Die beste tyd om te lewe
Die beste tyd om te lewe
VERLANG jy terug na “die goeie ou dae” wanneer jy voor moeilike omstandighede te staan kom? Dink dan aan die woorde van die wyse koning Salomo: “Moenie sê: ‘Waarom was die vroeëre dae beter as hierdie dae?’ nie, want dit is nie uit wysheid dat jy hieroor gevra het nie.”—Prediker 7:10.
Waarom het Salomo hierdie raad gegee? Omdat hy geweet het dat ’n realistiese beskouing van die verlede grootliks kan help om die onaangename situasies van vandag die hoof te bied. Mense wat verlang na “die goeie ou dae”, vergeet dalk dat daardie dae ook vol probleme en moeilikhede was en dat die lewe nooit werklik ideaal was nie. Sekere dinge in die verlede was dalk beter, maar ander dinge was heel waarskynlik nie. Soos Salomo gesê het, is dit glad nie wys of realisties om in die verlede te lewe nie, aangesien dit onmoontlik is om die horlosie terug te draai.
Kan dit skadelik wees om nostalgies terug te dink aan die verlede? Ja dit kan, as dit veroorsaak dat ons onbuigsaam is en nie by die hede kan aanpas nie of as dit voorkom dat ons waardering toon vir die tye waarin ons lewe en die hoop wat ons kan hê.
Eintlik is dit nou die beste tyd om te lewe, ten spyte van toenemende wêreldprobleme. Waarom? Omdat ons die vervulling nader van God se voorneme met ons aarde en die seëninge van die vreedsame heerskappy van sy Koninkryk. Die Bybel belowe: “Hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Dan sal toestande soveel beter wees dat niemand meer rede sal hê om na “die goeie ou dae” terug te verlang nie.