Pogings wat hoë sedelike standaarde bevorder
Pogings wat hoë sedelike standaarde bevorder
Teen die einde van 2001 het mense wat na Radio Mosambiek se nasionale uitsending geluister het, hierdie aankondiging gehoor:
“Die president van die Republiek het die takkantoor van Jehovah se Getuies in Maputo besoek. Hy het hierdie godsdiensorganisasie aangemoedig om hulle pogings te verskerp om hoë sedelike standaarde onder gesinne te bevorder en om volwassenes deur middel van hulle lees-en-skryf-programme te onderrig. Omtrent 10 000 het reeds by hierdie programme baat gevind. Volgens president Chissano is sulke programme prysenswaardig, aangesien dit ’n waardevolle bydrae in die gemeenskap lewer om die opvoedkundige probleme op te los waarmee hierdie land nog steeds te kampe het.”
Die aankondiging het ook die volgende uittreksel uit die president se toespraak ingesluit: “Dit is vir ons ’n riem onder die hart om te sien hoeveel mense in geletterdheid belangstel. Dit toon vir ons dat gewone burgers ons gaan help om hierdie lae geletterdheidsyfer te verbeter. Daarom wil ek Jehovah se Getuies graag aanspoor om voort te gaan met hulle lees-en-skryf-programme, ongeag in watter taal. Wat werklik belangrik is, is dat mense geletterd is en makliker kan kommunikeer en in die toekoms meer betrokke kan wees by opvoeding.”
Jehovah se Getuies in Mosambiek hou lees-en-skryf-klasse op 850 plekke in die hele land sodat mense God se Woord self kan lees. Boonop hou hulle elke week omtrent 50 000 gratis tuisbybelstudies. Dit alles is deel van ’n wêreldwye Bybelonderrigprogram in 235 lande (Matteus 24:14). Jy kan ook by hierdie program baat vind. Kom gerus in aanraking met Jehovah se Getuies in jou omgewing.