat inwoners van Efese aangaande Jesus Christus geleer het. Op daardie stadium was Apollos net bekend met die doop van Johannes as simbool van berou oor sondes teen die Wetsverbond. Aquila en Priscilla het besef dat Apollos hulp nodig het en het “die weg van God met groter juistheid vir hom uitgelê”. Hulle het heel waarskynlik verduidelik dat Christelike doop onderdompeling in water en die uitstorting van die heilige gees behels het. Apollos was ’n goeie student. Later in Agaje “het hy dié wat vanweë God se onverdiende goedhartigheid gelowig geword het, grootliks gehelp; want hy het die Jode in die openbaar kragtig en deeglik verkeerd bewys, terwyl hy aan die hand van die Skrif getoon het dat Jesus die Christus is” (Handelinge 18:24-28). Die kommentare van medeaanbidders kan dikwels help om ons begrip van God se Woord te verbreed. Ook in hierdie opsig het ons mekaar nodig.

Materiële hulp

7. Hoe het die Filippense gereageer toe mede-Christene materiële hulp nodig gehad het?

7 Lede van die Christengemeente in Filippi was baie lief vir Paulus en het hom van materiële dinge voorsien terwyl hy in Tessalonika was (Filippense 4:15, 16). Toe die broers in Jerusalem materiële hulp nodig gehad het, was die Filippense gewillig om selfs meer te gee as wat hulle kon bekostig. Paulus het die uitstekende gees van sy broers en susters in Filippi so hoog op prys gestel dat hy hulle as ’n voorbeeld vir ander gelowiges aangehaal het.—2 Korintiërs 8:1-6.

8. Watter gees het Epafroditus geopenbaar?

8 Toe Paulus in die gevangenis was, het die Filippense nie net vir hom materiële gawes gestuur nie, maar ook hulle persoonlike gesant Epafroditus. “Weens die Here se werk het [Epafroditus] baie na aan die dood gekom, deurdat hy sy siel aan gevaar blootgestel het”, het Paulus gesê, “om ten volle daarvoor te vergoed dat julle nie hier was om persoonlike diens aan my te verrig nie” (Filippense 2:25-30; 4:18). Daar word nie vir ons gesê of Epafroditus ’n ouer man of ’n bedieningskneg was nie. Hoe dit ook al sy, hy was ’n selfopofferende en behulpsame Christen, en Paulus het hom werklik nodig gehad. Is daar iemand soos Epafroditus in julle gemeente?

Hulle was “’n versterkende hulp”

9. Watter voorbeeld het ons in Aristargus?

9 Liefdevolle broers en susters, soos Aquila, Priscilla en Epafroditus, word in enige gemeente baie waardeer. Van ons medeaanbidders is dalk baie soos die eerste-eeuse Christen Aristargus. Hy en ander was “’n versterkende hulp”, moontlik was hulle ’n bron van vertroosting of het hulle ander op basiese, praktiese maniere gehelp (Kolossense 4:10, 11). Deur Paulus te help, het Aristargus bewys dat hy ’n ware vriend in tye van nood is. Hy was die soort persoon waarvan Spreuke 17:17 praat: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.” Moet elkeen van ons nie daarna streef om “’n versterkende hulp” vir mede-Christene te wees nie? Ons moet veral ’n helpende hand uitreik na diegene wat moeilike tye deurmaak.

10. Watter voorbeeld het Petrus vir Christen- ouer manne gestel?

10 Christen- ouer manne in die besonder moet ’n versterkende hulp wees vir hulle geestelike broers en susters. Christus het vir die apostel Petrus gesê: “Jy [moet] jou broers versterk” (Lukas 22:32). Petrus kon dit doen omdat hy sterk, rotsvaste eienskappe aan die dag gelê het, veral ná Jesus se opstanding. Ouer manne, julle kan gerus daarna streef om met ’n gewillige en liefdevolle gees dieselfde te doen, want julle medegelowiges het julle nodig.—Handelinge 20:28-30; 1 Petrus 5:2, 3.

11. Hoe kan ons daarby baat vind as ons oor Timoteus se gees nadink?

11 Paulus se reisgenoot Timoteus was ’n ouer man wat diep besorg was oor ander Christene. Hoewel hy gesondheidsprobleme gehad het, het Timoteus hartgrondige geloof geopenbaar en ‘saam met Paulus soos ’n slaaf gedien ter bevordering van die goeie nuus’. Die apostel kon derhalwe vir die Filippense sê: “Ek het niemand anders met ’n gesindheid soos syne wat opreg na die dinge in verband met julle sal omsien nie” (Filippense 2:20, 22; 1 Timoteus 5:23; 2 Timoteus 1:5). Ons kan ’n seën wees vir medeaanbidders van Jehovah deur ’n gees soos dié van Timoteus te openbaar. Ons moet weliswaar met ons eie menslike swakhede en verskeie beproewinge saamleef, maar ook ons kan en moet sterk geloof en liefdevolle besorgdheid oor ons geestelike broers en susters aan die dag lê. Ons moet altyd in gedagte hou dat hulle ons nodig het.

Vroue wat besorg was oor ander

12. Wat kan ons leer uit die voorbeeld van Dorkas?

12 Dorkas was ’n godvresende vrou wat besorg was oor ander. Toe sy gesterf het, het die dissipels Petrus laat roep en hom na ’n bovertrek geneem. Daar het “al die weduwees . . . by hom kom staan, terwyl hulle gehuil en baie onder- en boklere gewys het wat Dorkas gemaak het toe sy nog by hulle was”. Dorkas is opgewek en het ongetwyfeld voortgegaan om “oorvloedig [te wees] in goeie dade en barmhartigheidsgawes”. In die hedendaagse Christengemeente is daar vroue soos Dorkas wat dalk klere maak of ander liefdevolle dinge doen vir diegene wat dit nodig het. Hulle goeie werke het natuurlik hoofsaaklik te doen met die bevordering van Koninkryksbelange en deelname aan die dissipelmaakwerk.—Handelinge 9:36-42; Matteus 6:33; 28:19, 20.

13. Hoe het Lidia besorgdheid oor mede-Christene getoon?

13 ’n Godvresende vrou met die naam Lidia was ook besorg oor ander. Sy was van Tiatira en het in Filippi gewoon toe Paulus omstreeks 50 G.J. daar gepreek het. Lidia was waarskynlik ’n Joodse proseliet, en daar was moontlik net ’n paar Jode en geen sinagoge in Filippi nie. Sy en ander toegewyde vroue het by ’n rivier byeengekom vir aanbidding toe die apostel die goeie nuus aan hulle bekend gemaak het. Die verslag sê: “Jehovah het [Lidia se] hart wyd oopgemaak om aandag te skenk aan die dinge wat Paulus gesê het. En toe sy en haar huisgenote gedoop is, het sy aangedring en gesê: ‘As julle van oordeel is dat ek getrou is aan Jehovah, kom dan in my huis in en bly daar.’ En sy het ons eenvoudig gedwing om te kom” (Handelinge 16:12-15). Omdat Lidia goeie dinge vir ander wou doen, het sy Paulus en sy metgeselle oorreed om by haar te bly. Hoe waardeer ons dit tog wanneer soortgelyke gasvryheid vandag deur goedhartige en liefdevolle Christene getoon word!—Romeine 12:13; 1 Petrus 4:9.

Jongmense, ons het julle ook nodig

14. Hoe het Jesus Christus kinders behandel?

14 Die Christengemeente het sy oorsprong gehad by die vriendelike, goedhartige Seun van God, Jesus Christus. Mense het op hulle gemak by hom gevoel omdat hy liefdevol en medelydend was. Toe sommige by een geleentheid hulle jong kinders na Jesus toe gebring het, het sy dissipels hulle probeer wegstuur. Maar Jesus het gesê: “Laat die jong kinders na my toe kom; moet hulle nie probeer keer nie, want die koninkryk van God behoort aan dié wat soos hulle is. Voorwaar, ek sê vir julle: Elkeen wat die koninkryk van God nie soos ’n jong kind ontvang nie, sal hoegenaamd nie daarin ingaan nie” (Markus 10:13-15). Om Koninkrykseëninge te ontvang, moet ons soos jong kinders wees, nederig en gewillig om te leer. Jesus het sy liefde vir kinders getoon deur hulle in sy arms te neem en hulle te seën (Markus 10:16). Wat van vandag? Kinders, julle kan daarvan seker wees dat die gemeente lief is vir julle en julle nodig het.

15. Watter feite oor Jesus se lewe is in Lukas 2:40-52 opgeteken, en watter voorbeeld het hy vir jongmense gestel?

15 Jesus het reeds van jongs af sy liefde vir God en die Skrif getoon. Toe hy 12 jaar oud was, het hy en sy ouers, Josef en Maria, van hulle tuisdorp Nasaret na Jerusalem gereis om die Pasga te vier. Met die terugreis het Jesus se ouers ontdek dat hy nie onder die reisgeselskap was nie. Hulle het hom uiteindelik in een van die tempelsale gevind waar hy na die Joodse onderrigters gesit en luister het en vir hulle vrae gevra het. Verbaas dat Josef en Maria nie geweet het waar om hom te vind nie, het Jesus gevra: “Het julle nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?” Hy het saam met sy ouers teruggekeer huis toe, aan hulle onderdanig gebly en deurentyd toegeneem in wysheid en in grootte (Lukas 2:40-52). Wat ’n uitstekende voorbeeld het Jesus tog vir ons jongmense gestel! Hulle moet beslis gehoorsaam wees aan hulle ouers en daarin belangstel om van geestelike dinge te leer.—Deuteronomium 5:16; Efesiërs 6:1-3.

16. (a) Wat het die seuns uitgeroep toe Jesus by die tempel getuig het? (b) Watter voorreg het jong Christene vandag?

16 As ’n jong persoon getuig jy dalk van Jehovah by die skool en van huis tot huis saam met jou ouers (Jesaja 43:10-12; Handelinge 20:20, 21). Toe Jesus kort voor sy dood by die tempel getuig en mense gesond gemaak het, het van die seuns uitgeroep: “Red tog die Seun van Dawid!” Verontwaardig hieroor het die hoofpriesters en die skrifgeleerdes kapsie gemaak en gesê: “Hoor jy wat hulle sê?” “Ja”, het Jesus geantwoord. “Het julle nooit gelees nie: ‘Uit die mond van klein kindertjies en suigelinge het u lof berei’?” (Matteus 21:15-17). Jongmense in die gemeente, julle het net soos daardie kinders die wonderlike voorreg om God en sy Seun te loof. Ons het julle nodig en wil julle graag aan ons sy hê as Koninkryksverkondigers.

In tye van nood

17, 18. (a) Waarom het Paulus die geldinsameling ten behoewe van Christene in Judea gereël? (b) Watter uitwerking het die vrywillige bydraes vir Judese gelowiges op die Joodse en nie-Joodse Christene gehad?

17 Ongeag ons omstandighede beweeg liefde ons om mede-Christene te help wat swaarkry (Johannes 13:34, 35; Jakobus 2:14-17). Dit was liefde vir sy broers en susters in Judea wat Paulus beweeg het om die geldinsameling ten behoewe van hulle te reël onder gemeentes in Agaje, Galasië, Masedonië en die landstreek Asië. Die vervolging, burgerlike oproerigheid en hongersnood wat die dissipels in Jerusalem verduur het, was dalk die oorsaak van wat Paulus “lyding”, “verdrukkinge” en “die plundering van [hulle] besittings” genoem het (Hebreërs 10:32-34; Handelinge 11:27–12:1). Hy het dus ’n fonds gestig vir behoeftige Christene in Judea.—1 Korintiërs 16:1-3; 2 Korintiërs 8:1-4, 13-15; 9:1, 2, 7.

18 Vrywillige bydraes vir die heiliges in Judea het bewys dat daar ’n band van broederskap tussen Joodse en nie-Joodse aanbidders van Jehovah bestaan het. Deur hulle bydraes kon die nie-Joodse Christene ook hulle dankbaarheid teenoor hulle Judese medeaanbidders toon vir die geestelike skatte wat hulle van hulle ontvang het. Hulle het dus materiële sowel as geestelike gawes met mekaar gedeel (Romeine 15:26, 27). Vandag word bydraes vir behoeftige medegelowiges ook vrywillig gegee met liefde as die beweegrede (Markus 12:28-31). Ons het mekaar ook in hierdie opsig nodig sodat daar ’n gelykmaking kan plaasvind ‘en die een met min, nie te min sal hê nie’.—2 Korintiërs 8:15.

19, 20. Gee ’n voorbeeld van hoe Jehovah se knegte hulp tydens rampe voorsien.

19 Aangesien ons daarvan bewus is dat Christene mekaar nodig het, sal ons vinnig optree om ons broers en susters in die geloof te hulp te snel. Beskou byvoorbeeld wat gebeur het toe daar vroeg in 2001 verwoestende aardbewings en grondverskuiwings in El Salvador was. Een verslag het gesê: “Noodlenigingspogings is deur broers in alle dele van El Salvador onderneem. Groepe broers van Guatemala, die Verenigde State en Kanada het ons kom help. . . . Meer as 500 huise en 3 pragtige Koninkryksale is binne ’n kort tydjie gebou. ’n Groot getuienis is gegee weens die harde werk en samewerking van hierdie selfopofferende broers.”

20 ’n Verslag uit Suid-Afrika het gesê: “Die verskriklike oorstromings wat groot dele van Mosambiek geteister het, het ook baie van ons Christenbroers geraak. Die takkantoor in Mosambiek het gereël dat daar in die meeste van hulle behoeftes voorsien word. Maar hulle het gevra of ons goeie tweedehandse klere na behoeftige broers kon stuur. Ons het genoeg klere bymekaargemaak om ’n 12 meter lange vraghouer vol klere na ons broers in Mosambiek te stuur.” Ja, ook in hierdie opsigte het ons mekaar nodig.

21. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

21 Soos vroeër genoem is, is al die dele van die menseliggaam belangrik. Dieselfde geld beslis in die Christengemeente. Al die lede het mekaar nodig. Hulle moet ook aanhou om in eenheid saam te dien. Die volgende artikel sal van die faktore bespreek wat dit moontlik maak.

Hoe sal jy antwoord?

• Watter ooreenkoms is daar tussen die menseliggaam en die Christengemeente?

• Hoe het die vroeë Christene gereageer toe medegelowiges hulp nodig gehad het?

• Watter skriftuurlike voorbeelde toon dat Christene mekaar nodig het en mekaar help?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 10]

Aquila and Priscilla was besorg oor ander

[Prente op bladsy 12]

Jehovah se knegte help mekaar en ander in tye van nood