Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Aan die kaptein se tafel

Aan die kaptein se tafel

Aan die kaptein se tafel

INTERESSANTE mense, heerlike kos en aangename geselskap maak ’n maaltyd aan die skeepskaptein se tafel ’n genot. Maar ’n bespreking aan die tafel van kaptein Robert G. Smith, van die White Star Line, het lig gewerp op ’n geestelike feesmaal.—Jesaja 25:6.

In 1894, op 24-jarige ouderdom, het Robert die bevel oor die seilskip Kinclune of Dundee oorgeneem en op sy eerste wêreldreis vertrek. Later was hy kaptein op White Star-skepe, soos die Cedric, die Cevic en die Runic. a Terwyl hy op een van hierdie skepe oor die Atlantiese Oseaan van New York na Liverpool, Engeland, gevaar het, was een van Robert se gaste aan die kaptein se tafel Charles Taze Russell. Die gesprek met Russell het Robert se belangstelling in die Bybel se boodskap gewek, en hy het met graagte eksemplare van Studies in the Scriptures by Russell geneem sodat hy meer kon leer.

Russell het gereeld briewe aan Robert geskryf, en gevolglik het sy belangstelling in die Bybel se boodskap toegeneem. Robert het sy vrou vertel van die nuwe dinge wat hy geleer het. Weldra het hulle albei bedrywige Bybelstudente geword, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Robert het later die voorreg geniet om Bybeltoesprake te hou. In Brisbane, Australië, het hy byvoorbeeld oor “Die balsem van Gilead” gepraat en getoon dat God se Woord ’n boodskap bevat wat ’n “teenmiddel vir al die weë op aarde” is. In Engeland het sy vrou en jong kinders gehelp om die “Fotodrama van die Skepping” aan te bied, deur die opnames van Russell se kommentaar te speel terwyl die skyfies vertoon is.

Robert het die erfenis van Koninkrykswaarheid wat hy ontvang het, aan sy kinders oorgedra. Vandag, vyf geslagte later, is 18 van sy familielede ywerig besig om die goeie nuus aan ander te verkondig, dankbaar vir wat daardie dag aan die kaptein se tafel gebeur het.

Deur middel van hulle publikasies en hulle Bybelonderrigtingswerk help Jehovah se Getuies mense regoor die wêreld om die Bybel se boodskap, wat kaptein Smith beïndruk het, te hoor. Jy kan ook uitvind wat so interessant was aan die kaptein se tafel.

[Voetnoot]

a ’n Susterskip, die Titanic, was op sy rampspoedige nooiensvaart onder bevel van kaptein E. J. Smith (nie ’n familielid nie).

[Prent op bladsy 8]

Robert G. Smith

[Prent op bladsy 8]

Charles T. Russell