“Hou as herders toesig oor die kudde van God”
“Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik”
“Hou as herders toesig oor die kudde van God”
“Julle is altyd bereid om te luister en ons met woorde uit die Bybel te bemoedig.”—Pamela.
“Dankie vir alles wat julle vir ons almal doen. Dit beteken werklik baie.”—Robert.
PAMELA en Robert is beweeg om hierdie woorde van waardering aan die Christen- ouer manne in hulle onderskeie gemeentes te skryf. Regoor die wêreld is ander knegte van God ook dankbaar vir die voortdurende ondersteuning en sorg wat hulle ontvang van diegene wat “as herders toesig [hou] oor die kudde van God” (1 Petrus 5:2). Ja, Jehovah se volk is dankbaar vir alles wat die ouer manne vir hulle doen en vir die manier waarop hulle dit doen.
‘Baie om te doen’
Baie verantwoordelikhede is aan die Christen- ouer manne toevertrou (Lukas 12:48). Hulle berei toesprake voor vir gemeentelike vergaderinge en neem deel aan die openbare verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk. Hulle pligte sluit herdersbesoeke op medegelowiges in. Die ouer manne wy tyd aan dié wat spesiale aandag nodig het—die bejaardes en ander—en hulle doen dit alles sonder om die geestelike en materiële welsyn van hulle eie gesin te verwaarloos (Job 29:12-15; 1 Timoteus 3:4, 5; 5:8). Party ouer manne help om Koninkryksale te bou. Ander dien op Hospitaalskakelkomitees of is lede van Pasiëntbesoekgroepe. En baie van hulle doen vrywillige werk by byeenkomste. Ja, ouer manne het “baie . . . om in die werk van die Here te doen” (1 Korintiërs 15:58). Geen wonder nie dat sulke hardwerkende ouer manne opreg waardeer word deur diegene wat aan hulle sorg toevertrou is!—1 Tessalonisense 5:12, 13.
Ouer manne wat mede-Christene gereeld by die huis of elders besoek om hulle geestelik te versterk, is ’n bron van aanmoediging. “As ek nie die liefdevolle ondersteuning en aanmoediging van die ouer manne gehad het nie”, het Thomas gesê, wat sonder ’n vader in die huis grootgeword het, “dink ek nie ek sou vandag as ’n voltydse bedienaar van Jehovah gedien het nie.” Talle jongmense wat in ’n enkelouergesin grootgeword het, erken dat die aandag wat hulle van ouer manne ontvang het, hulle gehelp het om ’n persoonlike verhouding met God op te bou.
Herdersbesoeke word ook hoog op prys gestel deur die oues van dae in die gemeente. ’n Sendelingegpaar in hulle middeltagtigerjare het ná ’n besoek van twee ouer manne geskryf: “Ons wil graag
ons waardering uitspreek vir julle welkome besoek. Toe julle weg is, het ons weer die tekste gelees wat julle met ons bespreek het. Ons sal nooit julle bemoedigende woorde vergeet nie.” ’n Sewentigjarige weduwee het aan die ouer manne geskryf: “Ek het tot Jehovah gebid vir hulp, en hy het julle twee broers na my huis toe gestuur. Julle besoek was ’n seën van Jehovah!” Het jy onlangs baat gevind by ’n besoek van die ouer manne in julle gemeente? Ons almal waardeer ongetwyfeld hulle pogings om as herders toesig te hou oor die kudde onder hulle sorg!Herders wat God en Christus navolg
Jehovah is ’n liefdevolle Herder (Psalm 23:1-4; Jeremia 31:10; 1 Petrus 2:25). Jesus Christus is ook ’n voortreflike geestelike Herder. Trouens, hy word “die goeie herder”, “die groot herder” en “die hoofherder” genoem (Johannes 10:11; Hebreërs 13:20; 1 Petrus 5:4). Hoe het Jesus diegene behandel wat graag sy dissipels wou word? Hy het hulle hartlik uitgenooi: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik.”—Matteus 11:28.
Vandag probeer ouer manne eweneens om ’n bron van verkwikking en beskerming vir die kudde te wees. Hierdie manne is “soos ’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm . . . , soos waterstrome in ’n waterlose land, soos die skaduwee van ’n groot, swaar rots in ’n uitgeputte land” (Jesaja 32:2). Sulke liefdevolle beskermers bring verkwikking, verkry die respek van die kudde en geniet God se goedkeuring.—Filippense 2:29; 1 Timoteus 5:17.
Waardevolle ondersteuning van hulle vrouens
God se volk is dankbaar vir Christen- ouer manne en vir die liefdevolle ondersteuning wat hierdie manne van hulle vrouens ontvang. Hierdie vrouens moet dikwels opofferinge maak om hulle mans te ondersteun. Soms is hulle by die huis terwyl hulle mans na gemeentelike sake omsien of herdersbesoeke doen. By tye moet hulle dalk iets wat hulle sorgvuldig beplan het, opsy skuif omdat ’n dringende probleem in die gemeente opgeduik het. “Hoe dit ook al sy”, het Michelle gesê, “wanneer ek sien hoe besig my man met voorbereiding vir vergaderinge of herdersbesoeke is, hou ek in gedagte dat hy Jehovah se werk doen, en ek probeer hom soveel as moontlik ondersteun.”
Cheryl, wat ook met ’n ouer man getroud is, het gesê: “Ek weet dat die broers en susters in die gemeente ouer manne nodig het met wie hulle kan praat, en ek wil hê hulle moet voel dat hulle enige tyd na my man toe kan kom.” Vrouens, soos Michelle en Cheryl, wat hulle mans ondersteun, maak gewillig sulke opofferinge sodat hulle mans vir God se skape kan sorg. Die vrouens van ouer manne word waardeer vir hulle ondersteuning.
’n Besige ouer man moet nogtans nie die geestelike en ander behoeftes van sy vrou en kinders oor die hoof sien nie. ’n Getroude ouer man moet “vry van beskuldiging [wees], die man van een vrou, met gelowige kinders wat nie van losbandigheid aangekla [word] of weerspannig [is] nie” (Titus 1:6). Hy moet na sy gesin omsien op die godvrugtige wyse wat volgens die Skrif van Christenopsieners verwag word.—1 Timoteus 3:1-7.
Vir ’n besige ouer man is die ondersteuning van sy vrou van onskatbare waarde! Bedagsame getroude ouer manne sal hiermee saamstem. Die Bybel sê tereg: “Het iemand ’n goeie vrou gevind? Hy het iets goeds gevind” (Spreuke 18:22). Sulke ouer manne toon in woord en daad dat hulle hulle vrouens opreg waardeer. Hierdie Christenegpare geniet dit nie net om saam te bid en te studeer nie, maar hulle sit ook tyd opsy om ander dinge saam te doen, soos om op die strand, deur ’n woud of in ’n park te gaan stap. Ja, ouer manne put vreugde daaruit om liefdevol vir hulle vrouens te sorg.—1 Petrus 3:7.
Ouer manne wat op onselfsugtige wyse oor die kudde van God toesig hou, is ’n bron van geestelike verkwikking vir Jehovah se volk. Hulle is waarlik “gawes in die vorm van mense”, ’n seën vir die gemeente!—Efesiërs 4:8, 11-13.