Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie was “die drie wyse manne”?

Wie was “die drie wyse manne”?

Wie was “die drie wyse manne”?

In Kerstonele sien ’n mens gewoonlik hoe drie manne in lang gewade op kamele by ’n stal aankom waar die baba Jesus in ’n krip lê. Die welgeklede besoekers word gewoonlik die drie wyse manne genoem. Wat sê die Bybel oor hulle?

Volgens die Bybel het die sogenaamde wyse manne “uit oostelike streke” gekom, en dit was daar dat hulle gehoor het van Jesus se geboorte (Matteus 2:1, 2, 9). Dit moes hierdie manne lank geneem het om na Judea te reis. Toe hulle Jesus uiteindelik gevind het, was hy nie meer ’n pasgebore baba in ’n stal nie. Die manne het Maria en “die jong kindjie” in ’n huis gevind.—Matteus 2:11.

Die Bybel noem hierdie manne “sterrewiggelaars”, en dit sê nie hoeveel daar was nie. The Oxford Companion to the Bible verduidelik: “Die verband tussen die toorkuns en sterrewiggelary blyk uit die besoekers se belangstelling in die ster wat hulle na Betlehem gelei het.” Die Bybel veroordeel duidelik alle vorme van die toorkuns en die Babiloniese gebruik om inligting te probeer bekom deur na die sterre te kyk.—Deuteronomium 18:10-12; Jesaja 47:13.

Die inligting wat aan hierdie manne oorgedra is, het geen goeie gevolge gehad nie. Dit het die goddelose koning Herodes se jaloerse toorn gewek. Gevolglik moes Josef, Maria en Jesus na Egipte vlug, en al die seuntjies in Betlehem “van twee jaar en jonger” is om die lewe gebring. Herodes het die tyd van Jesus se geboorte noukeurig uitgewerk volgens die inligting wat die sterrewiggelaars hom gegee het (Matteus 2:16). As ’n mens in ag neem hoeveel probleme hulle besoek veroorsaak het, is dit redelik om tot die slotsom te kom dat die ster wat hulle gesien het en die boodskap oor “die een wat as koning van die Jode gebore is”, van God se vyand Satan die Duiwel gekom het, wat Jesus graag om die lewe wou bring.—Matteus 2:1, 2.