Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Persoonlike studie wat ons toerus as onderrigters

Persoonlike studie wat ons toerus as onderrigters

Persoonlike studie wat ons toerus as onderrigters

“Peins oor hierdie dinge; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees. Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting.”—1 TIMOTEUS 4:15, 16.

1. Wat is waar omtrent tyd en persoonlike studie?

 “VIR alles is daar ’n vasgestelde tyd”, sê die Bybel in Prediker 3:1. Dit is beslis waar van persoonlike studie. Baie vind dit moeilik om oor geestelike dinge te peins as die tyd of plek nie reg is nie. Sal jy byvoorbeeld ná ’n harde dag se werk en ’n groot aandete lus voel om te studeer, veral as jy in jou geliefkoosde gemakstoel voor die TV sit en ontspan? Waarskynlik nie. Wat is dus die oplossing? Dit is duidelik dat ons moet kies waar en wanneer ons gaan studeer sodat ons die grootste voordeel daaruit kan put.

2. Wat is dikwels die beste tyd vir persoonlike studie?

2 Baie vind dat dit vir hulle die beste is om vroeg in die oggend te studeer, wanneer hulle verstand gewoonlik op sy helderste is. Ander gebruik ’n middagpouse vir ’n kort studiesessie. Let op hoe daar in die volgende voorbeelde verwys word na tyd vir belangrike geestelike bedrywighede. Koning Dawid van eertydse Israel het geskryf: “Laat my u liefderyke goedhartigheid in die oggend hoor, want in u het ek my vertroue gestel. Maak aan my die weg bekend waarop ek moet wandel, want tot u het ek my siel opgehef” (Psalm 143:8). Die profeet Jesaja het soortgelyke waardering getoon toe hy gesê het: “Die Soewereine Heer Jehovah het my die tong gegee van dié wat geleer is, sodat ek kan weet hoe om die vermoeide met ’n woord te antwoord. Hy wek oggend na oggend; hy wek my oor om te hoor soos dié wat geleer is.” Die punt is dat ons moet studeer en met Jehovah moet kommunikeer wanneer ons verstand helder is, ongeag watter tyd van die dag dit is.—Jesaja 50:4, 5; Psalm 5:3; 88:13.

3. Watter omstandighede is bevorderlik vir doeltreffende studie?

3 Hou ook in gedagte dat dit nie tot doeltreffende studie sal bydra as ons op die gemaklikste stoel of rusbank sit nie. So sal ons nie wakker bly nie. Wanneer ons studeer, moet ons verstand gestimuleer word, en as ons te gemaklik is, kan dit die teenoorgestelde uitwerking hê. Nog iets wat bevorderlik is vir studie en bepeinsing, is ’n omgewing wat redelik stil is en waar niks ons aandag aflei nie. As ’n mens probeer studeer terwyl die radio of TV aan is of kinders jou aandag aflei, sal dit nie die beste resultate oplewer nie. Toe Jesus wou peins, het hy na ’n stil plek gegaan. Hy het ook gemeld hoe belangrik dit is om op ’n private plek te bid.—Matteus 6:6; 14:13; Markus 6:30-32.

Persoonlike studie wat ons toerus om te antwoord

4, 5. In watter opsigte is die Vereis-brosjure ’n praktiese hulpmiddel?

4 Persoonlike studie is bevredigend wanneer ons verskillende Bybelstudiehulpe gebruik om dieper te delf in ’n onderwerp, veral wanneer ons dit doen om iemand se opregte vrae te beantwoord (1 Timoteus 1:4; 2 Timoteus 2:23). Talle nuwelinge studeer heel eerste die brosjure Wat vereis God van ons?, a wat nou beskikbaar is in 261 tale. Hierdie publikasie is geheel en al op die Bybel gegrond, is baie eenvoudig en op die punt af. Dit help lesers om gou te begryp wat God se vereistes vir ware aanbidding is. Maar die formaat daarvan laat nie ’n breedvoerige bespreking van elke onderwerp toe nie. Gestel jou Bybelstudent opper ernstige vrae oor sekere Bybelonderwerpe onder bespreking. Hoe sal jy te werk gaan om meer inligting uit die Bybel te vind wat hom sal help om antwoorde op daardie vrae te kry?

5 Vir diegene wat die Watchtower Library op CD-ROM in hulle taal het, is dit maklik om inligting te vind in ’n groot verskeidenheid publikasies op rekenaar. Maar wat van diegene wat nie hierdie toerusting het nie? Kom ons kyk na twee onderwerpe wat in die Vereis-brosjure bespreek word om te sien hoe ons ons begrip kan verbreed en ’n breedvoeriger antwoord kan gee—veral vir iemand wat vrae het, soos: Wie is God? en Watter soort persoon was Jesus werklik?—Eksodus 5:2; Lukas 9:18-20; 1 Petrus 3:15.

Wie is God?

6, 7. (a) Watter vraag ontstaan aangaande God? (b) Watter belangrike punt het ’n geestelike glad nie in sy lesing genoem nie?

6 Les 2 in die Vereis-brosjure beantwoord die belangrike vraag: Wie is God? Dit is ’n fundamentele punt omdat ’n mens nie die ware God kan aanbid as jy Hom nie ken nie of as jy twyfel of Hy bestaan (Romeine 1:19, 20; Hebreërs 11:6). Tog het mense regoor die wêreld honderde verskillende opvattings oor wie God is (1 Korintiërs 8:4-6). Elke godsdiensfilosofie het ’n ander antwoord op die vraag oor God se identiteit. In die Christendom beskou die meeste godsdienste God as ’n Drie-eenheid. ’n Vooraanstaande Amerikaanse geestelike het ’n lesing gehou oor die onderwerp: “Ken jy God?”, maar hy het nie eers een keer in sy toespraak God se naam genoem nie, hoewel hy ’n paar keer uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal het. Hy het natuurlik uit ’n Bybelvertaling gelees wat die dubbelsinnige en naamlose titel “Here” in plaas van Jehovah of Jahweh gebruik.

7 Daardie geestelike het ’n uiters noodsaaklike punt gemis toe hy Jeremia 31:33, 34 aangehaal het: “‘Hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: “Ken die Here” [Hebreeus, “Ken Jehovah”], want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle’, spreek die Here [Hebreeus, Jehovah].” Die vertaling wat hy gebruik het, het God se onderskeidende naam, Jehovah, weggelaat.—Psalm 103:1, 2.

8. Wat toon dat dit belangrik is om God se naam te gebruik?

8 Psalm 8:9 toon waarom dit so betekenisvol is om Jehovah se naam te gebruik: “O Jehovah ons Here, hoe majestueus is u naam tog op die ganse aarde!” Vergelyk dit met: “O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” (Psalm 8:10, Die Bybel, 1953; sien ook die nuwe vertaling van 1983.) Soos in die vorige artikel genoem is, kan ons “die kennis van God” verkry as ons toelaat dat sy Woord ons geestelik verlig. Maar watter Bybelstudiehulp sal ons vrae oor die belangrikheid van God se naam duidelik beantwoord?—Spreuke 2:1-6.

9. (a) Watter publikasie kan ons help om te verduidelik dat dit belangrik is om God se naam te gebruik? (b) Hoe het baie vertalers versuim om eerbied vir God se naam te toon?

9 Ons kan die brosjure Die Goddelike naam wat vir ewig sal bestaan gebruik, wat in 69 tale vertaal is. b Die deel wat handel oor “God se naam—die betekenis en uitspraak daarvan” (bladsye 6-11) toon duidelik dat die Hebreeuse Tetragrammaton (van die Grieks, wat “vier letters” beteken) byna 7 000 keer in die antieke Hebreeuse manuskripte verskyn. Nietemin het die geestelikes en vertalers van Judaïsme en die Christendom dit doelbewus uit die meeste van hulle Bybelvertalings weggelaat. c Hoe kan hulle beweer dat hulle God ken en ’n aanvaarbare verhouding met hom het as hulle weier om hom by sy naam te erken? Sy ware naam lei tot ’n begrip van wat sy voornemens is en wie hy is. Wat meer is, van watter waarde is die deel van Jesus se modelgebed “ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word”, as God se naam nie eens gebruik word nie?—Matteus 6:9; Johannes 5:43; 17:6.

Wie is Jesus Christus?

10. Hoe kan ons ’n volledige beeld van Jesus se lewe en bediening verkry?

10 Les 3 in die Vereis-brosjure se titel is “Wie is Jesus Christus?” In net ses paragrawe gee dit ’n kort oorsig van Jesus, sy oorsprong en die rede waarom hy aarde toe gekom het. Maar as jy ’n volledige verslag van sy lewe wil hê, is daar—met die uitsondering van die Evangelieverslae—geen beter boek as Die grootste mens wat nog geleef het nie, wat in 111 tale beskikbaar is. d Hierdie boek bevat ’n volledige chronologiese verslag van Christus se lewe en leringe en is gebaseer op die vier Evangelies. Die 133 hoofstukke daarin dek Jesus se lewe en bediening. Vir ’n analitiese benadering kan jy gaan na die Insight-boek, Deel 2, onder die opskrif “Jesus Christ”.

11. (a) Hoe verskil Jehovah se Getuies in hulle beskouing van Jesus? (b) Wat is ’n paar Bybeltekste wat die Drie-eenheidsleer duidelik weerlê, en watter publikasie is nuttig in dié verband?

11 Die geskil wat daar in die Christendom oor Jesus bestaan, is of hy “die Seun van God” sowel as “God die Seun” is—met ander woorde, die geskil oor die Drie-eenheid, oftewel “die vernaamste verborgenheid van die Christelike geloof”, soos die Catechism of the Catholic Church dit noem. Anders as die godsdienste van die Christendom glo Jehovah se Getuies dat Jesus van Goddelike oorsprong is, maar dat hy nie God self is nie. ’n Uitstekende uiteensetting van hierdie onderwerp kan gevind word in die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo?, wat in 95 tale vertaal is. e Van die vele tekste wat daarin gebruik word om die Drie-eenheidsleer te weerlê, is Markus 13:32 en 1 Korintiërs 15:24, 28.

12. Watter vraag verdien ook ons aandag?

12 Die voorgaande besprekings oor God en Jesus Christus lig van die maniere toe waarop ons persoonlike studie kan doen sodat ons diegene wat nie met Bybelwaarheid vertroud is nie, kan help om juiste kennis in te neem (Johannes 17:3). Maar wat van persone wat al jare lank deel is van die Christengemeente? Moet hulle nog steeds aandag skenk aan hulle persoonlike studie van Jehovah se Woord, al het hulle reeds baie Bybelkennis opgedoen?

Waarom moet ons ‘voortdurend op onsself let’?

13. Watter verkeerde beskouing het sommige dalk oor persoonlike studie?

13 Sommige wat al jare lank lede van die gemeente is, kan in die gewoonte kom om bloot op die Bybelkennis staat te maak wat hulle in hulle eerste paar jaar as Jehovah se Getuies opgedoen het. Dit is maklik om te redeneer: “Ek hoef nie so hard te studeer soos die nuwelinge nie. Kyk dan net hoeveel keer ek al oor die jare heen die Bybel en Bybelpublikasies deurgegaan het.” Dit sou dieselfde wees as om te sê: “Ek hoef my regtig nie te bekommer oor wat ek nou eet nie, want kyk net hoeveel maaltye het ek al in die verlede geëet.” Ons weet dat die liggaam voortdurend voedingstowwe nodig het wat uit heilsame, goed voorbereide kos verkry word, sodat ons gesond en aktief kan bly. Hoeveel te meer is dit waar van ons geestelike gesondheid en krag!—Hebreërs 5:12-14.

14. Waarom moet ons voortdurend op onsself let?

14 Daarom moet ons almal, of ons al lank Bybelstudente is of nie, ag slaan op Paulus se raad aan Timoteus, wat toe reeds ’n ryp, verantwoordelike opsiener was: “Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister” (1 Timoteus 4:15, 16). Waarom moet ons Paulus se raad ter harte neem? Onthou, Paulus het ook daarop gewys dat ons ’n stryd het teen “die sette [“listige dade”, voetnoot in NW] van die Duiwel” en “teen die bose geesmagte in die hemelse plekke”. En die apostel Petrus het gewaarsku dat die Duiwel “daarop uit [is] om iemand te verslind”, en daardie “iemand” kan enigeen van ons wees. Oorgerustheid is dalk net waarna hy soek.—Efesiërs 6:11, 12; 1 Petrus 5:8.

15. Waarmee kan ons ons in geestelike sin verdedig, en hoe kan ons dit in stand hou?

15 Hoe kan ons ons dus verdedig? Die apostel Paulus herinner ons hieraan: “Neem . . . die volle wapenrusting van God op, sodat julle in die bose dag weerstand kan bied en, nadat julle alles deeglik gedoen het, kan vasstaan” (Efesiërs 6:13). Die doeltreffendheid van daardie geestelike wapenrusting hang nie net af van die goeie toestand waarin dit aanvanklik was nie, maar ook van gereelde instandhouding. Daardie volledige wapenrusting van God moet gevolglik deeglike kennis van ons huidige begrip van God se Woord insluit. Dit beklemtoon hoe belangrik dit vir ons is om op hoogte te bly met die begrip van die waarheid soos Jehovah dit deur sy Woord en deur die “getroue en verstandige slaaf”-klas openbaar. Gereelde persoonlike studie van die Bybel en Bybelpublikasies is noodsaaklik om ons geestelike wapenrusting in stand te hou.—Matteus 24:45-47; Efesiërs 6:14, 15.

16. Wat kan ons doen om te verseker dat ons “groot skild van geloof” in ’n goeie toestand is?

16 Paulus vestig die aandag op ’n onontbeerlike deel van ons beskermende wapenrusting, naamlik “die groot skild van geloof” waarmee ons Satan se brandende pyle van valse aantygings en afvallige leringe kan afweer en blus (Efesiërs 6:16). Dit is dus noodsaaklik dat ons kyk hoe sterk ons skild van geloof is, asook wat ons tans doen om dit in stand te hou en te versterk. Jy kan jou byvoorbeeld afvra: ‘Hoe berei ek voor vir die weeklikse Bybelstudie waartydens Die Wagtoring gebruik word? Het ek deeglik genoeg gestudeer sodat ek ander ‘tot liefde en goeie werke kan aanspoor’ met my weldeurdagte antwoorde gedurende die vergadering? Slaan ek die Bybel oop en lees ek die teksverwysings wat nie aangehaal word nie? Moedig ek ander aan deur my geesdriftige deelname aan die vergaderinge?’ Ons ontvang vaste geestelike voedsel, wat goed moet verteer as ons ten volle daarby baat wil vind.—Hebreërs 5:14; 10:24.

17. (a) Watter gif gebruik Satan om ons geestelikheid te probeer ondermyn? (b) Wat is die teenmiddel vir Satan se gif?

17 Satan ken die swakhede van die gevalle vlees, en hy gebruik listige sette. Een van die maniere waarop hy sy bose invloed versprei, is deur dit baie maklik te maak om na pornografie op die TV, Internet, video’s en in gedrukte publikasies te kyk. Party Christene het toegelaat dat hierdie gif deur hulle verswakte wapenrusting dring, en dit het hulle hulle voorregte in die gemeente laat verloor of selfs ernstiger gevolge gehad (Efesiërs 4:17-19). Wat is die teenmiddel vir Satan se geestelike gif? Ons moenie ons gereelde persoonlike Bybelstudie, ons Christelike vergaderinge en die volle wapenrusting van God verwaarloos nie. Saam gee hierdie dinge ons die vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei en om te haat wat God haat.—Psalm 97:10; Romeine 12:9.

18. Hoe kan “die swaard van die gees” ons in ons geestelike stryd help?

18 As ons by ons gereelde Bybelstudiegewoontes bly, sal ons nie net aanvalle met welslae kan afweer deur middel van juiste kennis van God se Woord nie, maar ons sal ook doeltreffende aanvalle kan loods met “die swaard van die gees, dit is God se woord”. Die woord van God is “skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei” (Efesiërs 6:17; Hebreërs 4:12). As ons leer om daardie “swaard” behendig te gebruik, sal ons wanneer ons voor versoekings te staan kom, deur enigiets kan sny wat onskadelik, of selfs aanloklik, lyk en dit kan blootlê as ’n dodelike strik van die bose. Ons skatkamer van Bybelkennis en -begrip sal ons help om te verwerp wat goddeloos is en te doen wat goed is. Ons almal moet ons dus afvra: ‘Is my swaard betroubaar of verroes? Sukkel ek om Bybeltekste te onthou wat my kan help om beter aanvalle te loods?’ Laat ons by ons goeie Bybelstudiegewoontes bly en so die Duiwel weerstaan.—Efesiërs 4:22-24.

19. Watter voordele kan ons geniet as ons ons toelê op persoonlike studie?

19 Paulus het geskryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk.” As ons Paulus se woorde aan Timoteus ter harte neem, kan ons ons eie geestelikheid versterk en ons bediening doeltreffender maak. Geestelikgesinde ouer manne en bedieningsknegte kan van groter nut vir die gemeente wees, en ons almal kan vasstaan in die geloof.—2 Timoteus 3:16, 17; Matteus 7:24-27.

[Voetnote]

a Gewoonlik sal ’n nuwe belangstellende ná die Vereis-brosjure die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei studeer; albei publikasies word deur Jehovah se Getuies uitgegee. Wenke wat hier gegee word, sal help om struikelblokke uit die weg te ruim wat geestelike vooruitgang kan belemmer.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies. Diegene wat Insight on the Scriptures in hulle taal het, kan verdere inligting kry in Deel 2, onder die opskrif “Jehovah”.

c Verskeie Spaanse en Kataloniese vertalings is besliste uitsonderings, aangesien hulle die Hebreeuse Tetragrammaton met “Yavé”, “Yahveh”, “Jahvè” en “Jehová” weergee.

d Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

e Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

Onthou jy?

• Watter omstandighede dra by tot doeltreffende persoonlike studie?

• Watter tekortkoming het baie Bybelvertalings wanneer dit by God se naam kom?

• Watter Bybeltekste sal jy gebruik om die Drie-eenheidsleer te weerlê?

• Wat moet ons doen om ons teen Satan se sette te beskerm, al is ons al jare lank ware Christene?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 19]

Vir doeltreffende persoonlike studie het jy die regte omgewing met die minimum afleidings nodig

[Prente op bladsy 23]

Is jou “swaard” betroubaar of verroes?