Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moenie ophou om saam te vergader nie

Moenie ophou om saam te vergader nie

Moenie ophou om saam te vergader nie

“Laat ons nie ophou om saam te vergader soos party se gewoonte is nie”, sê die Skrif, “maar laat ons mekaar aanmoedig—en dit des te meer namate julle die Dag sien nader kom” (Hebreërs 10:25, New International Version). Dit is duidelik dat ware aanbidders by ’n plek van aanbidding byeen moet kom om “op mekaar ag [te] gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor”.—Hebreërs 10:24.

TOE die apostel Paulus die woorde hierbo in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling opgeteken het, het ’n indrukwekkende tempel in Jerusalem as ’n plek van aanbidding vir die Jode gedien. Daar was ook sinagoges. Jesus het “in ’n sinagoge en in die tempel geleer, waar al die Jode [bymekaargekom het]”.—Johannes 18:20.

Watter soort vergaderplekke het Paulus in gedagte gehad toe hy die Christene vermaan het om byeen te kom sodat hulle mekaar kon aanmoedig? Het die Christendom se kerkgeboue enige presedent in die tempelreëling in Jerusalem? Wanneer het verklaarde Christene enorme godsdiensgeboue begin gebruik?

‘’n Huis vir God se naam’

Die eerste instruksies oor ’n plek om God te aanbid, word in die Bybelboek Eksodus gevind. Jehovah God het sy uitverkore volk—die Israeliete—beveel om “die tabernakel”, of “die tent van samekoms”, op te rig. Die verbondsark en verskeie heilige voorwerpe moes daarin gehou word. “Jehovah se heerlikheid het die tabernakel gevul” toe dit in 1512 v.G.J. voltooi is. Daardie draagbare tent het meer as vier eeue lank die middelpunt gevorm van God se reëling om hom te nader (Eksodus, hoofstukke 25-27; 40:33-38). Die Bybel verwys ook na hierdie tent as “die tempel van Jehovah” en “die huis van Jehovah”.—1 Samuel 1:9, 24.

Later, toe Dawid koning in Jerusalem was, het hy sy innige begeerte uitgespreek om ’n permanente huis tot Jehovah se heerlikheid te bou. Maar aangesien Dawid ’n krygsman was, het Jehovah vir hom gesê: “Jy sal nie ’n huis vir my naam bou nie.” Hy het eerder Dawid se seun Salomo gekies om die tempel te bou (1 Kronieke 22:6-10). Salomo het die tempel in 1026 v.G.J. ingewy, ná ’n boutydperk van sewe en ’n half jaar. Jehovah het hierdie gebou goedgekeur en gesê: “Ek het hierdie huis wat jy gebou het, geheilig deur my naam tot onbepaalde tyd daar te vestig; en my oë en my hart sal beslis altyd daar wees” (1 Konings 9:3). Solank die Israeliete getrou gebly het, sou Jehovah se guns op daardie huis rus. Maar as hulle sou afwyk van wat reg is, sou Jehovah sy guns van daardie plek af wegneem, en ‘die huis sou puinhope word’.—1 Konings 9:4-9; 2 Kronieke 7:16, 19, 20.

Mettertyd het die Israeliete wel ware aanbidding die rug toegekeer (2 Konings 21:1-5). “Daarom het [Jehovah] die koning van die Galdeërs teen hulle laat optrek, wat . . . die huis van die ware God verbrand en die muur van Jerusalem afgebreek [het]; en al die woontorings daarvan het hulle met vuur verbrand, en ook al die begeerlike voorwerpe daarvan, om verwoesting aan te rig. Daarbenewens het hy dié wat van die swaard oorgebly het, gevange na Babilon weggevoer, en hulle het vir hom en sy seuns knegte geword.” Volgens die Bybel het dit in 607 v.G.J. gebeur.—2 Kronieke 36:15-21; Jeremia 52:12-14.

Soos die profeet Jesaja voorspel het, het God koning Kores van Persië verwek om die Jode uit die mag van Babilon te bevry (Jesaja 45:1). Ná 70 jaar in ballingskap het hulle in 537 v.G.J. na Jerusalem teruggekeer om die tempel te herbou (Esra 1:1-6; 2:1, 2; Jeremia 29:10). Ná vertragings in die bouwerk is die tempel uiteindelik in 515 v.G.J. voltooi, en die rein aanbidding van God is herstel. Hoewel dit nie so luisterryk soos Salomo se tempel was nie, het die gebou byna 600 jaar lank gestaan. Hierdie tempel het egter ook agteruitgegaan omdat die Israeliete Jehovah se aanbidding verwaarloos het. Toe Jesus Christus op die aarde verskyn het, was koning Herodes besig om die tempel stelselmatig te herbou. Wat sou met hierdie tempel gebeur?

‘Nie ’n klip sal op ’n klip gelaat word nie’

Jesus het na die tempel in Jerusalem verwys en vir sy dissipels gesê: “Hier sal hoegenaamd nie ’n klip op ’n klip gelaat word wat nie afgebreek sal word nie” (Matteus 24:1, 2). Hierdie woorde is bewaarheid toe die plek wat eeue lank as die sentrum van God se aanbidding beskou is, in 70 G.J. vernietig is deur Romeinse soldate wat gekom het om die Joodse opstand te onderdruk. a Daardie tempel is nooit herbou nie. In die sewende eeu het die Moslems ’n heiligdom, bekend as die Rotskoepel, daar opgerig, en dit staan tot vandag toe op die terrein van die voormalige Joodse plek van aanbidding.

Wat sou die reëling van aanbidding vir Jesus se volgelinge wees? Sou vroeë Christene uit ’n Joodse agtergrond voortgaan om God by die tempel te aanbid wat binnekort vernietig sou word? Waar sou nie-Joodse Christene God aanbid? Sou godsdiensgeboue van die Christendom die tempel vervang? Jesus se gesprek met ’n Samaritaanse vrou werp lig op hierdie saak.

Die Samaritane het God eeue lank by ’n groot tempel op die berg Gerisim in Samaria aanbid. “Ons voorvaders het op hierdie berg aanbid”, het die Samaritaanse vrou vir Jesus gesê, “maar julle sê die plek waar mense behoort te aanbid, is in Jerusalem.” In antwoord hierop het Jesus gesê: “Vrou, glo my: Die uur kom wanneer julle die Vader nie op hierdie berg of in Jerusalem sal aanbid nie.” ’n Letterlike tempel sou nie meer nodig wees in die aanbidding van Jehovah nie, want Jesus het verduidelik: “God is ’n Gees, en dié wat hom aanbid, moet met gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:20, 21, 24). Die apostel Paulus het later vir die Ateners gesê: “Die God wat die wêreld en alles daarin gemaak het, die Een wat Here van hemel en aarde is, woon nie in handgemaakte tempels nie.”—Handelinge 17:24.

Dit is duidelik dat daar geen verbintenis is tussen die godsdiensgeboue van die Christendom en die tempelreëling van die voor-Christelike era nie. En eerste-eeuse Christene het geen rede gehad om sulke plekke te bou nie. Maar ná die dood van die apostels het die voorspelde afvalligheid—’n afwyking van die ware leer—plaasgevind (Handelinge 20:29, 30). Jare voordat die Romeinse keiser Konstantyn in 313 G.J. skynbaar die Christelike godsdiens aangeneem het, het verklaarde Christene begin afwyk van wat Jesus geleer het.

Konstantyn het bygedra tot die samesmelting van die “Christelike godsdiens” met die heidense Romeinse godsdiens. The Encyclopædia Britannica sê: “Konstantyn self het opdrag gegee dat drie enorme Christenbasilikas in Rome gebou word: Sint Pieterskerk, S. Paolo Fuori le Mura en S. Giovanni in Laterano. Hy . . . het die kruisvormige plan ontwerp wat die standaard geword het waarvolgens kerke in westelike Europa regdeur die Middeleeue gebou is.” Die herboude Sint Pietersbasilika in Rome word nog steeds as die sentrum van die Rooms-Katolieke Kerk beskou.

“Die Kerk het van die godsdiensgebruike en -vorme aangeneem wat algemeen in voor-Christelike [heidense] Rome was”, sê die geskiedskrywer Will Durant. Dit het “die argitektuur van die basilika” ingesluit. Van die 10de tot die 15de eeu is ’n aansienlike aantal kerke en katedrale gebou, met groot klem op die argitektuur. Dit was toe dat baie van die kerke van die Christendom wat nou as kunsryke monumente beskou word, gebou is.

Word mense altyd geestelik verkwik en aangemoedig wanneer hulle in ’n kerk aanbid? “Vir my het die kerk later alles verteenwoordig wat vervelig en vermoeiend in godsdiens is”, sê Francisco van Brasilië. “Die mis was ’n sinlose, eentonige seremonie wat glad nie my ware behoeftes bevredig het nie. Ek was verlig wanneer dit verby was.” Ware aanbidders word nietemin beveel om saam te vergader. Watter reëling vir vergaderinge moet hulle volg?

“Die gemeente wat in hulle huis is”

Die patroon waarvolgens Christene moet vergader, kan duidelik gesien word uit die manier waarop eerste-eeuse gelowiges bymekaargekom het. Die Skrif toon dat hulle gewoonlik in die huise van medegelowiges byeengekom het. Die apostel Paulus het byvoorbeeld geskryf: “Dra my groete oor aan Prisca en Aquila, my medewerkers in Christus Jesus, . . . en groet die gemeente wat in hulle huis is” (Romeine 16:3, 5; Kolossense 4:15; Filemon 2). Die Griekse woord vir “gemeente” (ek·kle·siʹa) word in sommige Engelse vertalings weergegee as “kerk”, soos in die King James Version. Maar die term verwys na ’n groep mense wat vir ’n gemeenskaplike doel saam vergader, en nie na ’n gebou nie (Handelinge 8:1; 13:1). Aanbidding wat deur ware Christene beoefen word, vereis nie indrukwekkende godsdiensgeboue nie.

Hoe is die vergaderinge in vroeë Christengemeentes gehou? Die dissipel Jakobus gebruik ’n vorm van die Griekse woord sy·na·go·geʹ om na ’n Christelike vergadering te verwys (Jakobus 2:2, voetnoot in NW). Hierdie Griekse woord beteken “om saam te bring” en word uitruilbaar met ek·kle·siʹa gebruik. Mettertyd het die term “sinagoge” egter die betekenis aangeneem van die plek of gebou waar die byeenkoms gehou is. Die eerste Joodse Christene was bekend met wat by ’n sinagoge plaasvind. b

Hoewel die Jode by die tempel in Jerusalem bymekaargekom het vir hulle jaarlikse feeste, was die sinagoges plekke in hulle eie omgewing waar hulle van Jehovah kon leer en in die Wet onderrig kon word. Die samekomste by sinagoges het blykbaar uit gebed en Skriflesing bestaan, asook verduidelikings en vermanings. Toe Paulus en ander saam met hom in ’n sinagoge in Antiogië ingegaan het, het “die presiderende beamptes van die sinagoge na hulle gestuur en gesê: ‘Manne, broers, as julle enige woord van aanmoediging vir die volk het, spreek dit dan’” (Handelinge 13:15). Toe die eerste Joodse Christene in die huise van medegelowiges bymekaargekom het, het hulle ongetwyfeld ’n soortgelyke patroon gevolg, sodat hulle vergaderinge onderrigting uit die Skrif ingesluit het en geestelik opbouend was.

Gemeentes vir opbouing

Soos die vroeë Christene vergader Jehovah se Getuies vandag in eenvoudige plekke van aanbidding om uit die Bybel onderrig te word en heilsame assosiasie te geniet. Jare lank het hulle net in huise bymekaargekom en op party plekke doen hulle dit nog steeds. Maar die aantal gemeentes het nou tot meer as 90 000 toegeneem, en hulle vernaamste vergaderplekke word Koninkryksale genoem. Dit is nie swierige geboue nie en lyk ook nie soos kerke nie. Dit is praktiese en beskeie geboue waar gemeentes van 100 tot 200 mense vir weeklikse vergaderinge bymekaar kan kom om te luister en te leer wat God se Woord sê.

Die meeste gemeentes van Jehovah se Getuies vergader drie keer per week. Een van die vergaderinge is ’n openbare toespraak wat handel oor ’n onderwerp waarin mense vandag belangstel. Dit word gevolg deur ’n studie oor ’n Bybeltema of -profesie uit Die Wagtoring. ’n Ander vergadering is ’n skool wat persone oplei om die Bybelboodskap oor te dra. Daarna volg ’n vergadering wat daarop toegespits is om praktiese wenke vir die Christelike bediening te gee. Een keer per week kom Getuies ook in kleiner groepe in huise bymekaar vir Bybelstudie. Die publiek is welkom om enige van hierdie vergaderinge by te woon. Geen kollektes word geneem nie.

Francisco, wat vroeër gemeld is, het die vergaderinge by die Koninkryksaal baie nuttig gevind. Hy sê: “Die eerste vergaderplek wat ek besoek het, was ’n gebou in die middestad wat gerieflik ingerig was, en dit het ’n gunstige indruk op my gemaak. Die mense wat daar was, was vriendelik, en ek kon die liefde onder hulle aanvoel. Ek kon nie wag om terug te gaan nie. Om die waarheid te sê, ek het sedertdien nog nie van ’n vergadering af weggebly nie. Hierdie Christelike vergaderinge is baie interessant, en hulle voorsien in my geestelike behoefte. Selfs as ek om die een of ander rede mismoedig voel, gaan ek na die Koninkryksaal toe, want ek weet dat ek bemoedig huis toe sal kom.”

Bybelonderrig, opbouende assosiasie en die geleentheid om God te loof, is van die dinge wat jy by die Christelike vergaderinge van Jehovah se Getuies sal vind. Ons nooi jou hartlik uit om die Koninkryksaal naaste aan jou te besoek. Jy sal bly wees dat jy dit gedoen het.

[Voetnote]

a Die Romeine het die tempel heeltemal afgebreek. Die Klaagmuur, waarheen baie Jode van heinde en ver kom om te bid, is nie deel van daardie tempel nie. Dit is net ’n deel van die tempelvoorhof se muur.

b Sinagoges het heel waarskynlik in aansyn gekom gedurende die 70 jaar van Babiloniese ballingskap toe daar nie ’n tempel was nie of kort ná die Jode se terugkeer uit ballingskap terwyl die tempel herbou is. Teen die eerste eeu het elke dorp in Palestina sy eie sinagoge gehad, en die groter stede het meer as een gehad.

[Prente op bladsy 5, 4]

Eers het die tabernakel en later die tempels as sentrums van Jehovah se aanbidding gedien

[Prent op bladsy 6]

Die Sint Pietersbasilika in Rome

[Prent op bladsy 7]

Die vroeë Christene het in huise vergader

[Prent op bladsy 8, 9]

Jehovah se Getuies hou Christelike vergaderinge in huise en by Koninkryksale