Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Versterk jou hande

Versterk jou hande

Versterk jou hande

IN DIE Bybel word daar meer as 1 800 keer na die hand verwys. Daar is verskeie idiome oor die hand. Rein hande dui byvoorbeeld op onskuld (2 Samuel 22:21; Psalm 24:3, 4). Om die hand oop te maak, verwys na vrygewigheid teenoor ander (Deuteronomium 15:11; Psalm 145:16). Daar word van iemand wat sy lewe waag, gesê dat hy sy siel in sy hand plaas (1 Samuel 19:5). As iemand sy hande slap laat word, dui dit aan dat hy ontmoedig is (2 Kronieke 15:7). En om die hand te versterk, beteken dat ’n persoon met nuwe krag besiel is en reg is vir aksie.—1 Samuel 23:16.

Vandag is dit uiters noodsaaklik dat ons ons hande versterk. Ons lewe in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). As mense is ons geneig om tou op te gooi wanneer ons ontmoedig voel, om as ’t ware ons hande slap te laat word. Dit is iets algemeens dat tieners op skool uitsak, mans hulle gesinne verlaat en moeders hulle kinders in die steek laat. As Christene moet ons ons hande versterk sodat ons die beproewinge kan verduur waarvoor ons in ons diens aan God te staan kom (Matteus 24:13). Sodoende maak ons Jehovah se hart bly.—Spreuke 27:11.

Hoe hande versterk word

Die Jode in Esra se dag moes hulle hande versterk sodat hulle die herbouing van Jehovah se tempel in Jerusalem kon voltooi. Hoe is hulle hande versterk? Die verslag sê: “Hulle het die fees van die ongesuurde koeke sewe dae lank met blydskap gehou; want Jehovah het hulle vreugde gegee, en hy het die hart van die koning van Assirië na hulle gedraai om hulle hande te versterk in die werk aan die huis van die ware God, die God van Israel” (Esra 6:22). Jehovah het ongetwyfeld “die koning van Assirië” deur middel van Sy werkende krag beweeg om God se volk te laat terugkeer, en Hy het die gees van die volk opgewek om die werk waarmee hulle begin het, te voltooi.

Later, toe Jerusalem se mure herstel moes word, het Nehemia die hande van sy broers versterk vir die taak. Ons lees: “Ek het hulle van die hand van my God vertel, hoe dit goed was oor my, en ook van die koning se woorde wat hy vir my gesê het. Hierop het hulle gesê: ‘Laat ons opstaan, en ons sal bou.’ Toe het hulle hulle hande versterk vir die goeie werk.” Met versterkte hande kon Nehemia en sy mede-Jode die mure van Jerusalem in net 52 dae herbou!—Nehemia 2:18; 6:9, 15.

Jehovah versterk eweneens ons hande om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig (Matteus 24:14). Hy doen dit deur ‘ons met alle goeie dinge toe te rus om sy wil te doen’ (Hebreërs 13:21). Hy het ons toegerus met instrumente van die hoogste gehalte. Ons het die Bybel en Bybelpublikasies, wat boeke, tydskrifte, brosjures en traktate insluit, asook oudio- en videokassette wat ons kan gebruik om mense regoor die wêreld te bereik. Trouens, ons publikasies is in meer as 380 tale beskikbaar. En deur gemeentelike vergaderinge en byeenkomste voorsien Jehovah teokratiese onderrigting en opleiding wat ons help om hierdie uitstekende middele te gebruik om ons bediening uit te voer.

Hoewel Jehovah ons hande op soveel maniere versterk, verwag hy ook dat ons ons moet inspan. Dink aan die profeet Elisa se woorde aan koning Joas, wat na Elisa gekom het vir hulp om teen die invallende Siriërs te veg. Elisa het vir die koning gesê om ’n paar pyle te neem en teen die grond daarmee te slaan. Die Bybelverslag sê: “Hy het drie keer geslaan en opgehou. En die man van die ware God het verontwaardig geraak teenoor hom; hy het derhalwe gesê: ‘Jy moes vyf of ses keer geslaan het! Dan sou jy Sirië beslis heeltemal verslaan het, maar nou sal jy Sirië drie keer verslaan’” (2 Konings 13:18, 19). Omdat Joas hom nie kragtig ingespan het nie, het hy slegs beperkte sukses teen die Siriërs gehad.

Dieselfde beginsel geld vir ons as ons wil uitvoer wat Jehovah ons gegee het om te doen. Ons moenie ons bekommer oor die struikelblokke in ons weg of oor hoe moeilik die toewysing dalk is nie, maar ons eerder ywerig en heelhartig daarop toelê. Ons moet ons hande versterk en ons tot Jehovah wend vir hulp.—Jesaja 35:3, 4.

Jehovah sal ons hande versterk

Jehovah sal ons beslis help en ons hande versterk om sy wil te doen. God sal natuurlik nie ’n wonderwerk verrig en alles vir ons doen nie. Hy verwag dat ons ons deel moet doen—ons moet die Bybel elke dag lees, voorberei vir vergaderinge en dit gereeld bywoon, so dikwels moontlik aan die bediening deelneem en voortdurend tot hom bid. As ons ons deel getrou en ywerig doen terwyl ons die geleentheid het, sal Jehovah ons die krag gee om te doen wat hy van ons verwag.—Filippense 4:13.

Beskou die geval van ’n Christen wat sy vrou en sy moeder in een jaar aan die dood afgestaan het. Nog voordat hy dit kon verwerk, het sy skoondogter sy seun verlaat en die Christelike weg die rug toegekeer. “Ek het geleer dat ons nie ons toetse kan kies nie, ook nie wanneer of hoe gereeld hulle oor ons kom nie”, het hierdie broer gesê. Waar vind hy die krag om voort te gaan? “Gebed en persoonlike studie was die reddingsbaadjie wat my kop bo water gehou het. En die ondersteuning van my geestelike broers en susters was vir my ’n groot vertroosting. Bowenal het ek besef hoe belangrik dit is om ’n hegte persoonlike verhouding met Jehovah op te bou voordat moeilike situasies ontstaan.”

Wat jou ondervinding in die lewe ook al mag wees, wees vasbeslote om volkome op Jehovah te vertrou en goed gebruik te maak van alles wat hy voorsien om jou hande te versterk. Dan sal jy jou beste kan gee in Jehovah se diens, en sodoende sy kosbare naam loof en eer.—Hebreërs 13:15.

[Prent op bladsy 31]

Omdat Joas hom nie kragtig ingespan het nie, het hy slegs beperkte sukses teen die Siriërs gehad