Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Plekke van aanbidding—Het ons dit nodig?

Plekke van aanbidding—Het ons dit nodig?

Plekke van aanbidding—Het ons dit nodig?

‘In die voorhof en die strate rondom die basilika was daar duisende pelgrims in kleurvolle drag uit verskillende dele van die land, groepe Indiane wat danse, skynbaar uit ’n voor-Spaanse era, op die maat van tromme uitvoer en gelowiges wat pyn verduur terwyl hulle op hulle knieë deur die menigtes na die heiligdom beweeg.’

DIT is hoe die koerant El Economista die groot getalle mense beskryf het wat in Desember 2001 byeengekom het. By daardie geleentheid het ongeveer driemiljoen mense die basilika in Mexikostad besoek om hulle geloof in die Maagd van Guadalupe te toon. Ander godsdiensgeboue, soos die Sint Pietersbasilika in Rome, lok ook duisende besoekers.

Godsdiensgeboue het ’n spesiale plek in die harte van baie mense wat God graag wil aanbid. “Vir my was die kerk ’n plek waar ek na aan God kon wees”, sê Maria van Brasilië. “Dit was ’n heilige plek. Ek het geglo dat my siel gereinig word as ek kerk toe gaan en dat dit ’n sonde is om nie elke Sondag die mis by te woon en te bieg nie.” Consuelo van Mexiko sê: “Die kerk het iets diep binne-in my geroer; ek het groot waarde daaraan geheg. Terwyl ek daar was, het ek gevoel of ek in die hemel is.”

Hoewel kerke vir party mense baie belangrik is, twyfel ander of sulke plekke van aanbidding werklik nodig is. Peter Sibert, ’n Katolieke priester in Engeland, sê oor die swak kerkbywoning: “[Mense] kies die deeltjies van godsdiens waarvan hulle hou. Daar is baie ouer mense wat Katolieke is, en hulle leef hulle geloof uit—maar jonger mense het nie daardie toegewydheid nie.” Londen se Daily Telegraph van 20 November 1998 het gesê: “Sedert 1979 is daar sowat 1 500 kerke in Engeland gesluit in vergelyking met die 495 kerke wat geopen is en die 150 wat herbou is.”

In 1997 het die koerant Süddeutsche Zeitung van München, Duitsland, berig: “Kerke word in bioskope en woonstelle omskep: Gelowiges bly weg, plekke van aanbidding word vir iets anders gebruik. . . . Wat reeds algemeen in Nederland of in Engeland geword het, word nou in Duitsland gedoen.” Dit het bygevoeg: “In die laaste paar jaar was daar sowat 30 of 40 opspraakwekkende gevalle van kerke wat in Duitsland verkoop is.”

Is godsdiensgeboue werklik nodig om God te aanbid? Het die gebruik van basilikas en indrukwekkende kerke ’n presedent in die Skrif? Watter soort geboue is met die aanbidding van die ware en lewende God geassosieer? Wat leer dit ons oor die belangrikheid van plekke van aanbidding en wat daar moet plaasvind?