Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geniet persoonlike studie van God se Woord

Geniet persoonlike studie van God se Woord

Geniet persoonlike studie van God se Woord

“Ek sal beslis oor al u dade peins, en u handelinge sal ek oordink.”—PSALM 77:12.

1, 2. (a) Waarom moet ons tyd opsy sit om te peins? (b) Wat beteken dit om te “peins”?

 AS DISSIPELS van Jesus Christus moet ons verhouding met God en die redes waarom ons Hom dien, vir ons van groot belang wees. Maar vandag lei die meeste mense sulke gejaagde lewens dat hulle geen tyd vir bepeinsing het nie. Hulle hele lewe word in beslag geneem deur die dolle gejaag na materiële dinge, die drang om te koop en die sinlose najaging van plesier. Hoe kan ons sulke nuttelose strewes vermy? Net soos ons elke dag spesifieke tye opsy sit vir noodsaaklike bedrywighede, soos om te eet en te slaap, moet ons ook elke dag tyd inruim om oor Jehovah se dade en handelinge te peins.—Deuteronomium 8:3; Matteus 4:4.

2 Neem jy ooit tyd om te peins? Wat beteken dit om te peins? ’n Woordeboek definieer die woord as “die gedagtes op iets toespits: om na te dink of te oordink”. Dit beteken ook “om veral stil, ernstig en diep na te dink of te oorweeg”. Wat beteken dit vir ons?

3. Waarmee hou geestelike vooruitgang direk verband?

3 Om maar een ding te noem, dit moet ons herinner aan wat die apostel Paulus aan sy medekneg Timoteus geskryf het: “Totdat ek kom, moet jy voortgaan om jou toe te lê op openbare voorlesing, op vermaning, op onderrigting. . . . Peins oor hierdie dinge; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.” Ja, vooruitgang is nodig, en Paulus se woorde het getoon dat daar ’n direkte verband tussen bepeinsing oor geestelike sake en vooruitgang is. Dieselfde geld vandag. As ons die voldoening van geestelike vooruitgang wil smaak, moet ons nog steeds “peins oor” en ‘verdiep wees in’ die dinge van God se Woord.—1 Timoteus 4:13-15.

4. Van watter voorsienings kan jy gebruik maak om gereeld oor Jehovah se Woord te peins?

4 Die beste tyd vir bepeinsing hang van jou en jou gesin se roetine af. Baie peins vroeg in die oggend oor ’n Bybelteks wanneer hulle uit die boekie Ondersoek die Skrif elke dag lees. Trouens, sowat 20 000 vrywilligers in Bethelhuise regoor die wêreld begin hulle dag met ’n 15 minute lange bespreking van die Bybelteks vir die dag. Hoewel net ’n paar in die Bethelgesin elke oggend kommentaar lewer, peins die res oor wat gesê en gelees word. Ander Getuies peins op pad werk toe oor Jehovah se Woord. Hulle luister na die oudiokassette van die Bybel en Die Wagtoring en Ontwaak! wat in party tale beskikbaar is. Baie huisvrouens doen dit terwyl hulle in die huis besig is. Hulle volg in werklikheid die voorbeeld van die psalmis Asaf wat geskryf het: “Ek sal aan die handelinge van Jah dink; want ek sal aan u wonderdade van lank gelede dink. En ek sal beslis oor al u dade peins, en u handelinge sal ek oordink.”—Psalm 77:11, 12.

Die regte gesindheid bring positiewe resultate mee

5. Waarom moet persoonlike studie vir ons belangrik wees?

5 In ons moderne eeu van TV, video’s en rekenaars het die gewoonte om te lees, ’n ernstige, of dalk permanente, knou gekry. Dit moet beslis nie die geval onder Jehovah se Getuies wees nie. Bybellees is immers soos ’n lewenslyn wat ons met Jehovah verbind. Duisende jare gelede het Josua Moses as die leier van Israel opgevolg. Om Jehovah se seën te verkry, moes Josua self God se Woord lees (Josua 1:8; Psalm 1:1, 2). Dit is vandag nog steeds ’n vereiste. Maar weens beperkte opvoeding is dit dalk vir party moeilik om te lees of verg dit baie inspanning. Wat kan ons dus help om die begeerte te ontwikkel om God se Woord te lees en te bestudeer? Die antwoord kan gevind word in koning Salomo se woorde in Spreuke 2:1-6. Maak asseblief jou Bybel daar oop en lees hierdie verse. Dan sal ons dit bespreek.

6. Watter gesindheid moet ons teenoor kennis van God hê?

6 In die eerste verse vind ons hierdie aansporing: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie as ’n skat by jou bewaar, sodat jy met jou oor aandag kan skenk aan wysheid, sodat jy jou hart kan neig tot onderskeidingsvermoë; . . . ” (Spreuke 2:1, 2). Wat leer ons uit hierdie woorde? Dat die verantwoordelikheid op ons as individue rus. Let op die veronderstelling: “As jy my woorde aanneem.” Dit is ’n groot “as”, want die meeste mense skenk geen aandag aan God se Woord nie. Om vreugde uit ’n studie van God se Woord te put, moet ons gewillig wees om Jehovah se woorde aan te neem en dit soos ’n skat beskou wat ons nie wil verloor nie. Ons moet nooit toelaat dat ons daaglikse roetine soveel van ons tyd en aandag in beslag neem dat ons ’n onverskillige houding teenoor God se Woord begin inneem, of selfs daaraan twyfel nie.—Romeine 3:3, 4.

7. Waarom moet ons ons bes doen om Christelike vergaderinge by te woon en aandag te skenk?

7 “Skenk” ons werklik “aandag” en luister ons aandagtig wanneer God se Woord tydens ons Christelike vergaderinge verduidelik word? (Efesiërs 4:20, 21). ‘Neig ons ons hart’ om onderskeidingsvermoë te verkry? Dalk is die spreker nie so bekwaam nie, maar terwyl hy die Woord van God hanteer, verdien hy ons onverdeelde aandag. Om aandag te skenk aan Jehovah se wysheid, moet ons natuurlik ons bes doen om al die Christelike vergaderinge by te woon (Spreuke 18:1). Stel jou voor hoe teleurgesteld iemand sou gewees het as hy nie op Pinkster 33 G.J. by die vergadering in die bovertrek in Jerusalem was nie! Al is ons vergaderinge nie so opwindend soos daardie een nie, word die Bybel, ons vernaamste handboek, bespreek. Elke vergadering kan dus vir ons ’n seën wees as ons aandag skenk en in ons Bybel volg.—Handelinge 2:1-4; Hebreërs 10:24, 25.

8, 9. (a) Wat vereis persoonlike studie van ons? (b) Hoe sou jy die waarde van goud vergelyk met ’n begrip van die kennis van God?

8 Die wyse koning se volgende woorde is: “As jy bowendien na begrip roep en na onderskeidingsvermoë jou stem verhef, . . . ” (Spreuke 2:3). Watter gesindheid of gees dra hierdie woorde aan ons oor? ’n Opregte begeerte om Jehovah se Woord te verstaan! Dit impliseer ’n gewilligheid om te studeer met die doel om onderskeidingsvermoë te verkry, om te begryp wat Jehovah se wil is. Dit vereis natuurlik inspanning, en dit bring ons by Salomo se volgende woorde en illustrasie.—Efesiërs 5:15-17.

9 Hy sê verder: “As jy daarna [na begrip] bly soek soos na silwer en dit bly naspeur soos verborge skatte, . . . ” (Spreuke 2:4). Dit laat ons dink aan die mynbedrywighede van mense wat deur die eeue heen na die sogenaamde edelmetale silwer en goud gesoek het. Mense het moord gepleeg vir goud. Ander het dit hulle hele lewe lank in die hande probeer kry. Maar watter waarde het goud werklik? As jy in ’n woestyn verdwaal het en van dors gaan omkom, wat sou jy verkies: ’n goudstaaf of ’n glas water? En tog het mense met groot ywer na goud gesoek, al het dit ’n kunsmatige en onbestendige waarde! a Hoeveel groter ywer moet ons dan nie aan die dag lê in ons soeke na wysheid, onderskeidingsvermoë en ’n begrip van God en sy wil nie! Maar watter voordele hou dit in om na hierdie dinge te soek?—Psalm 19:7-10; Spreuke 3:13-18.

10. Wat kan ons vind as ons God se Woord bestudeer?

10 Salomo se bespreking gaan verder: “Dan sal jy die vrees van Jehovah verstaan, en jy sal die kennis van God vind” (Spreuke 2:5). Wat ’n verstommende gedagte—dat ons as sondige mense “die kennis van God”, Jehovah, die Soewereine Heer van die heelal, kan vind! (Psalm 73:28; Handelinge 4:24). Die filosowe en sogenaamde wyse manne van die wêreld probeer al eeue lank die geheime van die lewe en die heelal verstaan. Maar hulle kon nie “die kennis van God” vind nie. Waarom nie? Hoewel dit al duisende jare in God se Woord, die Bybel, beskikbaar is, verwerp hulle dit as te eenvoudig, en daarom aanvaar en verstaan hulle dit nie.—1 Korintiërs 1:18-21.

11. Wat is party voordele van persoonlike studie?

11 Salomo gee nou ’n verdere aansporing: “Jehovah gee wysheid; uit sy mond kom kennis en onderskeidingsvermoë” (Spreuke 2:6). Jehovah gee wysheid, kennis en onderskeidingsvermoë vryelik en mildelik aan enigeen wat bereid is om daarna te soek. Ons het sekerlik alle rede om waarde aan persoonlike studie van God se Woord te heg, al verg dit inspanning, dissipline en opoffering. Ten minste het ons gedrukte eksemplare van die Bybel en hoef ons nie handgeskrewe afskrifte te maak soos party in die ou tyd moes doen nie!—Deuteronomium 17:18, 19.

Wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is

12. Met watter beweegrede wil ons kennis van God inneem?

12 Met watter beweegrede moet ons persoonlike studie doen? Om beter as ander voor te kom? Om te spog met ons kennis? Om as ’t ware wandelende Bybelensiklopedieë te word? Nee. Ons doel is om in woord en daad ware Christene te wees wat altyd gereed is om ander te help, met die verkwikkende gees van Christus (Matteus 11:28-30). Die apostel Paulus het gewaarsku: “Kennis maak opgeblase, maar liefde bou op” (1 Korintiërs 8:1). Ons moet dus die nederige gesindheid van Moses openbaar toe hy vir Jehovah gesê het: “Maak . . . asseblief u weë aan my bekend, dat ek u kan ken, sodat ek guns in u oë kan vind” (Eksodus 33:13). Ja, ons wil graag kennis inneem om God te behaag, nie om mense te beïndruk nie. Ons wil waardige, nederige knegte van God wees. Hoe kan ons hierdie doelwit bereik?

13. Wat is nodig om ’n waardige kneg van God te word?

13 Paulus het Timoteus hierdie raad gegee oor hoe hy God kan behaag: “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer” (2 Timoteus 2:15). Die uitdrukking “reg hanteer” kom van ’n saamgestelde Griekse werkwoord wat oorspronklik ‘om reguit te sny’ beteken het (Kingdom Interlinear). Volgens party dra dit die gedagte oor van ’n kleremaker wat materiaal volgens ’n patroon uitsny of van ’n boer wat vore in ’n land ploeg, ensovoorts. Hoe dit ook al sy, die eindresultaat moet getrou, of reguit, wees. Die punt is: om ’n waardige en goedgekeurde kneg van God te wees, moes Timoteus ‘sy uiterste bes doen’ om te verseker dat sy onderrigting en sy gedrag in ooreenstemming met die woord van waarheid is.—1 Timoteus 4:16.

14. Watter invloed moet persoonlike studie hê op wat ons doen en sê?

14 Paulus het dieselfde punt beklemtoon toe hy mede-Christene in Kolosse aangespoor het om te “wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag” deur “vrug te dra in elke goeie werk en toe te neem in die juiste kennis van God” (Kolossense 1:10). Hier verbind Paulus die gedagte om Jehovah waardig te wees, met die aansporing om “vrug te dra in elke goeie werk” sowel as om “toe te neem in die juiste kennis van God”. Met ander woorde, dit is nie net vir Jehovah belangrik dat ons kennis kosbaar ag nie, maar ook dat ons getrou by God se Woord bly in wat ons doen en sê (Romeine 2:21, 22). Dit beteken dat ons persoonlike studie ’n invloed op ons denke en ons gedrag moet hê as ons God wil behaag.

15. Hoe kan ons ons verstand en denke beskerm en beheer?

15 Vandag is Satan daarop uit om ons geestelikheid te vernietig deur ’n stryd in ons verstand te bevorder (Romeine 7:14-25). Daarom moet ons ons verstand en denke beskerm en beheer sodat ons ons God, Jehovah, waardig kan wees. Ons wapen is “die kennis van God”, wat “elke gedagte in gevangenskap [kan bring] om dit aan die Christus gehoorsaam te maak”. Dit gee ons selfs groter rede om aandag te skenk aan daaglikse Bybelstudie, aangesien ons graag selfsugtige, vleeslike gedagtes uit ons verstand wil verdryf.—2 Korintiërs 10:5.

Hulpmiddele om die Bybel te verstaan

16. Hoe kan ons onsself bevoordeel wanneer Jehovah ons leer?

16 Jehovah se onderrigting bring geestelike en fisiese voordele mee. Dit is nie lewelose, akademiese teologie nie. Ons lees dus: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel” (Jesaja 48:17). Hoe laat Jehovah ons wandel op sy weg wat ons tot voordeel strek? Eerstens het ons sy geïnspireerde Woord, die Heilige Bybel. Dit is ons vernaamste handboek, waarna ons deurentyd verwys. Daarom is dit goed om tydens Christelike vergaderinge in ons eie Bybel te volg. Die voordele hiervan kan gesien word in die verslag van die Etiopiese eunug in Handelinge hoofstuk 8.

17. Wat het in die geval van die Etiopiese eunug gebeur, en wat lig dit toe?

17 Die Etiopiese eunug het hom tot Judaïsme bekeer. Hy het opreg in God geglo en die Skrif bestudeer. Hy het op sy wa gereis en in die boek Jesaja gelees toe Filippus langs sy wa begin hardloop en hom gevra het: “Verstaan u werklik wat u lees?” Wat was die eunug se antwoord? “‘Hoe sou ek tog ooit kon, tensy iemand my lei?’ En hy het Filippus gesoebat om op te klim en by hom te kom sit.” Toe het Filippus, wat deur heilige gees gerig is, die eunug gehelp om die profesie van Jesaja te verstaan (Handelinge 8:27-35). Wat lig dit toe? Dat dit nie genoeg is om die Bybel op ons eie te lees nie. Jehovah lei die “getroue en verstandige slaaf”-klas deur middel van sy gees om ons te help om sy Woord op die regte tyd te verstaan. Hoe word dit gedoen?—Matteus 24:45-47; Lukas 12:42.

18. Hoe help die “getroue en verstandige slaaf”-klas ons?

18 Hoewel die slaafklas ‘getrou en verstandig’ genoem word, het Jesus nie gesê dat hulle onfeilbaar sou wees nie. Hierdie groep getroue gesalfde broers is nog steeds onvolmaakte Christene. Selfs met die beste bedoelings kan hulle foute maak, net soos soms in die eerste eeu gebeur het (Handelinge 10:9-15; Galasiërs 2:8, 11-14). Maar hulle het suiwer beweegredes, en Jehovah gebruik hulle om ons van Bybelstudiehulpe te voorsien om ons geloof in God se Woord en beloftes op te bou. As basiese hulpmiddel vir persoonlike studie het die slaaf ons die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif gegee. Dit is nou, in sy geheel of gedeeltelik, beskikbaar in 42 tale, en 114 miljoen eksemplare is al in verskeie uitgawes gedruk. Hoe kan ons dit doeltreffend in ons persoonlike studie gebruik?—2 Timoteus 3:14-17.

19. Wat is ’n paar kenmerke van die New World Translation of the Holy Scriptures—With References wat nuttig kan wees in persoonlike studie?

19 Neem byvoorbeeld die New World Translation of the Holy Scriptures—With References. Dit het kolomme met kruisverwysings, voetnote, ’n beknopte konkordansie in die vorm van ’n “Indeks van Bybelwoorde” en ’n “Indeks van woorde in voetnote”, asook ’n Aanhangsel met ’n uitvoerige bespreking van 43 onderwerpe, insluitende kaarte en tabelle. Dan is daar ook die “Voorwoord”, met ’n verduideliking van die talle bronne wat gebruik is vir hierdie unieke vertaling van die Bybel. As dit beskikbaar is in ’n taal wat jy kan verstaan, kan jy gerus goed vertroud raak met hierdie kenmerke en dit gebruik. Hoe dit ook al sy, die Bybel vorm die grondslag van ons studieprogram, en die Nuwe Wêreld-vertaling is ’n Bybel wat die Goddelike naam sy gepaste plek gee en die aandag op God se Koninkryksheerskappy vestig.—Psalm 149:1-9; Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10.

20. Watter vrae oor persoonlike studie moet nou beantwoord word?

20 Ons vra dalk nou: ‘Watter verdere hulpmiddele het ons nodig om die Bybel te verstaan? Hoe kan ons tyd inruim vir persoonlike studie? Hoe kan ons ons studie doeltreffender maak? Hoe moet ons studie ander raak?’ Die volgende artikel sal hierdie noodsaaklike aspekte van ons Christelike vooruitgang bespreek.

[Voetnoot]

a Sedert 1979 het die waarde van goud gewissel tussen ’n hoogtepunt van $850,00 per fyn ons in 1980 en ’n laagtepunt van $252,80 per fyn ons in 1999.

Onthou jy?

• Wat beteken dit om te “peins”?

• Wat moet ons gesindheid teenoor studie van God se Woord wees?

• Met watter beweegrede moet ons persoonlike studie doen?

• Watter hulpmiddele het ons om die Bybel te verstaan?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 15]

Lede van die Bethelgesin vind dat dit hulle geestelik versterk om elke dag met ’n bespreking van ’n Bybelteks te begin

[Prente op bladsy 15]

Waardevolle tyd kan benut word deur na Bybelkassette te luister terwyl ons reis

[Prent op bladsy 16]

Mense het lank en hard geswoeg om goud te kry. Hoeveel span jy jou in om God se Woord te bestudeer?

[Erkenning]

Courtesy of California State Parks, 2002

[Prente op bladsy 17]

Die Bybel is ’n skat wat ons na die ewige lewe kan lei