Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Sendingtoewysing word ons tuiste

’n Sendingtoewysing word ons tuiste

Lewensverhaal

’n Sendingtoewysing word ons tuiste

SOOS VERTEL DEUR DICK WALDRON

Dit was ’n Sondagmiddag in September 1953. Ons het pas in Suidwes-Afrika (nou Namibië) aangekom. Al was ons nog skaars ’n week in die land, moes ons ’n openbare vergadering in die hoofstad, Windhoek, hou. Waarom het ons al die pad van Australië af na hierdie Afrikaland gekom? Ek, my vrou en drie ander jong vroue, het as sendelinge van die goeie nuus van God se Koninkryk hierheen gekom.—Matteus 24:14.

MY LEWE het in die betekenisvolle jaar 1914 in die verre land Australië begin. Ek was ’n tiener tydens die Groot Depressie, en ek moes my deel doen om die gesin aan die lewe te hou. Daar was nie werk nie, maar ek het ’n manier gevind om wilde hase te jag, waarvan daar baie in Australië was. Een van my vernaamste bydraes tot die gesin se spens was dus ’n bestendige voorraad haasvleis.

Teen die tyd dat die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, het ek werk gekry op die trems en busse in die stad Melbourne. Daar was sowat 700 mans wat skofte op die busse gewerk het, en op elke skof het ek ’n ander bestuurder of kondukteur ontmoet. Ek het hulle dikwels gevra: “Aan watter godsdiens behoort jy?” en hulle dan gevra om te verduidelik wat hulle glo. Die enigste persoon wat vir my bevredigende antwoorde kon gee, was een van Jehovah se Getuies. Hy het aan my die Bybelse boodskap verduidelik van ’n paradysaarde waar godvresende mense vir ewig sal lewe.—Psalm 37:29.

Intussen het my ma ook met Jehovah se Getuies in aanraking gekom. Wanneer ek ná die laat skof tuis gekom het, het ek dikwels ’n eksemplaar van die Vertroosting (nou die Ontwaak!) langs my bord kos gevind. Ek het gehou van wat ek gelees het. Mettertyd het ek tot die slotsom gekom dat dit die ware godsdiens is, en ek het aktief by die gemeente betrokke geraak en is in Mei 1940 gedoop.

In Melbourne was daar ’n pionierhuis waar ongeveer 25 voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies gewoon het. Ek het daar ingetrek. Dag ná dag het ek na hulle opwindende ondervindinge in die predikingswerk geluister, en ’n begeerte het in my hart posgevat om ook ’n pionier te word. Uiteindelik het ek vir pionierdiens aansoek gedoen. Ek is aanvaar en genooi om by die Australiese takkantoor van Jehovah se Getuies te dien. So het ek deel van die Bethelgesin geword.

Tronkstraf en ’n verbod op die werk

Een van my toewysings by Bethel was om by die saagmeule te werk. Daar het ons hout opgesny om houtskool te maak wat vir brandstof gebruik is. Dit is vir die voertuie by die takkantoor gebruik, omdat daar weens die oorlog ’n tekort aan kommersiële brandstof was. Die 12 van ons wat by die saagmeule gewerk het, was almal dienspligtig. Kort voor lank is ons tot ses maande tronkstraf gevonnis omdat ons om skriftuurlike redes geweier het om militêre diens te doen (Jesaja 2:4). Ons is na ’n gevangenisplaas gestuur om dwangarbeid te verrig. Watter werk is ons gegee om te doen? Ons moes sowaar hout saag, die einste taak waarvoor ons by Bethel opgelei is!

Ons het ons werk só goed gedoen dat die hooftronkbewaarder vir ons ’n Bybel en van ons Bybellektuur gegee het, ondanks streng bevele dat ons nie hierdie dinge mag ontvang nie. Dit was gedurende hierdie tyd dat ek ’n nuttige les in menseverhoudings geleer het. Toe ek by Bethel gewerk het, was daar ’n broer met wie ek eenvoudig nie oor die weg kon kom nie. Ons persoonlikhede het net te veel verskil. Wel, wie dink julle het toe saam met my in dieselfde tronksel beland? Ja, daardie einste broer. Ons het toe tyd gehad om mekaar te leer ken, en die gevolg was dat ons ’n hegte en blywende vriendskap ontwikkel het.

Later is die werk van Jehovah se Getuies in Australië verbied. Daar is op alle fondse beslag gelê, en die Bethelbroers het finansieel baie min gehad. By een geleentheid het een van hulle na my toe gekom en gesê: “Dick, ek wil graag dorp toe gaan om velddiens te doen, maar ek het nie skoene nie, net werkstewels.” Ek was maar te bly om hom te help, en hy is dorp toe in my skoene.

Ons het later gehoor dat hy in hegtenis geneem is omdat hy getuig het. Ek kon die versoeking nie weerstaan om vir hom ’n briefie te stuur nie: “Jammer om te hoor wat gebeur het. Ek is bly ek was nie in my skoene nie.” Maar kort daarna is ek ook in hegtenis geneem en vir die tweede keer tronk toe gestuur weens my neutrale standpunt. Ná my vrylating is ek aangestel om na die plaas om te sien wat voedsel aan die Bethelgesin verskaf het. Teen dié tyd was daar ’n hofbeslissing in ons guns, en die verbod op die bedrywighede van Jehovah se Getuies is opgehef.

Ek trou met ’n ywerige evangeliedienaar

Terwyl ek op die plaas was, het ek ernstig aan trou begin dink, en daar was ’n jong pioniersuster, Coralie Clogan, in wie ek belanggestel het. Coralie se ouma was die eerste een in haar familie wat belangstelling in die Bybel se boodskap getoon het. Op haar sterfbed het sy vir Coralie se ma, Vera, gesê: “Maak jou kinders groot om God lief te hê en te dien, en eendag sal ons mekaar op die Paradysaarde ontmoet.” Later, toe ’n pionier by Vera se deur aangeklop het met die publikasie Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie, het daardie woorde vir haar begin sin maak. Die boekie het Vera daarvan oortuig dat dit God se voorneme vir die mens is om lewe op ’n paradysaarde te geniet (Openbaring 21:4). Sy is vroeg in die 1930’s gedoop en net soos haar ma haar aangemoedig het, het sy haar drie dogters—Lucy, Jean en Coralie—gehelp om ’n liefde vir God te ontwikkel. Coralie se pa was egter hewig gekant teen sy gesin se godsdiens, net soos Jesus gewaarsku het in gesinne kan gebeur.—Matteus 10:34-36.

Die Clogans was ’n musikale gesin, en elke kind kon ’n musiekinstrument speel. Coralie het viool gespeel, en in 1939, toe sy 15 was, het sy ’n diploma in musiek ontvang. Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, het Coralie ernstig oor haar toekoms begin dink. Dit was tyd vir haar om te besluit wat sy met haar lewe gaan doen. Aan die een kant was daar die moontlikheid van ’n musiekloopbaan. Sy het reeds ’n uitnodiging ontvang om in die Melbourne-simfonieorkes te speel. Aan die ander kant was daar die moontlikheid om haar tyd aan die belangrike Koninkrykspredikingswerk te wy. Nadat hulle ernstig hieroor nagedink het, is Coralie en haar twee susters in 1940 gedoop en het hulle voorbereidings begin tref om die evangelisasiewerk voltyds te doen.

Net nadat Coralie besluit het om die voltydse bediening te betree, is sy genader deur ’n verantwoordelike broer van die Australiese takkantoor, Lloyd Barry, wat later as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gedien het. Nadat hy ’n toespraak in Melbourne gehou het, het hy vir Coralie gesê: “Ek is op pad terug Bethel toe. Waarom kom jy nie saam met my op die trein terug en word ’n lid van die Bethelgesin nie?” Sy het ingestem.

Coralie en die ander susters in die Bethelgesin het ’n belangrike rol daarin gespeel om Bybelpublikasies aan die broers in Australië te voorsien toe die werk tydens die oorlogsjare verbied is. Hulle het in werklikheid die meeste van die drukwerk gedoen, onder toesig van broer Malcolm Vale. Die boeke The New World en Kinders is gedruk en gebind, en nie ’n enkele nommer van Die Wagtoring is oorgeslaan gedurende die meer as twee jaar van die verbod nie.

Die drukkery moes omtrent 15 keer geskuif word om die polisie te ontduik. In een geval is Bybellektuur gedruk in die kelderverdieping van ’n gebou waar ook ander drukwerk as ’n front gedoen is. Wanneer enige gevaar gedreig het, kon die suster in die ontvangsarea ’n knoppie druk wat ’n klokkie onder in die kelder laat lui het, sodat die ander susters die publikasies kon wegsteek voordat enigiemand met ’n inspeksie kon begin.

Tydens een inspeksie het van die susters met ’n skok besef dat daar ’n eksemplaar van Die Wagtoring bo-op ’n tafel lê waar almal dit kon sien. Die polisieman het ingekom, sy tas bo-op Die Wagtoring neergesit en met die inspeksie begin. Toe hy niks kon vind nie, het hy sy tas opgetel en uitgestap!

Nadat die verbod opgehef is en die eiendom van die takkantoor aan die broers teruggegee is, is baie van hulle die geleentheid gegee om as spesiale pioniers in die veld te gaan dien. Coralie het toe aangebied om na Glen Innes te gaan. Ek het by haar aangesluit op 1 Januarie 1948 toe ons getroud is. Teen die tyd dat ons daar weg is, was daar ’n florerende gemeente.

Ons volgende toewysing was Rockhampton, maar ons kon geen verblyf daar vind nie. Ons het toe maar ’n tent opgeslaan op ’n belangstellende se plaas. Daardie tent was ons tuiste vir die volgende nege maande. Dit sou dalk langer gewees het, maar toe die reënseisoen kom, het ’n tropiese storm die tent aan flarde geskeur, en die moesonreën het dit weggespoel. a

’n Toewysing in die buiteland

Terwyl ons in Rockhampton was, het ons ’n uitnodiging ontvang om die 19de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon om as sendelinge opgelei te word. Nadat ons in 1952 gegradueer het, is ons dus gestuur na wat destyds bekend gestaan het as Suidwes-Afrika.

Die geestelikes van die Christendom het onmiddellik getoon hoe hulle oor ons sendingwerk voel. Ses Sondae na mekaar het hulle hulle gemeentes van die preekstoel af teen ons gewaarsku. Hulle het vir die mense gesê om nie hulle deure vir ons oop te maak en ons nie toe te laat om uit die Bybel te lees nie, want dit sou hulle verwar. In een gebied het ons verskeie publikasies versprei, maar die predikant het ons van huis tot huis gevolg en dit weer by die mense geneem. Eendag het ons ’n bespreking met die predikant in sy studeerkamer gehad en gesien dat hy ’n hele versameling van ons boeke het.

Kort daarna het ook die plaaslike owerheid ons bedrywighede begin bevraagteken. Dit was ongetwyfeld op aanstigting van die geestelikes dat hulle ons daarvan verdink het dat ons Kommunistiese bande het. Daarom is ons vingerafdrukke geneem, en van die mense wat ons besoek het, is ondervra. Ten spyte van al hierdie teenkanting het ons vergaderingbywoning bly toeneem.

Van die staanspoor af wou ons baie graag die Bybel se boodskap onder die Ovambo-, Herero- en Namabevolking verkondig. Maar dit was nie maklik nie. Destyds was Suidwes-Afrika onder die jurisdiksie van die apartheidsregering van Suid-Afrika. As blankes is ons nie toegelaat om sonder ’n regeringspermit in swart gebiede te getuig nie. Ons het elke nou en dan aansoek gedoen, maar die owerheid het eenvoudig geweier om ons toestemming te gee.

Ná twee jaar in ons buitelandse toewysing was daar ’n verrassing vir ons. Coralie was swanger. In Oktober 1955 is ons dogter, Charlotte, gebore. Al kon ons nie meer as sendelinge dien nie, het ek daarin geslaag om ’n deeltydse werk te kry en nog ’n tyd lank pionierdiens te doen.

’n Antwoord op ons gebede

In 1960 het ons voor nog ’n uitdaging te staan gekom. Coralie het ’n brief ontvang met die nuus dat haar ma so siek is dat Coralie haar dalk nie weer lewend sou sien as sy nie huis toe kom nie. Ons het dus beplan om Suidwes-Afrika te verlaat en na Australië toe terug te trek. Toe gebeur dit—dieselfde week dat ons sou vertrek, het ek die permit van die plaaslike owerheid ontvang om in die swart gebied, Katutura, in te gaan. Wat het ons te doen gestaan? Moes ons die permit teruggee nadat ons sewe jaar lank gesukkel het om dit in die hande te kry? Dit was maklik om te redeneer dat ander by ons sou kon oorneem. Maar was dit nie ’n seën van Jehovah af nie, ’n antwoord op ons gebede?

Ek het gou tot ’n besluit gekom. Ek sou agterbly, want ek was bang dit sou ons kanse bemoeilik om permanente verblyf te kry as ons almal Australië toe gaan. Die volgende dag het ek my bespreking op die boot gekanselleer en Coralie en Charlotte op ’n lang vakansie na Australië gestuur.

Terwyl hulle weg was, het ek vir die inwoners van die swart gebied begin getuig. Daar was baie groot belangstelling. Teen die tyd dat Coralie en Charlotte teruggekeer het, het heelwat swart mense reeds ons vergaderinge bygewoon.

Ek het op daardie stadium ’n ou motor gehad waarmee ek belangstellendes na die vergaderinge kon neem. Ek het met elke vergadering vier of vyf keer heen en weer gery en sewe, agt of nege mense op ’n slag vervoer. Wanneer die laaste een uitgeklim het, het Coralie skertsend gevra: “Hoeveel is daar nog onder die sitplek?”

Om groter welslae in die predikingswerk te behaal, het ons lektuur in die plaaslike mense se taal nodig gehad. Ek het dus die voorreg gehad om te reël dat die traktaat Life in a New World in vier plaaslike tale vertaal word: Herero, Nama, Ndonga en Kwanyama. Die vertalers was geleerde mense met wie ons die Bybel gestudeer het, maar ek moes saam met hulle sit om seker te maak dat elke sin reg vertaal word. Nama is ’n taal met ’n beperkte woordeskat. Ek het byvoorbeeld probeer om hierdie gedagte oor te dra: “In die begin was Adam ’n volmaakte man.” Die vertaler het sy kop gekrap en gesê hy kon nie dink aan die Nama-woord vir “volmaak” nie. “Nou weet ek”, het hy oplaas gesê. “In die begin was Adam soos ’n ryp perske.”

Tevrede met ons tuiste

Ongeveer 49 jaar het verloop sedert ons in hierdie land aangekom het, wat nou Namibië genoem word. Dit is nie meer nodig om ’n permit te kry om in swart gebiede in te gaan nie. Namibië het ’n nuwe regering met ’n nie-rassige grondwet. In Windhoek het ons vandag vier groot gemeentes wat in gerieflike Koninkryksale bymekaarkom.

Ons dink dikwels aan die woorde wat ons by Gilead gehoor het: “Maak jou buitelandse toewysing jou tuiste.” Die manier waarop Jehovah sake bewerk het, het ons oortuig dat dit sy wil was dat hierdie land ons tuiste word. Ons het lief geword vir die broers, met hulle interessante kulture. Ons het in hulle vreugdes en hulle hartseer gedeel. Party van daardie nuwelinge wat ons destyds by die dosyne na die vergaderinge aangery het, dien nou as pilare in hulle gemeentes. Toe ons in 1953 in hierdie uitgestrekte land aangekom het, was daar nie eers tien plaaslike verkondigers van die goeie nuus nie. Van daardie klein begin het ons getalle tot meer as 1 200 toegeneem. Getrou aan sy belofte het Jehovah die saadjies laat groei wat ons en ander ‘geplant en natgegooi’ het.—1 Korintiërs 3:6.

As ons terugkyk oor ons jare lange diens, eers in Australië en nou in Namibië, ervaar ek en Coralie ’n gevoel van diepe tevredenheid. Ons hoop en bid dat Jehovah sal voortgaan om ons die krag te gee om nou en tot in alle ewigheid sy wil te doen.

[Voetnoot]

a ’n Opwindende, anonieme verslag oor hoe die Waldrons in hierdie moeilike toewysing volhard het, is in The Watchtower van 1 Desember 1952, bladsye 707-8.

[Prent op bladsy 26, 27]

Ons trek na ons toewysing in Rockhampton, Australië

[Prent op bladsy 27]

Op die hawe op pad na die Gileadskool

[Prent op bladsy 28]

Die predikingswerk in Namibië verskaf ons groot vreugde