Vrae van lesers
Vrae van lesers
Is geloftes aan God altyd bindend?
In die Bybel is ’n gelofte ’n plegtige belofte teenoor God om iets te doen, ’n offer te bring, ’n diens te betree of ’n rol aan te neem of om jou te onthou van sekere dinge wat nie op sigself ongeoorloof is nie. Die Bybel bevat voorbeelde van voorwaardelike geloftes waar die persoon plegtig belowe het om ’n sekere weg te volg as God eers iets sou doen. Hanna, die moeder van die profeet Samuel, het byvoorbeeld “’n gelofte gedoen en gesê: ‘O Jehovah van die leërs, as . . . u u slavin nie sal vergeet nie en aan u slavin ’n manlike nakomeling sal gee, sal ek hom aan Jehovah gee al die dae van sy lewe, en geen skeermes sal op sy kop kom nie’” (1 Samuel 1:11). Die Bybel sê ook dat geloftes vrywillig afgelê word. Hoe bindend is geloftes aan God?
“Wanneer jy ’n gelofte aan God doen”, sê koning Salomo van eertydse Israel, “moet jy nie aarsel om dit te betaal nie.” Hy voeg by: “Wat jy plegtig belowe, moet jy betaal. Dit is beter dat jy nie plegtig belowe nie as dat jy plegtig belowe en nie betaal nie” (Prediker 5:4, 5). Die Wet wat deur Moses aan Israel gegee is, sê: “As jy aan Jehovah jou God ’n gelofte doen, moet jy nie traag wees om dit te betaal nie, want Jehovah jou God sal dit vir seker van jou eis, en dit sal inderdaad ’n sonde vir jou word” (Deuteronomium 23:21). ’n Gelofte aan God is dus ongetwyfeld ’n ernstige saak. Dit moet om ’n goeie rede gedoen word, en die een wat dit aflê, moet geensins twyfel dat hy sal kan betaal wat hy in die gelofte belowe nie. Andersins is dit beter dat hy nie die gelofte doen nie. Maar is alle geloftes wat reeds afgelê is, bindend?
Gestel ’n gelofte vereis dat iemand iets doen wat hy later uitvind teen God se wil is. Sê nou dit is ’n gelofte wat onsedelikheid op die een of ander manier met ware aanbidding sal verbind? (Deuteronomium 23:18). So ’n gelofte is natuurlik nie bindend nie. Onder die Mosaïese Wet kon ’n gelofte wat deur ’n vrou afgelê is, byvoorbeeld deur haar vader of haar man nietig verklaar word.—Numeri 30:3-15.
Dink ook aan die geval van iemand wat ’n gelofte aan God gedoen het om ongetroud te bly, maar hom nou in ’n dilemma bevind. Sy gelofte het hom moontlik in ’n posisie geplaas wat hom laat voel dat hy die gevaar loop om God se sedelike standaarde te verbreek as hy sy gelofte sou hou. Moet hy nog steeds probeer om sy gelofte na te kom? Sou dit nie vir hom beter wees om homself te beskerm teen die gevaar van onsedelikheid deur sy gelofte te breek en hom dan eerder op God se barmhartigheid te beroep en om vergifnis te smeek nie? Slegs hý kan oor die saak besluit. Geen ander mens kan die besluit vir hom maak nie.
Sê nou iemand doen ’n gelofte en besef later dat hy oorhaastig was? Moet hy die gelofte nog steeds probeer hou? Dit was nie maklik vir Jefta om sy gelofte aan God na te kom nie, maar hy het dit pligsgetrou gedoen (Rigters 11:30-40). As iemand versuim om ’n gelofte te betaal, kan dit daartoe lei dat God “verontwaardig” raak en afbreek wat die individu opgebou het (Prediker 5:6). ’n Mens kan God se guns verloor as jy die nakoming van ’n gelofte ligtelik opneem.
Jesus Christus het gesê: “Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken, julle Nee, Nee; want wat meer as dit is, is uit die bose” (Matteus 5:37). Dit moet vir ’n Christen belangrik wees om nie net sy geloftes aan God te betaal nie, maar om ook in al sy woorde—teenoor God en teenoor mense—betroubaar te wees. Gestel hy bevind hom in die dilemma dat hy ’n ooreenkoms aangegaan het wat aanvanklik goed gelyk het, maar by nadere ondersoek eintlik dwaas lyk. Hy moet hierdie saak nie ligtelik opneem nie. As hy die saak ernstig met die ander persoon bespreek, besluit dié dalk om hom van die verpligting vry te stel.—Psalm 15:4; Spreuke 6:2, 3.
Waaroor moet ons hoofsaaklik besorg wees wanneer dit kom by geloftes en alle ander dinge? Om altyd ’n goeie verhouding met Jehovah God te handhaaf.
[Prente op bladsy 30, 31]
Hanna het nie gehuiwer om haar gelofte na te kom nie
[Prente op bladsy 30, 31]
Al was dit vir Jefta moeilik, het hy sy gelofte betaal