Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Laat bepeinsing vir jou aangenaam word

Laat bepeinsing vir jou aangenaam word

Laat bepeinsing vir jou aangenaam word

PARTY mense word dalk afgeskrik deur die idee van bepeinsing. Hulle beskou bepeinsing dalk as ’n moeilike taak wat intense konsentrasie vereis. Sulke persone voel dalk ook skuldig omdat hulle bepeinsing afskeep, veral wanneer hulle lees hoe belangrik dit is (Filippense 4:8). Maar om rustig te sit en waarhede te oordink wat ons omtrent Jehovah, sy pragtige eienskappe, sy ontsagwekkende werke, sy vereistes en sy wonderlike voorneme geleer het, kan en behoort ’n baie aangename manier te wees om tyd deur te bring. Waarom?

Jehovah God is die Opperheerser van die heelal en werk sodat sy groot voorneme vervul kan word (Johannes 5:17). Hy stel nietemin belang in die stille gedagtes van elke individuele aanbidder. Die psalmis Dawid het dit geweet en het onder goddelike inspirasie geskryf: “O Jehovah, u het my deurvors, en u ken my. U het my sit en my opstaan te wete gekom. U het van ver af op my gedagte gelet.”—Psalm 139:1, 2.

Met die eerste oogopslag kan ’n mens hierdie woorde van die psalmis dalk negatief beskou. Jy redeneer dalk: ‘Al is God “ver”, sien hy elke verkeerde gedagte wat by my opkom.’ Dit is natuurlik goed om daarvan bewus te wees. Dit kan ons help om teen verkeerde gedagtes te stry, en om sulke gedagtes, wanneer dit wel by ons opkom, aan God te bely met die vertroue dat hy ons op grond van ons geloof in Jesus se losprysoffer sal vergewe (1 Johannes 1:8, 9; 2:1, 2). Maar terselfdertyd moet ons onthou dat Jehovah sy aanbidders op ’n positiewe manier ondersoek. Hy let daarop wanneer ons met waardering aan hom dink.

“Let Jehovah regtig op al die goeie gedagtes van sy miljoene aanbidders?” vra jy dalk. Baie beslis. Jesus het Jehovah se belangstelling in ons beklemtoon toe hy gesê het dat Jehovah selfs aan klein mossies aandag gee, en toe het hy bygevoeg: “Julle is meer werd as baie mossies” (Lukas 12:6, 7). Mossies kan nie oor Jehovah dink nie. As hy oor hulle besorg is, hoeveel te meer is hy dan oor ons besorg en skep hy behae in die godvrugtige gedagtes wat elkeen van ons het! Ja, soos Dawid, kan ons met vertroue bid: “Laat die . . . bepeinsing van my hart aangenaam word voor u, o Jehovah, my Rots en my Verlosser.”—Psalm 19:14.

’n Verdere bewys dat Jehovah inderdaad belangstel in die bepeinsing van sy lojale aanbidders, word in die geïnspireerde woorde van die profeet Maleagi gevind. Hy het van ons dag gepraat en voorspel: “Toe het dié wat Jehovah vrees, met mekaar gepraat, elkeen met sy metgesel, en Jehovah het aandag bly skenk en geluister. En ’n gedenkboek is voor hom geskryf vir dié wat Jehovah vrees en vir dié wat aan sy naam dink” (Maleagi 3:16). As ons in gedagte hou dat Jehovah “aandag bly skenk” wanneer ons aan hom dink, kan dit godvrugtige bepeinsing inderdaad aangenaam laat word. Mag ons dus die woorde wat die psalmis neergeskryf het, ons eie maak: “Ek sal beslis oor al u dade peins, en u handelinge sal ek oordink.”—Psalm 77:12.