Hoe kan ons ons dae voor Jehovah laat tel?
Hoe kan ons ons dae voor Jehovah laat tel?
“Gister is twee goue ure, elk met sestig diamant-minute, êrens tussen sonsopkoms en sonsondergang verloor. Geen beloning word aangebied nie, want hulle is vir altyd weg!”—Lydia H. Sigourney, Amerikaanse skrywer (1791-1865).
DIE dae van ons lewe lyk maar min en is van korte duur. Die psalmis Dawid het oor die kortstondigheid van die lewe gepeins en is beweeg om te bid: “Maak aan my, o Jehovah, my einde bekend, en die maat van my dae—wat dit is, sodat ek kan weet hoe verganklik ek is. Kyk! U het my dae maar min gemaak; en my lewensduur is soos niks voor u.” Dawid wou graag so lewe dat hy God behaag, deur sy spraak sowel as deur sy dade. Hy het sy afhanklikheid van God soos volg uitgedruk: “My verwagting is op u gerig” (Psalm 39:4, 5, 7). Jehovah het geluister. Hy het inderdaad Dawid se bedrywighede ondersoek en hom dienooreenkomstig beloon.
Dit is maklik om elke minuut van die dag besig te wees en eenvoudig meegesleur te word deur ’n gejaagde en vol lewe. Dit kan ’n angstigheid in ons wek, veral met so baie om te doen en te ervaar en so min tyd om dit te doen. Het ons dieselfde begeerte as Dawid—dat ons ons lewe so wil lei dat ons God se goedkeuring kan wegdra? Dit ly geen twyfel nie dat Jehovah elkeen van ons waarneem en noukeurig ondersoek. Job, ’n man wat God gevrees het, het sowat 3 600 jaar gelede erken dat Jehovah sy weë gesien en al sy voetstappe getel het. Job het hierdie retoriese vraag gevra: “Wanneer hy rekenskap eis, wat kan ek hom antwoord?” (Job 31:4-6, 14). Dit is moontlik om ons dae voor God te laat tel deur geestelike prioriteite te stel, sy gebooie te gehoorsaam en ons tyd wyslik te gebruik. Kom ons beskou hierdie sake van naderby.
Stel geestelike dinge eerste
Die geïnspireerde Skrif spoor ons tereg aan om geestelike prioriteite te stel waar dit sê: ‘Maak seker van die belangriker dinge.’ Wat is hierdie belangriker dinge? Die antwoord behels “juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë” (Filippense 1:9, 10). As ons kennis van Jehovah se voorneme wil opdoen, sal ons ons tyd wyslik moet gebruik. Maar ons kan verseker wees van ’n lonende en sinvolle lewe as ons geestelike dinge eerste stel.
Die apostel Paulus herinner ons om ‘aan te hou om seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is’. Om seker te maak, beteken dat ons ons beweegredes en hartsbegeertes moet ondersoek. Die apostel sê verder: “Gaan voort om te begryp wat die wil van Jehovah is” (Efesiërs 5:10, 17). Wat is derhalwe vir Jehovah aanneemlik? ’n Bybelspreuk antwoord: “Wysheid kom eerste. Verwerf wysheid; en by alles wat jy verwerf, verwerf begrip. Ag dit hoog, en dit sal jou verhef” (Spreuke 4:7, 8). Dit maak Jehovah se hart bly as iemand Goddelike wysheid verkry en dit toepas (Spreuke 23:15). Wat hierdie wysheid so uniek maak, is die feit dat dit nie weggeneem of vernietig kan word nie. Trouens, dit beveilig en beskerm ’n mens teen “die slegte weg, [teen diegene] wat verdorwe dinge spreek”.—Spreuke 2:10-15.
Hoe wys is dit dus tog om enige neiging te weerstaan om ’n onverskillige houding teenoor geestelike sake in te neem! Ons moet waardering vir Jehovah se woorde opbou sowel as ’n heilsame vrees vir hom (Spreuke 23:17, 18). Hoewel ons so ’n geestesgesindheid op enige stadium van ons lewe kan aankweek, is dit die beste om hierdie regte patroon gedurende ons jeug te ontwikkel en Bybelbeginsels deel van ons persoonlikheid te maak. “Dink dan nou aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid”, sê wyse koning Salomo.—Prediker 12:1.
Die intiemste manier waarop ons waardering vir Jehovah kan opbou, is deur elke dag tot hom te bid. Dawid het besef hoe belangrik dit is om Jehovah in ons vertroue te neem, want hy het gepleit: “Hoor tog my gebed, o Jehovah, en luister tog na my hulpgeroep. Moenie stilbly by my trane nie” (Psalm 39:12). Raak ons intieme verhouding met God ons emosies so diep dat dit ons soms tot trane beweeg? Ja, hoe meer ons met Jehovah oor intieme sake van die hart praat en oor sy Woord peins, hoe nader kom hy aan ons.—Jakobus 4:8.
Leer gehoorsaamheid
Moses was nog ’n man van geloof wat besef het dat hy van God afhanklik is. Soos Dawid kon Moses sien dat die lewe vol probleme is. Hy het God derhalwe gesmeek om hom te toon ‘hoe om sy dae so te tel dat hy ’n wyse hart kan bekom’ (Psalm 90:10-12). ’n Mens bekom alleenlik ’n wyse hart as jy Jehovah se wette en beginsels leer ken en in ooreenstemming daarmee lewe. Moses het dit geweet en het hierdie lewensbelangrike waarheid later by die nasie Israel probeer inskerp deur God se wette en voorskrifte vir hulle te herhaal voordat hulle die Beloofde Land in besit geneem het. Enige mensekoning wat Jehovah later sou kies om oor Israel te regeer, moes vir homself ’n afskrif van die Wet maak en al die dae van sy lewe daarin lees. Waarom? Sodat hy kon leer om God te vrees. Dit sou ’n koning se gehoorsaamheid op die proef stel. Dit sou voorkom dat hy sy hart bo sy broers verhef en sou ook sy dae in sy koninkryk verleng (Deuteronomium 17:18-20). Hierdie belofte is herhaal toe Jehovah vir Dawid se seun Salomo gesê het: “As jy in my weë wandel deur my voorskrifte en my gebooie te onderhou, net soos jou vader Dawid gewandel het, dan sal ek jou dae verleng.”—1 Konings 3:10-14.
Gehoorsaamheid is vir God ’n ernstige saak. As ons sekere aspekte van Jehovah se vereistes en wette as onbelangrik afmaak, sal hy so ’n gesindheid beslis raaksien (Spreuke 15:3). Hierdie wete moet ons beweeg om al Jehovah se voorskrifte hoog te ag, al is dit dalk nie altyd maklik nie. Satan doen alles in sy vermoë om “ons weg [te] versper” terwyl ons God se wette en gebooie probeer gehoorsaam.—1 Tessalonisense 2:18.
Dit is veral belangrik om gehoor te gee aan die skriftuurlike raad om saam te vergader vir aanbidding en assosiasie (Deuteronomium 31:12, 13; Hebreërs 10:24, 25). Ons kan ons gerus afvra: ‘Het ek die nodige vasbeslotenheid en deursettingsvermoë om te doen wat werklik belangrik is?’ As ons assosiasie en onderrigting by Christelike vergaderinge verwaarloos omdat ons finansiële sekuriteit nastreef, sal dit ons verhouding met Jehovah laat verswak. Die apostel Paulus het geskryf: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge. Want [Jehovah] het gesê: ‘Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie’” (Hebreërs 13:5). Gewillige gehoorsaamheid aan Jehovah se gebooie toon ons onwrikbare vertroue in die feit dat hy vir ons sal sorg.
Jesus het gehoorsaamheid geleer en daarby baat gevind. Ons kan ook (Hebreërs 5:8). Hoe meer ons ons daarop toelê om gehoorsaam te wees, hoe makliker sal dit vir ons word, selfs in klein dingetjies. Weens ons onkreukbaarheid sal ons weliswaar onaangename en selfs slegte behandeling van ander moet verduur. Dit kan veral die geval wees by die werk, op skool of in ’n godsdienstig verdeelde huis. Maar ons put vertroosting uit die belofte aan die Israeliete dat ‘Jehovah hulle lewe en die lengte van hulle dae sal wees, as hulle hom liefhet deur na sy stem te luister en deur hom aan te kleef’ (Deuteronomium 30:20). Hierdie selfde belofte geld ook vir ons.
Gebruik tyd wyslik
Die wyse gebruik van ons tyd sal ons ook help om ons dae voor Jehovah te laat tel. In teenstelling met geld wat gespaar kan word, moet tyd gebruik word, anders gaan dit verlore. Elke uur wat verbygaan, is vir altyd weg. Aangesien daar altyd meer is om te doen as wat ons kan behartig, moet ons ons afvra of ons ons tyd só gebruik dat ons ons doelwitte in die lewe kan bereik. ’n Belangrike doelwit van alle Christene moet wees om gereeld aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk deel te neem.—Matteus 24:14; 28:19, 20.
Ons sal tyd eers wyslik gebruik as ons deeglik bewus is van die waarde daarvan. Efesiërs 5:16 spoor ons gepas aan om ‘die geleë tyd vir onsself uit te koop’, wat impliseer dat ons dit moet “koop” deur minder belangrike dinge prys te gee. Dit beteken dat ons die strewes wat ons tyd verkwis, moet verminder. As ons te veel tyd daaraan bestee om TV te kyk of op die Internet rond te snuffel, nuttelose sekulêre leesstof te lees of te veel ontspanning en vermaak probeer inpas, kan dit ons heeltemal uitput. En as ’n mens behep daarmee is om materiële besittings te verkry, kan dit die tyd in beslag neem wat nodig is om ’n wyse hart te bekom.
Voorstanders van die doeltreffende gebruik van tyd sê: “Dit is onmoontlik om jou tyd goed te benut as jy nie ’n paar spesifieke doelwitte stel nie.” Hulle gee vyf maatstawwe waarvolgens doelwitte gestel moet word: spesifiek, meetbaar, bereikbaar, realisties en met ’n sperdatum.
Een doelwit wat beslis die moeite werd is, is om ons Bybellees te verbeter. Die eerste stap is om ons doelwit spesifiek te maak—om die hele Bybel te lees. Die volgende stap is om ons doelwit meetbaar te maak. Ons kan dit doen deur boek te hou van ons vordering. Doelwitte moet ons aanspoor om ons in te span en vooruitgang te maak. Dit moet ook bereikbaar en realisties wees. Persoonlike vermoëns, vaardighede en beskikbare tyd moet in aanmerking geneem word. Sommige sal meer tyd nodig hê as ander om die doelwit te bereik. Laastens moet ons doelwit ’n sperdatum hê. As ons ’n datum vasstel waarop iets klaar moet wees, sal dit heel moontlik as verdere aansporing dien om dit te voltooi.
Alle lede van die wêreldwye Bethelgesin, wat by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies of by een van die takkantore regoor die wêreld dien, het die spesifieke doelwit om die hele Bybel tydens hulle eerste jaar by Bethel te lees. Hulle besef dat betekenisvolle Bybellees bydra tot hulle geestelike vooruitgang en ’n intiemer verhouding met Jehovah, wat hulle leer om hulleself te bevoordeel (Jesaja 48:17). Kan ons gereelde Bybellees ook ons doelwit maak?
Voordele as ons ons dae laat tel
As ons geestelike sake eerste stel, sal dit ’n magdom seëninge tot gevolg hê. Om maar een ding te noem, dit sal ons groter voldoening en ’n doel in die lewe gee. Gereelde kommunikasie met Jehovah deur hartgrondige gebed laat ons nader aan hom kom. Die blote feit dat ons bid, toon dat ons op hom vertrou. As ons elke dag die Bybel lees sowel as Bybelpublikasies wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word, toon dit ons gewilligheid om na God te luister wanneer hy met ons praat (Matteus 24:45-47). Dit help ons om ’n wyse hart te bekom sodat ons die regte besluite en keuses in die lewe kan maak.—Psalm 1:1-3.
Ons skep behae daarin om Jehovah se gebooie te gehoorsaam, want dit is nie swaar nie (1 Johannes 5:3). As ons elke dag voor Jehovah laat tel, versterk ons ons verhouding met hom. Ons word ook ’n ware geestelike steunpilaar vir mede-Christene. Dit alles maak Jehovah God se hart bly (Spreuke 27:11). En daar is geen groter beloning nie as om nou en tot in alle ewigheid Jehovah se seën te geniet!
[Prent op bladsy 21]
Christene beskou geestelike sake in ’n ernstige lig
[Prente op bladsy 22]
Gebruik jy jou tyd wyslik?
[Prent op bladsy 23]
Ons versterk ons verhouding met Jehovah as ons elke dag by hom laat tel