Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog!”

“Hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog!”

“Hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog!”

TYDENS ’n dag lange byeenkoms van Jehovah se Getuies het Kim haar bes gedoen om te luister en notas te maak terwyl sy probeer het om haar twee-en-’n-halfjarige dogtertjie te laat stilsit. Aan die einde van die program het ’n Christensuster wat in dieselfde ry gesit het, na Kim toe gedraai en haar opreg geprys vir die manier waarop sy en haar man tydens die program na hulle dogter omgesien het. Daardie lof het so baie vir Kim beteken dat sy vandag nog, jare later, sê: “Wanneer ek baie moeg is by die vergaderinge, dink ek aan wat daardie suster gesê het. Haar liefdevolle woorde spoor my nog steeds aan om voort te gaan om ons dogter op te voed.” Tydige woorde kan ’n mens werklik opbeur. Die Bybel sê: “Hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog!”—Spreuke 15:23.

Maar dit is dalk vir party van ons moeilik om ander te prys. Soms is dit vir ons moeilik omdat ons bewus is van ons eie tekortkominge. Een Christen sê: “Vir my is dit soos om op sagte grond te staan. Hoe meer ek ander prys, hoe meer voel dit vir my of ek afgedruk word.” Faktore soos skugterheid, onsekerheid of die vrees dat jy verkeerd verstaan sal word, kan dit ook moeilik maak om ander te prys. As ons boonop self min of geen erkenning gekry het terwyl ons grootgeword het nie, sal ons dit dalk moeilik vind om ander te prys.

Nietemin kan die wete dat lof ’n goeie uitwerking op die gewer en ontvanger kan hê, ons dalk beweeg om ons bes te doen om ’n woord van lof op die regte tyd te spreek (Spreuke 3:27). Watter positiewe gevolge bring dit mee as ons dit doen? Kom ons bespreek kortliks ’n paar.

Positiewe gevolge

Gepaste lof kan die ontvanger se selfvertroue opbou. “Wanneer mense my prys, voel ek dat hulle vertroue in my stel, dat hulle in my glo”, sê Elaine, ’n Christenvrou. Ja, as jy iemand prys wat ’n gebrek aan selfvertroue het, kan dit daardie persoon die moed gee om struikelblokke te hanteer, en gevolglik vind hy vreugde. Veral jongmense vind baat by verdiende lof. Een tiener wat erken dat sy deur haar eie negatiewe gedagtes ontmoedig word, sê: “Ek probeer altyd my bes om Jehovah te behaag, maar partykeer voel ek dat niks wat ek doen, goed genoeg is nie. Wanneer iemand my prys, laat dit my baie goed voel.” Die Bybelspreuk is beslis waar: “Soos goue appels in silwersnywerk is ’n woord wat op sy regte tyd gespreek word.”—Spreuke 25:11.

Lof kan ’n mens motiveer en aanmoedig. Een voltydse bedienaar sê: “Lof moedig my aan om harder te werk en om die gehalte van my bediening te verbeter.” ’n Ma van twee sê dat haar kinders meer kommentare by die vergaderinge wil gee wanneer hulle erkenning daarvoor ontvang van ander lede van die gemeente. Ja, dit kan jongmense motiveer om vooruitgang ten opsigte van die Christelike lewenswyse te maak. Om die waarheid te sê, ons het almal die versekering nodig dat ander ons waardeer en op prys stel. Hierdie stresvolle wêreld kan ons moeg en beswaard laat word. ’n Christen- ouer man sê: “Soms wanneer ek mismoedig is, is lof soos ’n antwoord op my gebede.” Elaine sê ook: “Soms voel ek dat Jehovah die kommentare van ander gebruik om te toon dat hy my goedkeur.”

Wanneer ons geprys word, kan dit die gevoel skep dat ons iewers hoort. Wanneer ons ander opreg prys, toon ons bedagsaamheid en skep ons ’n atmosfeer van hartlikheid, sekuriteit en waardering. Dit dien as bewys dat ons ons mede-Christene werklik liefhet en hulle waardeer. ’n Ma genaamd Josie sê: “In die verlede moes ek my standpunt vir die waarheid in ’n godsdienstig verdeelde huis inneem. Die erkenning wat ek destyds van geestelik ryp individue ontvang het, het my meer vasbeslote gemaak om nie tou op te gooi nie.” Ja, “ons is lede wat aan mekaar behoort”.—Efesiërs 4:25.

’n Begeerte om ander te prys, help ons om die goeie in hulle raak te sien. Ons let op ander se sterk punte, nie op hulle swakhede nie. ’n Christen- ouer man genaamd David sê: “As ons waardering het vir wat ander doen, sal dit ons help om hulle meer dikwels te prys.” As ons in gedagte hou hoe dikwels Jehovah en sy Seun goed praat van ons as onvolmaakte mense, sal dit ons beweeg om meer vrygewig in hierdie opsig te wees.—Matteus 25:21-23; 1 Korintiërs 4:5.

Verdienstelike ontvangers

Omdat Jehovah God die Skepper is, is hy die verdienstelikste onder diegene aan wie lof toekom (Openbaring 4:11). Jehovah het ons nie nodig om sy selfvertroue op te bou of hom te aan te spoor nie, maar wanneer ons hom loof weens sy ontsagwekkendheid en sy liefderyke goedhartigheid, kom hy nader aan ons en kweek ons ’n verhouding met hom aan. Wanneer ons God loof, help dit ons ook om ’n gesonde en beskeie beskouing van ons eie prestasies aan te kweek en laat dit ons ons sukses aan Jehovah toeskryf (Jeremia 9:23, 24). Jehovah bied die vooruitsig op die ewige lewe aan alle verdienstelike mense, en dit is nog ’n rede wat ons beweeg om hom te loof (Openbaring 21:3, 4). Koning Dawid van die ou tyd was gretig om “die naam van God [te] loof” en “hom met danksegging groot [te] maak” (Psalm 69:30). Mag dit ook ons begeerte wees.

Medeaanbidders verdien gepaste lof. Wanneer ons dit gee, handel ons in ooreenstemming met die goddelike gebod om “tot liefde en goeie werke aan te spoor” (Hebreërs 10:24). Die apostel Paulus was navolgenswaardig in hierdie verband. Hy het aan die gemeente in Rome geskryf: “In die eerste plek dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal, omdat daar in die hele wêreld oor julle geloof gepraat word” (Romeine 1:8). Op soortgelyke wyse het die apostel Johannes erkenning gegee aan ’n mede-Christen, Gajus, omdat hy ’n uitstekende voorbeeld daarin gestel het om “in die waarheid te wandel”.—3 Johannes 1-4.

Wanneer ’n mede-Christen vandag ’n Christelike eienskap op ’n navolgenswaardige wyse openbaar, ’n goed voorbereide toespraak by die vergadering hou of ’n opregte kommentaar tydens die vergadering lewer, gee dit ons ’n gulde geleentheid om ons waardering teenoor daardie persoon uit te spreek. Of wanneer ’n kind hard probeer om tekste gedurende gemeentelike vergaderinge op te soek, kan ons hom daarvoor prys. Elaine, wat vroeër genoem is, sê: “Ons het almal verskillende gawes. Deur te let op wat iemand anders doen, toon ons ons waardering vir die verskeidenheid van gawes onder God se volk.”

In die gesin

Hoe kan ons waardering toon teenoor lede van ons eie gesin? Dit verg baie tyd, inspanning en liefdevolle aandag van ’n man en vrou om in hulle gesin se geestelike, emosionele en materiële behoeftes te voorsien. Hulle verdien beslis om woorde van lof van mekaar en die kinders te hoor (Efesiërs 5:33). God se Woord sê byvoorbeeld aangaande ’n bekwame vrou: “Haar seuns het opgestaan en haar gelukkig genoem; haar eienaar staan op, en hy prys haar.”—Spreuke 31:10, 28.

Kinders verdien ook om geprys te word. Ongelukkig is sekere ouers gou om vir hulle kinders te sê wat hulle van hulle verwag, maar hulle prys hulle selde vir die pogings wat hulle aanwend om respekvol en gehoorsaam te wees (Lukas 3:22). Wanneer lof vroeg in die ontwikkelingsjare van die kind gegee word, kan dit die kind ’n gevoel van aanvaarding en groter sekuriteit gee.

Dit verg weliswaar inspanning om ander te prys, maar ons sal baie voordele maai as ons dit doen. Om die waarheid te sê, hoe gretiger ons is om verdienstelikes te prys, hoe gelukkiger sal ons wees.—Handelinge 20:35.

Aanvaar en gee lof in die regte gees

Vir sommige kan dit egter ’n toets wees om lof te ontvang (Spreuke 27:21). By persone wat ’n neiging het om trots te wees, kan dit byvoorbeeld gevoelens van meerderwaardigheid aanwakker (Spreuke 16:18). Daar is dus rede om versigtig te wees. Die apostel Paulus het hierdie praktiese vermaning gegee: “Ek [sê] vir elkeen daar onder julle om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie, maar om só te dink dat hy ’n gesonde verstand het, elkeen na die maat van geloof wat God aan hom toebedeel het” (Romeine 12:3). As jy ander wil help om nie in die strik te trap om te veel van hulleself te dink nie, sal dit dalk wys wees om nie op dinge soos hoë intelligensie of uiterlike skoonheid te fokus nie. Ons moet eerder erkenning gee aan ander vir hulle goeie dade.

Wanneer woorde van lof in die regte gees gegee en ontvang word, kan dit ons positief beïnvloed. Dit beweeg ons dalk om te erken dat Jehovah die lof verdien vir enigiets goeds wat ons gedoen het. Lof kan ons ook aanmoedig om voort te gaan om ons goed te gedra.

Opregte en welverdiende lof is ’n gawe wat almal van ons kan gee. Wanneer ons dit op ’n weldeurdagte manier doen, kan dit dalk vir die ontvanger meer beteken as wat ons ooit sal besef.

[Venster/Prent op bladsy 18]

’n Brief wat haar hart geraak het

Een reisende opsiener onthou nog baie goed toe hy en sy vrou eendag na hulle verblyfplek teruggekeer het ná ’n baie koue winterdag in die bediening. Hy sê: “My vrou was koud en mismoedig en sy het vir my gesê sy voel sy kan nie meer voortgaan nie. ‘Hoeveel beter sou dit wees’, het sy gesê, ‘as ons saam met ’n gemeente in die voltydse bediening kon dien, in een plek kon bly en ons eie Bybelstudies kon hou.’ Ek het nie onmiddellik ’n besluit geneem nie en gesê dat ons nog tot die einde van die week sou voortgaan en kyk hoe sy teen daardie tyd voel. As sy nog steeds sterk daaroor gevoel het, sou ek haar gevoelens respekteer. Daardie selfde dag het ons by die poskantoor ’n draai gemaak en ’n brief van die takkantoor ontvang wat aan haar persoonlik geadresseer was. Die brief het haar hartlik geprys vir haar pogings in die veldbediening en vir haar volharding en het erken hoe moeilik dit kan wees om elke week in ’n ander bed te slaap. Daardie lof het haar so getref dat sy nooit weer daarvan gepraat het om die reisende werk te verlaat nie. Om die waarheid te sê, sy het my al verskeie kere aangemoedig wanneer ek daaraan gedink het om op te hou.” Hierdie egpaar het byna 40 jaar in die reisende werk gebly.

[Prent op bladsy 17]

Wie in julle gemeente verdien om geprys te word?

[Prent op bladsy 19]

Kinders floreer op liefdevolle aandag en lof