Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het hulle ouers se hart verbly

Hulle het hulle ouers se hart verbly

Hulle het hulle ouers se hart verbly

“MY SEUN, as jou hart wys geword het, sal my hart bly wees, ja myne” (Spreuke 23:15). Dit verbly Christenouers inderdaad wanneer hulle kinders goddelike wysheid verwerf. Op Saterdag 10 September 2005 het ’n internasionale groep van 6 859 die graduering van die 119de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon. Die harte van almal wat teenwoordig was, het oorgeloop van blydskap, veral dié van die ouers van die 56 gegradueerdes.

David Walker, wat al jare lank ’n lid van die Verenigde State se Bethelgesin is, het die program met ’n hartgrondige gebed geopen. Daarna het die voorsitter, David Splane van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, in sy inleidende opmerkings vir daardie vaders en moeders gesê: “Julle verdien ons hartlike lof. Die eienskappe wat julle in julle seuns en dogters ingeskerp het, het hulle beweeg om die sendingdiens te betree.” Daardie ouers was moontlik senuweeagtig omdat hulle seuns en dogters spoedig na toewysings in die buiteland gestuur sou word. Maar broer Splane het hulle verseker: “Moenie bekommerd wees oor julle kinders nie. Jehovah kan veel beter na hulle omsien as wat julle kan.” Toe het hy gesê: “Dink aan die goeie werk wat julle seuns en dogters sal verrig. Mense wat ly, gaan vir die eerste keer in hulle lewe ware vertroosting ontvang.”

Hoe om aan te hou om ander bly te maak

Die voorsitter het vier sprekers ingelei. Eerstens het Ralph Walls, ’n lid van die Verenigde State se Takkomitee, die tema bespreek: “Hou julle oë oop.” Hy het beklemtoon dat geestelike blindheid baie erger as fisiese blindheid is. Die eerste-eeuse gemeente in Laodisea het hulle geestelike sig verloor. Die Christene in daardie gemeente wat blind was, is wel hulp aangebied, maar dit is altyd veel beter om sulke blindheid te voorkom deur ons geestelike oë oop te hou (Openbaring 3:14-18). Die spreker het gesê: “Hou julle oë oop, en sien die verantwoordelike manne soos Jehovah hulle sien.” Die gegradueerdes moet nie uitermate besorg wees as daar probleme in die gemeente is nie. Die Here Jesus Christus is bewus van al hierdie dinge. Hy sal toesien dat sake op die bestemde tyd hanteer word.

Hierna het Samuel Herd van die Bestuursliggaam die vraag beantwoord: “Is jy gereed?” Net soos ’n reisiger die klere saamneem wat hy nodig het, moet die gegradueerdes hulle ook altyd beklee met die eienskappe van die nuwe persoonlikheid. Hulle moet die medelye van Jesus hê. Toe ’n melaatse vir hom gesê het: “As u net wil, kan u my rein maak”, het Jesus gesê: “Ek wil. Word gereinig” (Markus 1:40-42). Die spreker het toe gesê: “As julle mense werklik wil help, sal julle ’n manier vind om dit te doen.” Filippense 2:3 maan Christene om ‘ander hoër te ag as hulleself’. Broer Herd het gesê: “Om nederig van hart te wees, is belangriker as om kennis te hê. Die mense wat julle in julle bediening gaan ontmoet en julle broers en susters in die gemeente, sal slegs by julle kennis baat vind as julle nederig is.” Hy het afgesluit deur te sê dat die gegradueerdes gereed is om na hulle toewysings te gaan en verseker kan wees van sukses as hulle aanhou om hulle met Christelike liefde te beklee.—Kolossense 3:14.

Mark Noumair, een van die Gileadinstrukteurs, het afwagting geskep met die titel van sy toespraak: “Sal jy dit behou?” “Dit” verwys na ons waardering vir Jehovah se goedheid. Psalm 103:2 sê: “Loof Jehovah, o my siel, en moenie al sy dade vergeet nie.” Die Israeliete het ’n gebrek aan waardering getoon vir die manna wat hulle aan die lewe gehou het, en hulle het dit “die veragtelike brood” genoem (Numeri 21:5). Met die verloop van tyd het die waarde van die manna nie verander nie, maar hulle waardering daarvoor het verdwyn. Die instrukteur het gesê: “As julle Jehovah se dade vergeet en toelaat dat julle diens in die buiteland bloot iets alledaags word, sal dit julle beskouing beïnvloed van die werk wat Jehovah julle gegee het.” Psalm 103:4 sê dat Jehovah ‘jou met liefderyke goedhartigheid kroon’. Die gegradueerdes sal God se liefderyke goedhartigheid in hulle nuwe gemeentes ondervind.

Lawrence Bowen, ook ’n Gileadinstrukteur, het gepraat oor die onderwerp: “Sal dit jou inhaal?” Hy het gesê dat die lede van die 119de klas van Gilead hard geoefen het om suksesvolle sendelinge te wees. Maar nou moet hulle na aan Jehovah bly en volhou met die werk wat hy hulle gegee het. In Openbaring 14:1-4 word die 144 000 beskryf as persone “wat die Lam bly volg ongeag waar hy gaan”. Almal in daardie groep bly lojaal aan Jehovah en sy Seun ondanks beproewinge, en hulle bereik hulle doelwit. “Ons bly ook, ongeag wat gebeur, lojaal aan Jehovah en die werk wat hy ons gegee het”, het die spreker gesê. As hulle dit doen, sal die gegradueerdes vind dat Jehovah se seëninge hulle “inhaal”.—Deuteronomium 28:2.

Hulle diens lewer vrugte op

Elke naweek gedurende die kursus het die studente aan die veldbediening deelgeneem. Toe Wallace Liverance, die skoolregistrateur, in sy programdeel met hulle gepraat het, het dit duidelik geword dat hulle welslae behaal het. Hulle het die goeie nuus in ten minste tien tale verkondig en ’n aantal Bybelstudies begin. Een Gileadegpaar het ’n Bybelstudie met ’n Chinese man begin. Ná twee besoeke het hulle hom gevra hoe hy daaroor voel om Jehovah te leer ken. Hy het sy Bybel oopgemaak en hulle gevra om Johannes 17:3 te lees. Hy het gevoel dat hy op die pad na die lewe is.

Anthony Morris van die Bestuursliggaam het daarna onderhoude gevoer met drie broers wat op die Takkomitees van Côte d’Ivoire, die Dominikaanse Republiek en Ecuador dien. Hierdie broers het die gegradueerdes verseker dat die Takkomitees uitsien na hulle aankoms en hulle sal help om in hulle toewysings aan te pas.

Hierna het Leonard Pearson, ’n lid van die Verenigde State se Bethelgesin, met drie Takkomiteelede van die Demokratiese Republiek van die Kongo, Papoea-Nieu-Guinee en Uganda gepraat. Hierdie broers het die gegradueerdes aangespoor om heelhartig by die veldbediening betrokke te raak. ’n Sendelingegpaar wat al meer as 21 jaar in die Kongo dien, het 60 mense tot toewyding en doop gehelp. Daardie egpaar hou nou 30 Bybelstudies, en 22 van hulle studente woon gemeentelike vergaderinge by. Met so ’n groot geestelike oes is dit nou beslis ’n wonderlike tyd om as ’n sendeling te dien.

Getuig met ’n gevoel van dringendheid

Gerrit Lösch van die Bestuursliggaam het die laaste toespraak gehou. Sy tema was: “Praat oor God en getuig van Jesus in die dag van die Here.” Die woorde “getuie”, “getuies”, “getuienis” en “getuig” kom 19 keer in die boek Openbaring voor. Jehovah laat dus geen twyfel oor die werk wat hy wil hê sy knegte moet doen nie. Wanneer moet ons so ’n getuienis gee? Gedurende “die dag van die Here” (Openbaring 1:9, 10). Daardie dag het in 1914 begin, duur voort in ons tyd en strek tot in die toekoms. Volgens Openbaring 14:6, 7 ondersteun engele die werk om oor God te praat. Openbaring 22:17 toon dat die oorblyfsel van gesalfde Christene die verantwoordelikheid ontvang het om toesig te hou oor die werk om van Jesus te getuig. Maar ons almal moet nou daardie voorreg benut. In Op 22 vers 20 gee dit Jesus se woorde soos volg aan: “Ek kom gou.” Broer Lösch het almal in die gehoor aangespoor: “Nooi mense uit: ‘Kom, neem die water van die lewe verniet.’ Jesus kom gou. Is ons gereed?”

Fred Rusk, wat self omtrent 11 jaar as ’n Gileadskoolinstrukteur gedien het, het die program afgesluit met ’n dankgebed tot Jehovah wat die harte van almal in die gehoor geroer het. Dit was ’n gepaste slot tot ’n dag wat ’n geleentheid vir groot blydskap was.

[Venster op bladsy 13]

KLASSTATISTIEK

Aantal lande verteenwoordig: 10

Aantal lande waarheen gestuur: 25

Aantal studente: 56

Gemiddelde ouderdom: 32,5

Gemiddelde jare in waarheid: 16,4

Gemiddelde jare in voltydse diens: 12,1

[Prent op bladsy 15]

119de Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word die rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.

(1) Helgesen, S.; Daugaard, H.; Pierluissi, A.; Joseph, I.; Racanelli, C. (2) Byrge, T.; Butler, D.; Freedlun, J.; Nuñez, K.; Pavageau, C.; Doumen, T. (3) Camacho, O.; Lindqvist, L.; Broomer, A.; Wessels, E.; Burton, J.; Woodhouse, O.; Doumen, A. (4) Tirion, A.; Connally, L.; Fournier, C.; Gil, A.; Johnsson, K.; Hamilton, L. (5) Byrd, D.; Scribner, I.; Camacho, B.; Laschinski, H.; Hallahan, M.; Libuda, O. (6) Joseph, A.; Lindqvist, M.; Helgesen, C.; Nuñez, D.; Scribner, S.; Fournier, J. (7) Pierluissi, F.; Pavageau, T.; Broomer, C.; Racanelli, P.; Butler, T.; Woodhouse, M.; Libuda, J. (8) Laschinski, M.; Freedlun, S.; Burton, I.; Tirion, M.; Byrd, M.; Byrge, J. (9) Wessels, T.; Hallahan, D.; Connally, S.; Gil, D.; Daugaard, P.; Hamilton, S.; Johnsson, T.