Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die stryd om ’n Bybel in moderne Grieks

Die stryd om ’n Bybel in moderne Grieks

Die stryd om ’n Bybel in moderne Grieks

Jy sal dalk verbaas wees om uit te vind dat daar in Griekeland, die land wat soms die bakermat van vrye denke genoem word, ’n lang en bitter stryd gevoer is om die Bybel in die taal van die gewone mense te vertaal. Maar wie sou die vertaling van ’n maklik verstaanbare Griekse Bybel teëstaan? Waarom sou enigiemand dit wou keer?

’N MENS sou dink dat Griekssprekende mense bevoorreg is, aangesien ’n groot deel van die Heilige Skrif oorspronklik in hulle taal geskryf is. Moderne Grieks verskil egter grootliks van die Grieks wat in die Septuagint-vertaling van die Hebreeuse Geskrifte en in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik is. Trouens, die afgelope ses eeue was Bybelse Grieks vir die meeste Griekssprekende mense net so onverstaanbaar soos ’n vreemde taal. Nuwe woorde het ouer uitdrukkings vervang, en die woordeskat, grammatika en sintaksis het verander.

’n Versameling Griekse manuskripte wat van die 3de tot die 16de eeu dateer, toon dat ’n poging aangewend is om die Septuagint in ’n latere vorm van Grieks te vertaal. In die derde eeu het Gregorius, biskop van Neosesarea (ca. 213-ca. 270 G.J.), die boek Prediker uit die Septuagint in eenvoudiger Grieks vertaal. In die 11de eeu het ’n Jood met die naam Tobias ben Eliezer van Masedonië dele van die Septuagint se Pentateug in alledaagse Grieks vertaal. Hy het selfs Hebreeuse karakters gebruik ter wille van Masedoniese Jode wat net Grieks gepraat het, maar Hebreeuse skrif gelees het. ’n Volledige Pentateug in hierdie vorm is in 1547 in Konstantinopel uitgegee.

Lig te midde van duisternis

Nadat die Griekssprekende dele van die Bisantynse Ryk in die 15de eeu deur die Ottomane verower is, het die meeste van die mense daar nie meer onderrig ontvang nie. Ondanks die groot voorregte wat die Ortodokse Kerk onder die Ottomaanse Ryk geniet het, het hulle hulle kudde verwaarloos en toegelaat dat hulle ’n arm en ongeletterde arbeidersklas word. Die Griekse skrywer Thomas Spelios het gesê: “Die allesoorheersende doelwit van die Ortodokse Kerk en sy opvoedkundige stelsel was om sy lidmate teen die invloed van Islam en Rooms-Katolieke propaganda te beskerm. Gevolglik is daar nie veel aandag aan Griekse onderrig gegee nie.” In hierdie somber atmosfeer wou liefhebbers van die Bybel die wanhopige mense van verligting en vertroosting uit die Bybelboek Psalms voorsien. Van 1543 tot 1835 was daar 18 vertalings van die Psalms in alledaagse Grieks.

Die eerste Griekse vertaling van die volledige Christelike Griekse Geskrifte is in 1630 saamgestel deur Maximus Kallipolites, ’n Griekse monnik van Kallipolis. Dit is onder die leiding en beskerming van Cyrillus Lukaris gedoen, die kerkvader van Konstantinopel en ’n sogenaamde hervormer van die Ortodokse Kerk. Lukaris het egter teenstanders in die kerk gehad, wat geen hervormingspogings sou duld of tot enige vertaling van die Bybel in die spreektaal sou instem nie. a Hy is as ’n verraaier bestempel en verwurg. Nietemin is sowat 1 500 eksemplare van die vertaling deur Maximus in 1638 gedruk. In reaksie op hierdie vertaling het ’n Ortodokse sinode in Jerusalem 34 jaar later verklaar dat die Skrif “nie sommer deur enigiemand gelees moet word nie, maar slegs deur diegene wat die diep dinge van die gees ondersoek nadat hulle gepaste navorsing gedoen het”. Dit het beteken dat die Skrif net deur opgeleide geestelikes gelees moes word.

In 1703 het Serafim, ’n Griekse monnik van die eiland Lesbos, ’n hersiening van die Maximus-vertaling in Londen probeer publiseer. Toe hy nie die beloofde finansiële hulp van die Engelse hof gekry het nie, het hy sy eie geld gebruik om die hersiening te druk. In ’n vurige voorwoord het Serafim beklemtoon hoe belangrik dit is dat “elke godvrugtige Christen” die Bybel lees, en hy het die hooggeplaaste geestelikes van die kerk daarvan beskuldig dat hulle “hulle wangedrag probeer verberg deur die mense in onkunde te hou”. Soos verwag kon word, het sy Ortodokse teenstanders hom in Rusland in hegtenis laat neem en na Siberië verban, waar hy in 1735 gesterf het.

’n Griekse geestelike wat kommentaar gelewer het oor die groot geestelike honger van die Griekssprekende mense van daardie tyd, het die volgende gesê oor ’n latere hersiening van die Maximus-vertaling: “Die Grieke het hierdie Heilige Bybel, sowel as die ander, met liefde en groot afwagting verwelkom. En hulle het dit gelees. En hulle het gevoel hoe hulle innerlike pyn verlig word, en hulle geloof in God . . . is versterk.” Maar hulle kerkleiers was bang dat die geestelikes se onskriftuurlike opvattings en dade aan die kaak gestel sou word as die mense die Bybel kon verstaan. Daarom het die patriargaat van Konstantinopel in 1823 en weer in 1836 ’n edik uitgevaardig dat alle eksemplare van hierdie Bybelvertalings verbrand moes word.

’n Moedige vertaler

Teen hierdie agtergrond van hewige teenkanting en ’n opregte begeerte na Bybelkennis, het ’n belangrike figuur op die voorgrond getree wat ’n sleutelrol sou speel in die vertaling van die Bybel in moderne Grieks. Hierdie moedige man was Neofitos Vamvas, ’n vooraanstaande taalkundige en vermaarde Bybelgeleerde, wat oor die algemeen as een van die “Onderrigters van die volk” beskou is.

Vamvas kon duidelik sien dat die Ortodokse Kerk verantwoordelik was vir die geestelike onkunde van die mense. Hy het vas geglo dat die Bybel in die gesproke Grieks van die tyd vertaal moet word sodat die mense geestelik kan ontwaak. In 1831 het hy, met die hulp van ander geleerdes, die Bybel in literêre Grieks begin vertaal. Sy volledige vertaling is in 1850 uitgegee. Aangesien die Grieks-Ortodokse Kerk hom nie wou ondersteun nie, het hy met die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG) saamgewerk om sy vertaling te publiseer en te versprei. Die kerk het hom as “’n Protestant” gebrandmerk, en kort voor lank was hy ’n verstoteling.

Vamvas se vertaling het getrou by die King James Version gebly en dieselfde tekortkominge as daardie vertaling gehad weens die beperkte Bybel- en taalkennis van die tyd. Tog was dit baie jare lank die mees moderne Griekse Bybel wat vir die mense beskikbaar was. Interessant genoeg, God se persoonlike naam kom vier keer daarin voor in die vorm “Ieová”.—Genesis 22:14; Eksodus 6:3; 17:15; Rigters 6:24.

Wat was die mense se algemene reaksie op hierdie en ander maklik verstaanbare Bybelvertalings? Dit was eenvoudig oorweldigend! In ’n boot wat naby een van die Griekse eilande vasgemeer was, is ’n kolporteur van die BBBG “oorval deur soveel bote vol kinders wat [Bybels] wou hê, dat hy verplig was . . . om die kaptein te vra om te vertrek” voordat hy sy hele voorraad op een plek uitgee! Maar die teenstanders het dit nie net daar gelaat nie.

Ortodokse priesters het die mense teen hierdie vertalings gewaarsku. In die stad Atene is daar byvoorbeeld op Bybels beslag gelê. In 1833 het die Ortodokse biskop van Kreta die “Nuwe Testamente” wat hy in ’n klooster ontdek het, laat verbrand. ’n Priester het ’n eksemplaar versteek, en in die nabygeleë dorpies het die mense hulle Bybels weggesteek totdat die biskop die eiland verlaat het.

’n Paar jaar later is Vamvas se vertaling van die Bybel op die eiland Corfu verbied deur die Heilige Sinode van die Grieks-Ortodokse Kerk. Verkope daarvan is verbied, en bestaande eksemplare is vernietig. Op die eilande Chios, Síros en Míkonos het die vyandigheid van die plaaslike geestelikes tot die verbranding van Bybels gelei. Maar verdere teenkanting teen Bybelvertaling het nog voorgelê.

’n Koningin toon belangstelling in die Bybel

Gedurende die 1870’s het koningin Olga van Griekeland besef dat die Griekse volk oor die algemeen nog steeds nie veel kennis van die Bybel gehad het nie. Omdat sy geglo het dat kennis van die Skrif die volk sou vertroos en verkwik, het sy pogings aangewend om die Bybel in ’n eenvoudiger taal as dié van die Vamvas-vertaling te laat vertaal.

Die aartsbiskop van Atene en die hoof van die Heilige Sinode, Prokopios, het die koningin nie-amptelik in hierdie projek gesteun. Toe sy by die Heilige Sinode om amptelike goedkeuring aansoek doen, is sy dit egter geweier. Sy het nietemin volgehou en ’n nuwe aansoek ingedien, maar is in 1899 ’n tweede keer afgewys. Sy het die afkeuring geïgnoreer en besluit om ’n beperkte oplaag op haar eie onkoste te publiseer. Dit is in 1900 gedoen.

Onversetlike teenstanders

In 1901 het The Acropolis, ’n vername Ateense koerant, die Evangelie van Matteus gepubliseer, wat in Demotiese Grieks vertaal is deur Alexander Pallis, ’n vertaler wat in Liverpool, Engeland, gewerk het. Dit was blykbaar Pallis en sy kollegas se doelwit om ‘die Grieke op te voed’ en “die volk te help herstel” van agteruitgang.

Ortodokse teologiestudente en hulle professors het die vertaling “’n bespotting van die volk se kosbaarste relieke” genoem, ’n skending van die Heilige Skrif. Die kerkvader Joakim III van Konstantinopel het ’n dokument uitgereik wat die vertaling afgekeur het. Die omstredenheid het ’n politieke kwessie geword, en dit is op slinkse wyse deur strydende politieke kampe gebruik.

’n Invloedryke deel van die Ateense pers het die Pallis-vertaling begin aanval en die voorstanders daarvan “ateïste”, “verraaiers” en “agente van buitelandse magte” genoem wat daarop uit was om die Griekse gemeenskap te destabiliseer. Van 5 tot 8 November 1901 het studente in Atene in oproer gekom op aanstigting van ultrakonserwatiewe elemente in die Grieks-Ortodokse Kerk. Hulle het die kantore van The Acropolis aangeval, voor die paleis betoog, die Universiteit van Atene oorgeneem en geëis dat die regering bedank. Teen die tyd dat die betogings ’n klimaks bereik het, is agt mense dood in botsings met die weermag. Die volgende dag het die koning geëis dat aartsbiskop Prokopios sy amp neerlê, en twee dae later het die hele Kabinet bedank.

’n Maand later het die studente weer betoog en ’n eksemplaar van die Pallis-vertaling in die openbaar verbrand. Hulle het ’n resolusie teen die verspreiding van hierdie vertaling ingedien en gevra dat so ’n poging in die toekoms swaar gestraf moes word. Dit het as ’n verskoning gedien om die gebruik van enige moderne Griekse vertaling van die Bybel te verbied. Gewis ’n donker oomblik!

“Die woord van Jehovah bly vir ewig”

Die verbod op die gebruik van die Bybel in moderne Grieks is in 1924 herroep. Sedertdien het die Grieks-Ortodokse Kerk ’n algehele nederlaag gely in hulle pogings om die Bybel uit die hande van mense te hou. Intussen het Jehovah se Getuies die voortou geneem met Bybelonderrig in Griekeland, soos hulle ook in baie ander lande gedoen het. Sedert 1905 het hulle die Vamvas-vertaling gebruik om duisende Griekssprekende mense te help om kennis van Bybelwaarheid op te doen.

Oor die jare het talle geleerdes en professors prysenswaardige pogings aangewend om ’n Bybel in moderne Grieks uit te gee. Vandag is daar omtrent 30 vertalings van die Bybel, in sy geheel of gedeeltelik, wat die gewone Griek kan lees en verstaan. ’n Ware juweel onder hulle is die Griekse uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif, wat in 1997 vrygestel is tot voordeel van die 16 miljoen Griekssprekende mense regoor die wêreld. In hierdie vertaling wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, word die Woord van God weergegee op ’n maklik leesbare, verstaanbare manier, en dit bly getrou by die oorspronklike teks.

Die stryd om ’n Bybel in moderne Grieks lig ’n belangrike feit toe. Dit toon duidelik dat ‘die woord van Jehovah vir ewig bly’, ten spyte van die vyandige pogings van mense.—1 Petrus 1:25.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 15 Februarie 2000, bladsye 26-9, vir meer inligting oor Cyrillus Lukaris.

[Prent op bladsy 27]

Onder leiding van Cyrillus Lukaris is die eerste Griekse vertaling van die volledige Christelike Griekse Geskrifte in 1630 saamgestel

[Erkenning]

Bib. Publ. Univ. de Genève

[Prente op bladsy 28]

Van die vertalings in die gesproke Grieks: Psalms gedruk in: (1) 1828 deur Ilarion, (2) 1832 deur Vamvas, (3) 1643 deur Julianus. “Ou Testament” gedruk in: (4) 1840 deur Vamvas

Koningin Olga

[Erkenning]

Bybels: National Library of Greece; koningin Olga: Culver Pictures

[Foto-erkenning op bladsy 26]

Papirus: Reproduced by kind permission of The Trustees of the Chester Beatty Library, Dublin

[Foto-erkenning op bladsy 29]

Papirus: Reproduced by kind permission of The Trustees of the Chester Beatty Library, Dublin