Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die goeie omring deur die kwaad

Die goeie omring deur die kwaad

Die goeie omring deur die kwaad

IN VANDAG se wêreld lyk dit dalk asof min mense bereid is om van hulleself te gee. Party wil egter nog steeds “’n verskil maak”—op die een of ander manier aan ander goed doen. Elke jaar gee baie mense miljarde rande vir wat na hulle mening ’n goeie doel is. Byvoorbeeld, in Brittanje het skenkings aan liefdadigheidsorganisasies in 2002 ’n rekordbedrag van R84 miljard bereik. Sedert 1999 het tien vrygewige weldoeners meer as R246 miljard belowe of geskenk om behoeftiges te help.

Sommige van die goeie werke van mense wat liefdadigheidswerk doen, is om die mediese rekeninge van lae-inkomstegesinne te betaal, ’n mentor vir kinders van enkelouers te wees, fondse vir immuniseringsprogramme in ontwikkelende lande te voorsien, kinders hulle eerste boek te gee, teeldiere aan boere in arm lande te voorsien en noodlenigingsvoorraad by slagoffers van natuurrampe te kry.

Die voorgaande feite toon dat mense die vermoë het om goed te doen aan ander. Ongelukkig is daar ook mense wat onbeskryflik bose dade pleeg.

Die kwaad neem toe

Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog was daar bykans 50 gedokumenteerde gevalle van volksmoord en polities gemotiveerde massamoord. “Hierdie voorvalle”, sê die tydskrif American Political Science Review, “het die lewe van ten minste 12 miljoen en moontlik tot 22 miljoen burgerlikes geëis, meer as al die slagoffers van burger- en internasionale oorloë sedert 1945.”

Gedurende die laaste helfte van die 20ste eeu is tot 2,2 miljoen mense in Kambodja om politieke redes vermoor. Etniese haat in Rwanda het tot die dood van meer as 800 000 mans, vroue en kinders gelei. Godsdienstig en polities gemotiveerde moorde in Bosnië het meer as 200 000 sterftes tot gevolg gehad.

Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies het in 2004 gruweldade gemeld wat in onlangser tye gepleeg is en gesê: “In Irak word burgerlikes koelbloedig vermoor, terwyl noodlenigingswerkers, joernaliste en ander nievegtendes as gyselaars aangehou en op die barbaarsste maniere doodgemaak word. Terselfdertyd is Irakese gevangenes skandelik mishandel. In Darfoer is hele bevolkings ontwortel en hulle huise vernietig, terwyl verkragting doelbewus as ’n taktiek gebruik word. In Noord-Uganda word kinders vermink en gedwing om onbeskryflike wreedhede te pleeg. In Beslan is kinders as gyselaars aangehou en wreedaardig vermoor.”

Selfs in sogenaamde ontwikkelde lande lyk dit asof haatmisdade toeneem. Independent News het byvoorbeeld in 2004 berig dat daar in Brittanje “oor die afgelope dekade elf keer meer slagoffers was van aanvalle of mishandeling weens rassehaat”.

Waarom pleeg mense wat die vermoë het om die goeie na te streef, sulke goddelose dade? Sal ons ooit van die kwaad bevry word? Soos die volgende artikel toon, voorsien die Bybel bevredigende antwoorde op hierdie ingewikkelde vrae.

[Foto-erkenning op bladsy 2]

VOORBLAD: Mark Edwards/Still Pictures/Peter Arnold, Inc.