Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Soek regverdigheid—Dit sal jou beskerm

Soek regverdigheid—Dit sal jou beskerm

Soek regverdigheid—Dit sal jou beskerm

“Hou dan aan om eers . . . [God se] regverdigheid te soek.”—MATTEUS 6:33.

1, 2. Watter besluit het ’n jong Christen geneem, en waarom het sy so besluit?

 ’N JONG Christenvrou in Asië het as ’n sekretaresse in ’n staatsdepartement gewerk. Sy was pligsgetrou, altyd vroeg by die werk en glad nie lui nie. Maar aangesien haar pos nie permanent was nie, sou dit heroorweeg word. Die departementshoof het vir die jong vrou gesê dat hy haar permanent sou aanstel en haar selfs ’n hoër posisie sou gee indien sy ’n onsedelike verhouding met hom aanknoop. Sy het volstrek geweier, al sou dit beteken dat sy haar werk verloor.

2 Was daardie jong Christenvrou onrealisties? Nee, sy het Jesus se woorde noukeurig gevolg: “Hou dan aan om eers . . . [God se] regverdigheid te soek” (Matteus 6:33). Vir haar was dit baie belangriker om regverdige beginsels te volg as om deur middel van geslagsonsedelikheid voordele te verkry.—1 Korintiërs 6:18.

Die belangrikheid van regverdigheid

3. Wat is regverdigheid?

3 “Regverdigheid” dui op ’n toestand van sedelike beginselvastheid en eerlikheid. In die Bybel bevat die Griekse en Hebreeuse woorde die gedagte van “opregtheid” of “regskapenheid”. Dit is nie eiegeregtigheid, naamlik om jouself volgens jou eie standaarde te oordeel nie (Lukas 16:15). Dit is regskapenheid volgens Jehovah se standaarde. Dit is God se regverdigheid.—Romeine 1:17; 3:21.

4. Waarom is regverdigheid belangrik vir ’n Christen?

4 Waarom is regverdigheid belangrik? Omdat Jehovah, die “regverdige God”, guns aan sy knegte betoon wanneer hulle regverdigheid beoefen (Psalm 4:1; Spreuke 2:20-22; Habakuk 1:13). Enigiemand wat onregverdigheid bedryf, kan nie ’n hegte verhouding met hom geniet nie (Spreuke 15:8). Daarom het die apostel Paulus vir Timoteus aangespoor: “Vlug . . . vir die begeertes wat eie is aan die jeug, maar streef na regverdigheid”, tesame met ander belangrike eienskappe (2 Timoteus 2:22). Dit is ook waarom Paulus “die borsplaat van regverdigheid” ingesluit het in sy lys van die verskillende dele waaruit ons geestelike wapenrusting bestaan.—Efesiërs 6:14.

5. Hoe kan onvolmaakte skepsele regverdigheid soek?

5 Geen mens is natuurlik volkome regverdig nie. Almal erf onvolmaaktheid van Adam, en almal is van geboorte af sondig, onregverdig. En tog het Jesus gesê dat ons regverdigheid moet soek. Hoe is dit moontlik? Weens die feit dat Jesus sy volmaakte lewe as ’n losprys vir ons gegee het, en as ons geloof in daardie offerande beoefen, is Jehovah gewillig om ons sondes te vergewe (Matteus 20:28; Johannes 3:16; Romeine 5:8, 9, 12, 18). Op grond daarvan aanvaar Jehovah ons aanbidding, as ons sy regverdige standaarde leer ken en ons bes doen om dit te onderhou—en bid vir hulp om ons swakhede te oorkom (Psalm 1:6; Romeine 7:19-25; Openbaring 7:9, 14). Hoe vertroostend tog!

Regverdigheid in ’n onregverdige wêreld

6. Waarom was die wêreld ’n gevaarlike plek vir die vroeë Christene?

6 Toe Jesus se dissipels die opdrag ontvang het om sy getuies “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” te wees, het hulle voor ’n groot uitdaging te staan gekom (Handelinge 1:8). Hulle hele toegewese gebied het “[gelê] in die mag van die bose”, Satan (1 Johannes 5:19). Die wêreld was besmet met die goddelose gees wat hy bevorder, en Christene sou blootgestel wees aan die verderflike invloed daarvan (Efesiërs 2:2). Vir hulle was die wêreld ’n gevaarlike plek. Slegs deur eers God se regverdigheid te soek, kon hulle volhard en hulle onkreukbaarheid handhaaf. Die meeste het volhard, maar ’n paar is van “die weg van regverdigheid” afgelei.—Spreuke 12:28; 2 Timoteus 4:10.

7. Watter verantwoordelikhede vereis dat ’n Christen verderflike invloede weerstaan?

7 Is die wêreld vandag vir Christene veiliger? Beslis nie! Dit is selfs meer verdorwe as in die eerste eeu. Daarbenewens is Satan na die aarde neergewerp en voer hy ’n verbete oorlog teen gesalfde Christene, “die oorblywendes van [die vrou se] saad, wat die gebooie van God bewaar en die werk het om van Jesus te getuig” (Openbaring 12:12, 17). Satan val ook enigiemand aan wat hierdie “saad” ondersteun. Christene kan egter nie die wêreld vermy nie. Hoewel hulle geen deel daarvan is nie, moet hulle daarin leef (Johannes 17:15, 16). En hulle moet die predikingswerk daarin doen sodat hulle mense met die regte gesindheid kan vind en hulle kan leer om dissipels van Christus te wees (Matteus 24:14; 28:19, 20). Aangesien Christene dus nie die verderflike invloede van hierdie wêreld heeltemal kan vermy nie, moet hulle dit weerstaan. Kom ons bespreek vier van hierdie invloede.

Die strik van onsedelikheid

8. Waarom het die Israeliete die gode van die Moabiete begin aanbid?

8 Teen die einde van hulle 40 jaar lange trek deur die wildernis het ’n groot aantal Israeliete van die weg van regverdigheid afgewyk. Hulle het baie reddingsdade deur Jehovah aanskou en sou binnekort in die Beloofde Land ingaan. Maar op hierdie kritieke tydstip het hulle die gode van die Moabiete begin dien. Waarom? Hulle het voor “die begeerte van die vlees” geswig (1 Johannes 2:16). Die verslag sê: “Die volk [het] onsedelike gemeenskap met die dogters van Moab begin hou.”—Numeri 25:1.

9, 10. Weens watter hedendaagse situasie is dit uiters noodsaaklik om die verderflike krag van verkeerde vleeslike begeertes in gedagte te hou?

9 Hierdie voorval lig toe hoe verkeerde vleeslike begeertes onbehoedsame mense kan verderf. Ons kan hieruit leer, veral aangesien ’n onsedelike lewenstyl deesdae deur baie as aanvaarbaar beskou word (1 Korintiërs 10:6, 8). ’n Verslag uit die Verenigde State sê: “Tot om en by 1970 was saamblyery onwettig in alle Amerikaanse state. Nou is dit algemeen. Meer as die helfte van alle eerste huwelike word voorafgegaan deur saamblyery.” Hierdie en soortgelyke onsedelike gebruike is nie tot een land beperk nie. Dit word regoor die wêreld gevind, en ongelukkig het party Christene dié neiging gevolg—en selfs hulle goeie naam in die Christengemeente verloor.—1 Korintiërs 5:11.

10 Wat meer is, dit lyk of propaganda wat onsedelikheid bevorder, oral gevind kan word. Rolprente en televisieprogramme skep die indruk dat dit heeltemal aanvaarbaar is vir jongmense om geslagsomgang voor die huwelik te hê. Homoseksuele verhoudings word as normaal voorgestel. En baie vertonings bevat sekstonele wat al hoe eksplisieter word. Dit is ook maklik om foto’s wat eksplisiete seks uitbeeld, op die Internet te vind. ’n Koerantrubriekskrywer het byvoorbeeld berig dat sy sewejarige seuntjie van die skool af huis toe gekom het en opgewonde vir sy vader vertel het dat ’n skoolmaat op ’n Internetwebwerf afgekom het wat kaal vroue in sekstonele wys. Die vader was geskok, maar hoeveel kinders het op sulke webwerwe afgekom sonder om hulle ouers te vertel? Wat meer is, hoeveel ouers ken die inhoud van die videospeletjies wat hulle kinders speel? Talle gewilde speletjies bevat afstootlike onsedelikheid, asook demonisme en geweld.

11. Hoe kan ’n gesin teen die onsedelikheid van die wêreld beskerm word?

11 Hoe kan ’n gesin sulke verdorwe “vermaak” weerstaan? Deur eers God se regverdigheid te soek en te weier om betrokke te raak by enigiets wat onsedelik is (2 Korintiërs 6:14; Efesiërs 5:3). Ouers wat behoorlik toesig hou oor hulle kinders se bedrywighede en ’n liefde vir Jehovah en sy regverdige wette by hulle kinders inskerp, versterk hulle om pornografie, pornografiese videospeletjies, onsedelike rolprente en ander versoekings om ongeregtigheid te bedryf, te weerstaan.—Deuteronomium 6:4-9. a

Die gevaar van gemeenskapsdruk

12. Watter probleem het in die eerste eeu ontstaan?

12 Toe Paulus in Listra in Klein-Asië was, het hy ’n man wonderdadig genees. Die verslag sê: “Toe die skare sien wat Paulus gedoen het, het hulle hulle stem verhef en in Likaonies gesê: ‘Die gode het soos mense geword en het na ons toe neergedaal!’ En hulle het Barnabas Zeus begin noem, maar Paulus Hermes, aangesien hy die woordvoerder was” (Handelinge 14:11, 12). Later wou daardie selfde skare Paulus en Barnabas doodmaak (Handelinge 14:19). Dit is duidelik dat daardie mense baie vatbaar was vir gemeenskapsdruk. Toe party uit daardie streek Christene geword het, het hulle blykbaar nog vasgehou aan hulle bygelowige neigings. In sy brief aan die Christene in Kolosse het Paulus gewaarsku teen “engeleaanbidding”.—Kolossense 2:18.

13. Wat is van die gebruike wat ’n Christen moet vermy, en hoe kan hy die krag vind om dit te doen?

13 Vandag moet ware Christene eweneens gewilde gebruike vermy wat gegrond is op valse godsdiensidees wat Christelike beginsels skend. Byvoorbeeld, in party lande is baie van die gebruiklike rituele wat met geboorte en dood verband hou, gegrond op die leuen dat ons ’n gees het wat ná die dood voortleef (Prediker 9:5, 10). In sommige lande is dit die gebruik om jong meisies aan genitale verminking te onderwerp. b Dit is ’n wrede, sinlose gebruik wat onversoenbaar is met die liefdevolle sorg wat Christenouers aan hulle kinders verskuldig is (Deuteronomium 6:6, 7; Efesiërs 6:4). Hoe kan Christene gemeenskapsdruk weerstaan en sulke gebruike laat vaar? Deur ten volle op Jehovah te vertrou (Psalm 31:6). Die regverdige God sal diegene wat uit hulle hart vir hom sê: “U is my toevlug en my vesting, my God, op wie ek sal vertrou”, versterk en vir hulle sorg.—Psalm 91:2; Spreuke 29:25.

Moenie Jehovah vergeet nie

14. Watter waarskuwing het Jehovah aan die Israeliete gegee kort voordat hulle die Beloofde Land binnegegaan het?

14 Kort voordat die Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het, het Jehovah hulle gewaarsku om hom nie te vergeet nie. Hy het gesê: “Let op jouself dat jy Jehovah jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy regterlike beslissings en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te onderhou nie; sodat jy nie eet en inderdaad versadig word en goeie huise bou en inderdaad daarin woon, en jou beeste en jou kleinvee vermeerder en jou silwer en goud vermeerder, en alles wat joune is, vermeerder, en jou hart hom dan inderdaad verhef en jy Jehovah jou God inderdaad vergeet nie.”—Deuteronomium 8:11-14.

15. Hoe kan ons seker maak dat ons Jehovah nie vergeet nie?

15 Kan iets soortgelyks vandag gebeur? Ja, as ons die verkeerde prioriteite het. Maar as ons eers God se regverdigheid soek, sal rein aanbidding die belangrikste plek in ons lewe beklee. Ons sal, soos Paulus ons aangemoedig het, ‘die geleë tyd uitkoop’ en ons predikingswerk met ’n gevoel van dringendheid doen (Kolossense 4:5; 2 Timoteus 4:2). As vergaderingbywoning en velddiens egter vir ons minder belangrik is as ontspanning of ’n soeke na plesier, kan ons van Jehovah vergeet in die sin dat ons hom die tweede plek in ons lewe gee. Paulus het gesê dat mense in die laaste dae “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” sal wees (2 Timoteus 3:4). Opregte Christene ondersoek hulleself gereeld om seker te maak dat hulle nie deur hierdie soort denke beïnvloed word nie.—2 Korintiërs 13:5.

Pas op vir ’n gees van onafhanklikheid

16. Watter verkeerde gees het Eva en sommige in Paulus se dag geopenbaar?

16 In Eden het Satan Eva se selfsugtige begeerte na onafhanklikheid suksesvol uitgebuit. Eva wou self besluit oor wat reg en verkeerd is (Genesis 3:1-6). In die eerste eeu het sommige in die Korintiese gemeente ’n soortgelyke gees van onafhanklikheid geopenbaar. Hulle het gedink dat hulle beter weet as Paulus, en hy het hulle op sarkastiese wyse uitnemende apostels genoem.—2 Korintiërs 11:3-5; 1 Timoteus 6:3-5.

17. Hoe kan ons voorkom dat ons ’n gees van onafhanklikheid ontwikkel?

17 Vandag is baie mense in die wêreld “eiesinnig, opgeblase van trots”, en party Christene is deur hierdie denkwyse beïnvloed. Party het selfs teenstanders van die waarheid geword (2 Timoteus 3:4; Filippense 3:18). Wanneer dit by rein aanbidding kom, is dit noodsaaklik dat ons op Jehovah vertrou vir leiding en met “die getroue en verstandige slaaf” en die gemeentelike ouer manne saamwerk. Dit is ’n manier waarop ons regverdigheid soek, en dit beskerm ons teen ’n gees van onafhanklikheid (Matteus 24:45-47; Psalm 25:9, 10; Jesaja 30:21). Die gemeente van gesalfdes is “’n pilaar en stut van die waarheid”. Jehovah het dit voorsien om ons te beskerm en te lei (1 Timoteus 3:15). As ons die noodsaaklike rol daarvan erken, sal dit ons help om ‘niks uit egotisme te doen nie’, terwyl ons ons nederig aan Jehovah se regverdige wil onderwerp.—Filippense 2:2-4; Spreuke 3:4-6.

Wees navolgers van Jesus

18. In watter opsigte word ons aangespoor om Jesus na te volg?

18 Die Bybel het profeties van Jesus gesê: “U het regverdigheid liefgehad en u haat goddeloosheid” (Psalm 45:7; Hebreërs 1:9). Wat ’n uitstekende gesindheid om na te volg! (1 Korintiërs 11:1). Jesus het nie net Jehovah se regverdige standaarde geken nie; hy het dit liefgehad. Toe Satan hom dus in die wildernis versoek het, het Jesus sonder aarseling en ferm geweier om van “die pad van regverdigheid” af te wyk.—Spreuke 8:20; Matteus 4:3-11.

19, 20. Watter goeie gevolge het dit as ons regverdigheid soek?

19 Die onregverdige begeertes van die vlees kan weliswaar sterk wees (Romeine 7:19, 20). Maar as regverdigheid vir ons kosbaar is, sal dit ons versterk om goddeloosheid te weerstaan (Psalm 119:165). Opregte liefde vir regverdigheid sal vir ons soos ’n skild wees wanneer ons voor versoekings te staan kom om verkeerd te doen (Spreuke 4:4-6). Onthou, wanneer ons ook al voor versoeking swig, laat ons Satan ’n oorwinning behaal. Hoeveel beter is dit tog om hom te weerstaan sodat Jehovah die oorwinning behaal!—Spreuke 27:11; Jakobus 4:7, 8.

20 Omdat ware Christene regverdigheid soek, word hulle “vervul . . . met regverdige vrugte, wat deur Jesus Christus is, tot heerlikheid en lof van God” (Filippense 1:10, 11). Hulle beklee hulle met “die nuwe persoonlikheid . . . , wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is” (Efesiërs 4:24). Hulle behoort aan Jehovah en lewe om hom te dien, nie om hulleself te behaag nie (Romeine 14:8; 1 Petrus 4:2). Hulle gedagtes en dade word daardeur gerig. Hoe verbly hulle tog die hart van hulle hemelse Vader!—Spreuke 23:24.

[Voetnote]

a Nuttige wenke vir ouers om hulle gesin teen onsedelike invloede te beskerm, word gevind in die boek Die geheim van gesinsgeluk, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Vroulike genitale verminking is vroeër vrouebesnydenis genoem.

Kan jy verduidelik?

• Waarom is dit noodsaaklik om regverdigheid te soek?

• Hoe kan ’n onvolmaakte Christen regverdigheid soek?

• Wat is party dinge in die wêreld wat ’n Christen moet vermy?

• Hoe beskerm dit ons as ons regverdigheid soek?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

Die wêreld was ’n gevaarlike plek vir Jesus se volgelinge

[Prent op bladsy 27]

Kinders wat geleer word om Jehovah lief te hê, sal versterk word om onsedelikheid te weerstaan

[Prent op bladsy 28]

Party Israeliete het Jehovah vergeet nadat hulle in die Beloofde Land voorspoedig geraak het

[Prent op bladsy 29]

Soos Jesus haat Christene onregverdigheid