Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe die goeie die kwaad sal oorwin

Hoe die goeie die kwaad sal oorwin

Hoe die goeie die kwaad sal oorwin

Koning Dawid was ’n goeie man. Hy het hartgrondige liefde vir God, ’n begeerte na geregtigheid en geneentheid vir die geringes gehad. Maar hierdie einste goeie koning het egbreuk gepleeg met die vrou van een van sy betroubare manne. En nadat Dawid uitgevind het dat die vrou, Batseba, sy kind verwag, het hy uiteindelik die moord op haar man gereël. Toe het hy sy misdade probeer toesmeer deur met Batseba te trou.—2 Samuel 11:1-27.

DIT is duidelik dat mense die vermoë het om die goeie na te streef. Waarom is hulle dan verantwoordelik vir soveel kwaad? Die Bybel gee ’n hele paar basiese redes. Dit toon ook hoe God die kwaad, of boosheid, eens en vir altyd deur middel van Christus Jesus uit die weg sal ruim.

’n Neiging tot wat sleg is

Koning Dawid self het een oorsaak van bose dade gemeld. Nadat sy misdade blootgelê is, het hy volle verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Toe het hy uit berou geskryf: “Kyk! In ongeregtigheid is ek met geboortepyne voortgebring, en in sonde het my moeder my ontvang” (Psalm 51:5). Dit was nooit God se voorneme dat moeders kinders voortbring wat sou sondig nie. Maar toe Eva en daarna Adam besluit het om teen God in opstand te kom, het hulle die vermoë verloor om sondelose kinders voort te bring (Romeine 5:12). Namate die onvolmaakte mensdom vermeerder het, het dit duidelik geword dat “die neiging van die mens se hart . . . sleg [is] van sy jeug af”.—Genesis 8:21.

As hierdie neiging tot wat sleg is, nie beheers word nie, het dit “hoerery, . . . vyandskappe, twis, jaloesie, vlae van toorn, rusies, verdeeldhede, sektes, afgunstighede” tot gevolg, sowel as ander skadelike gedrag wat die Bybel “werke van die vlees” noem (Galasiërs 5:19-21). Koning Dawid het byvoorbeeld voor vleeslike swakheid geswig en hoerery gepleeg, wat verdeeldheid tot gevolg gehad het (2 Samuel 12:1-12). Hy kon sy onsedelike neiging weerstaan het. Pleks daarvan het Dawid, deur sy begeerte vir Batseba te koester, die patroon gevolg wat later deur die dissipel Jakobus beskryf is: “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word. Daarna, wanneer die begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde; en wanneer die sonde volbring is, bring dit die dood voort.”—Jakobus 1:14, 15.

Die massamoorde, verkragtings en plundering wat in die vorige artikel genoem is, is uiterste voorbeelde van wat gebeur wanneer mense toelaat dat verkeerde begeertes hulle dade rig.

Die kwaad word gevoed deur onkunde

Die apostel Paulus se ondervinding beklemtoon ’n tweede rede waarom mense bose dinge doen. Teen die tyd dat Paulus gesterf het, was hy bekend as ’n saggeaarde, liefdevolle man. Hy het hom onselfsugtig ingespan om sy Christenbroers en -susters te dien (1 Tessalonisense 2:7-9). Maar vroeër in sy lewe, toe hy nog as Saulus bekend gestaan het, het hy teen hierdie einste groep “dreiging en moord . . . geblaas” (Handelinge 9:1, 2). Waarom het Paulus die bose dade wat teen die vroeë Christene gepleeg is, vergoelik en ’n aandeel daaraan gehad? “Omdat ek onkundig was”, sê hy (1 Timoteus 1:13). Ja, Paulus het vroeër “’n ywer vir God [gehad]; maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie”.—Romeine 10:2.

Soos Paulus, het talle opregte mense bose dade gepleeg weens ’n gebrek aan juiste kennis van God se wil. Jesus het sy volgelinge byvoorbeeld gewaarsku: “Die uur kom wanneer elkeen wat julle doodmaak, sal dink dat hy ’n heilige diens aan God bewys het” (Johannes 16:2). Jehovah se hedendaagse Getuies ondervind die waarheid van Jesus se woorde. In baie lande is hulle al vervolg en selfs vermoor deur mense wat beweer dat hulle God dien. Sulke misplaaste ywer behaag die ware God natuurlik nie.—1 Tessalonisense 1:6.

Die oorsaak van die kwaad

Jesus het getoon wat die hoofrede vir die bestaan van die kwaad is. Hy het vir die godsdiensleiers wat vasbeslote was om hom dood te maak, gesê: “Julle is van julle vader die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader doen. Hy was ’n mensemoordenaar toe hy begin het” (Johannes 8:44). Dit was Satan wat Adam en Eva om selfsugtige redes verlei het om teen God in opstand te kom. Daardie opstand het sonde—en dus die dood—oor die hele mensdom gebring.

Satan se moorddadige gesindheid is verder getoon deur die manier waarop hy met Job gehandel het. Toe Jehovah hom toestemming gegee het om Job se onkreukbaarheid te toets, was Satan nie tevrede om Job net van al sy besittings te stroop nie. Hy het ook die dood van sy tien kinders veroorsaak (Job 1:9-19). In onlangse dekades het die mensdom ’n skerp toename in boosheid ondervind weens menslike onvolmaaktheid en onkunde en ook omdat Satan hom meer met menseaangeleenthede bemoei. Volgens die Bybel is die Duiwel “na die aarde neergeslinger, en sy engele is saam met hom neergeslinger”. Dieselfde profesie het akkuraat voorspel dat dit ongekende ‘weë vir die aarde’ sou beteken wanneer Satan tot die omgewing daarvan beperk word. Hoewel Satan mense nie kan dwing om bose dinge te doen nie, is hy ’n meester daarin om “die hele bewoonde aarde [te] mislei”.—Openbaring 12:9, 12.

Hoe die neiging tot wat sleg is, verwyder sal word

Om die kwaad vir goed uit die mensegemeenskap te verwyder, moet die mens se ingebore neiging tot wat sleg is, sy gebrek aan juiste kennis en Satan se invloed uit die weg geruim word. Eerstens, hoe kan die mens se ingebore neiging tot sonde uit sy hart verwyder word?

Geen menslike chirurg of mensgemaakte geneesmiddel kan dit doen nie. Maar Jehovah God het ’n oplossing vir oorgeërfde sonde en onvolmaaktheid voorsien vir almal wat bereid is om dit te aanvaar. Die apostel Johannes het geskryf: “Die bloed van Jesus . . . reinig ons van alle sonde” (1 Johannes 1:7). Toe die volmaakte man Jesus sy lewe vrywillig opgeoffer het, het hy “ons sondes in sy eie liggaam aan die paal gedra, sodat ons met sondes klaar kan wees en vir regverdigheid kan lewe” (1 Petrus 2:24). Jesus se offerdood sou die gevolge van Adam se bose daad ongedaan maak. Paulus het geskryf dat Christus Jesus “’n ooreenstemmende losprys vir almal” geword het (1 Timoteus 2:6). Ja, Christus se dood het dit vir die hele mensdom moontlik gemaak om die volmaaktheid terug te kry wat Adam verloor het.

Maar jy vra dalk: ‘As Jesus se dood sowat 2 000 jaar gelede dit vir die mensdom moontlik gemaak het om volmaaktheid terug te kry, waarom bestaan die kwaad en die dood dan nog steeds?’ ’n Antwoord op hierdie vraag kan help om die tweede oorsaak van die kwaad—die mens se onkunde aangaande God se voornemens—uit die weg te ruim.

Goedheid floreer op juiste kennis

Juiste kennis van wat Jehovah en Jesus nou doen om die kwaad te verwyder, kan ’n opregte persoon daarvan weerhou om bose dade onwetend te vergoelik of, nog erger, om “eintlik teen God” te stry (Handelinge 5:38, 39). Jehovah God is bereid om verkeerde dade wat in die verlede in onkunde gepleeg is, oor die hoof te sien. Toe die apostel Paulus in Atene was, het hy gesê: “God het . . . die tye van sulke onkunde oorgesien, maar nou sê hy vir die mensdom dat hulle almal oral berou moet hê. Want hy het ’n dag vasgestel waarop hy van voorneme is om die bewoonde aarde in regverdigheid te oordeel deur ’n man wat hy aangestel het, en hy het aan alle mense ’n waarborg verskaf deurdat hy hom uit die dode opgewek het.”—Handelinge 17:30, 31.

Paulus het uit eie ondervinding geweet dat Jesus uit die dode opgewek is, want die verrese Jesus het self met Paulus gepraat en verhoed dat hy die vroeë Christene verder vervolg (Handelinge 9:3-7). Toe Paulus juiste kennis van God se voornemens ontvang het, het hy verander en werklik ’n goeie persoon in navolging van Christus geword (1 Korintiërs 11:1; Kolossense 3:9, 10). Daarbenewens het Paulus “hierdie goeie nuus van die koninkryk” ywerig verkondig (Matteus 24:14). Gedurende die bykans 2 000 jaar sedert Jesus se dood en opstanding het Christus diegene wat, soos Paulus, saam met hom in sy Koninkryk gaan heers, uit die mensdom gekies.—Openbaring 5:9, 10.

Gedurende die afgelope eeu en tot nou toe, het Jehovah se Getuies Jesus se opdrag ywerig uitgevoer: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Diegene wat op hierdie boodskap reageer, het die vooruitsig om vir ewig op die aarde onder Christus se hemelse regering te lewe. Jesus het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Om iemand te help om hierdie kennis in te neem, is die voortreflikste goeie daad wat een mens vir ’n ander kan doen.

Diegene wat hierdie goeie nuus van die Koninkryk aanneem, openbaar eienskappe soos “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing”, ten spyte van al die kwaad wat hulle omring (Galasiërs 5:22, 23). In navolging van Jesus ‘vergeld hulle niemand kwaad vir kwaad nie’ (Romeine 12:17). As individue streef hulle daarna om ‘aan te hou om die kwaad met die goeie te oorwin’.—Romeine 12:21; Matteus 5:44.

Die finale oorwinning oor die kwaad

Mense sal nooit die grootste voorstander van die kwaad, Satan die Duiwel, op hulle eie kan oorwin nie. Jehovah sal Jesus egter binnekort gebruik om Satan se kop te vermorsel (Genesis 3:15; Romeine 16:20). Jehovah sal Christus Jesus ook die opdrag gee om alle politieke stelsels, waarvan talle deur die geskiedenis heen vir soveel kwaad verantwoordelik was, te “verbrysel en daar ’n einde aan [te] maak” (Daniël 2:44; Prediker 8:9). Gedurende hierdie komende oordeelsdag sal almal wat “die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie . . . as regterlike straf ewige vernietiging ondergaan”.—2 Tessalonisense 1:8, 9; Sefanja 1:14-18.

Wanneer Satan en dié wat hom ondersteun, verwyder is, sal Jesus vanuit die hemel die oorlewendes help om die aarde tot sy oorspronklike toestand te herstel. Christus sal ook almal opwek wat waardig is om die geleentheid te kry om op die herstelde aarde te lewe (Lukas 23:32, 39-43; Johannes 5:26-29). Sodoende sal hy van die gevolge van die kwaad wat die mensdom aangedoen is, ongedaan maak.

Jehovah sal mense nie dwing om die goeie nuus oor Jesus te gehoorsaam nie. Hy gee mense egter die geleentheid om die kennis in te neem wat tot die lewe lei. Dit is lewensbelangrik dat jy nou van hierdie geleentheid gebruik maak! (Sefanja 2:2, 3). As jy dit doen, sal jy leer hoe om enige kwaad wat jou lewe nou versuur, die hoof te bied. Jy sal ook sien hoe Christus die leiding sal neem in die finale oorwinning oor die kwaad.—Openbaring 19:11-16; 20:1-3, 10; 21:3, 4.

[Prent op bladsy 5]

Saulus het bose dade vergoelik weens ’n gebrek aan juiste kennis

[Prent op bladsy 7]

Om iemand te help om juiste kennis van God in te neem, is die voortreflikste goeie daad wat een mens vir ’n ander kan doen