Onthou jy?
Onthou jy?
Het jy dit geniet om die onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? Wel, kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:
• Hoe kan “denkvermoë” jou beskerm? (Spreuke 1:4).
Dit kan ons bewus maak van geestelike gevare en ons motiveer om te dink aan wat die verstandigste weg sal wees om te volg, soos om byvoorbeeld seksuele versoekings by die werk te vermy. Dit help ons om te besef dat mede-Christene onvolmaak is, wat keer dat ons oorhaastig reageer wanneer iemand ons ontstel. Dit kan ons ook in staat stel om die druk van materialisme te vermy wat kan veroorsaak dat ons geestelik gesproke die spoor byster raak.—8/15, bladsye 21-4.
• Hoe kan ’n mens ’n seën vir jou bure wees?
Twee maniere waarop ons goeie bure kan wees, is deur goeie gewers en dankbare ontvangers te wees. Goeie bure is waardevol in tye van teëspoed. Jehovah se Getuies probeer om goeie bure te wees deur ander te waarsku oor iets wat binnekort gaan plaasvind, naamlik dat God ’n einde aan goddeloosheid gaan maak.—9/1, bladsye 4-7.
• Wie is volgens die Bybel ware heiliges, en hoe gaan hulle die mensdom help?
Alle vroeë Christene was ware heiliges, en hulle is deur God heilig verklaar, nie deur mense of organisasies nie (Romeine 1:7). Wanneer heiliges tot hemelse lewe opgewek word, sal hulle saam met Christus getroue mense op aarde seën (Efesiërs 1:18-21).—9/15, bladsye 5-7.
• Hoe kan ’n basiese kennis van atletiekwedstryde in eertydse Griekeland vir Christene nuttig wees?
Die geskrifte van die apostels Petrus en Paulus bevat illustrasies oor of indirekte verwysings na die eertydse spele (1 Korintiërs 9:26; 1 Timoteus 4:7; 2 Timoteus 2:5; 1 Petrus 5:10). Dit was belangrik vir ’n atleet van die ou tyd om ’n goeie afrigter te hê, selfbeheersing aan die dag te lê en doelgerig in sy pogings te wees. Vandag geld dieselfde vir die geestelike pogings van Christene.—10/1, bladsye 28-31.
• Wat is die uitdagings en belonings wanneer kinders in ’n vreemde land grootgemaak word?
Baie kinders leer ’n nuwe taal gouer aan as hulle ouers, wat dit dalk moeilik vind om te verstaan hoe hulle kinders dink en reageer. En die kinders begryp Bybelleringe miskien nie so goed in hulle ouers se taal nie. Dit kan egter gesinsbande versterk as ouers hulle taal aan hulle kinders leer, wat gevolglik twee tale sal ken en deel sal voel van albei kulture.—10/15, bladsye 22-6.
• Waarom is dit belangrik om te leer om verskoning te vra?
As ’n mens opreg verskoning vra, kan dit dikwels help om ’n vertroebelde verhouding te herstel. Die Bybel bevat voorbeelde van hoe kragtig ’n verskoning kan wees (1 Samuel 25:2-35; Handelinge 23:1-5). Wanneer twee mense nie met mekaar oor die weg kom nie, dra albei dikwels ’n mate van skuld. Daarom moet albei dalk toegewings maak en om verskoning vra.—11/1, bladsye 4-7.
• Waarom is dit verkeerd om, selfs met klein bedrae, te dobbel?
Dobbelary kan aanleiding gee tot egotisme, ’n mededingende gees en gierigheid, wat deur die Bybel veroordeel word (1 Korintiërs 6:9, 10). Baie mense wat dobbelslawe geword het, het op ’n vroeë ouderdom begin deur klein bedrae te verwed.—11/1, bladsy 31.
• Baie van die Bybelboeke is in Grieks geskryf. Waarom was dit dan nodig om die Bybel in Grieks te vertaal, en wat was die gevolge?
Moderne Grieks verskil grootliks van die Grieks wat in die Septuagint-vertaling van die Hebreeuse Geskrifte en in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik is. In onlangse eeue is talle pogings aangewend om die hele Bybel of dele daarvan in alledaagse Grieks te vertaal. Vandag is daar sowat 30 vertalings van die Bybel, in sy geheel of gedeeltelik, wat die gewone Griek kan lees en verstaan. ’n Uitsonderlike vertaling is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif, wat in 1997 uitgegee is.—11/15, bladsye 26-9.
• Waarom word tiendes nie van Christene vereis nie?
Onder die Wet aan eertydse Israel is tiendes gegee om vir die stam van Levi te sorg en na behoeftiges om te sien (Levitikus 27:30; Deuteronomium 14:28, 29). Die offerdood van Jesus het die Wet tot niet gemaak, en so ook die vereiste om tiendes te gee (Efesiërs 2:13-15). In die vroeë gemeente het elke Christen gegee volgens sy vermoë en soos hy hom in sy hart voorgeneem het (2 Korintiërs 9:5, 7).—12/1, bladsye 4-6.
• Beteken die woorde in Openbaring 20:8 dat Satan ’n ontsaglike hoeveelheid mense tydens die finale toets sal mislei?
Die teks sê dat diegene wat mislei word, “soos die sand van die see” sal wees. In die Bybel verwys daardie uitdrukking dikwels na ’n onbekende getal, sonder om te kenne te gee dat dit ’n ontsaglike hoeveelheid is. Abraham se saad, wat sou wees “soos die sandkorrels wat aan die seestrand is”, het toe uiteindelik, met uitsondering van Jesus Christus, uit 144 000 persone bestaan (Genesis 22:17; Openbaring 14:1-4).—12/1, bladsy 29.