Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat Josua onthou het

Wat Josua onthou het

Wat Josua onthou het

“MY KNEG Moses is dood”, het Jehovah gesê, “en staan nou op, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat ek aan hulle . . . gee” (Josua 1:2). Wat ’n ontsaglike taak het daar tog vir Josua voorgelê! Hy was byna 40 jaar lank Moses se dienaar. Nou is hy aangesê om sy heer se plek vol te staan en die kinders van Israel, wat dikwels wederstrewig was, in die Beloofde Land in te lei.

Terwyl Josua gedink het aan wat voorlê, het beproewinge waarvoor hy reeds te staan gekom en die hoof gebied het, moontlik deur sy gedagtes gegaan. Wat Josua onthou het, was ongetwyfeld destyds vir hom van onskatbare waarde, soos dit ook vir Christene van vandag kan wees.

Van slaaf tot bevelvoerder

Jarelange slawerny was deel van Josua se herinneringe (Eksodus 1:13, 14; 2:23). Ons weet nie presies wat Josua gedurende daardie tydperk deurgemaak het nie, aangesien die Bybel nie besonderhede hieroor gee nie. Josua het moontlik geleer om ’n goeie organiseerder te wees terwyl hy in Egipte gedien het, en dalk het hy gehelp om die uittog van die Hebreërs en die “groot gemengde geselskap” uit daardie land te organiseer.—Eksodus 12:38.

Josua se familie het tot die stam van Efraim behoort. Sy grootvader Elisama was die owerste van die stam en het blykbaar 108 100 gewapende manne van een van die driestamafdelings van Israel gelei (Numeri 1:4, 10, 16; 2:18-24; 1 Kronieke 7:20, 26, 27). Maar toe die Amalekiete Israel kort ná hulle uittog uit Egipte aanval, het Moses Josua gevra om die teenaanval te organiseer (Eksodus 17:8, 9a). Waarom is Josua gevra en nie byvoorbeeld sy grootvader of vader nie? Een verklaring hiervoor is: “As ’n hoof van die vername stam van Efraim en as iemand wat reeds goed bekend was vir sy organisatoriese vermoëns en iemand op wie die volk ten volle vertrou het, was [Josua] in Moses se oë die geskikste leier om die manskappe uit te kies en te organiseer.”

Hoe dit ook al sy, toe Josua gekies is, het hy gedoen net soos Moses beveel het. Hoewel Israel heeltemal onervare in oorlogvoering was, was Josua oortuig daarvan dat God hulle sou help. Toe Moses dus vir hom sê: “Môre gaan ek op die top van die heuwel staan, met die staf van die ware God in my hand”, was dit vir hom genoeg. Josua het ongetwyfeld onthou hoe Jehovah kort tevore die grootste krygsmag van daardie tyd uitgewis het. Toe Moses die volgende dag sy hande opgelig en tot sonsondergang omhoog gehou het, kon geen vyand teen Israel standhou nie, en die Amalekiete is verslaan. Daarna het Jehovah Moses beveel om hierdie Goddelike verordening in ’n boek te skryf en ‘dit voor die ore van Josua bekend te maak’: “Ek sal die herinnering aan Amalek heeltemal uitwis onder die hemel” (Eksodus 17:9b-14). Ja, Jehovah sou daardie oordeel vir seker voltrek.

As Moses se dienaar

Die episode met Amalek moes sekerlik die band tussen Josua en Moses nog hegter gemaak het. Josua was bevoorreg om Moses se persoonlike “dienaar” te wees “van sy jeug af” tot Moses se dood, ’n tydperk van sowat 40 jaar.—Numeri 11:28.

Daardie posisie het voorregte en verantwoordelikhede meegebring. Toe Moses, Aäron, Aäron se seuns en 70 van die ouer manne van Israel byvoorbeeld teen die berg Sinai opgeklim het en ’n visioen van Jehovah se heerlikheid gesien het, was Josua waarskynlik onder hulle. In sy rol as dienaar het hy saam met Moses hoër teen die berg opgeklim en blykbaar op ’n afstand bly staan terwyl Moses in die wolk ingegaan het wat Jehovah se teenwoordigheid gesimboliseer het. Dit is interessant dat Josua waarskynlik 40 dae en 40 nagte op die berg gebly het. Hy het getrou gewag op sy heer se terugkeer, want toe Moses met die tafels van die Getuienis teen die berg begin afklim, was Josua daar om hom te ontmoet.—Eksodus 24:1, 2, 9-18; 32:15-17.

Ná die voorval van Israel se afgodediens met die goue kalf, het Josua voortgegaan om Moses te dien by die tent van samekoms buite die kamp. Daar het Jehovah van aangesig tot aangesig met Moses gepraat. Maar wanneer Moses na die kamp toe teruggekeer het, het Josua “nie die tent verlaat nie”. Dalk moes hy daar bly om te keer dat die Israeliete die tent in hulle onrein toestand binnegaan. Hoe ernstig het Josua tog daardie verantwoordelikheid beskou!—Eksodus 33:7, 11.

Assosiasie met Moses, wat volgens die geskiedskrywer Josefus 35 jaar ouer as Josua was, moes Josua se geloof grootliks versterk het. Hulle verhouding is al “die kontak tussen volwassenheid en jeug, tussen die meester en die leerling” genoem, wat daartoe gelei het dat Josua “’n standvastige, betroubare man” geword het. Vandag het ons nie profete soos Moses in ons midde nie, maar in die gemeentes van Jehovah se volk is daar wel ouer mense wat weens hulle ervaring en geestelikheid ’n ware bron van krag en bemoediging is. Waardeer jy hulle? En vind jy baat by hulle geselskap?

’n Verkenner in Kanaän

’n Uiters kritieke gebeurtenis het in Josua se lewe plaasgevind kort nadat Israel die Wet ontvang het. Hy is gekies as ’n verteenwoordiger van sy stam toe die Beloofde Land verken moes word. Ons ken die verhaal goed. Al 12 verkenners het saamgestem dat die land inderdaad “oorloop van melk en heuning”, net soos Jehovah beloof het. Maar tien het weens ’n gebrek aan geloof gevrees dat Israel nie die inwoners van die land sou kon verdryf nie. Net Josua en Kaleb het die volk aangespoor om nie uit vrees in opstand te kom nie, want Jehovah sou sekerlik met hulle wees. Daarop het die hele vergadering beswaar gemaak en daarvan gepraat om die twee met klippe te gooi. Miskien sou hulle dit gedoen het as Jehovah nie tussenbeide getree het met ’n openbaring van sy heerlikheid nie. Weens hulle gebrek aan geloof het God bepaal dat geeneen van die geregistreerdes in Israel van 20 jaar en ouer sou lewe om Kanaän binne te gaan nie. Van hierdie groep het net Josua, Kaleb en die Leviete bly lewe.—Numeri 13:1-16, 25-29; 14:6-10, 26-30.

Het die hele volk nie Jehovah se magtige dade in Egipte gesien nie? Wat het Josua dan in staat gestel om op God se hulp te vertrou terwyl die meerderheid getwyfel het? Josua het ongetwyfeld alles wat Jehovah beloof en gedoen het, duidelik voor oë gehou, en hy het hieroor gepeins. Jare later kon hy sê dat ‘nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah met Israel gespreek het, onvervuld gebly het nie. Alles is bewaarheid’ (Josua 23:14). Josua het dus vas geglo dat al die beloftes wat Jehovah oor die toekoms gemaak het, ook vir seker vervul sou word (Hebreërs 11:6). Dit moet ’n mens beweeg om te vra: ‘Wat van my? Het die tyd wat ek daaraan gewy het om Jehovah se beloftes te bestudeer en daaroor te peins, my oortuig van die betroubaarheid daarvan? Glo ek dat God my saam met sy volk kan beskerm tydens die komende groot verdrukking?’

Josua het nie net geloof beoefen nie, maar ook die moed gehad om te doen wat reg is. Hy en Kaleb het alleen gestaan, en die hele vergadering het daarvan gepraat om hulle te stenig. Hoe sou jy gevoel het? Bevrees? Nie Josua nie. Hy en Kaleb het onverskrokke gesê wat hulle geglo het. Lojaliteit teenoor Jehovah vereis dalk dat ons eendag ook dieselfde moet doen.

Die verhaal van die verkenners meld ook dat Josua se naam verander is. Moses het by sy oorspronklike naam, Hosea, wat “Redding” beteken, die lettergreep gevoeg wat op die Goddelike naam dui en hom Josua—“Jehovah is redding”—genoem. Die Septuagint gee sy naam weer as “Jesus” (Numeri 13:8, 16). Getrou aan daardie groot naam het Josua moedig verkondig dat Jehovah redding is. Josua se naam is nie sommer net terloops verander nie. Dit het Moses se agting vir Josua se karakter weerspieël en ooreengestem met die bevoorregte rol wat Josua sou vervul wanneer hy ’n nuwe geslag in die Beloofde Land inlei.

Terwyl hulle vaders geleidelik afgesterf het, het die Israeliete 40 moeisame jare in die wildernis rondgetrek. Ons weet niks van Josua gedurende daardie tydperk nie. Maar hy moes baie daaruit geleer het. Hy het waarskynlik God se oordeel oor die opstandige Korag, Datan en Abiram en hulle volgelinge gesien sowel as oor diegene wat by die verdorwe aanbidding van die Baäl van Peor betrokke was. Josua moes beslis baie hartseer gewees het toe hy uitvind dat Moses ook nie in die Beloofde Land sou ingaan nie omdat hy Jehovah nie by die waters van Meriba geheilig het nie.—Numeri 16:1-50; 20:9-13; 25:1-9.

Aangestel as Moses se opvolger

Toe Moses se sterfdag nader kom, het hy God gevra om sy opvolger aan te stel sodat Israel nie sou word “soos skape wat geen herder het nie”. Wat was Jehovah se reaksie? Josua, “’n man in wie gees is”, moes voor die hele vergadering aangestel word. Hulle moes na hom luister. Wat ’n uitstekende aanbeveling! Jehovah het Josua se geloof en vermoë gesien. Israel se leierskap kon nie aan ’n bekwamer persoon toevertrou word nie (Numeri 27:15-20). Nogtans het Moses geweet dat Josua voor groot uitdagings te staan sou kom. Daarom het Moses sy opvolger aangespoor om “moedig en sterk” te wees, want Jehovah sou voortdurend met hom wees.—Deuteronomium 31:7, 8.

God het Josua dieselfde aanmoediging gegee en bygevoeg: “[Handel] sorgvuldig . . . volgens die hele wet wat my kneg Moses jou beveel het. Moenie regs of links daarvan afwyk nie, sodat jy wys kan handel oral waar jy gaan. Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie, en jy moet dag en nag op gedempte toon daarin lees, sodat jy sorgvuldig kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy jou weg suksesvol maak en dan sal jy wys handel. Het ek jou nie beveel nie? Wees moedig en sterk. Moenie sidder of verskrik wees nie, want Jehovah jou God is met jou waar jy ook al gaan.”—Josua 1:7-9.

Met Jehovah se woorde wat nog in sy ore weerklink en met die ondervinding wat hy reeds opgedoen het, hoe kon Josua dan enigsins twyfel? Hulle sou die land beslis kon verower. Daar sou natuurlik uitdagings wees, waarvan die eerste was om die Jordaanrivier, wat in vloed was, oor te steek. Maar Jehovah self het beveel: “Staan nou op, trek deur hierdie Jordaan.” Watter probleem kon daar dus wees?—Josua 1:2.

Opeenvolgende gebeure in Josua se lewe—die verowering van Jerigo, die stelselmatige onderwerping van hulle vyande en die verdeling van die land—toon dat hy nooit God se beloftes uit die oog verloor het nie. Teen die einde van sy dae, toe Jehovah Israel rus van hulle vyande gegee het, het Josua die volk bymekaargeroep om God se handelinge met hulle te hersien en om hulle aan te spoor om Hom heelhartig te dien. Gevolglik het Israel hulle verbond met Jehovah plegtig herbevestig, en omdat hulle ongetwyfeld besiel is deur die voorbeeld van hulle leier, het “Israel . . . Jehovah gedien al die dae van Josua”.—Josua 24:16, 31.

Josua is ’n uitstekende voorbeeld vir ons. Vandag kom Christene voor baie toetse van geloof te staan. Dit is van die allergrootste belang dat ons dit suksesvol die hoof bied as ons Jehovah se goedkeuring wil behou en uiteindelik sy beloftes wil beërf. Josua se sukses het van sy sterk geloof afgehang. Ons het weliswaar nie soos Josua God se magtige dade gesien nie, maar as enigiemand sou twyfel, kan hy na die Bybelboek Josua gaan, wat ’n ooggetuieverslag bevat van die betroubaarheid van Jehovah se woord. Net soos Josua kan ons verseker wees van wysheid en sukses as ons God se Woord elke dag lees en dit sorgvuldig toepas.

Voel jy soms seergemaak deur wat mede-Christene doen? Dink aan Josua se volharding gedurende die 40 jaar waarin hy verplig was om in die wildernis saam met ontroue metgeselle rond te trek, al was hy onskuldig. Vind jy dit moeilik om standpunt in te neem vir wat jy glo? Onthou wat Josua en Kaleb gedoen het. Hulle het vir hulle geloof en gehoorsaamheid ’n wonderlike beloning ontvang. Ja, Josua het waarlik geglo dat Jehovah al sy beloftes sou vervul. Mag dieselfde in ons geval waar wees.—Josua 23:14.

[Prent op bladsy 10]

Assosiasie met Moses het Josua se geloof versterk

[Prent op bladsy 10]

Josua en Kaleb het vertroue in Jehovah se krag gestel

[Prent op bladsy 10]

Josua se leierskap het die volk aangespoor om Jehovah aan te kleef