Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Psalm 102:26 sê dat die aarde en die hemele “sal vergaan”. Beteken hierdie woorde dat die planeet Aarde vernietig sal word?

Die psalmis het in gebed tot Jehovah gesê: “Lank gelede het u die fondamente van die aarde gelê, en die hemele is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar u sal bly bestaan; en net soos ’n kleed sal hulle almal verslyt. Net soos klere sal u hulle vervang, en hulle beurt sal tot ’n einde kom” (Psalm 102:25, 26). As ’n mens na die verband van hierdie verse kyk, sien jy dat dit nie van die vernietiging van die aarde praat nie, maar van die ewigheid van God. Die verband toon ook waarom hierdie lewensbelangrike waarheid vertroosting bied vir God se knegte.

Die psalmis, wat moontlik in ballingskap in Babilon is, begin deur sy ellende te beskryf. Hy betreur die feit dat sy lewe gou verbygaan “net soos rook”. Koorsagtige besorgdheid tas sy liggaam aan en laat sy gebeente “rooiwarm . . . net soos ’n vuurherd” voel. Hy is uitgeput, “verdor soos blote plante”, en hy voel alleen, “soos ’n eensame voël op ’n dak”. Sy beproewinge het hom sy eetlus laat verloor, en sy dae word deur droefheid gekenmerk (Psalm 102:3-11). Nogtans het die psalmis nie alle hoop laat vaar nie. Waarom nie? As gevolg van wat Jehovah belowe het om met Sion, of Jerusalem, te doen.

Hoewel Sion verwoes is, het Jehovah belowe dat dit herstel sal word (Jesaja 66:8). Gevolglik sê die psalmis vol vertroue vir Jehovah: “U sal Sion barmhartig wees, want dit is die tyd om hom gunstiggesind te wees, want die vasgestelde tyd het gekom. Want Jehovah sal Sion beslis opbou” (Psalm 102:13, 16). Dan praat die psalmis weer oor sy persoonlike lyding. Hy redeneer in werklikheid dat as die verwoeste Jerusalem deur God se krag herstel kan word, Jehovah hom beslis uit sy ellendige toestand kan red (Psalm 102:17, 20, 23). En iets anders beweeg die psalmis om sy volle vertroue in Jehovah te stel. Wat is dit? Die feit dat God ewig is.

Jehovah se ewige bestaan vorm ’n skerp teenstelling met die kortstondigheid van die psalmis se lewe. “U jare is deur al die geslagte heen”, sê hy vir Jehovah (Psalm 102:24). Dan sê die psalmis: “Lank gelede het u die fondamente van die aarde gelê, en die hemele is die werk van u hande.”—Psalm 102:25.

Maar selfs die lang tyd wat die aarde en die hemele bestaan, kan nie vergelyk word met Jehovah se ewige bestaan nie. Die psalmis voeg by: “Hulle [die aarde en hemele] sal vergaan, maar u sal bly bestaan” (Psalm 102:26). Die fisiese aarde en hemele is verganklik. Jehovah het weliswaar op ander plekke gesê dat hulle vir ewig sal bestaan (Psalm 119:90; Prediker 1:4). Maar hulle kan vernietig word as dit God se voorneme is. In teenstelling hiermee kan God nie sterf nie. Die fisiese skeppingswerke word “vir ewig in stand” gehou net omdat God hulle onderhou (Psalm 148:6). As Jehovah ooit ophou om die fisiese skeppingswerke te hernuwe, ‘sal hulle almal net soos ’n kleed verslyt’ (Psalm 102:26). Soos ’n mens se lewensduur langer as dié van sy klere is, kan Jehovah se lewensduur langer as dié van sy skepping wees—as dit sy wil is. Maar ons weet na aanleiding van ander tekste dat dit nie sy wil is nie. God se Woord verseker ons dat Jehovah bepaal het dat die letterlike aarde en hemele tot in ewigheid sal bestaan.—Psalm 104:5.

Dit is bemoedigend om te weet dat Jehovah altyd daar sal wees om al sy beloftes na te kom. Ongeag voor watter beproewinge ons te staan kom, ons kan die vertroue hê dat hy, wanneer ons hom aanroep, hom “beslis [sal] wend tot die gebed van dié wat alles ontneem is en hulle gebed nie [sal] verag nie” (Psalm 102:17). Ja, die versekering in Psalm 102 dat Jehovah ons sal ondersteun, is selfs stewiger gevestig as die aarde waarop ons staan.