Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Moet ons uit Openbaring 20:8 aflei dat Satan ’n ontsaglike hoeveelheid mense tydens die finale toets sal mislei?

Openbaring 20:8 beskryf Satan se finale aanval op die mense wat teen die einde van die duisendjarige heerskappy van die Messiaanse Koninkryk op die aarde lewe. Die vers sê van Satan: “Hy sal uitgaan om daardie nasies te mislei wat in die vier hoeke van die aarde is, Gog en Magog, om hulle vir die oorlog te versamel. Hulle getal is soos die sand van die see.”

Ten spyte van vooruitgang in wetenskaplike metodes en instrumente bly “die sand van die see” ’n onbekende hoeveelheid of getal. Daarom kan daar gesê word dat die uitdrukking ’n onbekende, onbepaalde getal verteenwoordig. Maar verwys dit na ’n ontsaglike, oorweldigende, selfs astronomiese getal, of is dit bloot een wat onbekend en tog redelik groot is?

In die Bybel word die uitdrukking “die sand van die see” op verskillende maniere gebruik. In Genesis 41:49 lees ons byvoorbeeld: “Josef het ’n baie groot hoeveelheid graan bly ophoop, soos die sand van die see, totdat hulle uiteindelik opgehou het om dit te tel, want dit was ontelbaar.” Hier val die klem op die feit dat dit nie getel kon word nie. Jehovah het insgelyks gesê: “Net soos die leër van die hemel nie getel kan word of die sand van die see gemeet kan word nie, so sal ek die saad van my kneg Dawid . . . vermenigvuldig.” So seker as wat die sterre in die hemel en die sand van die see ontelbaar is, net so seker sal Jehovah sy belofte aan Dawid vervul.—Jeremia 33:22.

Dikwels verwys die uitdrukking “die sand van die see” na iets wat massief en indrukwekkend in getal of grootte is. Die Israeliete by Gilgal was baie angstig oor die Filistynse leër wat by Migmas saamgetrek het, want hulle was “so talryk soos die sandkorrels wat aan die seestrand is” (1 Samuel 13:5, 6; Rigters 7:12). En “God het aan Salomo wysheid en begrip in baie groot mate bly gee, en ruimheid van hart, soos die sand wat aan die seestrand is” (1 Konings 4:29). Hoewel daar in elke geval van ’n redelike groot hoeveelheid gepraat is, was dit nog steeds berekenbaar.

“Die sand van die see” kan ook ’n onbekende getal aandui, sonder om te kenne te gee dat dit ’n ontsaglike hoeveelheid is. Jehovah het vir Abraham gesê: “Ek [sal] jou saad gewis vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sandkorrels wat aan die seestrand is” (Genesis 22:17). Toe hy hierdie belofte aan Abraham se kleinseun Jakob herhaal het, het Jehovah die uitdrukking “die stofdeeltjies van die aarde” gebruik, wat Jakob op sy beurt “die sandkorrels van die see” genoem het (Genesis 28:14; 32:12). Abraham se “saad” het toe uiteindelik, met uitsondering van Jesus Christus, uit 144 000 persone bestaan, wat Jesus die “klein kuddetjie” genoem het.—Lukas 12:32; Galasiërs 3:16, 29; Openbaring 7:4; 14:1, 3.

Wat leer ons uit hierdie voorbeelde? Dat die uitdrukking “soos die sand van die see” nie altyd ’n oneindige, astronomiese getal beteken nie; ook dat dit nie altyd gebruik word om na iets te verwys wat ontsaglik groot of enorm is nie. Dit verteenwoordig dikwels ’n onbekende maar groot getal. Dit is dus redelik om te glo dat die opstandige menigte wat Satan in sy finale aanval op God se volk sal ondersteun, nie ontsaglik groot of ontelbaar sal wees nie, maar wel groot genoeg om ’n bedreiging in te hou. Die getal is egter op hierdie stadium onbekend.