Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Kom nader aan God”

“Kom nader aan God”

“Kom nader aan God”

“Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”—JAKOBUS 4:8.

1, 2. (a) Wat beweer mense dikwels? (b) Watter aansporing het Jakobus gegee, en waarom was dit nodig?

 “GOD met ons.” Daardie woorde verskyn op nasionale embleme en selfs op die uniforms van soldate. Die leuse “Op God vertrou ons” is al op tallose muntstukke en banknote van hedendaagse geldeenhede aangebring. Dit is algemeen vir mense om te beweer dat hulle ’n hegte verhouding met God het. Maar sou jy nie saamstem dat iemand wat werklik so ’n verhouding het, meer moet doen as om net daaroor te praat of slagspreuke te vertoon nie?

2 Die Bybel toon dat dit moontlik is om ’n verhouding met God te hê. Maar dit verg inspanning. Selfs party gesalfde Christene in die eerste eeu moes hulle verhouding met Jehovah God versterk. Die Christenopsiener Jakobus moes sommige waarsku oor hulle vleeslike neigings en geestelike onreinheid. In sy raad het hy hierdie kragtige aansporing ingesluit: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:1-12). Wat het Jakobus bedoel met die woorde “kom nader”?

3, 4. (a) Waaraan het die uitdrukking “kom nader aan God” party van Jakobus se eerste-eeuse lesers moontlik herinner? (b) Waarom kan ons seker wees dat dit moontlik is om God te nader?

3 Jakobus het ’n uitdrukking gebruik wat baie van sy lesers sou ken. Die Mosaïese Wet het die priesters spesifieke riglyne gegee oor hoe hulle Jehovah namens sy volk moes “nader” (Eksodus 19:22). Dit het Jakobus se lesers moontlik daaraan herinner dat ’n mens die voorreg om Jehovah te nader, nie vanselfsprekend moet aanneem nie. Jehovah beklee die hoogste posisie in die heelal.

4 Aan die ander kant “getuig hierdie aansporing [in Jakobus 4:8] van ’n kragtige optimisme”, sê een Bybelgeleerde. Jakobus het geweet dat Jehovah nog altyd onvolmaakte mense op liefdevolle wyse genooi het om nader aan Hom te kom (2 Kronieke 15:2). Jesus se offerande het dit moontlik gemaak om Jehovah met groter vrymoedigheid te nader (Efesiërs 3:11, 12). Vandag het miljoene die geleentheid om God te nader! Maar hoe kan ons gebruik maak van hierdie wonderlike geleentheid? Ons sal kortliks na drie maniere kyk waarop ons nader aan Jehovah God kan kom.

Hou aan om ‘kennis in te neem’ van God

5, 6. Hoe toon die voorbeeld van jong Samuel wat dit behels om ‘kennis in te neem’ van God?

5 Volgens Johannes 17:3 het Jesus gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.” Baie vertalings van hierdie vers verskil effens van die Nuwe Wêreld-vertaling. In plaas van die werkwoord weer te gee met “kennis inneem”, vertaal hulle dit bloot met “ken”. Maar ’n hele aantal geleerdes sê dat die woord wat in die oorspronklike Grieks gebruik is, ’n dieper betekenis het—dat dit dui op ’n voortgesette proses, wat selfs tot ’n intieme kennis van die ander persoon kan lei.

6 Om God intiem te leer ken, was nie ’n nuwe begrip in Jesus se dag nie. In die Hebreeuse Geskrifte lees ons byvoorbeeld dat Samuel, as ’n jong seun, “Jehovah nog nie leer ken [het] nie” (1 Samuel 3:7). Het dit beteken dat Samuel baie min van sy God geweet het? Nee. Sy ouers en die priesters sou hom beslis baie geleer het. Maar volgens een geleerde kan die Hebreeuse woord in daardie vers “gebruik word vir die intiemste soort kennis”. Samuel het Jehovah nog nie intiem leer ken, soos later die geval was toe hy as Jehovah se woordvoerder gedien het nie. Namate Samuel groter geword het, het hy Jehovah waarlik leer ken en ’n hegte persoonlike verhouding met hom ontwikkel.—1 Samuel 3:19, 20.

7, 8. (a) Waarom moet die Bybel se dieper leringe ons nie afskrik nie? (b) Wat is van die diep waarhede van God se Woord wat ons gerus kan bestudeer?

7 Neem jy kennis van Jehovah in sodat jy ’n intieme verhouding met hom kan opbou? Om dit te doen, moet jy ‘’n verlange ontwikkel’ na die geestelike voedsel wat God voorsien (1 Petrus 2:2). Moenie met net ’n basiese kennis tevrede wees nie. Lê jou daarop toe om van die Bybel se dieper leringe te verstaan (Hebreërs 5:12-14). Skrik hierdie leringe jou af omdat jy meen dat dit te moeilik is? Indien wel, moet jy in gedagte hou dat Jehovah die “Grootse Onderrigter” is (Jesaja 30:20). Hy weet hoe om diep waarhede aan onvolmaakte menseverstande oor te dra. En as jy ’n opregte poging aanwend om te verstaan wat hy jou leer, sal hy jou seën.—Psalm 25:4.

8 Waarom ondersoek jy nie jou kennis van “die diep dinge van God” nie? (1 Korintiërs 2:10). Dit is nie oninteressante onderwerpe soos dié waaroor teoloë en geestelikes dalk debatteer nie. Dit is lewende leerstellings wat fassinerende insig bied in die verstand en hart van ons liefdevolle Vader. Byvoorbeeld, die losprys, die “heilige geheim” en die verskillende verbonde wat Jehovah gebruik het om sy volk te seën en sy voornemens te vervul—hierdie en talle soortgelyke onderwerpe maak persoonlike navorsing en studie aangenaam en lonend.—1 Korintiërs 2:7.

9, 10. (a) Waarom is trots gevaarlik, en wat sal ons help om dit te vermy? (b) Waarom moet ons daarna streef om nederig te wees wanneer dit by die kennis van Jehovah kom?

9 Namate jou kennis van dieper geestelike waarhede toeneem, moet jy waak teen ’n gevaar wat met kennis gepaard kan gaan—trots (1 Korintiërs 8:1). Trots is gevaarlik, want dit vervreem mense van God (Spreuke 16:5; Jakobus 4:6). Onthou, geen mens het rede om oor sy kennis te spog nie. Neem byvoorbeeld hierdie woorde in die inleiding van ’n boek wat die mensdom se jongste wetenskaplike vooruitgang ondersoek: “Hoe meer ons leer, hoe meer besef ons hoe min ons weet. . . . Alles wat ons reeds geleer het, is niks in vergelyking met wat ons nog moet leer nie.” Sulke nederigheid is verkwikkend. Wanneer ons die vernaamste kennis wat daar is, wil opdoen—kennis van Jehovah God—het ons selfs groter rede om nederig te bly. Waarom?

10 Let op ’n paar Bybelse stellings oor Jehovah. “Baie diep is u gedagtes” (Psalm 92:5). “[Jehovah se] verstand is onbeskryflik” (Psalm 147:5). “Daar is geen deurgronding van [Jehovah se] verstand nie” (Jesaja 40:28). “O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis!” (Romeine 11:33). Dit is duidelik dat ons nooit alles oor Jehovah sal kan weet nie (Prediker 3:11). Hy het ons talle wonderlike dinge geleer, maar daar sal altyd ’n oneindige hoeveelheid kennis wees sodat ons voortdurend meer kan leer. Laat daardie vooruitsig ons nie opgewonde sowel as nederig voel nie? Laat ons dan, namate ons meer leer, altyd ons kennis gebruik om nader aan Jehovah te kom en ander te help om dieselfde te doen—en nooit as ’n manier om onsself bo ander te verhef nie.—Matteus 23:12; Lukas 9:48.

Toon jou liefde vir Jehovah

11, 12. (a) Hoe moet die kennis wat ons oor Jehovah inneem, ons raak? (b) Wat bepaal of iemand se liefde vir God opreg is?

11 Die apostel Paulus het gepas kennis met liefde verbind. Hy het geskryf: “Dit is wat ek aanhou bid, dat julle liefde steeds oorvloediger mag word met juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë” (Filippense 1:9). Elke kosbare waarheid wat ons oor Jehovah en sy voornemens leer, moet ons nie opgeblase van trots maak nie, maar eerder ons liefde vir ons hemelse Vader laat toeneem.

12 Baie beweer natuurlik dat hulle God liefhet, maar dit is nie werklik die geval nie. Hulle is dalk opreg oor sterk emosies wat in hulle hart opwel. Sulke emosies is goed, selfs prysenswaardig, wanneer dit in ooreenstemming met juiste kennis is. Maar dit op sigself kom nie neer op ware liefde vir God nie. Waarom nie? Let op hoe God se Woord sulke liefde omskryf: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar” (1 Johannes 5:3). Liefde vir Jehovah is dus slegs opreg wanneer dit met gehoorsaamheid gepaardgaan.

13. Hoe sal godvrugtige vrees ons help om ons liefde vir Jehovah te toon?

13 Godvrugtige vrees sal ons help om gehoorsaam aan Jehovah te wees. Hierdie groot ontsag en diepe eerbied vir Jehovah spruit voort uit kennis van hom, kennis van sy oneindige heiligheid, heerlikheid, krag, geregtigheid, wysheid en liefde. Sulke vrees is onontbeerlik as ons nader aan hom wil kom. Trouens, let op wat Psalm 25:14 sê: “Intimiteit met Jehovah behoort aan dié wat hom vrees.” As ons dus ’n heilsame vrees het om ons geliefde hemelse Vader te mishaag, kan ons nader aan hom kom. Godvrugtige vrees sal ons help om gehoor te gee aan die wyse raad in Spreuke 3:6: “Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.” Wat beteken dit?

14, 15. (a) Voor watter besluite kom ons elke dag te staan? (b) Hoe kan ons besluite maak wat ons godvrugtige vrees weerspieël?

14 ’n Mens moet elke dag besluite maak, groot sowel as klein. Byvoorbeeld, waaroor sal jy met jou werksmaats, skoolmaats of bure praat? (Lukas 6:45). Sal jy hard werk om jou take gedoen te kry, of sal jy lyf wegsteek? (Kolossense 3:23). Sal jy hegter vriendskappe sluit met diegene wat min of geen liefde vir Jehovah toon nie, of sal jy jou verhouding met geestelike mense probeer versterk? (Spreuke 13:20). Wat sal jy, selfs in klein dingetjies, doen om die belange van God se Koninkryk te bevorder? (Matteus 6:33). As skriftuurlike beginsels soos dié wat ons hier genoem het, jou daaglikse besluite rig, slaan jy inderdaad ag op Jehovah “in al jou weë”.

15 In elke besluit wat ons maak, moet ons in werklikheid deur hierdie gedagte gerig word: ‘Wat sal Jehovah van my verwag om te doen? Wat sal hom die meeste behaag?’ (Spreuke 27:11). Godvrugtige vrees wat op hierdie wyse getoon word, is ’n uitstekende manier om ons liefde vir Jehovah te bewys. Godvrugtige vrees sal ons ook beweeg om rein te bly—geestelik, sedelik en fisies. Onthou dat Jakobus, in dieselfde vers waarin hy Christene aanspoor om ‘nader aan God te kom’, ook hierdie vermaning gee: “Reinig julle hande, julle sondaars, en suiwer julle harte, julle besluiteloses.”—Jakobus 4:8.

16. Wat sal ons nooit bereik deur aan Jehovah te gee nie, maar wat kan ons altyd daardeur toon?

16 Om ons liefde vir Jehovah te toon, behels natuurlik veel meer as om net die kwaad te vermy. Liefde beweeg ons ook om te doen wat reg is. Hoe reageer ons byvoorbeeld op Jehovah se oorweldigende vrygewigheid? Jakobus het geskryf: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van bo, want dit daal neer van die Vader van die hemelse ligte” (Jakobus 1:17). Ons verryk Jehovah natuurlik nie wanneer ons van ons besittings aan hom gee nie. Hy besit reeds alles wat daar is (Psalm 50:12). En wanneer ons van ons tyd en energie aan Jehovah gee, voorsien ons nie in ’n behoefte wat hy andersins nie sou kon bevredig nie. Al sou ons weier om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, kan hy die klippe laat uitroep! Waarom gee ons dan van ons middele, tyd en energie aan Jehovah? Hoofsaaklik omdat ons daardeur toon dat ons hom met ons hele hart, siel, verstand en krag liefhet.—Markus 12:29, 30.

17. Wat kan ons beweeg om met blymoedigheid aan Jehovah te gee?

17 Wanneer ons aan Jehovah gee, moet ons dit vreugdevol doen, “want God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Korintiërs 9:7). Die beginsel in Deuteronomium 16:17 kan ons help om met blymoedigheid te gee: “Die gawe van elkeen se hand moet wees ooreenkomstig die seën van Jehovah jou God wat hy jou gegee het.” Wanneer ons dink aan hoe vrygewig Jehovah teenoor ons is, wek dit by ons ’n begeerte om vryelik aan hom te gee. Sulke gawes maak sy hart bly, net soos die geskenkie van ’n geliefde kind ’n ouer se hart bly maak. As ons ons liefde op dié manier toon, sal dit ons help om nader aan Jehovah te kom.

Bou ’n intieme verhouding op deur gebed

18. Waarom is dit die moeite werd om na te dink oor hoe ons die gehalte van ons gebede kan verbeter?

18 Ons persoonlike gebede bied ons ’n kosbare geleentheid—’n tyd om intiem en vertroulik met ons hemelse Vader te praat (Filippense 4:6). Aangesien gebed ’n belangrike manier is om nader aan God te kom, is dit die moeite werd om tyd te neem om na te dink oor die gehalte van ons gebede. Dit beteken nie dat ons gebede hoogdrawend of volmaak uiteengesit hoef te wees nie, maar dit moet opreg wees en uit die hart kom. Hoe kan ons die gehalte van ons gebede verbeter?

19, 20. Waarom moet ons peins voordat ons bid, en waaroor kan ons peins?

19 Ons kan probeer peins voordat ons bid. As ons vooraf peins, kan ons ons gebede spesifiek en betekenisvol maak, en sodoende die gewoonte vermy om bekende frases wat eerste by ons opkom, te herhaal (Spreuke 15:28, 29). Dit kan help as ons nadink oor van die onderwerpe wat Jesus in sy modelgebed genoem het en hoe dit met ons eie omstandighede verband hou (Matteus 6:9-13). Ons kan ons byvoorbeeld afvra watter rol, hoe gering ook al, ons kan speel in die uitvoering van Jehovah se wil hier op aarde. Kan ons Jehovah vertel van ons begeerte om so nuttig moontlik vir hom te wees en hom vra om ons te help met watter toewysings hy ons ook al gegee het? Gaan ons gebuk onder sorge oor ons materiële behoeftes? Vir watter sondes moet ons om vergifnis vra, en teenoor wie moet ons meer vergewensgesind wees? Voor watter versoekings kom ons te staan, en besef ons hoe dringend ons Jehovah se beskerming nodig het om dit die hoof te bied?

20 Verder kan ons dink aan mense wat ons weet veral Jehovah se hulp nodig het (2 Korintiërs 1:11). Wat ons egter nie moet vergeet nie, is om dank uit te spreek. As ons stilstaan en daaroor nadink, sal ons beslis baie redes vind om Jehovah elke dag te dank en te loof vir sy oorvloedige goedheid (Deuteronomium 8:10; Lukas 10:21). Dit hou nog ’n voordeel in—dit kan ons help om ’n positiewer uitkyk op die lewe te verkry, een wat van groter waardering getuig.

21. ’n Studie van watter skriftuurlike voorbeelde kan ons help wanneer ons Jehovah in gebed nader?

21 Studie kan ook ons gebede verbeter. Daar is uitstekende gebede van getroue manne en vroue in God se Woord opgeteken. As ons byvoorbeeld voor ’n moeilike probleem te staan kom, wat ons angstig maak en ons selfs laat voel dat ons welsyn of dié van ons geliefdes bedreig word, kan ons die gebed lees wat Jakob gedoen het voor sy ontmoeting met sy wraaksugtige broer, Esau (Genesis 32:9-12). Of ons kan kyk na die gebed van koning Asa toe ’n strydmag van ongeveer eenmiljoen Etiopiërs God se volk bedreig het (2 Kronieke 14:11, 12). As ons worstel met ’n probleem wat Jehovah se goeie naam oneer kan aandoen, sal dit goed wees om Elia se gebed voor die Baälaanbidders op die berg Karmel te lees, of Nehemia se gebed oor die betreurenswaardige toestand van Jerusalem (1 Konings 18:36, 37; Nehemia 1:4-11). As ons sulke gebede lees en daaroor peins, kan dit ons geloof versterk en ons help om te sien wat die beste manier is om Jehovah te nader met die sorge wat swaar op ons druk.

22. Wat is die jaarteks vir 2003, en wat kan ons ons van tyd tot tyd gedurende die jaar afvra?

22 Daar is ongetwyfeld geen groter eer, geen hoër strewe, as om Jakobus se raad te volg om ‘nader aan God te kom’ nie (Jakobus 4:8). Mag ons dit doen deur toe te neem in ons kennis van God, deur ons liefde vir hom in al hoe groter mate te toon en deur ’n intieme verhouding met hom op te bou deur ons gebede. Laat ons regdeur die jaar 2003 ons jaarteks Jakobus 4:8 in gedagte hou en onsself voortdurend ondersoek om te kyk of ons inderdaad besig is om nader aan Jehovah te kom. Maar wat van die laaste deel van daardie stelling? In watter sin sal Jehovah ‘nader aan ons kom’, en watter seëninge sal dit meebring? Die volgende artikel sal dit bespreek.

Onthou jy?

• Waarom is dit belangrik om nader aan Jehovah te kom?

• Watter doelwitte kan ons stel sodat ons kennis van Jehovah kan inneem?

• Hoe kan ons toon dat ons Jehovah opreg liefhet?

• Op watter maniere kan ons deur gebed ’n intiemer verhouding met Jehovah opbou?

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 12]

Die jaarteks vir 2003 sal wees: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”—Jakobus 4:8.

[Prent op bladsy 8, 9]

Namate Samuel groter geword het, het hy Jehovah intiem leer ken

[Prent op bladsy 12]

Die gebed van Elisa op die berg Karmel is ’n goeie voorbeeld vir ons